Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geestelike lig skyn in die Midde-Ooste

Geestelike lig skyn in die Midde-Ooste

Lewensverhaal

Geestelike lig skyn in die Midde-Ooste

SOOS VERTEL DEUR NAJIB SALEM

In die eerste eeu G.J. het die lig van God se Woord van die Midde-Ooste af uitgestraal en die uithoeke van die aarde bereik. Gedurende die 20ste eeu het die lig teruggekeer om daardie deel van die wêreld weer eens te verlig. Kom ek vertel jou hoe dit gebeur het.

EK IS in 1913 gebore in die dorp Amioun, in die noorde van Libanon. Dit was die laaste jaar van betreklike bestendigheid en kalmte in die wêreld, want die jaar daarna het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Toe die oorlog in 1918 tot ’n einde kom, was Libanon, wat destyds bekend gestaan het as die pêrel van die Midde-Ooste, op ekonomiese en politieke gebied in ’n benarde toestand.

In 1920, toe daar in Libanon weer ’n posdiens ingestel is, is pos ontvang van Libanese wat in die buiteland gewoon het. Onder hulle was my ooms Abdullah en George Ghantous. Hulle het aan hulle pa, Habib Ghantous, my oupa, geskryf en hom van God se Koninkryk vertel (Matteus 24:14). Net omdat my oupa vir die dorpenaars van die inhoud van sy seuns se briewe vertel het, is hy bespot. Hulle het die gerug versprei dat Habib se seuns hom aanmoedig om sy grond te verkoop, ’n donkie te koop en te gaan preek.

Vroeë verspreiding van lig

Die volgende jaar, 1921, het Michel Aboud, wat in Brooklyn, New York, VSA, gewoon het, na Tripoli in Libanon teruggekeer. Hy was toe reeds ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Hoewel die meerderheid van broer Aboud se vriende en familie nie op die Bybelboodskap gereageer het nie, het twee bekende mense wel, ’n professor, Ibrahim Atijeh, en ’n tandarts, Hanna Sjammas. Trouens, dr. Sjammas het sy huis en kliniek vir Christelike vergaderinge beskikbaar gestel.

Ek was nog ’n jong seun toe broer Aboud en broer Sjammas die dorp Amioun, waar ek gewoon het, besoek het. Hulle besoek het ’n groot invloed op my gehad, en ek het broer Aboud in die predikingswerk begin vergesel. Ons twee was 40 jaar lank gereelde metgeselle in die bediening, tot broer Aboud se dood in 1963.

Tussen 1922 en 1925 het die lig van Bybelwaarheid wyd versprei in talle dorpe in die noorde van Libanon. Ongeveer 20 tot 30 mense het bymekaargekom om die Bybel in huise, soos ons s’n in Amioun, te bespreek. Die geestelikes het kinders gestuur om op blikke te slaan en te skreeu in ’n poging om ons vergaderinge te ontwrig, daarom het ons soms in ’n dennebos bymekaargekom.

Toe ek jonk was, het my ywer vir die bediening—en die ywer waarmee ek elke Christelike vergadering bygewoon het—my die bynaam Timoteus besorg. Die skoolhoof het my beveel om op te hou om “daardie vergaderinge”, soos hy dit genoem het, by te woon. Toe ek geweier het, is ek uit die skool geskors.

Ons getuig in Bybellande

Kort nadat ek in 1933 gedoop is, het ek met pionierdiens begin, soos die voltydse bediening deur Jehovah se Getuies genoem word. Hoewel daar destyds maar min van ons was, het ons nie net in die meeste dorpe in die noordelike deel van Libanon getuig nie, maar ook in Beiroet en sy voorstede en die hele ent tot in die suide van Libanon. In daardie vroeë jare het ons gewoonlik geloop of op ’n donkie gery, soos Jesus Christus en sy eerste-eeuse volgelinge gedoen het.

In 1936 het Jousef Rahhal, ’n Libanese Getuie wat baie jare in die Verenigde State gewoon het, na Libanon teruggekeer om te kom kuier. Hy het klanktoerusting en ’n paar grammofone saam met hom gebring. Ons het die toerusting op ’n 1931-Ford vasgemaak en deur Libanon en Sirië gereis en die Koninkryksboodskap na afgeleë gebiede geneem. Die klankversterker kon oor ’n afstand van meer as tien kilometer gehoor word. Mense het op hulle huis se dak geklim om te luister na wat hulle as stemme uit die hemel beskryf het. Diegene op die landerye het hulle werk gestaak en nader gekom om te luister.

