Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Duiwel—Nie net bygelowigheid nie

Die Duiwel—Nie net bygelowigheid nie

Die Duiwel—Nie net bygelowigheid nie

“Oral in die Nuwe Testament is daar ’n groot stryd tussen die kragte van God en die goeie, aan die een kant, en die kragte van die bose wat deur Satan gelei word, aan die ander kant. Dit is nie net een of twee skrywers se voorstelling nie, maar ’n algemene gedagte. . . . Die getuienis van die Nuwe Testament is dus duidelik. Satan is ’n bose werklikheid, altyd vyandig teenoor God en teenoor God se volk.”—“The New Bible Dictionary.”

WAAROM verwerp baie wat die Christelike godsdiens bely—en wat beweer dat hulle die Bybel glo—dan die idee dat daar ’n werklike Duiwel bestaan? Omdat hulle in werklikheid nie die Bybel as God se Woord aanvaar nie (Jeremia 8:9). Hulle sê dat Bybelskrywers die filosofieë van die nasies om hulle weerspieël het en nie die waarheid van God getrou oorgedra het nie. Die Katolieke teoloog Hans Küng skryf byvoorbeeld: “Mitologiese idees oor Satan met legioene duiwels . . . het uit Babiloniese mitologie vroeë Judaïsme en van daar die Nuwe Testament binnegedring.”—On Being a Christian.

Maar die Bybel is nie bloot die woord van mense nie; dit is waarlik die geïnspireerde Woord van God. Ons is dus verstandig as ons dit wat oor die Duiwel gesê word, ernstig opneem.—2 Timoteus 3:14-17; 2 Petrus 1:20, 21.

Wat het Jesus gedink?

Jesus Christus het geglo dat die Duiwel werklik bestaan. Jesus is nie deur die een of ander boosheid binne-in hom versoek nie. Hy is deur ’n werklike persoon aangeval wat hy later “die heerser van die wêreld” genoem het (Johannes 14:30; Matteus 4:1-11). Hy het ook geglo dat ander geesskepsele Satan in sy goddelose planne ondersteun het. Hy het “demoonbesete” mense genees (Matteus 12:22-28). Selfs die ateïstiese publikasie A Rationalist Encyclopædia meld hoe betekenisvol dit is en sê: “Die feit dat die Jesus van die Evangelies aanvaar het dat duiwels bestaan, was nog altyd vir teoloë ’n struikelblok.” Toe Jesus van die Duiwel en sy demone gepraat het, het hy nie bloot bygelowe herhaal wat uit Babiloniese mitologie oorgedra is nie. Hy het geweet dat hulle werklik bestaan.

Ons leer baie oor die Duiwel wanneer ons Jesus se woorde aan die godsdiensleraars van sy dag ondersoek: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen. Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het, en hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy die leuen spreek, spreek hy ooreenkomstig sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.”—Johannes 8:44.

Volgens hierdie teks is die Duiwel, ’n naam wat “lasteraar” beteken, “’n leuenaar en die vader van die leuen”. Hy was die eerste skepsel wat ’n leuen oor God vertel het, en hy het dit destyds in die tuin van Eden gedoen. Jehovah het gesê ons oorspronklike ouers sou “sekerlik sterwe” as hulle van die boom van die kennis van goed en kwaad sou eet. Deur die mond van ’n slang het Satan gesê dat daardie woorde nie waar is nie (Genesis 2:17; 3:4). Hy word gepas genoem “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word”.—Openbaring 12:9.

Die Duiwel het ’n leuen vertel oor die boom van die kennis van goed en kwaad. Hy het aangevoer dat die verbod om van daardie boom te eet ongegrond was; dat dit ’n misbruik van mag was. Adam en Eva, het hy gesê, kon ‘soos God wees’ deur self te besluit wat goed en wat kwaad is. Satan het te kenne gegee dat hulle algehele selfbeskikking moes hê omdat hulle met wilsvryheid geskep is (Genesis 3:1-5). Hierdie aanval op die regverdigheid van die wyse waarop God sy heerskappy uitoefen, het belangrike geskille geopper. Jehovah het dus tyd toegelaat vir hierdie geskille om besleg te word. Dit beteken dat Satan toegelaat is om ’n tyd lank voort te lewe. Sy beperkte tyd is nou byna verstreke (Openbaring 12:12). Nogtans gaan hy voort om deur leuens en bedrog die mensdom van God te vervreem en gebruik hy mense soos die skrifgeleerdes en die Fariseërs van Jesus se dag om sy leringe te bevorder.—Matteus 23:13, 15.

Jesus het ook gesê die Duiwel was “’n mensemoordenaar toe hy begin het” en “hy het nie in die waarheid vasgestaan nie”. Dit beteken nie dat Jehovah die Duiwel as “’n mensemoordenaar” geskep het nie. Hy is nie geskep as die een of ander monster wat moes toesig hou oor ’n plek van vuur en foltering vir enigiemand wat God teëstaan nie. Die “hel” van die Bybel is nie Satan se woonplek nie. Dit is bloot die gemeenskaplike graf van die mensdom.—Handelinge 2:25-27; Openbaring 20:13, 14.

