Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe jou jeug suksesvol kan wees

Hoe jou jeug suksesvol kan wees

Hoe jou jeug suksesvol kan wees

DIE bewoners van een Europese land is gevra om uit drie alternatiewe te kies: skoonheid, rykdom of jeug. Die algemeenste keuse was jeug. Ja, mense van alle ouderdomsgroepe beskou die tienerjare en die vroeë twintigerjare as ’n spesiale tyd in die lewe. En almal wil hê dat jongmense met sukses van hulle kinderjare na volwassenheid moet oorskakel. Maar hoe?

Kan die Bybel van hulp wees? Die antwoord is beslis ja. Kom ons ondersoek twee gebiede waarop God se Woord vir jongmense van spesiale hulp kan wees, moontlik van meer hulp vir die jonges as vir enige ander ouderdomsgroep.

Hoe om met ander oor die weg te kom

Jugend 2000 is ’n verslag oor ’n uitgebreide opname van die gesindhede, waardes en gedrag van meer as 5 000 jongmense in Duitsland. Die opname toon dat jongmense hulle vrye tyd—wanneer hulle na musiek luister, aan sport deelneem of sommer net uithang—bykans altyd saam met ander mense bestee. Jongmense wil, moontlik meer as enige ander ouderdomsgroep, saam met hulle portuurs wees. Om met ander oor die weg te kom, is beslis een van die geheime van ’n suksesvolle jeug.

Maar dit is nie altyd maklik om met ander oor die weg te kom nie. Trouens, jong mans en vroue erken dat menseverhoudings ’n gebied is waarop hulle dikwels probleme ondervind. Hier kan die Bybel werklik nuttig wees. God se Woord bevat basiese riglyne vir jongmense om gebalanseerde verhoudings op te bou. Wat sê die Bybel?

Een van die belangrikste beginsels in menseverhoudings word die Gulde Reël genoem: “Behandel altyd ander mense soos jy wil hê hulle jou moet behandel.” As jy ander met respek, waardigheid en vriendelikheid behandel, sal dit hulle aanspoor om jou op dieselfde manier te behandel. Vriendelikheid kan ’n atmosfeer van wrywing en spanning neutraliseer. As jy bekend word vir jou bedagsame optrede teenoor ander, sal hulle waarskynlik aan jou erkenning verleen en jou aanvaar. Laat dit jou nie goed voel as ander jou aanvaar nie?—Matteus 7:12, Revised English Bible.

Die Bybel vermaan jou om ‘jou naaste lief te hê soos jouself’. Jy moet jouself liefhê in die sin dat jy vir jouself omgee en ’n gesonde mate van selfrespek het, nie te veel nie en nie te min nie. Waarom is dit nuttig? Wel, as jy nie goed voel oor jouself nie, kan jy oorkrities teenoor ander wees, wat goeie verhoudings kan strem. Maar ’n gebalanseerde gevoel van eiewaarde is ’n grondslag waarop jy sterk vriendskappe kan bou.—Matteus 22:39.

Wanneer ’n vriendskap ontwikkel, is dit belangrik dat daar van albei kante ’n poging aangewend word om dit te versterk. Dit moet jou goed laat voel om tyd aan ’n vriendskap te bestee, want “dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”. Een manier om te gee, is om vergewensgesind te wees, wat behels dat ons foutjies oorsien en nie volmaaktheid van ander verwag nie. Die Bybel sê vir ons: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.” Ja, “wees, . . . sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense”. Gestel ’n vriend wys jou op ’n swakheid wat jy het. Hoe reageer jy? Beskou hierdie praktiese raad uit die Bybel: “Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie”, want “die houe wat ’n vriend gee, is goed bedoel”. Is dit nie waar dat vriende jou gedagtes, spraak en gedrag beïnvloed nie? Gevolglik waarsku die Bybel: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” Maar daarenteen sê dit: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys.”—Handelinge 20:35; Filippense 4:5; Romeine 12:17, 18; Prediker 7:9; Spreuke 13:20; 27:6, REB; 1 Korintiërs 15:33.

