‘Soek vrede en streef dit na’
‘Soek vrede en streef dit na’
“Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—ROMEINE 12:18.
1, 2. Wat is sommige van die redes waarom mensgemaakte vrede nie blywend is nie?
STEL jou ’n huis voor met ’n swak fondament, balke wat verrot en ’n dak wat besig is om in te sak. Sou jy in so ’n huis gaan woon? Waarskynlik nie. Al word dit geverf, is die huis nog steeds nie veilig nie. Dit gaan waarskynlik vroeër of later inmekaarstort.
2 Enige vrede wat hierdie wêreld bied, is soos daardie huis. Dit is op ’n swak fondament gebou—naamlik die beloftes en strategieë van mense, “aan wie geen redding behoort nie” (Psalm 146:3, NW). Die geskiedenis bestaan uit ’n lang reeks konflikte tussen nasies, etniese groepe en stamme. Daar was weliswaar kort periodes van vrede, maar watter soort vrede? Kan dit werklik vrede genoem word as twee nasies in ’n oorlog gewikkel is en dan vrede verklaar omdat een nasie verslaan word of omdat nie een van die nasies verdere nut daarin kan sien om nog te veg nie? Die haat, agterdog en jaloesie wat tot die oorlog aanleiding gegee het, bestaan nog steeds. Vrede wat bloot ’n skyn is, ’n ‘verflaag’ oor die vyandigheid, is nie blywend nie.—Esegiël 13:10.
3. Waarom is die vrede wat God se volk geniet, anders as enige mensgemaakte vrede?
3 Maar daar is wel ware vrede in hierdie oorloggeteisterde wêreld. Waar? Onder die voetstapnavolgers van Jesus Christus, ware Christene wat ag gee op Jesus se woorde en daarna strewe om sy lewensweg na te volg (1 Korintiërs 11:1; 1 Petrus 2:21). Die vrede wat tussen ware Christene van verskillende rasse, stande en nasionaliteite bestaan, is eg omdat dit voortspruit uit die vreedsame verhouding wat hulle met God het, wat gegrond is op hulle geloof in die losprysoffer van Jesus Christus. Hulle vrede is ’n gawe van God, nie iets wat deur mense bewerkstellig is nie (Romeine 15:33; Efesiërs 6:23, 24). Hulle geniet dit omdat hulle hulle aan die “Vredevors”, Jesus Christus, onderwerp en Jehovah, “die God van liefde en van vrede”, aanbid.—Jesaja 9:5; 2 Korintiërs 13:11.
4. Hoe ‘streef’ ’n Christen vrede na?
4 Vrede is nie iets wat onvolmaakte mense outomaties ondervind nie. Petrus het dus gesê dat elke Christen ‘vrede moet soek en dit moet nastreef’ (1 Petrus 3:11). Hoe kan ons dit doen? ’n Eertydse profesie gee ons ’n leidraad. Deur Jesaja het Jehovah gesê: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jesaja 54:13; Filippense 4:9). Ja, diegene wat ag gee op Jehovah se onderrigting, geniet ware vrede. Daarbenewens is vrede, saam met “liefde, vreugde, . . . lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”, die vrugte van God se heilige gees (Galasiërs 5:22, 23). Iemand wat liefdeloos, vreugdeloos, ongeduldig, onvriendelik, goddeloos, ontrou, wreed of sonder selfbeheersing is, kan nie vrede geniet nie.
‘Wees vreedsaam teenoor alle mense’
5, 6. (a) Wat beteken dit in skriftuurlike sin om vredeliewend, of vreedsaam, te wees? (b) Teenoor wie probeer Christene vreedsaam wees?
5 Vrede is al gedefinieer as ’n “toestand van rus en kalmte”. So ’n definisie kan baie situasies dek waarin daar geen konflik is nie. Selfs die dooies rus in vrede! Maar om ware vrede te geniet, behels meer as om net ’n rustige lewe te lei. In sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “Gelukkig is die vredeliewendes, want hulle sal ‘seuns van God’ genoem word” (Matteus 5:9). Jesus het met persone gepraat wat later die geleentheid sou hê om geestelike seuns van God te word en onsterflike lewe in die hemel te ontvang (Johannes 1:12; Romeine 8:14-17). En uiteindelik sal alle getroue mense wat nie ’n hemelse hoop het nie, “die glorieryke vryheid van die kinders van God” geniet (Romeine 8:21). Slegs die vredeliewendes kan so ’n hoop hê. Die Griekse woord vir “vredeliewendes” beteken letterlik “vredemakers”. Om in die skriftuurlike sin vredeliewend, of vreedsaam, te wees, impliseer dat ’n mens daadwerklik vrede bevorder, en soms vrede maak waar dit voorheen afwesig was.
