Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan die vrede van die Christus in ons harte heers?

Hoe kan die vrede van die Christus in ons harte heers?

Hoe kan die vrede van die Christus in ons harte heers?

“Laat die vrede van die Christus in julle harte heers, want julle is trouens in een liggaam daartoe geroep.”—KOLOSSENSE 3:15.

1, 2. In watter opsig heers “die vrede van die Christus” in ’n Christen se hart?

 OORHEERSING is vir baie mense ’n onaangename woord, aangesien dit hulle aan dwang en manipulasie laat dink. Paulus se vermaning aan mede-Christene in Kolosse, naamlik dat hulle ‘die vrede van die Christus in hulle harte moet laat heers’, kan gevolglik vir party onredelik klink (Kolossense 3:15). Het ons dan nie wilsvryheid nie? Waarom moet ons enigiets of enigiemand toelaat om ons harte te oorheers, of daarin te heers?

2 Paulus het nie vir die Kolossense gesê dat hulle hulle wilsvryheid moes prysgee nie. Die Griekse woord wat in Kolossense 3:15 met “heers” vertaal word, is verwant aan die woord vir skeidsregter wat die prys by destydse atletiekwedstryde toegeken het. Deelnemers het ’n mate van vryheid binne die reëls van die wedstryd gehad, maar die skeidsregter het uiteindelik besluit wie die reëls gevolg en dus die wedstryd gewen het. Ons het eweneens die vryheid om baie besluite in die lewe te neem, maar terwyl ons dit doen, moet die vrede van die Christus altyd die “skeidsregter” wees—of soos die vertaler Edgar J. Goodspeed dit stel, “die oorheersende invloed” in ons harte wees.

3. Wat is “die vrede van die Christus”?

3 Wat is “die vrede van die Christus”? Dit is die gemoedsrus, die innerlike kalmte, wat ons verkry wanneer ons Jesus se dissipels word en leer dat Jehovah God en sy Seun ons liefhet en goedkeur. Net voordat Jesus sy dissipels verlaat het, het hy vir hulle gesê: “Ek gee julle my vrede. . . . Moenie dat julle hart verontrus word of van vrees ineenkrimp nie” (Johannes 14:27). Die getroue gesalfde lede van die liggaam van Christus geniet daardie vrede al byna 2 000 jaar, en vandag deel hulle metgeselle, die “ander skape”, daarin (Johannes 10:16). Daardie vrede moet ’n oorheersende invloed in ons harte wees. Wanneer ons kwaai beproef word, kan dit ons help om nie deur vrees oorweldig te word of oormatig besorg te wees nie. Kom ons kyk hoe dit waar is wanneer ons veronreg word, wanneer sorge ons oorval en wanneer ons onwaardig voel.

Wanneer ons voor onregte te staan kom

4. (a) Hoe het Jesus met ongeregtigheid vertroud geraak? (b) Hoe het Christene gereageer wanneer hulle slagoffers van ongeregtigheid was?

4 Koning Salomo het gesê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Jesus het geweet dat hierdie woorde waar is. Terwyl hy in die hemel was, het hy gesien watter skreiende onregte mense mekaar aandoen. Op die aarde moes hy die grootste onreg verduur toe hy, ’n sondelose man, van godslastering beskuldig en as ’n misdadiger tereggestel is (Matteus 26:63-66; Markus 15:27). Vandag is ongeregtigheid nog steeds aan die orde van die dag, en ware Christene het al baie gely as gevolg daarvan, aangesien hulle “vir al die nasies voorwerpe van haat” is (Matteus 24:9). Maar ondanks afgryslike ondervindinge in Nazi-doodskampe en in Russiese strafkampe, ondanks gepeupelgeweld, valse aantygings en leuenpropaganda het die vrede van die Christus hulle ferm gemaak. Hulle het Jesus nagevolg, van wie ons lees: “Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar homself bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel.”—1 Petrus 2:23.

