Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Abraham—’n Voorbeeld van geloof

Abraham—’n Voorbeeld van geloof

Abraham—’n Voorbeeld van geloof

“[Abraham was] die vader . . . van almal wat geloof het.”—ROMEINE 4:11.

1, 2. (a) Hoe word Abraham vandag deur ware Christene onthou? (b) Waarom staan Abraham bekend as “die vader . . . van almal wat geloof het”?

 HY WAS die voorvader van ’n magtige nasie, ’n profeet, ’n sakeman, ’n leier. Maar vandag onthou Christene hom bowenal weens die eienskap wat Jehovah God beweeg het om hom as ’n vriend te beskou—sy onwankelbare geloof (Jesaja 41:8; Jakobus 2:23). Sy naam was Abraham, en die Bybel noem hom “die vader . . . van almal wat geloof het”.—Romeine 4:11.

2 Het manne voor Abraham, soos Abel, Henog en Noag, dan nie ook geloof geopenbaar nie? Ja, maar die verbond om alle nasies van die aarde te seën, is met Abraham gesluit (Genesis 22:18). Hy het dus die figuurlike vader geword van almal wat geloof in die beloofde Saad sou stel (Galasiërs 3:8, 9). In sekere sin kan Abraham as ons vader beskou word, want sy geloof dien as ’n navolgenswaardige voorbeeld vir ons. Sy hele lewe kan as ’n bewys van geloof beskou word, want dit het uit talle toetse en beproewinge bestaan. Trouens, lank voordat Abraham voor die grootste toets van sy geloof te staan gekom het—die opdrag om sy seun Isak op te offer—het Abraham sy geloof tydens talle kleiner beproewinge bewys (Genesis 22:1, 2). Kom ons kyk nou na sommige van daardie vroeë toetse van geloof en sien watter lesse ons vandag daaruit kan leer.

Die opdrag om Ur te verlaat

3. Wat vertel die Bybel ons in verband met Abram se agtergrond?

3 Die Bybel maak vir die eerste keer melding van Abram (later bekend as Abraham) in Genesis 11:26, wat sê: “Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.” Abram was ’n afstammeling van die godvresende man Sem (Genesis 11:10-24). Volgens Genesis 11:31 het Abram en sy familie in die welvarende stad “Ur van die Chaldeërs” gewoon, ’n stad wat vroeër oos van die Eufraatrivier geleë was. a Hy het dus nie as ’n nomadiese tentbewoner grootgeword nie, maar as ’n stadsbewoner in ’n plek met baie luukshede. Ingevoerde goedere kon in Ur se basaars gekoop word. Al langs die strate was daar witgepleisterde huise met 14 vertrekke en lopende water.

4. (a) Voor watter uitdagings het aanbidders van die ware God in Ur te staan gekom? (b) Wat het daartoe gelei dat Abram geloof in Jehovah gestel het?

4 Ondanks al die materiële voordele wat dit ingehou het, het die lewe in Ur ’n groot uitdaging gebied vir enigiemand wat die ware God wou dien. Afgodediens en bygelowigheid was iets algemeens in die stad. Trouens, ’n hoë ziggoerat ter ere van die maangod Nanna het bo die ander geboue uitgetoring. Abram was ongetwyfeld onder groot druk, moontlik ook van party van sy familielede, om aan hierdie afstootlike vorm van aanbidding deel te neem. Volgens sommige Joodse tradisies het Abram se vader, Tera, self afgodsbeelde gemaak (Josua 24:2, 14, 15). Hoe dit ook al sy, Abram het nie verlagende valse godsdiens beoefen nie. Sy bejaarde voorvader Sem het nog gelewe en het ongetwyfeld sy kennis van die ware God aan hom oorgedra. Gevolglik het Abram geloof in Jehovah gestel en nie in Nanna nie!—Galasiërs 3:6.

’n Toets van geloof

5. Wat het God Abram beveel en ook aan hom belowe terwyl hy nog in Ur was?

5 Abram se geloof sou op die proef gestel word. God het aan hom verskyn en hom beveel: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”—Genesis 12:1-3; Handelinge 7:2, 3.

