Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe jy goeie besluite kan neem

Hoe jy goeie besluite kan neem

Hoe jy goeie besluite kan neem

WILSVRYHEID is ’n gawe van God. Daarsonder sou ons bloot robotte wees, met geen beheer oor ons dade nie. Maar omdat ons dit het, kom ons voor uitdagings te staan. Aangesien ons wilsvryheid het, moet ons deur ons lewe heen besluite neem.

Baie besluite is natuurlik nie so belangrik nie. Ander weer kan ons hele toekoms beïnvloed, soos watter loopbaan om te kies en of ’n mens moet trou. Dan is daar besluite wat ander mense raak. Party besluite wat ouers neem, het ’n verreikende uitwerking op hulle kinders. Vir baie besluite moet ons egter aan God rekenskap gee.—Romeine 14:12.

Ons het hulp nodig

Mense het tot dusver nie goed gevaar wanneer hulle besluite geneem het nie. Een van die mens se eerste opgetekende besluite was rampspoedig. Eva het besluit om van die vrug te eet wat God uitdruklik verbied het. Haar keuse, wat op selfsugtige begeerte gebaseer was, het daartoe gelei dat haar man saam met haar aan God ongehoorsaam was, en dit het groot lyding vir die mensdom tot gevolg gehad. In baie gevalle baseer mense nog steeds hulle besluite meer op selfsugtige begeertes as op regte beginsels (Genesis 3:6-19; Jeremia 17:9). En wanneer ons voor ernstige besluite te staan kom, is ons dikwels bewus van ons beperkings.

Dit is dus geen wonder nie dat baie wat groot besluite moet neem, hulp soek by bonatuurlike bronne. Die Bybel praat van ’n geleentheid toe Nebukadnesar, tydens ’n militêre veldtog, ’n besluit moes neem. Al was hy ’n koning, het hy gevoel dat hy ‘van waarsêery gebruik moes maak’, die geeste moes raadpleeg. Gevolglik sê die verslag: “Hy skud die pyle, raadpleeg die huisgode, bekyk die lewer” (Esegiël 21:21). Vandag raadpleeg baie ook waarsêers en sterrewiggelaars en soek hulle op ander maniere hulp by die geeste. Maar hierdie bronne is bedrieglik en misleidend.—Levitikus 19:31.

Daar is Iemand wat geheel en al betroubaar is en wat mense deur die geskiedenis heen gehelp het om wyse besluite te neem. Dit is niemand anders as Jehovah God nie. In die ou tyd het God byvoorbeeld vir sy nasie, Israel, die Urim en die Tummim gegee—waarskynlik heilige stene wat gebruik is wanneer die nasie voor baie belangrike situasies te staan gekom het. Deur middel van die Urim en die Tummim het Jehovah regstreeks antwoorde op vrae gegee en die ouer manne van Israel gehelp sodat hulle seker kon wees dat hulle besluite in harmonie met sy wil is.—Exodus 28:30; Levitikus 8:8; Numeri 27:21.

Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. Toe Gideon die leër van Israel teen Midian moes aanvoer. Hy moes besluit of hy so ’n verhewe voorreg sou aanvaar. Gideon, wat versekering wou hê dat Jehovah hom sou ondersteun, het ’n wonderdadige teken gevra. Hy het gebid dat ’n vlies wat die hele nag buite gelaat is, nat van die dou moet wees, maar dat die grond om die vlies droog moet bly. Die volgende nag het hy gevra dat die vlies droog moet bly, terwyl die grond om die vlies nat van die dou moet wees. Jehovah het gedoen wat Gideon gevra het. Gevolglik het Gideon die regte besluit geneem en met God se hulp Israel se vyande totaal verslaan.—Rigters 6:33-40; 7:21, 22.

Wat van vandag?

Vandag help Jehovah nog steeds sy knegte wanneer hulle belangrike besluite moet neem. Hoe? Moet ons, soos Gideon, vir ’n ‘vliestoets’ vra, dit wil sê tekens van Jehovah om aan ons te toon watter weg ons moet volg? Een egpaar het gewonder of hulle moes verhuis na ’n plek waar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Om hulle met die besluit te help, het hulle ’n toets gedoen. Hulle het hulle huis teen ’n sekere prys te koop aangebied. As die huis teen ’n sekere datum vir die bedrag of meer verkoop word, sou hulle dit beskou as ’n aanduiding dat God wil hê hulle moet trek. As hulle nie die huis verkoop nie, sou hulle tot die gevolgtrekking kom dat God nie wou hê hulle moet trek nie.