5. Wat moet ons eers in ag neem wanneer ons hoor dat iemand in die gemeente skynbaar veronreg is?

5 Kom ons kyk na onreg wat op ’n kleiner skaal plaasvind. Ons meen dalk dat iemand in die Christengemeente veronreg is. In so ’n geval voel ons moontlik soos Paulus, wat gesê het: “Wie word tot struikeling gebring en ek is nie ontstoke nie?” (2 Korintiërs 11:29). Wat kan ons dan doen? Ons moet ons afvra: ‘Is die persoon werklik veronreg?’ Dikwels het ons nie al die feite nie. Ons reageer dalk heftig nadat ons na iemand geluister het wat skynbaar oor die situasie ingelig is. Die Bybel sê met goeie rede: “Iemand wat onervare is, glo elke woord” (Spreuke 14:15, NW). Ons moet dus versigtig wees.

6. Wat kan ons doen as ons voel dat iemand in die gemeente ons veronreg het?

6 Maar sê nou ons voel dat ons veronreg is. Hoe sal iemand reageer wat die vrede van die Christus in sy hart het? Ons voel dalk dat dit nodig is om met die persoon te praat wat ons na ons mening veronreg het. Kan ons dan die saak voor Jehovah in gebed bring en eerder op hom vertrou om reg te laat geskied as om dit met almal te bespreek wat sal luister? (Psalm 9:11; Spreuke 3:5). Nadat ons dit gedoen het, sal ons heel moontlik tevrede wees om in ons hart vrede te maak en ‘stil te bly’ (Psalm 4:4, NW). Paulus se raad sal in die meeste gevalle van toepassing wees: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.”—Kolossense 3:13.

7. Wat moet ons altyd in ons handelinge met ons broers onthou?

7 Maar ongeag wat ons doen, ons moet onthou dat ons dalk nie beheer het oor wat gebeur het nie, maar ons het wel beheer oor ons reaksie. As ons oorreageer wanneer ons voel dat ons veronreg is, kan dit ons vrede meer versteur as die onreg wat ons aangedoen is (Spreuke 18:14). Ons kan selfs tot struikeling gebring word en ophou om met die gemeente om te gaan totdat ons voel dat reg geskied het. Die psalmis het geskryf dat “daar geen struikelblok” is vir dié wat Jehovah se wette liefhet nie (Psalm 119:165). Eintlik word almal maar van tyd tot tyd veronreg. Moet nooit toelaat dat sulke negatiewe ondervindinge jou diens aan Jehovah belemmer nie. Laat die vrede van die Christus eerder in jou hart heers.

Wanneer ons deur sorge oorval word

8. Wat is sommige van die dinge wat besorgdheid veroorsaak, en waartoe kan besorgdheid lei?

8 In hierdie “laaste dae” is sorge ’n wesenlike deel van die lewe (2 Timoteus 3:1). Jesus het weliswaar gesê: “Hou op om besorg te wees oor julle siel, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra” (Lukas 12:22). Maar nie alle sorge word veroorsaak deur kommer oor materiële dinge nie. Lot het hom ‘grootliks gekwel’ weens die verdorwenheid van Sodom (2 Petrus 2:7). Paulus het ‘besorgdheid vir al die gemeentes’ ervaar (2 Korintiërs 11:28). Jesus het op die vooraand van sy dood in soveel angs verkeer dat ‘sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val’ (Lukas 22:44). Dit is duidelik dat nie alle besorgdheid ’n teken van swak geloof is nie. Maar ongeag die oorsaak, as besorgdheid intens is en lank voortduur, kan dit ons van vrede beroof. Besorgdheid het party oorweldig sodat hulle voel dat hulle nie langer die verantwoordelikhede van diens aan Jehovah kan dra nie. Die Bybel sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer” (Spreuke 12:25). Wat kan ons dus doen as ons deur sorge gekwel word?

9. Wat is ’n paar praktiese stappe wat geneem kan word om besorgdheid te verlig, maar watter oorsake van besorgdheid kan nie uit die weg geruim word nie?