Die Duiwel was aanvanklik “in die waarheid”. Hy was eens op ’n tyd ’n deel van Jehovah se hemelse gesin as ’n volmaakte geesseun van God. Maar hy het nie “in die waarheid vasgestaan nie”. Hy het sy eie weë en sy eie beginsels, wat op leuens gebaseer is, verkies. ‘Hy het begin’, nie toe hy as ’n engeleseun van God geskep is nie, maar toe hy opsetlik teen Jehovah in opstand gekom het en vir Adam en Eva gelieg het. Die Duiwel was soos daardie mense wat in Moses se dag teen Jehovah in opstand gekom het. Ons lees aangaande hulle: “Hulle het self verderflik gehandel; hulle is nie sy kinders nie, die gebrek lê by hulle” (Deuteronomium 32:5, NW). Dieselfde kan van Satan gesê word. Hy het “’n mensemoordenaar” geword toe hy in opstand gekom het en vir Adam en Eva, trouens die ganse mensdom, se dood verantwoordelik geword het.—Romeine 5:12.

Ongehoorsame engele

Ander engele het saam met Satan in opstand gekom (Lukas 11:14, 15). Hierdie engele het “hulle eie gepaste woonplek verlaat” en in Noag se dag menseliggame aangeneem sodat hulle geslagsgemeenskap met “die dogters van die mense” kon geniet (Judas 6; Genesis 6:1-4; 1 Petrus 3:19, 20). “’n Derde van die sterre van die hemel”, of ’n minderheid geesskepsele, het hierdie weg ingeslaan.—Openbaring 12:4.

Die hoogs simboliese boek Openbaring beeld die Duiwel uit as “’n groot vuurkleurige draak” (Openbaring 12:3). Waarom? Nie omdat hy letterlik ’n bisarre, lelike liggaam het nie. Trouens, ons weet nie watter soort liggaam geesskepsele het nie, maar Satan verskil waarskynlik nie in hierdie opsig van ander engele nie. Maar “’n groot vuurkleurige draak” is ’n gepaste beskrywing van Satan se roofsugtige, skrikwekkende, kragtige en verwoestende gees.

Satan en die demone is nou grootliks beperk. Hulle kan nie meer materialiseer soos hulle blykbaar voorheen kon doen nie. In 1914, kort ná die oprigting van God se Koninkryk in die hande van Christus, is hulle na die omgewing van die aarde neergewerp.—Openbaring 12:7-9.

Die Duiwel is ’n gedugte vyand

Die Duiwel bly nogtans ’n gedugte vyand. Hy “loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Hy is geen vae element van boosheid wat in ons onvolmaakte vlees woon nie. Ons het weliswaar ’n daaglikse stryd teen ons eie sondige neigings (Romeine 7:18-20). Maar die ware stryd is “teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke”.—Efesiërs 6:12.

Hoe omvangryk is die Duiwel se invloed? “Die hele wêreld lê in die mag van die bose”, sê die apostel Johannes (1 Johannes 5:19). Ons wil natuurlik nie met die Duiwel behep raak of toelaat dat bygelowige vrees vir hom ons verlam nie. Ons is egter verstandig as ons op ons hoede is vir sy pogings om ons vir die waarheid te verblind en ons onkreukbaarheid aan God te ondermyn.—Job 2:3-5; 2 Korintiërs 4:3, 4.

Die Duiwel gebruik nie altyd wrede maniere om diegene aan te val wat God se wil wil doen nie. Soms doen hy hom as “’n engel van lig” voor. Die apostel Paulus het Christene teen hierdie gevaar gewaarsku toe hy geskryf het: “Ek is bang dat, soos die slang Eva deur sy listigheid verlei het, julle verstande op die een of ander wyse verderf sal word, weg van die opregtheid en die kuisheid af wat die Christus toekom.”—2 Korintiërs 11:3, 14.

Ons moet dus ‘nugter van verstand en waaksaam bly en hom weerstaan, vas in die geloof’ (1 Petrus 5:8, 9; 2 Korintiërs 2:11). Moenie Satan se planne bevorder deur by enigiets betrokke te raak wat met die okkulte te doen het nie (Deuteronomium 18:10-12). Wees ’n goeie student van God se Woord, en onthou dat Jesus Christus herhaaldelik na God se Woord verwys het toe hy deur die Duiwel versoek is (Matteus 4:4, 7, 10). Vra dat God se gees jou help. Die vrugte daarvan kan jou help om die werke van die vlees te vermy, wat op so ’n doeltreffende wyse deur Satan bevorder word (Galasiërs 5:16-24). Bid ook ernstig tot Jehovah wanneer jy op die een of ander manier onder druk van die Duiwel en sy demone verkeer.—Filippense 4:6, 7.

Jy hoef nie die Duiwel te vrees nie. Jehovah belowe ware beskerming teen enigiets wat Satan kan doen (Psalm 91:1-4; Spreuke 18:10; Jakobus 4:7, 8). “Hou aan om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte”, sê die apostel Paulus. Dan sal jy “kan vasstaan teen die sette van die Duiwel”.—Efesiërs 6:10, 11.

[Prent op bladsy 5]

Jesus het geweet dat die Duiwel ’n werklike persoon is

[Prent op bladsy 6]

“Die hele wêreld lê in die mag van die bose”

[Erkenning]

NASA photo

[Prente op bladsy 7]

Weerstaan die Duiwel deur God se Woord te bestudeer en gereeld te bid