Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Wat is aan die broei in Frankryk?”

“Wat is aan die broei in Frankryk?”

“Wat is aan die broei in Frankryk?”

“Vryheid, kosbare vryheid”, is woorde uit “La Marseillaise”, Frankryk se volkslied. Vryheid is ongetwyfeld iets kosbaars. Maar onlangse gebeure in Frankryk wek kommer dat basiese vryhede ondermyn word. Dit is waarom tienduisende Getuies van Jehovah op Vrydag, 3 November 2000, altesaam 12 miljoen eksemplare van ’n spesiale traktaat versprei het met die titel “Wat is aan die broei in Frankryk? Kan vryheid agteruitgaan?”

JEHOVAH SE GETUIES in Frankryk word al etlike jare lank deur verskeie politici en antisektegroepe aangeval. Dit het probleme vir Getuies op ’n individuele, gemeentelike en nasionale vlak geskep. Maar op 23 Junie 2000 het die Conseil d’État, Frankryk se hoogste administratiewe hof, ’n epogmakende beslissing gelewer wat die algemene mening van 31 laer howe in meer as 1 100 hofsake bevestig het. Die hoër hof het bevestig dat die aanbidding wat deur Jehovah se Getuies beoefen word, heeltemal in ooreenstemming met die Franse wet is en dat hulle Koninkryksale op dieselfde vrystellings van belasting geregtig is as wat ander godsdienste ontvang.

Maar die Franse Departement van Finansies het hierdie beslissing heeltemal geïgnoreer en weier nog steeds om aan Jehovah se Getuies vrystelling van belasting toe te staan, al maak die wet daardie voorsiening vir godsdiensorganisasies. Die Departement het ’n belasting van 60 persent op die bydraes gehef van Getuies en ander wat met die 1 500 plaaslike gemeentes in Frankryk assosieer. Die saak is nog hangende.

Die doel van die kampanje waarna verwys is, was om hierdie teenstrydigheid bloot te lê en die aandag te vestig op die gevare verbonde aan hierdie eiemagtige heffing van belasting en die voorgestelde wette wat godsdiensvryheid vir almal sal ondermyn. a

’n Lang dag

Om twee-uur die oggend begin Getuies in party gemeentes die traktate buite treinstasies en fabrieke en dan by lughawens versprei. Teen sesuur begin Parys lewe. Ongeveer 6 000 vrywilligers word op strategiese punte geplaas om met verbygangers te praat wat op pad werk toe is. ’n Jong vrou sê: “Wat julle ter wille van godsdiensvryheid doen, is goed. Dit is nie net Jehovah se Getuies wat hierby betrokke is nie.” In Marseille versprei meer as 350 Getuies die traktaat by ondergrondse stasies en op straat. Binne ’n uur word die kampanje landwyd oor die radio aangekondig en word daar vir luisteraars gesê om nie verbaas te wees as Jehovah se Getuies hulle nader nie. In Straatsburg, die setel van die Europese Hof van Menseregte, wag pendelaars geduldig in ’n ry by die sentrale stasie om hulle traktaat te ontvang. ’n Regsgeleerde sê dat hy, al deel hy nie ons oortuigings nie, ons saak met belangstelling volg, aangesien ons stryd belangrik en geregverdig is.

Om agtuur is 507 Getuies in die Alpynse stad Grenoble, ten spyte van swaar reën, besig om die traktaat op straat te versprei of in posbusse te sit. Motor- en trembestuurders sien dat iets aan die gang is en hou stil om ’n traktaat te vra. In Poitiers, ’n stad in die weste, het pendelaars wat teen nege-uur daar opdaag, reeds die traktaat by hulle vertrekpunt ontvang. In Mülhausen, naby die Duitse grens, is 40 000 traktate reeds versprei.

Teen tienuur het baie gemeentes meer as die helfte van hulle traktate versprei. In die loop van die oggend wys baie min mense die traktaat van die hand, en ’n aantal interessante gesprekke word gevoer. In Besançon, net meer as 80 kilometer van die Switserse grens af, toon ’n jong man belangstelling in die Bybel, en hy vra waarom God lyding toelaat. Die Getuie nooi hom om die bespreking by die nabygeleë Koninkryksaal voort te sit, waar ’n Bybelstudie onmiddellik uit die brosjure Wat vereis God van ons? begin word.