9 In party situasies kan ons dalk praktiese stappe neem. As ons angstigheid deur ’n mediese probleem veroorsaak word, sal dit verstandig wees om aandag daaraan te skenk, hoewel ons self oor sulke sake moet besluit (Matteus 9:12). a As ons na baie verantwoordelikhede moet omsien, kan ons dalk party daarvan aan ander delegeer (Exodus 18:13-23). Maar wat van diegene—soos ouers—met swaar verantwoordelikhede wat nie gedelegeer kan word nie? Wat van ’n Christen met ’n huweliksmaat wat hom of haar teëstaan? Wat van ’n gesin met ernstige ekonomiese probleme of wat in ’n oorloggeteisterde gebied woon? Dit is duidelik dat ons in hierdie stelsel van dinge nie alle oorsake van besorgdheid uit die weg kan ruim nie. Ons kan nietemin die vrede van die Christus in ons harte bewaar. Hoe?

10. Wat is twee maniere waarop ’n Christen sorge kan probeer verlig?

10 Een manier is deur vertroosting in God se Woord te soek. Koning Dawid het geskryf: “Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het u vertroostinge my siel begin streel” (Psalm 94:19, NW). Jehovah se “vertroostinge” kan in die Bybel gevind word. As ons daardie geïnspireerde Boek gereeld raadpleeg, sal dit ons help om die vrede van die Christus in ons harte te bewaar. Die Bybel sê: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). Paulus het eweneens geskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Ernstige en gereelde gebed sal ons help om ons vrede te bewaar.

11. (a) Hoe was Jesus ’n goeie voorbeeld wat gebed betref? (b) Hoe moet ons gebed beskou?

11 Jesus was ’n uitstekende voorbeeld wat dit betref. Hy het soms ure lank in gebed met sy hemelse Vader gepraat (Matteus 14:23; Lukas 6:12). Gebed het hom gehelp om die ergste beproewinge te verduur. Op die vooraand van sy dood het hy baie benoud geword. Wat het hy gedoen? Hy het “nog ernstiger” gebid (Lukas 22:44). Ja, die volmaakte Seun van God was ’n man van gebed. Hoeveel te meer moet sy onvolmaakte volgelinge dus die gewoonte aankweek om te bid! Jesus het sy dissipels geleer “om altyd te bid en nie moed op te gee nie” (Lukas 18:1). Gebed is ware en noodsaaklike kommunikasie met Hom wat ons beter ken as wat ons onsself ken (Psalm 103:14). As ons die vrede van die Christus in ons harte wil bewaar, sal ons ‘onophoudelik bid’.—1 Tessalonisense 5:17.

Hoe ons ons beperkings kan oorkom

12. Waarom voel party dat hulle diens onaanvaarbaar is?

12 Jehovah beskou elkeen van sy knegte as kosbaar (Haggai 2:7, NW, voetnoot). Maar baie vind dit moeilik om te aanvaar. Party word dalk ontmoedig weens die ouderdom, toenemende gesinsverantwoordelikhede of verslegtende gesondheid. Ander voel moontlik dat hulle ’n agterstand het weens hulle ongelukkige agtergrond. Nog ander word gekwel deur foute wat hulle in die verlede gemaak het en twyfel dat Jehovah hulle ooit kan vergewe (Psalm 51:5). Wat kan omtrent sulke gevoelens gedoen word?

13. Watter skriftuurlike vertroosting is daar vir diegene wat onwaardig voel?

13 Die vrede van die Christus sal ons van Jehovah se liefde verseker. Ons kan daardie vrede in ons harte herwin deur na te dink oor die feit dat Jesus nooit gesê het dat ons waarde bepaal word deurdat ons werke met dié van ander vergelyk word nie (Matteus 25:14, 15; Markus 12:41-44). Wat hy wel beklemtoon het, was lojaliteit. Hy het vir sy dissipels gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Jesus is deur mense “verag”, maar hy het nooit getwyfel dat sy Vader hom liefhet nie (Jesaja 53:3; Johannes 10:17). En hy het vir sy dissipels gesê dat hulle ook geliefd is (Johannes 14:21). Om dit te beklemtoon, het Jesus gesê: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29-31). Watter hartlike versekering van Jehovah se liefde is dit tog!

