Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se seën maak ons ryk

Jehovah se seën maak ons ryk

Jehovah se seën maak ons ryk

“Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—Spreuke 10:22NW.

1, 2. Waarom gaan geluk nie gepaard met materiële rykdom nie?

 VANDAG oorheers materialistiese strewes die lewe van miljoene mense. Maar maak materiële dinge hulle gelukkig? “Ek kan nie ’n tyd onthou dat mense so pessimisties oor hulle lot was nie”, sê The Australian Women’s Weekly. Dit voeg by: “Dit is ’n paradoks. Daar word vir ons gesê dat Australië in ’n uitstekende ekonomiese toestand is, dat die lewe nog nooit beter was nie. . . . En tog is pessimisme baie algemeen in die hele land. Mans sowel as vroue voel dat iets in hulle lewe ontbreek, maar hulle weet nie wat dit is nie.” Dit is net soos die Skrif sê, geluk of lewe spruit nie voort uit die dinge wat ons besit nie!—Prediker 5:9; Lukas 12:15.

2 Die Bybel leer dat God se seën die grootste geluk meebring. In hierdie verband sê Spreuke 10:22 (NW): “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.” Mense ervaar dikwels pyn omdat hulle materiële rykdom hebsugtig najaag. Die apostel Paulus het gepas gewaarsku: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:9, 10.

3. Waarom ondervind God se knegte beproewinge?

3 Daarenteen haal pynlose seëninge almal in wat “na die stem van Jehovah bly luister” (Deuteronomium 28:2, NW). Maar party vra dalk: ‘Waarom ly baie van God se knegte as geen pyn by Jehovah se seën gevoeg word nie?’ Die Bybel toon dat God ons beproewinge toelaat, maar dat Satan, sy goddelose stelsel en ons eie onvolmaaktheid dit in werklikheid veroorsaak (Genesis 6:5; Deuteronomium 32:4, 5, NW; Johannes 15:19; Jakobus 1:14, 15). Jehovah is die bron van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17). Sy seëninge veroorsaak dus nooit pyn nie. Kom ons kyk derhalwe na party van God se volmaakte geskenke.

God se Woord—’n kosbare gawe

4. Watter seën en kosbare gawe geniet Jehovah se knegte gedurende hierdie “tyd van die einde”?

4 Aangaande “die tyd van die einde” sê Daniël se profesie: “Die kennis sal vermeerder.” Maar nie almal sou die kennis verstaan nie: “Geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan” (Daniël 12:4, 10). Stel jou dit voor! God se Woord—veral profesieë—word op ’n manier oorgedra wat van soveel Goddelike wysheid getuig dat die goddelose nie werklik die sin daarvan kan begryp nie, maar Jehovah se knegte kan wel. “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde”, het God se Seun gebid, “omdat u hierdie dinge sorgvuldig vir die wyses en intellektuele verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Lukas 10:21). Wat ’n seën is dit tog om die kosbare gawe van God se geskrewe Woord, die Bybel, te hê, en om onder diegene te wees aan wie Jehovah geestelike insig gegee het!—1 Korintiërs 1:21, 27, 28; 2:14, 15.

5. Wat is wysheid, en hoe kan ons dit verkry?

5 Sonder “die wysheid van bo” sou ons hoegenaamd geen geestelike insig gehad het nie (Jakobus 3:17). Wysheid is die vermoë om kennis en insig te gebruik om probleme op te los, gevare te vermy of te voorkom, doelwitte te bereik of goeie raad te gee. Hoe verkry ons Goddelike wysheid? Spreuke 2:6 sê: “Die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand.” Ja, Jehovah sal ons met wysheid seën as ons voortdurend daarvoor bid, net soos hy koning Salomo “’n wyse en verstandige hart” gegee het (1 Konings 3:11, 12; Jakobus 1:5-8). As ons wysheid wil verkry, moet ons ook na Jehovah bly luister deur sy Woord gereeld te bestudeer en dit toe te pas.

6. Waarom is dit verstandig om God se wette en beginsels in ons lewe toe te pas?

6 Goeie voorbeelde van Goddelike wysheid word in die Bybel se wette en beginsels gevind. Dit strek ons in alle opsigte tot voordeel—fisies, verstandelik, emosioneel en geestelik. Die psalmis het gepas gesing: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë. Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig. Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud.”—Psalm 19:8-11; 119:72.

7. Wat is die gevolge as mense God se regverdige standaarde verontagsaam?

7 Aan die ander kant vind diegene wat God se regverdige standaarde verontagsaam, nie die geluk en vryheid waarna hulle soek nie. Vroeër of later ontdek hulle dat God hom nie laat bespot nie, want ’n mens sal maai wat hy saai (Galasiërs 6:7). Miljoene mense wat Bybelbeginsels verontagsaam, maai tragiese gevolge, soos ongewenste swangerskappe, walglike siektes of aftakelende verslaafdheid. Tensy hulle berou toon en hulle lewenswandel verander, sal hulle weg hulle uiteindelik na die dood of moontlik na vernietiging deur God lei.—Matteus 7:13, 14.

8. Waarom is diegene wat God se Woord liefhet, gelukkig?

8 Maar diegene wat God se Woord liefhet en dit toepas, sal nou en in die toekoms deur ryk seëninge ingehaal word. Hulle voel tereg dat hulle vrygemaak is deur God se wet, hulle is werklik gelukkig en sien gretig uit na die tyd wanneer hulle van sonde en die dood bevry sal word (Romeine 8:20, 21; Jakobus 1:25). Hierdie hoop is betroubaar, want dit berus op God se liefdevolste gawe aan die mensdom—die losprysoffer van sy enigverwekte Seun, Jesus Christus (Matteus 20:28; Johannes 3:16; Romeine 6:23). Hierdie allergrootste gawe bevestig die diepte van God se liefde vir die mensdom en waarborg eindelose seëninge vir almal wat na Jehovah bly luister.—Romeine 8:32.