Om twaalfuur gebruik baie Getuies hulle etensuur om ’n uur of twee te getuig. Regdeur die middag gaan die verspreiding voort, en talle gemeentes maak teen drie- of vieruur daardie middag klaar. In die sjampanjehoofstad, Reims, spreek party wat voorheen met Jehovah se Getuies gestudeer of geassosieer het, hulle begeerte uit om weer met die gemeente te begin assosieer. In Bordeaux word drie tuisbybelstudies begin. In dieselfde stad gaan ’n Getuie in ’n winkel in om ’n koerant te koop en sien hy ’n klomp traktate op die toonbank. Die winkelier, wat voorheen ’n Getuie was, het die traktaat ontvang en kopieë gemaak om self te versprei omdat sy die belangrikheid daarvan besef het.

In Le Havre, Normandië, is ’n Protestantse vrou geskok toe sy oor die radio hoor dat die bydraes van Jehovah se Getuies belas word. Sy neem die traktaat gretig en prys die Getuies omdat hulle hulle teen so ’n onreg uitspreek. Om 7:20 nm. lewer die streektelevisie in Lyon berig oor die verspreiding en sê: “Vanoggend was dit makliker om die reëndruppels te ontwyk as die traktate van Jehovah se Getuies.” ’n Onderhoud word met twee Getuies gevoer en hulle verduidelik die rede vir die kampanje.

Getuies wat ná werk aan die kampanje wil deelneem, gee traktate aan pendelaars wat op pad huis toe is en sit ook traktate in posbusse. In dorpe soos Brest en Limoges—wat bekend is vir hulle porseleinware—is mense wat die bioskoop om 11:00 nm. verlaat, van die laastes wat die traktaat daardie dag ontvang. Die traktate wat oorbly, word versamel en die volgende oggend versprei.

Resultate

Een Getuie het geskryf: “Ons teenstanders dink hulle verswak ons. Die teenoorgestelde vind in werklikheid plaas.” In die meeste gemeentes het meer as 75 persent van die Getuies daardie dag aan die kampanje deelgeneem, en party het 10, 12 of 14 uur gewerk. In Hem, in die noorde van Frankryk, het een Getuie wat nagskof gewerk het, die traktaat van vyfuur die oggend tot drie-uur die middag versprei. In nabygeleë Denain, waar daar sedert 1906 ’n gemeente is, het 75 Getuies gedurende Vrydag 200 uur daaraan bestee om die traktaat te versprei. Ander was ondanks ouderdom, siekte en slegte weer vasbeslote om ’n deelname te hê. In Le Mans het drie Getuies wat in hulle tagtigerjare is, byvoorbeeld twee uur lank traktate in posbusse gesit, en ’n Getuie in ’n rolstoel het die traktaat voor die treinstasie versprei. En hoe bemoedigend was dit tog om te sien hoe talle Getuies wat voorheen onbedrywig was, aan hierdie spesiale kampanje deelneem!

Hierdie verspreiding het sonder twyfel ’n groot getuienis gegee. Mense uit alle agtergronde, baie wat selde tuis gevind word, het ’n traktaat ontvang. Talle mense het gevoel dat hierdie kampanje baie meer bereik het as om net die Getuies se belange te beskerm. Baie meen dat alle mense van Frankryk se gewetensvryheid en vryheid van aanbidding daardeur verdedig is. As bewys hiervan het lede van die publiek ekstra traktate gevra om aan vriende, kollegas en familielede te gee.

Ja, Jehovah se Getuies in Frankryk is trots daarop om Jehovah se naam bekend te maak en om Koninkryksbelange te verdedig (1 Petrus 3:15). Hulle hoop opreg dat hulle “kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns” te lei en dat nog duisende by hulle sal aansluit om hulle hemelse Vader, Jehovah, te loof.—1 Timoteus 2:2.

[Voetnoot]

a Daar was ’n soortgelyke kampanje in Januarie 1999 om teen godsdiensdiskriminasie protes aan te teken. Sien Die Wagtoring van 1 Augustus 1999, bladsy 9, en die 2000 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 24-6.