14. Watter versekering het ons dat Jehovah elkeen van ons as kosbaar ag?

14 Jesus het ook gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). Aangesien Jehovah ons getrek het om Jesus te volg, moet dit Sy wil wees dat ons gered word. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit [is] nie vir my Vader wat in die hemel is iets wensliks dat een van hierdie kleintjies vergaan nie” (Matteus 18:14). As jy dus met ’n volkome hart dien, kan jy jou in jou goeie werke verbly (Galasiërs 6:4). As foute wat jy in die verlede gemaak het, jou kwel, kan jy verseker wees dat Jehovah dié wat waarlik berouvol is, “menigvuldiglik” sal vergeef (Jesaja 43:25; 55:7). As jy om enige ander rede mismoedig voel, moet jy onthou dat ‘Jehovah naby die is wat gebroke is van hart, en dat Hy die verlos wat verslae is van gees’.—Psalm 34:19.

15. (a) Hoe probeer Satan ons ons vrede ontneem? (b) Watter vertroue kan ons in Jehovah hê?

15 Satan sou jou baie graag jou vrede wou ontneem. Hy is verantwoordelik vir die oorgeërfde sonde waarmee ons almal worstel (Romeine 7:21-24). Hy sou jou beslis wil laat voel dat jou onvolmaaktheid jou diens onaanvaarbaar vir God maak. Moet nooit toelaat dat die Duiwel jou moed breek nie! Wees bewus van sy planne, en laat daardie bewustheid jou vasbeslote maak om te volhard (2 Korintiërs 2:11; Efesiërs 6:11-13). Onthou, “God is groter as ons hart en weet alles” (1 Johannes 3:20). Jehovah sien nie net ons tekortkominge raak nie. Hy sien ook ons beweegredes en voornemens. Vind dus vertroosting in die psalmis se woorde: “Die HERE sal sy volk nie verwerp en sal sy erfdeel nie verlaat nie.”—Psalm 94:14.

Verenig in die vrede van die Christus

16. In watter opsig is ons nie alleen terwyl ons probeer volhard nie?

16 Paulus het geskryf dat ons die vrede van die Christus in ons harte moet laat heers, want ons is “in een liggaam daartoe geroep”. Die gesalfde Christene aan wie Paulus geskryf het, is geroep om ’n deel van die liggaam van Christus te wees, net soos dit vandag die geval is met die oorblywende lede van die gesalfdes. Hulle metgeselle, die “ander skape”, is saam met hulle verenig as “een kudde” onder “een herder”, Jesus Christus (Johannes 10:16). Saam laat ’n wêreldwye “kudde” van miljoene mense die vrede van die Christus in hulle harte heers. Die wete dat ons nie alleen is nie, help ons om te volhard. Petrus het geskryf: “Weerstaan [Satan], vas in die geloof, in die wete dat dieselfde dinge in die vorm van lyding in die hele gemeenskap van julle broers in die wêreld veroorsaak word.”—1 Petrus 5:9.

17. Watter aansporing het ons om die vrede van die Christus in ons harte te laat heers?

17 Mag ons almal dus voortgaan om vrede aan te kweek, daardie noodsaaklike vrug van God se heilige gees (Galasiërs 5:22, 23). Diegene wat deur Jehovah vlekkeloos, smetloos en in vrede bevind word, sal uiteindelik met ewige lewe op ’n paradysaarde geseën word, waar regverdigheid sal woon (2 Petrus 3:13, 14). Ons het alle rede om die vrede van die Christus in ons harte te laat heers.

[Voetnoot]

a In party gevalle kan besorgdheid deur mediese probleme, soos kliniese depressie, veroorsaak of vererger word.

Onthou jy?

• Wat is die vrede van die Christus?

• Hoe kan die vrede van die Christus in ons harte heers wanneer ons veronreg word?

• Hoe help die vrede van die Christus ons om sorge die hoof te bied?

• Hoe vertroos die vrede van die Christus ons wanneer ons onwaardig voel?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Jesus het hom in die teenwoordigheid van sy beskuldigers aan Jehovah se sorg toevertrou

[Prent op bladsy 16]

Soos die tere omhelsing van ’n liefdevolle vader, kan die vertroostinge wat Jehovah gee, ons angs verlig

[Prent op bladsy 18]

God heg groot waarde aan volharding