Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie ophou om te doen wat voortreflik is nie

Moenie ophou om te doen wat voortreflik is nie

Moenie ophou om te doen wat voortreflik is nie

“Laat ons . . . nie ophou om te doen wat voortreflik is nie, want op die regte tyd sal ons maai indien ons nie moeg word nie.”—GALASIËRS 6:9.

1, 2. (a) Waarom is volharding nodig om God te dien? (b) Hoe het Abraham volharding geopenbaar, en wat het hom gehelp om dit te doen?

 AS JEHOVAH se Getuies skep ons behae daarin om God se wil te doen. Ons vind dit ook verfrissend om die “juk” van dissipelskap op ons te neem (Matteus 11:29). Dit is egter nie altyd maklik om Jehovah saam met Christus te dien nie. Die apostel Paulus het dit duidelik gemaak toe hy mede-Christene aangespoor het: “Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang” (Hebreërs 10:36). Volharding is nodig omdat dit ’n uitdaging kan wees om God te dien.

2 Abraham se lewe getuig beslis van hierdie feit. Hy het dikwels voor moeilike keuses en spanningsvolle situasies te staan gekom. Die opdrag om ’n gerieflike lewe in Ur te verlaat, was net die begin. Kort daarna het hy hongersnood ervaar, vyandigheid van sy bure ondervind, het hy amper sy vrou verloor, was sommige van sy familielede hom vyandiggesind en het hy die wreedheid van oorlog deurgemaak. Daar was nog groter beproewinge wat voorgelê het. Maar Abraham het nooit ophou doen wat voortreflik is nie. Dit is merkwaardig wanneer ’n mens in ag neem dat hy nie die volledige Woord van God gehad het soos ons vandag nie. Maar hy het ongetwyfeld van die eerste profesie geweet, waarin God gesê het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad” (Genesis 3:15). Aangesien die Saad deur Abraham sou kom, sou hy beslis die skyf van sataniese vyandskap wees. Daardie insig het Abraham ongetwyfeld gehelp om sy beproewinge blymoedig te verduur.

3. (a) Waarom moet Jehovah se hedendaagse volk beproewinge te wagte wees? (b) Watter bemoediging gee Galasiërs 6:9 ons?

3 Jehovah se hedendaagse volk moet ook beproewinge te wagte wees (1 Petrus 1:6, 7). Openbaring 12:17 waarsku ons immers dat Satan ‘oorlog voer’ teen die gesalfde oorblyfsel. En omdat die “ander skape” intieme metgeselle van die gesalfdes is, is hulle ook teikens van Satan se toorn (Johannes 10:16). Buiten die teenstand waarmee Christene in hulle openbare bediening te kampe het, ondervind hulle dalk ook beproewende probleme in hulle persoonlike lewe. Paulus vermaan ons: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat voortreflik is nie, want op die regte tyd sal ons maai indien ons nie moeg word nie” (Galasiërs 6:9). Ja, hoewel Satan daarop uit is om ons geloof te vernietig, moet ons hom weerstaan, vas in die geloof (1 Petrus 5:8, 9). Wat kan die resultaat van ons getrouheid wees? Jakobus 1:2, 3 verduidelik: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle verskillende beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk.”

Direkte aanvalle

4. Hoe het Satan direkte aanvalle gebruik in ’n poging om God se volk hulle onkreukbaarheid te laat prysgee?

4 Abraham se lewe lig beslis toe voor watter “verskillende beproewinge” ’n Christen vandag te staan kan kom. Die aanval deur die invallers van Sinear het byvoorbeeld optrede van hom geverg (Genesis 14:11-16). Dit verbaas ons dus nie dat Satan nog steeds direkte aanvalle in die vorm van vervolging gebruik nie. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het tientalle lande regeringsverbooie op die Christelike opvoedkundige werk van Jehovah se Getuies geplaas. Die 2001 Yearbook of Jehovah’s Witnesses vertel van die geweld wat Christene in Angola deur die toedoen van vyande moes verduur. Ons broers in sulke lande het op Jehovah vertrou en ferm geweier om in te gee! Hulle het nie met geweld of opstand gereageer nie, maar omsigtig voortgegaan met die predikingswerk.—Matteus 24:14.