Marco praat namens talle jong mans en vroue wanneer hy sê: “Bybelbeginsels is ’n groot hulp om met ander oor die weg te kom. Ek ken sommige mense wat eenvoudig vir hulleself lewe en vir wat hulle uit die lewe kan kry. Die Bybel leer ons om nie net aan onsself te dink nie, maar eerder aan ander. Sover ek kan sien, is dit die beste benadering tot goeie menseverhoudings.”

Wat jongmense soos Marco uit die Bybel leer, help hulle nie net in hulle jeug nie, maar vir jare in die toekoms. En wat die toekoms betref, vind ons ’n ander manier waarop die Bybel van spesiale nut vir die jonger geslag kan wees.

Kommer oor die toekoms

Talle jongmense het ’n weetgierige gees. Hulle wil, moontlik meer as enige ander ouderdomsgroep, weet wat gebeur en waarom. En die Bybel, meer as enige ander boek, verduidelik die redes vir wêreldtoestande en vertel ons wat om in die toekoms te verwag. Dit is wat die jonger geslag wil weet. Waarom kan ons so sê?

Wel, hoewel mense oor die algemeen glo dat jongmense net vir die hede lewe, skilder sommige opnames ’n effense ander prentjie. Dit toon dat jongmense dikwels baie noukeurig let op wat om hulle aangaan, en dan maak hulle hulle eie gevolgtrekkings oor hoe die lewe waarskynlik in die toekoms sal wees. Bewyse hiervan is dat 3 uit 4 jong mans en vroue “gereeld” of “baie gereeld” oor die toekoms nadink. Hoewel jongmense oor die algemeen optimisties is, beskou die meeste jongmense die toekoms met ’n mate van kommer.

Waarom is hulle bekommerd? Baie van die volgende geslag volwassenes het reeds probleme met misdaad, geweld en dwelmmisbruik. Jongmense is besorg oor waar hulle ’n vaste werk in ’n hoogs mededingende samelewing gaan kry. Hulle voel dat hulle onder druk is om goeie punte op skool te behaal of om ’n toppresteerder by die werk te wees. Een 17-jarige het gekla: “Ons lewe in ’n samelewing waar almal teen almal is. Elkeen probeer doen net wat hy wil. Jy moet altyd wys wat jy kan doen, en dit maak my siek.” ’n Ander jong persoon, 22 jaar oud, het gesê: “Presteerders bereik iets in die lewe en kan gerieflik lewe. Die ongelukkige kandidate, wat om die een of ander rede nie kan byhou nie, word eenvoudig agtergelaat.” Waarom is die lewe so mededingend? Sal die lewe altyd so wees?

Realistiese verduideliking

Wanneer jongmense verslae of ontsteld na die samelewing kyk, stem hulle met die Bybel saam—of hulle dit nou besef of nie. God se Woord toon dat vandag se samelewing waar almal teen almal is, ’n teken van die tye is. Die apostel Paulus het in ’n brief aan ’n jong man met die naam Timoteus oor ons dag geskryf: “[Daar sal] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom.” Waarom kritieke tye, en waarom sal dit moeilik wees om daardeur te kom? Omdat mense, soos Paulus verder geskryf het, “liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, . . . ondankbaar, dislojaal, . . . wreedaardig” sal wees. Is dit nie ’n juiste beskrywing van hoe baie mense vandag optree nie?—2 Timoteus 3:1-3.

Die Bybel sê dat hierdie kritieke tye “in die laaste dae” sal voorkom, voordat groot veranderinge oor die ganse mensegemeenskap gebring sal word. Hierdie veranderinge sal almal raak, oud en jonk. Watter soort veranderinge? ’n Hemelse regering gaan binnekort heerskappy oor menseaangeleenthede oorneem, en die onderdane daarvan sal “groot vrede” geniet. “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Gevoelens van kommer en ontsteltenis sal tot die verlede behoort.—Psalm 37:11, 29.

