Hulle skyn as ligte in die Stad van Lig
Hulle skyn as ligte in die Stad van Lig
Fluctuat nec mergitur, of “Sy word deur die golwe geslaan, maar sy sink nie”, is die stad Parys se leuse.
PARYS het oor die afgelope 2 000 jaar, soos ’n skip, tallose buitelandse storms en interne muiterye getrotseer om drywend te bly. Vandag is Parys een van die wêreld se mooiste stede en word dit bewonder vir sy indrukwekkende argitektuur, boomryke boulevards en wêreldberoemde museums. Party dink daaraan as die bymekaarkomplek van digters, skilders en filosowe. Ander geniet sy heerlike kos en bewonder sy modeskeppings.
In die geskiedenis was Parys ’n vesting vir Katolisisme. Tweehonderd jaar gelede is Parys die Stad van Lig genoem weens sy deurslaggewende rol in ’n Europese intellektuele beweging wat as die Verligting bekend gestaan het. Vandag word die meeste Parysenaars, bewustelik al dan nie, meer deur die filosofie uit daardie tydperk as deur godsdiens beïnvloed.
Die mens se wysheid het egter nie mense se lewe verlig soos verwag is nie. Baie soek vandag verligting uit ’n ander bron. Dit is nou al ongeveer 90 jaar dat Jehovah se Getuies in Parys “as ligte . . . skyn” (Filippense 2:15). Soos knap seevaarders moes hulle hulle voortdurend by veranderende strome of gebeure aanpas sodat hulle “die skatte van al die nasies” aan boord kon neem.—Haggai 2:7.
’n Stad met uitdagings
In 1850 was Parys ’n stad met 600 000 inwoners. Die hedendaagse bevolking, voorstede ingesluit, is ver oor die negemiljoen. Hierdie groei het daartoe gelei dat Parys die stad geword het met die grootste bevolkingsverskeidenheid in Frankryk. Dit is ’n wêreldsentrum vir hoër onderwys, met een van die wêreld se oudste universiteite en ongeveer 250 000 studente. Sommige voorstede van Parys met talle hoë woonstelblokke wat deur misdaad en werkloosheid gekenmerk word, verteenwoordig Parys se donker kant. Dit verg ongetwyfeld bekwaamheid en aanpasbaarheid van Jehovah se Getuies om die goeie nuus op ’n aantreklike manier vir alle soorte mense aan te bied.—1 Timoteus 4:10.
Meer as 20 miljoen toeriste besoek Parys elke jaar. Hulle gaan dalk opgewonde met die Eiffeltoring op, wandel langs die Seinerivier of sit rond in straatkafees en eetplekkies, waar hulle die atmosfeer inneem. Tog kan die daaglikse lewe vir Parysenaars
baie gejaagd wees. “Mense is altyd haastig”, verduidelik Christian, ’n voltydse bedienaar. “Wanneer hulle van die werk af kom, is hulle gedaan.” Dit is nie maklik om met hierdie besige mense te praat nie.
Een van die grootste probleme waarmee Jehovah se Getuies in Parys egter te kampe het, is om met mense by hulle woonplek in aanraking te kom. Sommige geboue is met ’n interkomstelsel toegerus. Weens die toename in misdaad, het woonstelgeboue dikwels elektroniese sekuriteitstelsels by die ingange, wat toegang onmoontlik maak. Dit dra ongetwyfeld daartoe by dat daar in party gebiede ’n verhouding van slegs 1 Getuie tot 1 400 mense is. Daar word dus al hoe meer telefoon- en informele getuieniswerk gedoen. Kon Jehovah se Getuies op ander maniere hulle ‘lig laat skyn’?—Matteus 5:16.