5. Hoe kan jong Christene die skyf van vervolging by die skool wees?

5 Maar vervolging kom nie altyd in die vorm van geweld nie. Abraham is uiteindelik met twee seuns geseën—Ismael en Isak. Genesis 21:8-12 sê vir ons dat Ismael eenkeer vir Isak ‘gespot’ het. In sy brief aan die Galasiërs toon Paulus dat dit ernstiger as net ’n onskuldige geterg was, want hy sê dat Ismael Isak vervolg het! (Galasiërs 4:29). Bespotting deur skoolmaats en beledigings deur teenstanders kan dus tereg vervolging genoem word. ’n Jong Christen met die naam Ryan vertel hoe sy klasmaats hom getreiter het: “Die 15 minute op die bus van en na die skool het soos ure gevoel met al die beledigings wat ek moes verduur. Hulle het my met skuifspelde gebrand wat hulle met sigaretaanstekers warm gemaak het.” Waarom het hulle hom so wreed behandel? “My teokratiese opleiding het my anders gemaak as die ander jongmense by die skool.” Maar met sy ouers se ondersteuning kon Ryan getrou volhard. Jonges, voel julle mismoedig omdat julle portuurs julle bespot? Wel, moenie moed opgee nie! As julle getrou volhard, sal julle sien hoe Jesus se woorde vervul word: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my.”—Matteus 5:11.

Alledaagse bekommernisse

6. Wat kan vandag gespanne verhoudings tussen mede-Christene veroorsaak?

6 Die meeste van die beproewinge wat ons vandag ondervind, word deur gewone alledaagse bekommernisse veroorsaak. Abraham self moes die spanning verduur wat tussen sy veewagters en dié van sy neef Lot ontstaan het (Genesis 13:5-7). Vandag kan persoonlikheidsverskille en kleinlike jaloesie ook gespanne verhoudings veroorsaak en selfs die vrede van die gemeente versteur. “Waar daar jaloesie en twisgierigheid is, daar is wanorde en allerhande veragtelike dinge” (Jakobus 3:16). Hoe belangrik is dit tog dat ons nie tou opgooi nie, maar vrede bo trots stel, soos Abraham gedoen het, en ander se belange voor ons eie stel!—1 Korintiërs 13:5; Jakobus 3:17.

7. (a) Wat moet ’n mens doen as ’n mede-Christen jou seergemaak het? (b) Hoe het Abraham ’n goeie voorbeeld gestel om goeie verhoudings met ander te handhaaf?

7 Dit is nie maklik om vreedsaam te wees wanneer ons voel dat ’n medegelowige ons onregverdig behandel het nie. Spreuke 12:18 sê: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing.” Onbesonne woorde kan baie pyn veroorsaak, selfs as dit onskuldig bedoel is. Die pyn is selfs groter as ons voel dat ons belaster is of die slagoffer van wrede skinderpraatjies is (Psalm 6:6, 7, NW). Maar ’n Christen kan nie toelaat dat gekrenkte gevoelens hom laat tou opgooi nie! As jy in so ’n situasie is, moet jy die inisiatief neem om sake reg te stel deur vriendelik met die een te praat wat jou seergemaak het (Matteus 5:23, 24; Efesiërs 4:26). Wees bereid om daardie persoon te vergewe (Kolossense 3:13). Deur nie ’n wrok te koester nie, kan ons ons emosionele wonde en ons verhouding met ons broer heel. Abraham het nie ’n wrok teen Lot in sy hart omgedra nie. Trouens, Abraham het Lot en sy gesin te hulp gesnel!—Genesis 14:12-16.

Beproewinge wat ons oor onsself bring

8. (a) Hoe kan Christene “hulleself oral met baie pyne deurboor”? (b) Wat het Abraham in staat gestel om ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge te hê?

8 Daar is egter sommige beproewinge wat ons oor onsself bring. Jesus het sy volgelinge byvoorbeeld beveel: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel” (Matteus 6:19). Maar party broers ‘deurboor hulleself oral met baie pyne’ deur materiële belange voor Koninkryksbelange te stel (1 Timoteus 6:9, 10). Abraham was bereid om materiële geriewe op te offer sodat hy God kon behaag. “Deur geloof het hy as ’n vreemdeling in die land van die belofte vertoef soos in ’n vreemde land en in tente gewoon saam met Isak en Jakob, wat saam met hom die erfgename van presies dieselfde belofte was. Want hy het gewag op die stad wat ware fondamente het, van welke stad God die bouer en maker is” (Hebreërs 11:9, 10). Abraham se geloof in ’n toekomstige “stad”, of ’n regering van God, het hom gehelp om nie op rykdom te vertrou nie. Sal dit nie verstandig van ons wees om dieselfde te doen nie?

9, 10. (a) Hoe kan ’n begeerte na vernaamheid ’n beproewing tot gevolg hê? (b) Hoe kan ’n broer hom vandag as “’n mindere” gedra?