Die huis is nie verkoop nie. Was dit ’n aanduiding dat Jehovah nie wou hê hierdie egpaar moes gaan dien waar hulp nodig was nie? Dit sal natuurlik voorbarig wees om onomwonde te sê wat Jehovah vir sy knegte doen of nie doen nie. Ons kan nie sê dat Jehovah vandag nooit tussenbeide tree om sy wil vir ons te openbaar nie (Jesaja 59:1). Ons het egter nie ’n reg om te verwag dat God moet ingryp wanneer ons groot besluite neem nie, en in werklikheid ons besluitneming aan God oorlaat nie. Selfs Gideon moes immers gedurende die grootste deel van sy lewe besluite neem sonder dat hy wonderdadige tekens van Jehovah ontvang het!

Tog sê die Bybel dat Goddelike leiding beskikbaar is. Daar word aangaande ons tyd voorspel: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21). Wanneer ons voor belangrike besluite te staan kom, is dit heeltemal in orde om seker te probeer maak dat ons besluite in harmonie met God se wil is en dat dit sy verhewe wysheid weerspieël. Hoe? Deur sy Woord te raadpleeg en dit as ‘’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad’ te gebruik (Psalm 119:105; Spreuke 2:1-6). Om dit te doen, moet ons die gewoonte aanleer om juiste kennis van die Bybel in te neem (Kolossense 1:9, 10). En wanneer ons voor ’n besluit te staan kom, moet ons noukeurig navorsing doen oor al die Bybelbeginsels wat met die saak verband hou. Hierdie navorsing sal ons in staat stel om ‘seker te maak wat die belangriker dinge is’.—Filippense 1:9, 10.

Ons moet ook met Jehovah in gebed praat, met volle vertroue dat hy na ons sal luister. Hoe vertroostend is dit tog om vir ons liefdevolle God te verduidelik watter besluit ons moet neem en wat die alternatiewe is wat ons in ag moet neem! Dan kan ons met vrymoedigheid leiding vra om die regte besluit te neem. Die heilige gees sal ons dikwels herinner aan Bybelbeginsels wat van toepassing is, of dit kan ons help om ’n teks wat met ons situasie verband hou, duideliker te verstaan.—Jakobus 1:5, 6.

Jehovah voorsien ook ervare persone in die gemeente met wie ons ons besluite kan bespreek (Efesiërs 4:11, 12). Wanneer ons ander raadpleeg, moet ons egter nie wees soos party wat van die een persoon na die ander gaan totdat hulle uiteindelik iemand vind wat sê wat hulle graag wil hoor nie. En dan volg hulle sy raad. Ons moet ook die waarskuwende voorbeeld van Rehabeam onthou. Toe hy ’n ernstige besluit moes neem, het hy uitstekende raad van die ouer manne ontvang wat saam met sy vader gedien het. Pleks van hulle raad te volg, het hy die jong manne geraadpleeg wat saam met hom grootgeword het. Hy het hulle raad gevolg en ’n baie slegte besluit geneem, met die gevolg dat hy ’n groot deel van sy koninkryk verloor het.—1 Konings 12:1-17.

Wanneer ons raad vra, moet ons diegene vra wat lewensondervinding en ’n goeie kennis van die Skrif het en regte beginsels hoog ag (Spreuke 1:5, NW; 11:14; 13:20). Wanneer moontlik, moet jy die tyd neem om oor die betrokke beginsels te peins, asook oor al die inligting wat jy nagevors het. Namate jy dinge in die lig van Jehovah se Woord begin sien, sal die regte besluit waarskynlik duideliker word.—Filippense 4:6, 7.

Die besluite wat ons neem

Party besluite is maklik om te neem. Toe die apostels beveel is om hulle predikingswerk te staak, het hulle geweet dat hulle moes aanhou om van Jesus te getuig, en hulle het dadelik vir die Sanhedrin gesê dat hulle besluit het om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense (Handelinge 5:28, 29). Ander besluite moet dalk langer oordink word omdat daar geen direkte Bybelverklaring is wat oor die saak handel nie. Tog sal Bybelbeginsels ons gewoonlik help om die beste besluit te neem. Byvoorbeeld, hoewel baie vorme van vermaak wat vandag beskikbaar is, nie in Jesus se tyd bestaan het nie, is daar duidelike Bybelse verklarings oor wat Jehovah behaag en wat hom mishaag. Enige Christen wat hom dus in vermaak verlustig wat geweld, onsedelikheid of opstandigheid bevorder, het ’n slegte besluit geneem.—Psalm 97:10; Johannes 3:19-21; Galasiërs 5:19-23; Efesiërs 5:3-5.