6. Waarom het dit ware geloof van Abram geverg om Ur te verlaat?

6 Abram was oud en kinderloos. Hoe kon daar “’n groot nasie” van hom gemaak word? En presies waar was hierdie land waarheen hy moes gaan? God het nie op daardie stadium vir hom gesê nie. Dit het dus ware geloof van Abram geverg om die welvarende stad Ur en al sy geriewe te verlaat. Die boek Family, Love and the Bible sê aangaande antieke tye: “Die ergste straf wat ’n familielid opgelê kon word wat hom aan ’n ernstige misdaad skuldig gemaak het, was om hom te verstoot, om hom sy ‘lidmaatskap’ in die familie te ontneem. . . . Dit is waarom dit so ’n uitsonderlike bewys van onvoorwaardelike gehoorsaamheid en vertroue op God was toe Abraham, nadat God hom die opdrag gegee het, nie net sy land verlaat het nie, maar ook sy familie.”

7. Hoe kan Christene van vandag voor soortgelyke toetse as dié van Abram te staan kom?

7 Vandag kom Christene dalk voor soortgelyke toetse te staan. Soos Abram is ons moontlik onder druk om materiële belange voor teokratiese belange te stel (1 Johannes 2:16). Ons word dalk deur ongelowige familielede teëgestaan, insluitende dié wat uitgesit is, wat ons moontlik in onheilsame assosiasie met hulle probeer lok (Matteus 10:34-36; 1 Korintiërs 5:11-13; 15:33). Abram het dus ’n goeie voorbeeld vir ons gestel. Hy het vriendskap met Jehovah belangriker as alle ander dinge geag—selfs as familiebande. Hy het nie presies geweet hoe, wanneer of waar God se beloftes vervul sou word nie. Maar hy was bereid om sy lewe op die spel te plaas ter wille van daardie beloftes. Watter goeie aanmoediging is dit tog om die Koninkryk vandag eerste in ons lewe te stel!—Matteus 6:33.

8. Watter uitwerking het Abram se geloof op sy naaste familielede gehad, en wat kan Christene daaruit leer?

8 Wat van Abram se naaste familielede? Abram se geloof en oortuiging het klaarblyklik ’n kragtige uitwerking op hulle gehad, want sy vrou, Sarai, sowel as sy ouerlose broerskind Lot is beweeg om God se bevel te gehoorsaam en Ur te verlaat. Abram se broer Nahor en party van sy nakomelinge het Ur later verlaat en in Haran gaan woon, waar hulle Jehovah aanbid het (Genesis 24:1-4, 10, 31; 27:43; 29:4, 5). Selfs Abram se vader, Tera, het ingestem om saam met sy seun te gaan! Die besluit om na Kanaän te trek, word dus in die Bybel aan hom, as die familiehoof, toegeskryf (Genesis 11:31). Sal ons dalk ook ’n mate van sukses behaal as ons taktvol vir ons familielede getuig?

9. Watter voorbereidings moes Abram vir sy reis tref, en waarom het dit dalk opofferinge vereis?

9 Voordat Abram kon vertrek, was daar baie wat hy eers moes doen. Hy moes eiendom en besittings verkoop en tente, kamele, voedsel en die nodige toerusting koop. Abram het dalk ’n finansiële verlies gely omdat hy haastig voorbereidings moes tref, maar hy het behae daarin geskep om Jehovah te gehoorsaam. Wat ’n onvergeetlike dag moes dit tog gewees het toe al die reëlings getref is en Abram se karavaan buite die mure van Ur gestaan het, gereed vir die reis! Die karavaan het in ’n noordwestelike rigting al langs die boog van die Eufraatrivier gereis. Nadat hulle weke lank gereis en ongeveer 1 000 kilometer afgelê het, het hulle ’n stad van noordelike Mesopotamië bereik met die naam Haran, ’n groot stilhouplek vir karavane.

10, 11. (a) Waarom het Abram moontlik ’n tyd lank in Haran gebly? (b) Watter bemoediging kan aan Christene gegee word wat vir bejaarde ouers sorg?

10 Abram het hom in Haran gevestig, moontlik ter wille van sy bejaarde vader, Tera (Levitikus 19:32). Baie Christene het ook vandag die voorreg om vir bejaarde of siek ouers te sorg, en party moet selfs aanpassings maak om dit te kan doen. Wanneer dit nodig is, kan hulle seker wees dat hulle liefdevolle opofferinge “aangenaam in God se oë” is.—1 Timoteus 5:4.

11 Die tyd het verbygegaan. “Die dae van Tera was tweehonderd-en-vyf jaar, en Tera het in Haran gesterwe.” Abram was beslis hartseer oor sy verlies, maar toe die routyd verby was, het hy onmiddellik vertrek. “Abram was vyf-en-sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran. En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom.”—Genesis 11:32; 12:4, 5.