9 Kom ons neem nog iets. Die Bybel gee hierdie kragtige vermaning: “As iemand dink dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy sy eie verstand” (Galasiërs 6:3). Verder word ons aangespoor om “niks uit twisgierigheid of uit egotisme [te] doen nie, maar met ootmoed” (Filippense 2:3). Party bring beproewinge oor hulleself omdat hulle nie hierdie raad toepas nie. Hulle word aangedryf deur ’n begeerte na vernaamheid in plaas van ’n begeerte om “’n voortreflike werk” te doen en raak dan mismoedig en ontevrede wanneer hulle nie voorregte in die gemeente ontvang nie.—1 Timoteus 3:1.

10 Abraham het ’n goeie voorbeeld gestel deur ‘nie meer van homself te dink as wat nodig was nie’ (Romeine 12:3). Toe Abraham Melgisedek ontmoet het, het hy nie opgetree asof sy begunstigde posisie voor God hom beter as Melgisedek gemaak het nie. Inteendeel, hy het Melgisedek se verhewe posisie as priester erken deur hom ’n tiende van die buit te gee (Hebreërs 7:4-7). Vandag moet Christene eweneens bereid wees om hulle as die ‘mindere te gedra’ en hulle nie op die voorgrond stel nie (Lukas 9:48). As dit lyk of diegene wat die leiding in die gemeente neem, sekere voorregte van jou weerhou, moet jy jouself eerlik ondersoek om vas te stel watter veranderinge jy kan aanbring in jou persoonlikheid of in die manier waarop jy dinge hanteer. Moenie verbitterd raak oor die voorregte wat jy nie het nie, maar benut eerder ten volle die voorreg wat jy wel het—die voorreg om ander te help om Jehovah te leer ken. Ja, ‘verneder jou onder die magtige hand van God, sodat hy jou op die bestemde tyd kan verhef’.—1 Petrus 5:6.

Geloof in dit wat nie gesien kan word nie

11, 12. (a) Waarom verloor party in die gemeente dalk hulle gevoel van dringendheid? (b) Hoe het Abraham ’n goeie voorbeeld gestel deur sy lewe op geloof in God se beloftes te bou?

11 Nog ’n beproewing kan die skynbare vertraging van die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge wees. Volgens 2 Petrus 3:12 moet Christene “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou”. Maar baie wag al jare, selfs dekades, vir hierdie “dag” om te kom. Gevolglik word party dalk mismoedig en verloor hulle hulle gevoel van dringendheid.

12 Kom ons kyk weer eens na Abraham se voorbeeld. Hy het sy hele lewe op geloof in God se beloftes gebou, al was dit onmoontlik dat dit alles in sy leeftyd vervul sou word. Hy het weliswaar lank genoeg gelewe om te sien hoe sy seun Isak opgroei. Maar Abraham se nageslag sou eers eeue later vergelyk kon word met “die sterre van die hemel” of “die sand wat aan die seestrand is” (Genesis 22:17). Abraham het egter nie verbitterd of mismoedig geraak nie. Die apostel Paulus het gevolglik van Abraham en ander aartsvaders gesê: “In geloof het hulle almal gesterf, hoewel hulle nie die vervulling van die beloftes verkry het nie, maar hulle het dit van ver gesien en dit verwelkom en in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land is.”—Hebreërs 11:13.

13. (a) Hoe is hedendaagse Christene soos “tydelike inwoners”? (b) Waarom sal Jehovah hierdie stelsel van dinge tot ’n einde bring?

13 As Abraham sy lewe laat draai het om beloftes waarvan die vervulling nog “ver” in die toekoms was, hoeveel te meer moet ons vandag, aangesien die vervulling van hierdie beloftes so naby is! Soos Abraham moet ons onsself as “tydelike inwoners” in Satan se stelsel beskou deur te weier om ’n gemaksugtige lewenswyse te lei. Natuurlik sou ons verkies dat die “einde van alle dinge” al hier moet wees en nie net naby moet wees nie (1 Petrus 4:7). Moontlik ly ons weens ernstige gesondheidsprobleme. Of ons gaan dalk gebuk onder swaar ekonomiese druk. Ons moet egter onthou dat Jehovah nie net die einde bring om ons uit ons moeilike omstandighede te red nie, maar om sy naam te heilig (Esegiël 36:23; Matteus 6:9, 10). Die einde sal nie noodwendig op ’n tyd kom wat ons pas nie, maar op die mees geleë tyd vir die uitvoering van Jehovah se voornemens.