Een van my laaste reise saam met Jousef Rahhal was na Aleppo, Sirië, in die winter van 1937. Voordat hy na die Verenigde State teruggekeer het, het ons ook ’n reis na Palestina onderneem. Daar het ons die stede Haifa en Jerusalem besoek, asook dorpe op die platteland. Een van die mense met wie ons in aanraking was, was Ibrahim Sjehadi, met wie ek vroeër deur korrespondensie kennis gemaak het. Ibrahim se Bybelkennis het in so ’n mate toegeneem dat hy tydens ons besoek saam met ons aan die huis-tot-huis-bediening begin deelneem het.—Handelinge 20:20.

Ek was ook gretig om professor Khalil Kobrossi te ontmoet, ’n ywerige Katoliek wat deur korrespondensie die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het. Hoe het hy die adres van die Getuies in Libanon in die hande gekry? Wel, by ’n winkel in Haifa het die winkelier party van Khalil se kruideniersware in papier toegedraai wat uit een van die publikasies van Jehovah se Getuies geskeur is. Daardie stuk papier het ons adres op gehad. Ons het ’n aangename besoek by hom gehad, en later, in 1939, het hy na Tripoli toe gekom om gedoop te word.

In 1937 het Petros Lagakos en sy vrou in Tripoli aangekom. Gedurende die daaropvolgende paar jaar het ons drie die grootste deel van Libanon en Sirië gedek en mense tuis met die Koninkryksboodskap besoek. Teen die tyd dat broer Lagakos in 1943 oorlede is, het die Getuies geestelike lig na die meeste van die stede en dorpe van Libanon, Sirië en Palestina geneem. Soms het ongeveer 30 van ons reeds om 3:00 vm. per motor of bus vertrek om afgeleë gebiede te bereik.

In die 1940’s het Ibrahim Atijeh Die Wagtoring in Arabies vertaal. Daarna het ek vier handgeskrewe afskrifte van die tydskrif gemaak en dit na Getuies in Palestina, Sirië en Egipte gestuur. In daardie dae gedurende die Tweede Wêreldoorlog was daar groot teenkanting teen ons predikingswerk, maar ons het met alle liefhebbers van Bybelwaarheid in die Midde-Ooste in aanraking gebly. Ek het persoonlik kaarte van stede en omliggende dorpe geteken, en ons het ons daarop toegelê om hulle met die goeie nuus te bereik.

In 1944, terwyl die Tweede Wêreldoorlog nog gewoed het, het ek met Evelyn, die dogter van my pioniermaat Michel Aboud, getrou. Ons het mettertyd drie kinders gehad, ’n dogter en twee seuns.

Ons werk saam met die sendelinge

Kort ná die oorlog het die eerste gegradueerdes van die Gileadskool vir sendelinge in Libanon opgedaag. Gevolglik is die eerste gemeente in Libanon gestig, en ek is as groepkneg aangestel. Toe, in 1947, het Nathan H. Knorr en sy sekretaris, Milton G. Henschel, Libanon besoek en die broers grootliks aangemoedig. Kort daarna het nog sendelinge opgedaag, en hulle was vir ons ’n groot hulp om ons bediening te organiseer en gemeentelike vergaderinge te hou.

Op een van ons reise na ’n afgeleë gebied in Sirië het ons teenstand van ’n plaaslike biskop gekry. Hy het ons daarvan beskuldig dat ons Sionistiese publikasies, soos hy dit genoem het, versprei. Dit is ironies dat die geestelikes ons voor 1948 dikwels “Kommuniste” genoem het. Met dié geleentheid is ons in hegtenis geneem en twee uur lank ondervra, waartydens ons ’n uitstekende getuienis kon gee.

Op die ou end het die regter wat na die saak geluister het, gesê: “Hoewel ek die baard [beeldspraak wat na die biskop verwys] vervloek wat aantygings teen julle gemaak het, moet ek hom bedank vir hierdie geleentheid om julle te ontmoet en van julle leringe te hore te kom.” Toe het hy verskoning gemaak vir die ongerief wat ons moes verduur.

Tien jaar later het ek op ’n bus na Beiroet met ’n man wat langs my gesit het, ’n landbouingenieur, ’n gesprek aangeknoop. Nadat hy ’n paar minute lank na ons oortuigings geluister het, het hy gesê dat hy iets soortgelyks by ’n vriend in Sirië gehoor het. Wie was die vriend? Die regter wat tien jaar vantevore na ons saak geluister het!

Gedurende die 1950’s het ek Getuies in Irak besoek en saam met hulle van deur tot deur getuig. Ek het ook baie reise na Jordanië en die Wesoewer onderneem. In 1951 was ek een van ’n groep van vier Getuies wat Betlehem toe is. Daar het ons die Here se Aandmaal gevier. Vroeg daardie dag is almal wat vir die geleentheid teenwoordig was met ’n bus na die Jordaanrivier geneem, waar 22 gedoop is om hulle toewyding aan Jehovah te simboliseer. Wanneer ons ook al teenstand in daardie gebied ondervind het, het ons gesê: “Ons het vir julle kom vertel dat een van julle eie landseuns Koning oor die ganse aarde gaan word! Waarom is julle ontsteld? Julle behoort verheug te wees!”

