Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom glo jy wat jy glo?

Waarom glo jy wat jy glo?

Waarom glo jy wat jy glo?

Om te glo, word gedefinieer as “om te aanvaar as waar, eg of werklik”. In die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van Menseregte is elke mens se “reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens” vasgelê. Hierdie reg sluit die vryheid in “om sy godsdiens of geloof te verander” as hy dit wil doen.

MAAR waarom sou enigiemand sy godsdiens of geloof wou verander? “Ek het my eie geloof, en ek is gelukkig daarmee”, is die algemene beskouing wat uitgespreek word. Baie meen dat selfs verkeerde opvattings min skade vir enigiemand veroorsaak. Iemand wat byvoorbeeld glo dat die aarde plat is, sal waarskynlik nie homself of enigiemand anders skade berokken nie. “Ons moet net besluit om vriendskaplik met mekaar te verskil”, sê party. Is dit altyd verstandig? Sal ’n dokter eenvoudig instem om vriendskaplik met een van sy kollegas te verskil as hy aanhou glo dat hy siek pasiënte in ’n hospitaalsaal kan ondersoek direk nadat hy lyke in ’n lykshuis hanteer het?

Wat godsdiens betref, het verkeerde opvattings in die geskiedenis groot skade veroorsaak. Dink aan die gruweldade wat dit tot gevolg gehad het toe godsdiensleiers “fanatiese Christene tot meedoënlose geweld aangevuur het” gedurende die sogenaamde Heilige Kruistogte van die Middeleeue. Of dink aan die hedendaagse “Christelike” soldate in ’n onlangse burgeroorlog wat “prente van die Maagd op hulle geweerkolf geplak het net soos Middeleeuse krygers hulle heiliges se name op die hef van hulle swaard gehad het”. Al hierdie fanatici het geglo dat hulle reg is. Maar dit is duidelik dat daar in hierdie en ander godsdiensstryde en -gevegte iets groots fout was.

Waarom is daar soveel verwarring en konflikte? Die Bybel se antwoord is dat Satan die Duiwel “die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9; 2 Korintiërs 4:4; 11:3). Die apostel Paulus het gewaarsku dat talle godsdienstige mense ongelukkig “gedoem is om te vergaan” omdat hulle deur Satan mislei sal word, wat “wonderwerke en wonders sal voortbring met die doel om te mislei”. Hierdie mense, het Paulus gesê, sal “hulle verstande sluit vir die liefde vir die waarheid wat hulle kon gered het” en sal dus ‘bedrieg word om ’n leuen te glo’ (2 Tessalonisense 2:9-12, The New Testament, deur William Barclay). Hoe kan jy die moontlikheid om ’n leuen te glo so klein as moontlik maak? Trouens, waarom glo jy wat jy glo?

Grootgemaak om dit te glo?

Dalk is jy grootgemaak in die godsdiens van jou gesin. Dit kan in werklikheid ’n goeie ding wees. God wil hê dat ouers hulle kinders moet leer (Deuteronomium 6:4-9; 11:18-21). Die jong man Timoteus het byvoorbeeld grootliks daarby baat gevind om na sy moeder en grootmoeder te luister (2 Timoteus 1:5; 3:14, 15). Die Skrif moedig ons aan om dit wat ons ouers glo, te respekteer (Spreuke 1:8; Efesiërs 6:1). Maar wou jou Skepper hê dat jy iets moet glo bloot omdat jou ouers dit glo? Om sonder meer vas te hou aan wat vorige geslagte geglo en gedoen het, kan in werklikheid gevaarlik wees.—Psalm 78:8; Amos 2:4.

’n Samaritaanse vrou wat Jesus Christus ontmoet het, is grootgemaak om in haar Samaritaanse godsdiens te glo (Johannes 4:20). Jesus het haar vryheid om self te besluit wat sy wou glo, gerespekteer, maar hy het ook vir haar gesê: “Julle aanbid wat julle nie ken nie.” Baie van haar godsdiensopvattings was in werklikheid verkeerd, en hy het vir haar gesê dat sy van haar opvattings sal moet verander as sy God op aanneemlike wyse wou aanbid—“met gees en waarheid”. Mettertyd sou sy en ander soos sy ‘gehoorsaam moes word aan die geloof’ wat deur Jesus Christus geopenbaar is, en nie meer vashou aan oortuigings wat ongetwyfeld vir haar kosbaar was nie.—Johannes 4:21-24, 39-41; Handelinge 6:7.

Onderrig om dit te glo?