6 Kyk na die apostel Paulus se raad aan die Romeine met dit in gedagte: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Romeine 12:18). Paulus het natuurlik nie vir die Romeine gesê om net ’n kalm geaardheid te hê nie, hoewel dit nuttig sou wees. Hy het hulle in werklikheid aangespoor om vrede te maak. Met wie? Met “alle mense”—gesinslede, mede-Christene, selfs diegene wat nie hulle oortuigings deel nie. Hy het die Romeine aangespoor om vrede met ander te maak ‘sover dit van hulle afgehang het’. Nee, hy wou nie hê dat hulle hulle oortuigings moes inboet ter wille van vrede nie. Hulle moes ander ook nie onnodig kwaad maak nie, maar moes hulle met vreedsame bedoelings nader. Christene moes dit doen hetsy hulle met mense binne of buite die gemeente te doen gehad het (Galasiërs 6:10). Paulus het in ooreenstemming hiermee geskryf: “Streef altyd na wat goed is teenoor mekaar en teenoor alle ander mense.”—1 Tessalonisense 5:15.
7, 8. Hoe en waarom is Christene vreedsaam teenoor diegene wat nie hulle oortuigings deel nie?
7 Hoe kan ons vreedsaam wees teenoor mense wat nie ons oortuigings deel nie en ons moontlik selfs teëstaan? Eerstens, deur ’n meerderwaardige houding te vermy. Ons sou byvoorbeeld glad nie vreedsaam optree as ons neerhalend van sekere mense praat nie. Jehovah het sy oordele teen sekere organisasies en klasse bekend gemaak, maar ons het nie die reg om van enigiemand te praat asof hy reeds veroordeel is nie. Ja, ons oordeel nie ander nie, selfs nie ons teenstanders nie. Nadat Paulus vir Titus gesê het om die Christene in Kreta raad te gee oor hulle optrede teenoor die sekulêre owerhede, het hy vir hom gesê om hulle daaraan te herinner “om van niemand kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê”.—Titus 3:1, 2.
8 Om vreedsaam te wees teenoor diegene wat nie soos ons glo nie, help grootliks om die waarheid vir hulle aantreklik te maak. Ons kweek natuurlik nie vriendskappe aan wat ‘nuttige gewoontes bederf’ nie (1 Korintiërs 15:33). Ons kan nietemin beleef wees, en ons moet alle mense met waardigheid en mensliewendheid behandel. Petrus het geskryf: “Handhaaf voortreflike gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle spreek as boosdoeners, as gevolg van julle voortreflike werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik.”—1 Petrus 2:12.
Vreedsaam in die bediening
9, 10. Watter voorbeeld het die apostel Paulus gestel wat vreedsame optrede teenoor ongelowiges betref?
9 Eerste-eeuse Christene was bekend vir hulle vrymoedigheid. Hulle het nie hulle boodskap afgewater nie, en wanneer hulle teëgestaan is, was hulle vasbeslote om eerder aan God as heerser gehoorsaam te wees as aan mense (Handelinge 4:29; 5:29). Maar hulle het nie vrymoedigheid met ongemanierdheid verwar nie. Kyk na Paulus se benadering toe hy sy geloof voor koning Herodes Agrippa II verdedig het. Herodes Agrippa het ’n bloedskendige verhouding met sy suster, Bernice, gehad. Maar Paulus het nie vir Agrippa ’n sedeles gegee nie. Hy het eerder punte beklemtoon waaroor hulle saamgestem het en het erken dat Agrippa baie goed op hoogte van Joodse gebruike was en in die profete geglo het.—Handelinge 26:2, 3, 27.
10 Het Paulus die man wat hom sy vryheid kon gee, heuning om die mond probeer smeer? Nee. Paulus het volgens sy eie raad opgetree en die waarheid gepraat. Niks wat hy vir Herodes Agrippa gesê het, was onwaar nie (Efesiërs 4:15). Maar Paulus was ’n vredemaker en het geweet hoe om “alles vir alle soorte mense” te word (1 Korintiërs 9:22). Sy doel was om sy reg te verdedig om van Jesus te getuig. As ’n goeie onderrigter het hy begin deur iets te sê waaroor hy en Agrippa kon saamstem. Paulus het daardie onsedelike koning sodoende gehelp om die Christelike godsdiens in ’n gunstiger lig te sien.—Handelinge 26:28-31.