14. Hoe strek God se geduld Christene van vandag tot voordeel?

14 Onthou ook: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Let op dat God ‘geduldig is met julle’—lede van die Christengemeente. Blykbaar het party van ons meer tyd nodig om veranderinge en aanpassings te maak sodat ons “uiteindelik deur hom vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind [kan] word” (2 Petrus 3:14). Behoort ons dus nie dankbaar te wees dat God geduld beoefen het nie?

Wees vreugdevol ondanks struikelblokke

15. Wat het Jesus in staat gestel om sy vreugde ondanks beproewinge te behou, en hoe vind Christene vandag daarby baat om hom na te volg?

15 Christene leer vandag baie lesse uit Abraham se lewe. Hy het nie net geloof geopenbaar nie, maar ook geduld, skerpsinnigheid, moedigheid en onselfsugtige liefde. Hy het die aanbidding van Jehovah eerste in sy lewe gestel. Maar ons moet onthou dat Jesus Christus die beste voorbeeld vir ons gestel het om na te volg. Hy het ook voor talle beproewinge en toetse te staan gekom, maar hy het deur dit alles heen nooit sy vreugde verloor nie. Waarom nie? Omdat hy sy oë gevestig gehou het op die hoop wat hom voorgehou is (Hebreërs 12:2, 3). Paulus het dus gebid: “En mag die God wat volharding en vertroosting verskaf, gee dat julle dieselfde geestesgesindheid onder mekaar sal hê as wat Christus Jesus gehad het” (Romeine 15:5). Met die regte geestesgesindheid kan ons vreugdevol wees ondanks struikelblokke wat Satan in ons weg lê.

16. Wat kan ons doen wanneer ons probleme oorweldigend lyk?

16 Wanneer probleme oorweldigend lyk, moet jy onthou dat Jehovah jou liefhet, net soos hy Abraham liefgehad het. Hy wil hê dat jy suksesvol moet wees (Filippense 1:6). Vertrou ten volle op Jehovah, oortuig daarvan dat ‘hy nie sal toelaat dat jy versoek word bo wat jy kan verdra nie, maar dat hy saam met die versoeking ook die uitweg sal gee, sodat jy dit sal kan verduur’ (1 Korintiërs 10:13). Kweek die gewoonte aan om God se Woord elke dag te lees (Psalm 1:2, NW). Hou vol met gebed en vra Jehovah om jou te help om te volhard (Filippense 4:6). Hy sal “heilige gees gee aan dié wat hom vra” (Lukas 11:13). Benut die dinge wat Jehovah voorsien om jou geestelik te voed, soos ons Bybelpublikasies. Vind ook baat by die ondersteuning van die broederskap (1 Petrus 2:17). Woon Christelike vergaderinge getrou by, want daar sal jy die nodige aanmoediging kry om te volhard (Hebreërs 10:24, 25). Verbly jou in die oortuiging dat jou volharding tot ’n goedgekeurde toestand in God se oë lei en dat jou getrouheid sy hart verbly!—Spreuke 27:11; Romeine 5:3-5.

17. Waarom gee Christene nie moed op nie?

17 God het Abraham as sy “vriend” liefgehad (Jakobus 2:23). Abraham se lewe was nogtans vol spanningsvolle beproewinge en verdrukkinge. Christene kan gevolglik niks minder gedurende hierdie bose “laaste dae” verwag nie. Trouens, die Bybel waarsku ons dat “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Timoteus 3:1, 13). Moenie moed opgee nie, maar besef eerder dat die druk wat ons verduur, bewys lewer dat die einde van Satan se goddelose stelsel naby is. Jesus herinner ons egter hieraan: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Moet dus nie “ophou om te doen wat voortreflik is nie”! Volg Abraham na, en wees een van dié “wat deur geloof en geduld die beloftes beërf”.—Hebreërs 6:12.

Het jy opgemerk?

• Waarom moet Jehovah se volk vandag toetse en beproewinge te wagte wees?

• Hoe kan Satan direkte aanvalle gebruik?

• Hoe kan persoonlike konflikte tussen Christene uit die weg geruim word?

• Hoe kan trots en egotisme beproewinge tot gevolg hê?

• In watter opsig het Abraham ’n goeie voorbeeld vir ons gestel om vir die vervulling van God se beloftes te wag?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Talle jong Christene word vervolg deurdat hulle portuurs hulle bespot

[Prent op bladsy 29]

In Abraham se dag was die vervulling van God se beloftes “ver” in die toekoms, maar hy het sy lewe daarom gebou