Talle onderrigters en gesaghebbendes in gespesialiseerde vakgebiede verdien groot respek. Tog is die geskiedenis vol voorbeelde van beroemde onderrigters wat heeltemal verkeerd was. Aangaande twee wetenskapboeke wat die Griekse filosoof Aristoteles geskryf het, het die geskiedskrywer Bertrand Russell byvoorbeeld gesê dat “daar in albei nouliks ’n sin is wat in die lig van die moderne wetenskap aanvaar kan word”. Selfs hedendaagse gesaghebbendes het dit dikwels heeltemal mis. “Vliegmasjiene wat swaarder as lug is, is nie moontlik nie”, het die Britse wetenskaplike lord Kelvin in 1895 vol vertroue verklaar. ’n Verstandige persoon glo dus nie iets blindweg net omdat die een of ander gesaghebbende onderrigter so sê nie.—Psalm 146:3.

Dieselfde omsigtigheid is nodig wanneer dit kom by godsdiensonderrig. Die apostel Paulus was goed onderrig deur sy godsdiensleraars en was uitermate ‘ywerig vir die oorleweringe van sy vaders’. Sy ywer vir die tradisionele opvattings van sy voorvaders het egter vir hom probleme veroorsaak. Dit het daartoe gelei dat hy “die gemeente van God . . . vervolg en verwoes het” (Galasiërs 1:13, 14; Johannes 16:2, 3). Nog erger, Paulus het lank “teen die prikkels . . . bly skop” en weerstand gebied teen die invloede wat hom tot geloof in Jesus Christus moes lei. Jesus self moes op dramatiese wyse ingryp om Paulus sover te kry om sy opvattings te verander.—Handelinge 9:1-6; 26:14.

Beïnvloed deur die media?

Dalk het die media jou opvattings grootliks beïnvloed. Die meeste mense is bly dat daar in die media vryheid van spraak is, wat hulle toegang tot inligting verleen wat nuttig kan wees. Daar is egter sterk magte wat die media kan manipuleer en wat dit ook dikwels doen. Die inligting wat aangebied word, is dikwels partydig en kan jou denke op slinkse wyse beïnvloed.

Daarbenewens is die media geneig om publisiteit te gee aan dinge wat sensasioneel en ongewoon is om die aandag van ’n groter gehoor te trek. Wat net ’n paar jaar gelede nouliks gesê of gedruk kon word vir die publiek om te lees, het vandag iets algemeens geword. Stadig maar seker word gevestigde gedragstandaarde aangeval en vernietig. Mense se denkwyse word geleidelik verwronge. Hulle begin glo dat “goed sleg is en sleg goed”.—Jesaja 5:20, NW; 1 Korintiërs 6:9, 10.

Vind ’n vaste grondslag vir jou opvattings

Om op die idees en filosofieë van mense te bou, is soos om op sand te bou (Matteus 7:26; 1 Korintiërs 1:19, 20). Waarop kan jy dus jou opvattings met vertroue grond? Aangesien God vir jou die intellektuele vermoë gegee het om die wêreld om jou te ondersoek en oor geestelike onderwerpe vrae te vra, maak dit dan nie sin dat hy ook die middele sou voorsien waardeur jy juiste antwoorde op jou vrae kan kry nie? (1 Johannes 5:20). Ja, natuurlik sou hy! Maar hoe kan jy vasstel wat waar, eg of werklik is wanneer dit by aanbidding kom? Ons kan sonder huiwering sê dat God se Woord, die Bybel, die enigste grondslag bied waarop ons dit kan doen.—Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:16, 17.

“Maar wag ’n bietjie”, sal iemand dalk sê, “is dit nie juis diegene wat die Bybel besit wat die meeste konflik en verwarring in wêreldaangeleenthede veroorsaak het nie?” Wel, dit is waar dat godsdiensleiers wat sê dat hulle die Bybel volg, talle verwarrende en teenstrydige idees voortgebring het. Dit is omdat hulle in werklikheid nie hulle opvattings op die Bybel gegrond het nie. Die apostel Petrus beskryf hulle as “valse profete” en “valse leermeesters” wat “verderflike sektes” sou stig. As gevolg van hulle optrede, sê Petrus, “sal daar smadend van die weg van die waarheid gepraat word” (2 Petrus 2:1, 2). Tog, skryf Petrus, “is die profetiese woord vir ons vaster gemaak; en julle doen goed deur aandag daaraan te skenk soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn”.—2 Petrus 1:19; Psalm 119:105.

Die Bybel moedig ons aan om ons opvattings op te weeg teen wat die Bybel leer (1 Johannes 4:1). Miljoene lesers van hierdie tydskrif kan daarvan getuig dat hulle lewe sinvoller en bestendiger is omdat hulle dit gedoen het. Wees dus soos die edelmoedige Bereane. ‘Ondersoek daagliks die Skrif sorgvuldig’ voordat jy besluit wat om te glo (Handelinge 17:11). Jehovah se Getuies sal jou graag help om dit te doen. Wat jy wil glo, is natuurlik jou besluit. Dit is egter verstandig om seker te maak dat jou opvattings nie deur menslike wysheid en begeertes gevorm word nie, maar eerder deur God se geopenbaarde Woord van waarheid.—1 Tessalonisense 2:13; 5:21.

[Prente op bladsy 6]

Jy kan met vertroue jou opvattings op die Bybel grond