Slegs die Bybel gee betroubare insig in die toekoms. As ’n jong persoon weet wat om oor die volgende paar jaar te verwag, kan hy hom op die gebeurtenisse voorberei en veilig en meer in beheer van sy lewe voel. Hierdie gevoel verminder spanning en kommer. In hierdie opsig gee die Bybel aandag aan die spesiale behoefte van die jonger geslag—naamlik om die samelewing te verstaan en te weet wat die toekoms inhou.

Sukses in jou jeug

Waaraan kan sukses in jou jeug gemeet word? Verdere opleiding, materiële besittings en ’n breë vriendekring? Baie dink dalk so. Die tienerjare en vroeë twintigerjare behoort vir ’n mens ’n goeie grondslag vir jou latere lewe te lê. Met ander woorde, sukses in jou jeug kan ’n aanduiding wees van wat later gaan gebeur.

Soos ons gesien het, kan die Bybel ’n jong persoon help om ’n sukses te maak van sy jonger jare. Baie jongmense het alreeds gevind dat dit in hulle eie lewe die geval is. Hulle lees God se Woord daagliks en pas toe wat hulle leer. (Sien “Wenk van ’n jong kneg van Jehovah”, op bladsy 6.) Die Bybel is inderdaad ’n boek vir jongmense van vandag, aangesien dit hulle kan help om “volkome bevoeg [te] wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk”.—2 Timoteus 3:16, 17.

[Lokteks op bladsy 5]

Een van die geheime van ’n suksesvolle jeug is om met ander oor die weg te kom

[Lokteks op bladsy 6]

Jongmense wil, moontlik meer as enige ander ouderdomsgroep, weet wat gebeur en waarom

[Venster op bladsy 6, 7]

Wenk van ’n jong kneg van Jehovah

Alexander is 19 jaar oud. Hy het grootgeword in ’n gesin wat Getuies van Jehovah is, en hy geniet dit terdeë om sy geloof heelhartig uit te leef. Maar dit was nie altyd die geval nie. Alexander verduidelik:

“Glo dit as jy wil, maar ek het meer as sewe jaar as ’n ongedoopte jongman met Jehovah se Getuies geassosieer. Gedurende daardie tyd was my aanbidding halfhartig, ’n blote roetine. Ek veronderstel ek het eenvoudig nie die moed gehad om myself eerlik te beoordeel nie.”

Toe het Alexander se gesindheid verander. Hy sê verder:

“My ouers en vriende in die gemeente het my bly aanmoedig om die Bybel daagliks te lees sodat ek Jehovah persoonlik kon leer ken. Op die ou end het ek dit probeer. Ek het dus minder televisie gekyk en Bybellees ’n deel van my roetine vroeg in die oggend gemaak. Uiteindelik het ek begin verstaan waaroor die Bybel gaan. Ek het begin sien hoe dit my as ’n persoon kan help. En—die heel belangrikste—ek het begryp dat Jehovah wil hê dat ek hom moet leer ken. Toe ek dit eers ter harte geneem het, het my eie persoonlike verhouding met hom begin groei, en vriendskappe binne die gemeente het verbeter. Wat ’n verskil het die Bybel tog in my lewe gemaak! Ek raai alle jong knegte van Jehovah aan om daagliks die Bybel te lees.”

Daar is miljoene jongmense regoor die wêreld wat met Jehovah se Getuies assosieer. Is jy een van hulle? Sal jy graag daarby baat wil vind om gereeld die Bybel te lees? Volg gerus Alexander se voorbeeld. Bestee minder tyd aan onbelangrike bedrywighede en maak Bybellees ’n deel van jou daaglikse roetine. Jy sal beslis daarby baat vind.