Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is daar ’n Duiwel?

Is daar ’n Duiwel?

Is daar ’n Duiwel?

“Daar was ’n tyd in die geskiedenis van die Christelike Kerk toe die duiwel, Beëlsebub of Satan, die koning van boosheid, net so ’n werklike en kragtige figuur was soos wat ‘God’ vandag nog vir al hoe minder mense is; ’n skepping van die Jode en vroeë Christene om die goddeloosheid wat hulle om hulle gesien het in die vorm van ’n halfmens-halfdier voor te stel. Later het Christene tot die besef gekom dat hy ’n fantasiefiguur is wat geensins op die werklikheid gegrond is nie en stilweg van hom ontslae geraak.”—“All in the Mind—A Farewell to God”, deur Ludovic Kennedy.

SOOS die skrywer en omroeper Ludovic Kennedy sê, was daar eeue lank niemand in die Christendom wat die werklikheid van die Duiwel betwyfel het nie. Trouens, Christene was soms, soos professor Norman Cohn dit stel, “behep met die krag van Satan en sy demone” (Europe’s Inner Demons). Hierdie beheptheid was nie tot eenvoudige, onopgevoede arbeiders beperk nie. Die oortuiging dat die Duiwel die vorm van ’n dier aanneem om oor bose en walglike rituele toesig te hou, het byvoorbeeld “nie by die volksoorleweringe van die ongeletterde meerderheid ontstaan nie, maar dit was eerder die wêreldbeskouing van die intellektuele elite”, sê professor Cohn. Hierdie “intellektuele elite”—insluitende geleerde geestelikes—was verantwoordelik vir die heksejag wat van die 15de tot die 17de eeu in Europa plaasgevind het, toe kerk- en burgerlike owerhede na bewering ongeveer 50 000 vermeende hekse gemartel en doodgemaak het.

Dit is nie verbasend nie dat talle mense dít verwerp het wat hulle as ongegronde, bygelowige idees oor die Duiwel beskou. Reeds in 1726 het Daniel Defoe die spot gedryf met mense se siening dat die Duiwel ’n skrikwekkende monster is “met vlermuisvlerke, horings, gesplete hoewe, ’n lang stert, ’n gevurkte tong en so meer”. Sulke idees, het hy gesê, is “dwase, denkbeeldige onsinnighede” en word geskep deur “voorstanders en skeppers van die duiwel” wat “die onkundige wêreld bedrieg met ’n duiwel wat hulle self versin het”.

Is dit jou beskouing? Stem jy saam dat “die duiwel in werklikheid ’n versinsel van die mens is om vir sy eie sondigheid verantwoording te doen”? Daardie stelling verskyn in The Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible, en baie mense wat beweer dat hulle Christene is, stem hiermee saam. Die Christendom se teoloë, sê Jeffrey Burton Russell, het oor die algemeen “die Duiwel en die demone as bygelowige tradisies verwerp”.

Tog is die Duiwel vir sommige mense ’n groot werklikheid. Hulle meen daar moet die een of ander bomenslike, kwaadwillige mag wees agter die booshede wat herhaaldelik in die geskiedenis van die mens voorkom. “Die afgryslikhede van die twintigste eeu”, sê Russell, bied een rede waarom “geloof in die Duiwel, ná ’n lang afwesigheid, vinnig besig is om terug te keer”. Volgens die skrywer Don Lewis word ’n aantal hedendaagse, geleerde mense wat “met ’n neerbuigende houding glimlag” oor die bygelowige opvattings en vrese van “hulle naïewe voorvaders”, “weer eens geboei deur die bose element in die bonatuurlike”.—Religious Superstition Through the Ages.

Wat is dan die waarheid omtrent hierdie saak? Is die Duiwel bloot bygelowige onsin? Of is hy iemand wat selfs in die 21ste eeu ernstig opgeneem moet word?

[Prent op bladsy 4]

Soos hierdie gegraveerde prent deur Gustave Doré toon, het ou bygelowe die Duiwel as ’n halfmens-halfdier uitgebeeld

[Erkenning]

The Judecca—Lucifer/The Doré Illustrations For Dante’s Divine Comedy/Dover Publications Inc.