11. Hoe kan ons vredemakers in ons bediening wees?
11 Hoe kan ons vredemakers in ons bediening wees? Soos Paulus moet ons geskille vermy. Soms moet ons weliswaar “die woord van God onbevrees . . . spreek” en ons geloof met vrymoedigheid verdedig (Filippense 1:14). Maar in die meeste gevalle is ons hoofdoel om die goeie nuus te verkondig (Matteus 24:14). Nadat iemand die waarheid omtrent God se voornemens gesien het, kan hy valse godsdiensopvattings begin verwerp en hom van onrein gebruike reinig. Sover moontlik wil ons dus dinge beklemtoon wat by ons luisteraars byval sal vind en ons gesprekke begin met iets wat ons met hulle in gemeen het. Dit sou teenproduktief wees om iemand kwaad te maak wat moontlik sou geluister het as hy taktvol genader is.—2 Korintiërs 6:3.
Vredemakers in die gesin
12. Op watter maniere kan ons vredemakers in die gesin wees?
12 Paulus het gesê dat dié wat trou, “verdrukking in hulle vlees” sal hê (1 Korintiërs 7:28). Hulle sal verskeie probleme ondervind. Party egpare sal byvoorbeeld soms meningsverskille hê. Hoe moet dit hanteer word? Op ’n vreedsame manier. ’n Vredemaker sal probeer keer dat ’n konflik vererger. Hoe kan hy dit doen? Eerstens, deur ’n wag voor sy mond te sit. Wanneer hierdie klein lid gebruik word om sarkastiese en beledigende aanmerkings te maak, kan dit waarlik “’n onbedwingbare skadelike ding, vol dodelike gif” wees (Jakobus 3:8). ’n Vredemaker gebruik sy tong om ander op te bou en nie af te breek nie.—Spreuke 12:18.
13, 14. Hoe kan ons die vrede bewaar wanneer ons iets verkeerds sê of wanneer gemoedere hoog loop?
13 Omdat ons onvolmaak is, sê ons almal soms dinge waaroor ons later spyt is. Wanneer dit gebeur, moet ons sonder versuim sake regstel en vrede maak (Spreuke 19:11; Kolossense 3:13). Moenie betrokke raak by “debatte oor woorde” en “heftige redetwiste oor nietighede” nie (1 Timoteus 6:4, 5). Kyk eerder dieper as die oppervlak en probeer jou maat se gevoelens verstaan. As hy of sy ’n kwetsende aanmerking maak, moet jy nie in gelyke munt terugbetaal nie. Onthou dat ‘’n sagte antwoord die grimmigheid afkeer’.—Spreuke 15:1.
14 Soms sal jy die raad in Spreuke 17:14 (NW) moet volg: “Gaan . . . weg voordat die rusie uitgebreek het.” Verwyder jou uit die plofbare situasie. Later, wanneer die gemoedere gekalmeer het, sal jy die probleem waarskynlik vreedsaam kan oplos. In party gevalle sal dit raadsaam wees om ’n ryp Christenopsiener se hulp te vra. Hierdie ervare en simpatieke manne kan verfrissende hulp verleen wanneer die vrede in die huwelik bedreig word.—Jesaja 32:1, 2.
Vredemakers in die gemeente
15. Watter slegte gees het volgens Jakobus onder party Christene ontwikkel, en waarom is daardie gees ‘aards’, ‘dierlik’ en ‘demonies’?
15 Ongelukkig het party eerste-eeuse Christene ’n gees van jaloesie en twisgierigheid geopenbaar—presies die teenoorgestelde van vrede. Jakobus het gesê: “Dít is nie die wysheid wat van bo neerdaal nie, maar is die aardse, dierlike, demoniese. Want waar daar jaloesie en twisgierigheid is, daar is wanorde en allerhande veragtelike dinge” (Jakobus 3:14-16). Party meen dat die Griekse woord wat met “twisgierigheid” vertaal word, verband hou met selfsugtige ambisie, ’n wedywering om posisie. Jakobus noem dit heeltemal tereg ‘aards, dierlik, demonies’. Deur die geskiedenis heen het wêreldheersers twisgierigheid aan die dag gelê, soos wilde diere wat teen mekaar baklei. Twisgierigheid is waarlik ‘aards’ en ‘dierlik’. Dit is ook ‘demonies’. Hierdie boosaardige eienskap is vir die eerste keer deur die magshonger engel geopenbaar wat teen Jehovah God in opstand gekom het en Satan, die heerser van die demone, geword het.
16. Hoe het party eerste-eeuse Christene ’n gees soos dié van Satan geopenbaar?
16 Jakobus het Christene aangespoor om nie ’n twisgierige gees te ontwikkel nie, want dit ondermyn die vrede. Hy het geskryf: “Uit watter bron kom daar oorloë en uit watter bron kom daar bakleiery onder julle? Kom dit nie uit hierdie bron nie, naamlik uit julle hunkeringe na sinsgenot wat ’n stryd in julle lede voer?” (Jakobus 4:1). Hier kan “hunkeringe na sinsgenot” verwys na ’n hebsugtige hunkering na materiële dinge of ’n begeerte na vernaamheid, beheer of invloed. Soos Satan wou party in die gemeente blykbaar bo ander uitblink en nie ‘minderes’ wees nie, soos Jesus gesê het sy ware volgelinge sou wees (Lukas 9:48). So ’n gees kan die vrede in die gemeente versteur.