Daar is oorvloedige geleenthede en plekke vir informele getuieniswerk. Martine het ’n vrou by ’n bushalte sien staan wat hartseer gelyk het. Die vrou het kort tevore haar enigste dogter deur die dood verloor. Martine het vir haar ’n brosjure gegee wat die Bybel se vertroostende opstandingshoop bevat. Daarna het sy haar ’n paar maande lank nie gesien nie. Toe Martine die vrou weer ontmoet, kon sy met haar ’n Bybelstudie begin. Ondanks teenkanting van haar man het die vrou ’n Getuie geword.
Produktiewe informele getuieniswerk
Parys se openbare vervoerstelsel is een van die doeltreffendstes ter wêreld. Die beroemde Metro vervoer daagliks 5 000 000 passasiers. Parys se sentrale ondergrondse stasie, Châtelet-Les-Halles, is na bewering die grootste en besigste ter wêreld. Daar is tallose geleenthede om mense daar te ontmoet. Alexandra ry daagliks met die Metro werk toe. Eendag het sy met ’n jong man gesels wat weens leukemie terminaal siek was. Alexandra het vir hom ’n traktaat oor die Paradyshoop gegee. ’n Bybelbespreking is ses weke lank elke dag op dieselfde tyd en plek gehou. Toe het die man op ’n dag nie opgedaag nie. Kort daarna het sy vrou Alexandra gebel en haar gevra om na die hospitaal toe te kom, aangesien haar man se toestand kritiek was. Alexandra het ongelukkig te laat opgedaag. Ná sy dood het die man se vrou verhuis na Bordeaux, in die suidweste van Frankryk, waar die plaaslike Getuies haar besoek het. Watter wonderlike nuus was dit tog vir Alexandra om ’n jaar later te hoor dat die weduwee ’n gedoopte Christengetuie van Jehovah geword het, met die hoop om haar man in die opstanding te sien!—Johannes 5:28, 29.
’n Bejaarde Christenvrou het met Renata gepraat op ’n trein van Parys na Limoges, in die middel van Frankryk. In Pole, haar vaderland, het Renata vyf jaar lank teologie, Hebreeus en Grieks gestudeer, maar sy het haar geloof verloor. Drie maande vroeër het sy tot God gebid. Hoewel sy nie werklik belanggestel het in wat die bejaarde suster gesê het nie en nie gedink het dat sy ooit weer van haar sou hoor nie, het Renata haar telefoonnommer vir haar gegee. Die suster het egter volgehou en seker gemaak dat Renata kort daarna ’n besoek ontvang. Toe ’n Getuie-paartjie Renata besoek, het sy gedink: ‘Wat sal hulle my leer?’ Ondanks haar teologiese opleiding is Renata nederig aangetrek deur Bybelwaarheid. “Ek het dadelik besef dat dit die waarheid is”, verduidelik sy. Nou dra sy graag die Bybel se boodskap aan ander oor.
Michèle het bestuurslesse geneem. Ander leerlinge in haar bestuursteorieklas het oor voorhuwelikse seks begin praat. Michèle het gesê dat sy dit nie goedkeur nie. ’n Week later het die bestuursinstruktrise, Sylvie, haar gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?” Sylvie was beïndruk deur Michèle se Bybelse beskouing. ’n Bybelstudie is begin, en Sylvie is ’n jaar later gedoop.
Die talle parke en tuine in Parys bied ’n pragtige omgewing om met mense te gesels. Josette het ’n blaaskansie benut en na die park toe gegaan, waar ’n bejaarde dame, Aline, ’n entjie gaan stap het. Josette het aan haar die wonderlike beloftes verduidelik wat ons in die Bybel
vind. Reëlings is vir ’n Bybelstudie getref, en Aline het gou tot doop gevorder. Nou, op die ouderdom van 74, is Aline ’n baie produktiewe gewone pionierbedienaar, wat graag Christelike waarheid aan ander vertel.Lig vir al die nasies
Getuies in Parys hoef nie na verre lande toe te seil om ’n ryk kulturele verskeidenheid te geniet nie. Byna 20 persent van die bevolking is buitelanders. Daar is Christengemeentes en -groepe in ongeveer 25 verskillende tale.