Soms kan meer as een besluit korrek wees. Om te dien waar hulp nodig is, is ’n wonderlike voorreg, en dit kan tot groot seëninge lei. Maar as iemand om die een of ander rede besluit om dit nie te doen nie, kan hy nog steeds goeie werk in sy tuisgemeente doen. Soms kom ons voor ’n besluit te staan wat ons die geleentheid sal gee om die diepte van ons toewyding aan Jehovah te openbaar of te toon wat die belangrikste in ons lewe is. Jehovah laat ons dus toe om ons wilsvryheid te gebruik om te toon wat ons hartstoestand werklik is.

Ander word dikwels deur ons besluite geraak. Neem die geval van die eerste-eeuse Christene wat verheug was toe hulle van baie van die beperkings van die Wet bevry is. Dit het byvoorbeeld beteken dat hulle voedsel wat onder die Wet onrein was, kon eet of kon weier. Tog is hulle aangemoedig om die gewete van ander in ag te neem wanneer hulle besluit of hulle van hierdie vryheid wou gebruik maak. Paulus se woorde oor die saak kan op baie van ons besluite van toepassing wees: “Sorg dat julle nie oorsake tot struikeling . . . word nie” (1 Korintiërs 10:32). ’n Begeerte om ander nie te laat struikel nie, kan ons help met baie van die besluite wat ons moet neem. Liefde vir ons naaste is op stuk van sake die tweede grootste gebod.—Matteus 22:36, 39.

Die resultaat van ons besluite

Besluite wat met ’n goeie gewete geneem word en op Bybelbeginsels gebaseer is, sal op die ou end altyd goeie resultate hê. Natuurlik sal ’n mens op kort termyn dalk ’n paar persoonlike opofferinge moet maak. Toe die apostels vir die Sanhedrin gesê het dat hulle besluit het om aan te hou om van Jesus te getuig, is hulle geslaan voordat hulle vrygelaat is (Handelinge 5:40). Toe die drie Hebreërs—Sadrag, Mesag en Abednego—besluit het om nie voor die goue beeld van Nebukadnesar neer te buig nie, het hulle hulle lewe in gevaar gestel. Hulle was daarop voorbereid dat hulle besluit dalk hulle dood kon beteken. Maar hulle het geweet dat hulle God se goedkeuring en seën sou geniet.—Daniël 3:16-19.

As ons probleme ondervind nadat ons ’n pligsgetroue besluit geneem het, is dit geen rede om aan te neem dat die besluit verkeerd was nie. “Tyd en lotgeval” kan die resultaat van selfs die bes bedoelde besluite negatief beïnvloed (Prediker 9:11). Soms laat Jehovah bowendien teëspoed toe om te toets hoe opreg ons besluit is. Jakob moes die hele nag met ’n engel worstel voordat hy geseën is (Genesis 32:24-26). Ons worstel dalk ook met teëspoed, selfs al doen ons die regte ding. Maar as ons besluite in harmonie met God se wil is, kan ons die vertroue hê dat hy ons sal help om dit te verduur en dat hy ons uiteindelik sal seën.—2 Korintiërs 4:7.

Moet dus nie op jou eie wysheid vertrou wanneer jy ’n belangrike besluit neem nie. Soek na Bybelbeginsels wat daarop van toepassing is. Praat met Jehovah oor die saak. Raadpleeg ervare mede-Christene, indien moontlik. Wees dan moedig. Oefen jou godgegewe wilsvryheid op ’n verantwoordelike manier uit. Neem ’n goeie besluit en toon aan Jehovah dat jou hart opreg voor hom is.

[Prent op bladsy 28]

Raadpleeg God se Woord voordat jy belangrike besluite neem

[Prente op bladsy 28, 29]

Praat met Jehovah oor die besluite wat jy moet neem

[Prent op bladsy 30]

Jy kan groot besluite met ervare Christene bespreek