Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

• Waarom verdien die vrae wat in Job hoofstuk 38 geopper is, vandag nog ons aandag?

Baie van die wonderlike werke waarop God die aandag gevestig het, kan selfs deur moderne wetenskaplikes nie ten volle begryp word nie. Dit sluit dinge in soos: hoe swaartekrag die aarde in sy wentelbaan hou, wat lig presies is, waarom daar ’n oneindige verskeidenheid sneeuvlokkies is, hoe reëndruppels vorm en hoe energie by donderstorms betrokke is.—4/15, bladsye 4-11.

Watter Bybelvoorbeelde kan ons help om negatiewe gevoelens die hoof te bied?

Asaf, Barug en Naomi het tye van ontmoediging of ander negatiewe gevoelens beleef, en die skriftuurlike verslag van hoe hulle hierdie situasies met welslae die hoof gebied het, kan ons help.—4/15, bladsye 22-4.

Wat is ’n paar praktiese maniere om Christenweduwees te help?

Vriende kan liefdevolle en spesifieke hulp aanbied. Familielede of ander is dalk in staat om finansieel of materieel hulp aan te bied waar daar ’n werklike behoefte is. Mede-Christene kan ook help deur die liefdevolle hand van vriendskap uit te steek en geestelike ondersteuning en vertroosting te voorsien.—5/1, bladsye 5-7.

Waarom is dit belangrik om “net in die Here” te trou, soos 1 Korintiërs 7:39 vermaan?

Huwelike met ongelowiges was al dikwels rampspoedig. Bowendien is dit ’n saak van lojaliteit teenoor Jehovah God om hierdie Goddelike raad te volg. Wanneer ons God se Woord gehoorsaam, veroordeel ons hart ons nie (1 Johannes 3:21, 22).—5/15, bladsye 20-1.

Aangesien Jehovah die een is wat ons sondes kan vergewe, waarom bely Christene dan ernstige sondes aan die ouer manne in die gemeente?

Ja, dit is Jehovah se vergifnis van ernstige sondes wat ’n Christen moet probeer verkry (2 Samuel 12:13). Maar net soos die profeet Natan hulp aan Dawid voorsien het, kan ryp ouer manne in die gemeente berouvolle sondaars help. Om na die ouer manne toe te gaan, is in ooreenstemming met die riglyne wat in Jakobus 5:14, 15 gegee word.—6/1, bladsy 31.

Watter bewys is daar dat ons na behoeftige wese en weduwees moet omsien?

Die geskiedenisverslag toon dat sulke sorg ’n kenmerk was van ware aanbidding onder die eertydse Hebreërs sowel as die vroeë Christene (Exodus 22:22, 23; Galasiërs 2:9, 10; Jakobus 1:27). Die apostel Paulus het in die Skrif duidelike riglyne vir Christene ingesluit om hulp aan behoeftige weduwees te voorsien (1 Timoteus 5:3-16).—6/15, bladsye 9-11.

Wat is die sleutel tot ’n gelukkige, sinvolle lewe?

Ons moet ’n goeie verhouding met Jehovah, ons hemelse Vader, opbou en handhaaf. ’n Studie van die Bybel is ’n belangrike hulpmiddel om dit te doen.—7/1, bladsye 4-5.

Het elke mens ’n onsterflike gees wat ná die dood voortlewe?

Hoewel sommige mense glo dat ’n gees—nie ’n siel nie—onsterflik is, ondersteun die Bybel nie hierdie gedagte nie. Dit toon dat ’n mens, wanneer hy sterf, na stof terugkeer en nie meer bestaan nie. Maar God behou die vermoë om hom weer lewend te maak, en daarom berus enige hoop op toekomstige lewe, deur middel van ’n opstanding, by God (Prediker 12:7).—7/15, bladsye 3-6.

Waar was Daniël toe die drie Hebreërs in die dal Dura getoets is?

Die Bybel sê nie. Dalk was Daniël weens sy hoë amp nie verplig om daar te wees nie of dalk was hy weg op ’n amptelike toewysing. Ons kan egter seker wees dat hy sy getrouheid aan Jehovah gehandhaaf het.—8/1, bladsy 31.