Aanleg en verbeelding dra dikwels by tot goeie resultate in hierdie spesiale evangelisasietoewysing. Een Filippynse Getuie het haar eie spesiale gebied geskep. Sy kon al heelwat Bybelstudies begin deur gesprekke met ander Filippyne in winkels aan te knoop terwyl sy inkopies doen.
Dit is die moeite werd om in die predikingswerk inisiatief aan die dag te lê. In Desember 1996, toe Getuies in een van die andertalige gemeentes hoor dat ’n wêreldberoemde sirkus na die stad toe kom, het hulle besluit om met die kunstenaars in aanraking te probeer kom. Een aand ná die vertoning kon hulle met die kunstenaars praat wat na hulle hotel teruggekeer het. Hierdie inisiatief het daartoe gelei dat 28 Bybels, 59 Christelike boeke, 131 brosjures en 290 tydskrifte by hulle gelaat is. Aan die einde van die drie weke wat hulle daar was, het een van die akrobate gevra: “Hoe kan ek een van Jehovah se Getuies word?” ’n Ander een het gesê: “Ek sal in my land gaan preek!”
Verborge skatte kan gevind word
Waar hulle ook al kyk, ontdek besoekers aan Parys pragtige boukundige skatte uit vergange dae. Kosbaarder dinge moet egter nog gevind word. Aniza het saam met haar oom, wat ’n diplomaat is, na Frankryk toe gekom. Tuis het sy gereeld die Bybel gelees. Eendag toe sy haastig die huis verlaat, het ’n pionier vir haar die traktaat Waarom jy die Bybel kan vertrou gegee. ’n Afspraak is vir die volgende week gemaak, en ’n Bybelstudie is begin. Aniza het baie teenstand van haar familie gekry. Sy het met haar studie gevorder totdat sy gedoop is. Hoe beskou sy die voorreg wat sy het om ander van die waarheid te vertel? “Aanvanklik was die predikingswerk moeilik omdat ek skaam is. Maar wanneer ek die Bybel lees, spoor dit my aan. Ek kan nie tot rus kom as ek niks doen nie.” Daardie gesindheid is kenmerkend van baie Getuies in Parys, wat “volop het om in die werk van die Here te doen”.—1 Korintiërs 15:58.
Bybelwaarheid skyn ook in die behuisingsprojekte in van Parys se buitewyke, waar dit ander “juwele” onthul. Aangesien Bruce ’n paar musiekopnames wou leen, het hy na sy vriend toe gegaan, wat kort tevore een van Jehovah se Getuies geword het. Sy vriend was besig om die Bybel met kennisse van Bruce te bespreek, en Bruce het na die gesprek geluister. Hy het die aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar, maar het ’n paar probleme gehad. “Ek was baie bekend in die omgewing. My oudste broer was gedurig in ’n bakleiery betrokke, en ek het rumoerige danspartytjies gereël. Hoe sou ander die feit aanvaar dat ek ’n Getuie word?” Ondanks aanhoudende versoeke om partytjies te reël, het Bruce opgehou om dit te doen. ’n Maand later het hy aan die predikingswerk begin deelneem: “Almal in die omgewing wou weet waarom ek ’n Getuie geword het.” Kort daarna is hy gedoop. Later het hy die voorreg gehad om die Bedieningsopleidingskool by te woon.