Ons getuig onder moeilike omstandighede

Mense in die Midde-Ooste is oor die algemeen goedhartig, nederig en gasvry. Baie luister met belangstelling na die boodskap van God se Koninkryk. Niks kan in werklikheid meer verkwikkend wees as om te weet dat hierdie Bybelbelofte binnekort vervul sal word nie: “God self sal by [sy volk] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:3, 4.

Ek het gevind dat die meeste mense wat ons bedrywighede teëstaan, werklik nie ons werk en die boodskap wat ons uitdra, verstaan nie. Die geestelikes van die Christendom het soveel gedoen om ’n verwronge beeld van ons te skep! Gevolglik het die Getuies, gedurende die burgeroorlog in Libanon wat in 1975 uitgebreek en meer as 15 jaar geduur het, voor baie probleme te staan gekom.

’n Tyd lank het ek ’n Bybelstudie met ’n gesin gehou wat ywerige kerkgangers was. Die goeie vooruitgang wat hulle gemaak het om Bybelwaarhede te leer, het die geestelikes geïrriteer. Een nag het ’n plaaslike godsdiensgroep dus hulle lede aangespoor om die gesin se winkel te bestorm, en hulle het ten minste R77 000 se voorraad verbrand. Daardie selfde nag het hulle my ontvoer. Ek kon egter met hulle leier redeneer en verduidelik dat hulle nie soos barbare sou optree as hulle werklik Christene was nie. Daarop het hy gesê dat die motor moet stilhou en my beveel om uit te klim.

By ’n ander geleentheid is ek deur vier burgermaglede ontvoer. Ná talle dreigemente het hulle leier, wat gesê het dat hy my gaan skiet, skielik van plan verander en my laat gaan. Twee van hierdie mans is nou in die tronk weens moord en roof en die ander twee is tereggestel.

Ander geleenthede om te getuig

Ek het dikwels die geleentheid gehad om van een land na ’n ander te vlieg. Eenkeer gedurende ’n vlug van Beiroet af na die Verenigde State het ek langs Charles Malek, ’n voormalige Libanese minister van buitelandse sake, gesit. Hy het aandagtig geluister en elke vers waardeer wat ek vir hom uit die Bybel gelees het. Uiteindelik het hy gesê dat hy as kind in Tripoli in ’n skool was waar sy onderwyser Ibrahim Atijeh was, die man vir wie my skoonpa Bybelwaarhede geleer het! Mnr. Malek het gesê dat Ibrahim hom geleer het om die Bybel te respekteer.

Gedurende ’n ander vlug het ek langs ’n Palestynse verteenwoordiger van die Verenigde Nasies gesit. Ek het die geleentheid gehad om hom van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel. Hy het my later aan sy broer se gesin in New York voorgestel en ek het hulle dikwels daar besoek. Ek het ook ’n familielid gehad wat in die Verenigde Nasies se gebou in New York gewerk het. My besoek aan sy kantoor het eendag drie uur geduur, waartydens ek hom ’n getuienis aangaande God se Koninkryk kon gee.

Ek is nou 88 jaar oud, en ek kan nog steeds daadwerklik na gemeentelike verantwoordelikhede omsien. My vrou, Evelyn, dien Jehovah nog steeds aan my sy. Ons dogter het getrou met ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies, wat nou as ’n ouer man in ’n gemeente in Beiroet dien. Hulle dogter is ook ’n Getuie. Ons jongste seun en sy vrou is Getuies, en hulle dogter is ook in die waarheid. Ons het ook in die geval van ons oudste seun die Christelike geloof in sy hart ingeskerp, en ek hoop dat hy dit mettertyd sal aanneem.

In 1933 is ek as ’n pionier aangestel—die eerste in die Midde-Ooste. Ek kon niks beters met my lewe gedoen het as om Jehovah gedurende die afgelope 68 jaar as ’n pionier te dien nie. Ek is vasbeslote om te bly wandel in die geestelike lig wat hy voorsien.

[Prent op bladsy 23]

Najib in 1935

[Prent op bladsy 24]

Met ’n klankmotor in die Libanon-gebergte, 1940

[Prente op bladsy 25]

Bo, kloksgewys van links bo: Najib, Evelyn, hulle dogter, broer Aboud en Najib se oudste seun, 1952

Onder (voorste ry): Broers Sjammas, Knorr, Aboud en Henschel by Najib se huis, Tripoli, 1952

[Prent op bladsy 26]

Najib en sy vrou, Evelyn