12. Wat het Abram gedoen terwyl hy in Haran gewoon het?

12 Dit is interessant om te lees dat Abram ‘besittings bymekaargemaak’ het terwyl hy in Haran was. Hoewel Abram materiële opofferinge gemaak het sodat hy Ur kon verlaat, het hy Haran as ’n ryk man verlaat. Dit was duidelik weens God se seën (Prediker 5:18). Hoewel God nie vandag rykdom aan al sy knegte belowe nie, is hy getrou aan sy belofte om in die behoeftes van dié te voorsien wat ‘huise, broers of susters’ ter wille van die Koninkryk verlaat (Markus 10:29, 30). Abram het ook baie ‘slawe verwerf’. Die Jerusalem-Targoem en die Chaldese Parafrase sê dat Abram ‘geproseliteer’ het (Genesis 18:19). Beweeg jou geloof jou om met jou bure, werksmaats of skoolmaats te praat? Abram het hom nie in Haran gevestig en toe van God se bevel vergeet nie; hy het eerder sy tyd daar goed gebruik. Maar nou was sy tyd daar verby. “Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het.”—Genesis 12:4.

Oor die Eufraat

13. Wanneer het Abram die Eufraatrivier oorgesteek, en waarom was hierdie gebeurtenis so betekenisvol?

13 Weer eens moes Abram trek. Hy verlaat Haran, en sy karavaan reis ongeveer 90 kilometer wes. Moontlik het Abram stilgehou by ’n plek langs die Eufraat wat oorkant die eertydse handelsentrum Karkemis is. Dit was ’n algemene oorsteekplek vir karavane. b Wanneer het Abram se karavaan die rivier oorgesteek? Die Bybel toon dat dit 430 jaar voor die uittog van die Jode uit Egipte op 14 Nisan, 1513 v.G.J., plaasgevind het. Exodus 12:41 sê: “Ná verloop van vierhonderd-en-dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.” (Ons kursiveer.) Die Abrahamitiese verbond het dus klaarblyklik op 14 Nisan, 1943 v.G.J., in werking getree toe Abram in gehoorsaamheid die Eufraat oorgesteek het.

14. (a) Wat kon Abram met sy oë van geloof sien? (b) In watter sin is God se hedendaagse volk meer geseënd as Abram?

14 Abram het ’n welvarende stad agtergelaat. Maar hy kon nou met die oë van sy verstand “die stad [sien] wat ware fondamente het”, ’n regverdige regering oor die mensdom (Hebreërs 11:10). Ja, al het Abram beperkte inligting gehad, kon hy God se voorneme om die sterwende mensdom los te koop in breë trekke begin verstaan. Vandag is ons geseënd om ’n baie duideliker begrip van God se voornemens te hê as wat Abram gehad het (Spreuke 4:18). Die “stad”, of Koninkryksregering, waarop Abram gehoop het, is nou ’n werklikheid—dit is in 1914 in die hemel opgerig. Behoort dit ons dus nie tot dade van geloof en vertroue in Jehovah te beweeg nie?

Hulle verblyf in die Beloofde Land begin

15, 16. (a) Waarom het dit moed van Abram geverg om ’n altaar vir Jehovah te bou? (b) Hoe kan Christene van vandag moedig wees soos Abram?

15 Genesis 12:5, 6 sê vir ons: “Hulle het . . . in die land Kanaän gekom. En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More.” Sigem was 50 kilometer noord van Jerusalem en lê in ’n vrugbare vallei wat al as die “paradys van die heilige land” beskryf is. Maar “die Kanaäniete was toe in die land”. Aangesien die Kanaäniete sedelik verdorwe was, sou Abram stappe moes neem om sy familie teen hulle verderflike invloed te beskerm.—Exodus 34:11-16.

16 Vir die tweede keer het ‘die HERE aan Abram verskyn en gesê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee.’ Hoe opwindend tog! Dit het natuurlik geloof van Abram geverg om hom in iets te verheug wat eers deur sy toekomstige afstammelinge beërf sou word. Abram is nogtans beweeg om ‘’n altaar te bou vir die HERE wat aan hom verskyn het’ (Genesis 12:7). ’n Bybelgeleerde sê: “Die oprigting [van] ’n altaar in die land was in werklikheid ’n manier om dit in besit te neem op grond van ’n reg wat hy verkry het deur geloof te beoefen.” Dit het ook moed geverg om so ’n altaar te bou. Daardie altaar was ongetwyfeld van die soort wat later deur die Wetsverbond vereis is en is van ongekapte klippe gemaak (Exodus 20:24, 25). Dit sou heeltemal anders gelyk het as die altare wat deur die Kanaäniete gebruik is. Abram het derhalwe ’n moedige standpunt in die openbaar as ’n aanbidder van die ware God, Jehovah, ingeneem en hom aan vyandigheid en moontlike fisiese gevaar blootgestel. Wat van ons vandag? Huiwer ons—veral die jonges—om ons bure of skoolmaats te vertel dat ons Jehovah aanbid? Mag Abram se moedige voorbeeld ons almal aanspoor om trots daarop te wees dat ons knegte van Jehovah is!