17. Hoe kan hedendaagse Christene vredemakers in die gemeente wees?
17 Vandag moet ons ook die neiging tot materialisme, jaloesie of eersugtige ambisie weerstaan. As ons ware vredemakers is, sal ons nie bedreig voel as sommige in die gemeente sekere dinge beter as ons doen nie, en ons sal hulle ook nie voor ander in ’n ongunstige lig stel deur hulle beweegredes in twyfel te trek nie. As ons ’n besondere vermoë het, sal ons dit nie gebruik om bo ander uit te munt nie, asof ons te kenne wil gee dat die gemeente slegs weens ons vaardigheid en kundigheid sal floreer. So ’n gees sal verdeeldheid veroorsaak; dit sal nie vrede meebring nie. Vredemakers spog nie met hulle talente nie, maar hulle gebruik dit nederig om hulle broers te dien en Jehovah te verheerlik. Hulle besef dat liefde ’n mens uiteindelik as ’n ware Christen identifiseer—nie jou vermoëns nie.—Johannes 13:35; 1 Korintiërs 13:1-3.
“Vrede as jou opsieners”
18. Hoe bevorder ouer manne vrede onder mekaar?
18 Gemeentelike ouer manne stel die voorbeeld as vredemakers. Jehovah het aangaande sy volk voorspel: “Ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers” (Jesaja 60:17, NW). In ooreenstemming met hierdie profetiese woorde werk diegene wat as Christenherders dien, hard om vrede onder mekaar en onder die kudde te bevorder. Ouer manne kan die vrede onder mekaar bewaar deur die “wysheid van bo” aan die dag te lê wat vreedsaam en redelik is (Jakobus 3:17). Met hulle uiteenlopende agtergronde en ondervindinge in die lewe sal ouer manne in ’n gemeente verskillende sienswyses hê. Beteken dit dat hulle nie vrede geniet nie? Nie as so ’n situasie reg hanteer word nie. Vredemakers spreek hulleself op ’n beskeie wyse uit en luister dan beleef na ander. ’n Vredemaker sal nie daarop aandring dat dinge op sy manier gedoen word nie, maar sal sy broer se sienswyse biddend in ag neem. As geen Bybelbeginsel oortree word nie, is daar gewoonlik ruimte vir verskillende sienswyses. Wanneer ander met hom verskil, sal ’n vredemaker hom aan die besluit van die meerderheid onderwerp en dit ondersteun. Sodoende toon hy dat hy redelik is (1 Timoteus 3:2, 3). Ervare opsieners weet dat dit belangriker is om die vrede te bewaar as om ’n mens se sin te kry.
19. Hoe tree ouer manne as vredemakers in die gemeente op?
19 Ouer manne bevorder vrede met lede van die kudde deur hulle te ondersteun en nie onnodig krities te wees oor wat hulle doen nie. Soms moet party wel reggehelp word (Galasiërs 6:1). Maar die Christenopsiener se werk is nie hoofsaaklik om dissipline uit te oefen nie. Hy prys ander dikwels. Liefdevolle ouer manne probeer die goeie eienskappe in ander sien. Opsieners waardeer die harde werk van mede-Christene, en hulle is vol vertroue dat hulle medegelowiges hulle bes doen.—2 Korintiërs 2:3, 4.
20. Hoe vind die gemeente daarby baat as almal vredemakers is?
20 In die gesin, in die gemeente en in ons handelinge met dié wat nie ons oortuigings deel nie, probeer ons dus om vreedsaam te wees, om vrede te bevorder. As ons hard werk om vrede aan te kweek, sal ons tot die geluk van die gemeente bydra. Terselfdertyd sal ons op baie maniere beskerm en versterk word, soos ons in die volgende artikel sal sien.
Onthou jy?
• Wat beteken dit om vredeliewend, of vreedsaam, te wees?
• Hoe kan ons vreedsaam wees wanneer ons met mense te doen kry wat nie Getuies is nie?
• Wat is ’n paar maniere om vrede in die gesin aan te kweek?
• Hoe kan ouer manne vrede in die gemeente bevorder?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 9]
Vredemakers vermy ’n meerderwaardige houding
[Prente op bladsy 10]
Christene is vredemakers in die bediening, in die gesin en in die gemeente