Dit kan groot inspanning verg om na skatte te soek. Maar watter vreugde is dit tog wanneer die werk resultate oplewer! Jacky, Bruno en Damien was bakkers in Parys. “Dit was onmoontlik om met ons in aanraking te kom, want ons het die hele tyd gewerk en was nooit tuis nie”, verduidelik Jacky. Patrick, ’n gewone pionier, het gesien dat daar ’n paar kamertjies bo-op ’n gebou was, en hy het gemeen dat daar in ten minste een van hulle iemand moet woon. Sy volgehoue pogings om die inwoners tuis te vind, het vrugte afgewerp toe hy uiteindelik een middag vir Jacky teëkom, wat tydelik daar gebly het. Die gevolg? Die drie vriende het Getuies geword en kon ander werk vind wat hulle
in staat gestel het om ’n groter deelname aan teokratiese bedrywighede te hê.Die Storm word stilgemaak
Onlangs het van die media in Frankryk Jehovah se Getuies as ’n gevaarlike godsdienskultus uitgebeeld. In 1996 het Getuies heelhartig deelgeneem aan die verspreiding van meer as negemiljoen eksemplare van ’n spesiale inligtingstraktaat met die titel Jehovah se Getuies—Wat jy moet weet. Die resultate was baie positief.
’n Spesiale poging is aangewend om almal te bereik. Baie amptenare het hulle waardering vir die Getuies uitgespreek. Een munisipale raadslid het geskryf: “Dit is goed dat Jehovah se Getuies hierdie traktaat versprei het. Dit gee die ware feite.” ’n Dokter het kommentaar gelewer: “Ek wag al lank hiervoor!” Een man in die Parys-omgewing het geskryf: “Ek het toevallig die traktaat Jehovah se Getuies—Wat jy moet weet gelees. Ek wil graag meer weet en van die aanbod van ’n gratis tuisbybelstudie gebruik maak.” ’n Ander een het geskryf: “Dankie vir julle eerlikheid.” Een Katolieke vrou het vir die Getuies gesê: “A! Julle het uiteindelik op hierdie leuens gereageer!”
’n Spesiale vreugde vir talle jong Getuies in die Parys-omgewing was die predikingsveldtog wat in 1997 vir die Katolieke Wêreldjeugdae gereël is. Hoewel die temperatuur hoër as 35 grade Celsius was, het ongeveer 2 500 Getuies daaraan deelgeneem. Binne net ’n paar dae het hulle 18 000 eksemplare van die brosjure ’n Boek vir alle mense by jongmense uit alle wêrelddele gelaat. Die kampanje het nie net ’n goeie getuienis oor Jehovah se naam gegee en saadjies van waarheid gesaai nie, maar dit het ook die jong Getuies aangespoor. Een jong suster, wat haar vakansie kortgeknip het om ’n volle deelname aan hierdie spesiale poging te hê, het geskryf: “Jehovah het ’n gelukkige volk op aarde wat hulle krag gebruik om sy naam te loof. Hierdie twee dae, so vol en lonend, was werklik al die vakansies van ’n leeftyd werd! (Psalm 84:11).”
Die 28ste Februarie 1998 was die 65ste herdenking van ’n bevel wat deur Hitler uitgereik is en wat daartoe gelei het dat die werk van Jehovah se Getuies in Duitsland verbied is. Op daardie datum het Getuies in Frankryk in gehuurde sale openbare vertonings gehou van die video Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault, wat handel oor die vervolging wat Jehovah se volk verduur het. Meer as sewemiljoen uitnodigings is uitgegee. Geskiedkundiges en voormalige gevangenes van die kampe het roerende getuienisse gegee. In die Parys-omgewing het byna 5 000 dit bygewoon, waaronder ’n aansienlike getal nie-Getuies.
Baie in Parys het groot waardering vir geestelike lig, en hulle is bly dat Koninkryksverkondigers helder skyn as ligte. Dit is soos Jesus gesê het: “Die oes is groot, maar die werkers is min” (Matteus 9:37). Die vasberade gees van Jehovah se Getuies om die uitdagings te oorkom wat die predikingswerk in die stad bied, het Parys in ’n spesiale sin ’n Stad van Lig gemaak, tot eer van Jehovah.
[Prent op bladsy 9]
Stadsaal
[Prent op bladsy 9]
Louvre-museum
[Prent op bladsy 9]
Opera Garnier
[Prente op bladsy 10]
Die Bybel se boodskap word aan besige mense verkondig waar hulle ook al gevind word