17. Hoe het Abram bewys dat hy ’n verkondiger van God se naam was, en waaraan herinner dit hedendaagse Christene?

17 Abram het altyd Jehovah se aanbidding eerste gestel, ongeag waar hy gegaan het. “Daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste- en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ’n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep” (Genesis 12:8). Die Hebreeuse frase ‘die Naam aanroep’, beteken ook om “die naam bekend te maak (te verkondig)”. Abram het sonder twyfel Jehovah se naam met vrymoedigheid onder sy Kanaänitiese bure bekend gemaak (Genesis 14:22-24, NW). Dit herinner ons vandag aan ons verantwoordelikheid om ’n volle aandeel daaraan te hê om “sy naam in die openbaar bekend [te] maak”.—Hebreërs 13:15; Romeine 10:10.

18. Wat was Abram se verhouding met die inwoners van Kanaän?

18 Abram het nie baie lank in enige van daardie plekke gebly nie. “Daarna het Abram kamp opgebreek en toe van kampplek tot kampplek na die Negeb getrek”—die halfdor gebied suid van die berge van Juda (Genesis 12:9, NW). Deur gedurig rond te trek en hom in elke nuwe plek as ’n aanbidder van Jehovah te identifiseer, het Abram en sy huishouding “in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land is” (Hebreërs 11:13). Terselfdertyd het hulle altyd noue omgang met hulle heidense bure vermy. Christene moet eweneens “geen deel van die wêreld” bly (Johannes 17:16). Hoewel ons vriendelik en beleef teenoor ons bure en werksmaats is, is ons versigtig om ons nie skuldig te maak aan gedrag wat die gees weerspieël van die wêreld wat van God vervreem is nie.—Efesiërs 2:2, 3.

19. (a) Waarom sou ’n nomadiese lewe vir Abram en Sarai moeilik gewees het? (b) Watter verdere toetse het op Abram gewag?

19 Laat ons nie vergeet dat dit nie vir Abram of Sarai maklik kon gewees het om aan ’n veeleisende nomadiese lewenswyse gewoond te raak nie. Hulle het van die produkte van hulle kudde gelewe in plaas van voedsel by een van Ur se welvoorsiende basaars te koop; hulle het in tente in plaas van ’n mooi huis gewoon (Hebreërs 11:9). Abram se lewe was besig; dit was ’n groot werk om oor sy kuddes en sy dienaars toesig te hou. Sarai het ongetwyfeld omgesien na die werk wat gewoonlik deur vroue in daardie kultuur gedoen is: om deeg te knie, brood te bak, wol te spin, klere te maak (Genesis 18:6, 7; 2 Konings 23:7; Spreuke 31:19; Esegiël 13:18). Maar nuwe toetse het op hulle gewag. Abram en sy huishouding sou binnekort voor ’n lewensgevaarlike situasie te staan kom! Sou Abram se geloof die toets deurstaan?

[Voetnote]

a Hoewel die Eufraat tans ongeveer 16 kilometer oos van die eertydse ligging van Ur loop, toon die bewyse dat die rivier in antieke tye net wes van die stad geloop het. Daar kon dus later van Abram gesê word dat hy “van oorkant die Eufraat af” gekom het.—Josua 24:3.

b Eeue later het die Assiriese koning Assurnasirpal II vlotte gebruik om die Eufraat naby Karkemis oor te steek. Die Bybel sê nie of Abram dieselfde moes doen en of hy en sy karavaan eenvoudig deur die water gegaan het nie.

Het jy opgemerk?

• Waarom word Abram ‘die vader genoem van almal wat geloof het’?

• Waarom het dit geloof van Abram geverg om Ur van die Chaldeërs te verlaat?

• Hoe het Abram getoon dat hy Jehovah se aanbidding eerste gestel het?

[Studievrae]

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ABRAHAM SE REIS

Ur

Haran

Karkemis

KANAÄN

Groot See

[Erkenning]

Based on a map copyrighted by Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel

[Prent op bladsy 15]

Dit het geloof van Abram geverg om die geriewe van Ur agter te laat

[Prent op bladsy 18]

Deur in tente te woon, het Abram en sy huishouding ‘in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners is’