Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Kolossense 1:16 sê aangaande God se Seun dat ‘alle ander dinge deur hom en vir hom geskep is’. In watter sin is alle dinge “vir” God se Seun, Jesus, geskep?

Jehovah het sy enigverwekte Seun as die meesterwerker gebruik om alle ander dinge te skep, dit wil sê alles buiten Jesus self (Spreuke 8:27-30, NW; Johannes 1:3). Die Seun skep tereg behae in hierdie werke, en in hierdie sin is dit “vir” hom geskep.

Ons weet dat menseouers verwag om groot behae te skep in wat hulle voortbring—hulle seuns en dogters—en dat dit dikwels wel die geval is. Gevolglik praat die Bybelspreuk van “die seun in wie [sy vader] behae het” (Spreuke 3:12; 29:17). Jehovah God het ook behae in Israel geskep toe sy volk getrou was (Psalm 44:4; 119:108; 147:11). Hy put ook vreugde uit die getrouheid van al sy lojales reg tot in ons tyd.—Spreuke 12:22; Hebreërs 10:38.

Dit was dus reg dat God sy medewerker, Jesus, sou toelaat om behae in sy werke te skep. Trouens, Spreuke 8:31 (NW) sê dat die Seun ‘hom verheug het oor die vrugbare land van sy aarde, en die dinge waarvoor hy lief was, was by die mensekinders’. Dit is in hierdie sin dat Kolossense 1:16 sê: “Alle ander dinge is deur hom en vir hom geskep.”