Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Boek waarsonder die meeste jongmense klaarkom

’n Boek waarsonder die meeste jongmense klaarkom

’n Boek waarsonder die meeste jongmense klaarkom

“HOE moet ek weet of die Bybel werklik die Woord van God is? As ’n boek interesseer dit my nie”, het ’n jong vrou met die naam Beate gesê.

In Duitsland, waar Beate woon, voel die meeste jongmense soos sy; daarom heg hulle min waarde aan Bybellees. ’n Onlangse opname in daardie land het aan die lig gebring dat ongeveer 1 persent van die jongmense die Bybel baie gereeld lees, 2 persent gereeld, 19 persent selde en byna 80 persent nooit nie. Die syfers sal waarskynlik soortgelyk wees in ander lande, moontlik ook waar jy woon. Die Bybel is ongetwyfeld ’n boek waarsonder die meeste jongmense klaarkom.

Dit is dus geen wonder dat die jonger geslag oor die algemeen ’n gebrek aan Bybelkennis het nie! Vroeg in die jaar 2000 het die koerant Lausitzer Rundschau berig dat ’n opname getoon het hoeveel mense met die Tien Gebooie bekend was en dit as ’n riglyn in die lewe gebruik het. Van die geslag wat ouer as 60 is, het 67 persent die gebooie geken en hulle daardeur laat rig; vir diegene onder 30 was die syfer net 28 persent. Ja, vir talle jongmense is die Woord van God onbekende terrein.

Party het ’n ander beskouing

Daarenteen is daar regoor die wêreld miljoene jongmense wat gevind het dat die Woord van God uiters waardevol is. Alexander is byvoorbeeld 19 jaar oud en lees die Bybel elke oggend voordat hy werk toe gaan. “Ek kan nie aan ’n beter manier dink om die dag te begin nie”, sê hy. Sandra maak ’n punt daarvan om elke aand ’n gedeelte uit die Bybel te lees. “Dit het ’n deel van my daaglikse roetine geword”, verduidelik sy. En Julia, wat 13 jaar oud is, het dit alreeds ’n gewoonte gemaak om ten minste een hoofstuk in die Bybel te lees voordat sy in die aand gaan slaap. “Ek geniet dit werklik, en ek wil in die toekoms met die gewoonte voortgaan.”

Watter beskouing is reg en verstandig? Is dit werklik die moeite werd om die Bybel te lees? Is dit waardevol en belangrik vir die jonger geslag? Wat dink jy?