Dankbaar vir die gawe van heilige gees

9, 10. Hoe vind ons baat by Jehovah se gawe van heilige gees? Gee ’n voorbeeld.

9 Nog ’n liefdevolle gawe van God waarvoor ons dankbaar moet wees, is sy heilige gees. Op Pinkster 33 G.J. het die apostel Petrus die skare wat in Jerusalem was, aangespoor: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes, en julle sal die heilige gees as vrye gawe ontvang” (Handelinge 2:38). Vandag gee Jehovah heilige gees aan sy toegewyde knegte wat daarvoor bid en sy wil wil doen (Lukas 11:9-13). In die ou tyd het God se heilige gees, of werkende krag—die sterkste krag in die heelal—manne en vroue van geloof, onder andere die vroeë Christene, krag gegee (Sagaria 4:6; Handelinge 4:31). Dit kan dieselfde vir ons doen, al kom ons as Jehovah se knegte voor groot struikelblokke of uitdagings te staan.—Joël 2:28, 29.

10 Neem die voorbeeld van Laurel, wat polio gekry het en 37 jaar lank in ’n ysterlong gelewe het. a Ondanks haar uiters beproewende omstandighede het sy God ywerig tot haar dood gedien. Oor die jare heen het Jehovah se ryk seën Laurel ingehaal. Sy het byvoorbeeld 17 mense gehelp om tot ’n juiste kennis van Bybelwaarheid te kom, al was sy dag en nag aan haar masjien gekluister! Haar situasie laat ons aan die apostel Paulus se woorde dink: “Wanneer ek swak is, dan is ek kragtig” (2 Korintiërs 12:10). Ja, enige sukses wat ons in die verkondiging van die goeie nuus het, is nie weens ons eie vermoë en krag nie, maar weens God se hulp deur middel van die heilige gees, wat hy aan diegene gee wat na sy stem bly luister.—Jesaja 40:29-31.

11. Watter eienskappe bring God se gees voort in diegene wat hulle met “die nuwe persoonlikheid” beklee?

11 As ons gehoorsaam is en na God luister, bring sy gees in ons die eienskappe liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing voort (Galasiërs 5:22, 23). Hierdie “vrugte van die gees” is ’n deel van “die nuwe persoonlikheid” waarmee Christene hulle beklee, en dit vervang enige wreedaardige, dierlike eienskappe wat hulle dalk voorheen gehad het (Efesiërs 4:20-24; Jesaja 11:6-9). Liefde, wat “’n volmaakte band van eenheid” is, is een van die vernaamste vrugte.—Kolossense 3:14.

Christelike liefde—’n Gawe wat gekoester moet word

12. Hoe het Tabita en ander eerste-eeuse Christene liefde betoon?

12 Christelike liefde is nog ’n wonderlike gawe van Jehovah—iets wat ons tereg koester. Dit word deur beginsel gerig, maar dit gaan met soveel geneentheid gepaard dat dit gelowiges nader aan mekaar bring as wat selfs vleeslike bande kan (Johannes 15:12, 13; 1 Petrus 1:22). Neem die voorbeeld van Tabita, ’n voortreflike Christenvrou van die eerste eeu. “Sy was oorvloedig in goeie dade en barmhartigheidsgawes”, veral ten behoewe van die weduwees in die gemeente (Handelinge 9:36). Daardie vroue het moontlik vleeslike familie gehad, maar Tabita wou alles in haar vermoë doen om hulle te help en aan te moedig (1 Johannes 3:18). Wat ’n goeie voorbeeld het Tabita tog gestel! Broederliefde het Prisca en Aquila beweeg om ‘hulle eie nek te waag’ vir Paulus. Liefde het ook Epafras, Lukas, Onesiforus en ander beweeg om die apostel te help terwyl hy in Rome gevange gehou is (Romeine 16:3, 4; 2 Timoteus 1:16; 4:11; Filemon 23, 24). Ja, daar is ook vandag sulke Christene wat “liefde onder mekaar” het, ’n wonderlike gawe van God wat hulle as Jesus se ware dissipels identifiseer.—Johannes 13:34, 35.

13. Hoe kan ons toon dat ons diepe waardering vir ons Christenbroederskap het?

13 Is die liefde wat in die Christengemeente geopenbaar word, iets kosbaars vir jou? Is jy dankbaar vir ons wêreldwye geestelike broederskap? Ook dit is wonderlike gawes van bo wat ons verryk. Hoe kan ons toon dat ons dit waardeer? Deur heilige diens aan God te verrig, deur aan Christelike vergaderinge deel te neem en deur liefde en die ander vrugte van God se gees aan die dag te lê.—Filippense 1:9; Hebreërs 10:24, 25.

“Gawes in die vorm van mense”

14. Wat word van ’n Christen vereis om as ’n ouer man of ’n bedieningskneg te dien?

14 Christenmans wat hulle medeaanbidders as ouer manne of bedieningsknegte wil dien, streef ’n goeie doelwit na (1 Timoteus 3:1, 8). Om vir hierdie voorregte te kwalifiseer, moet ’n broer ’n geestelike mens wees, iemand wat goed vertroud met die Skrif en ywerig in die veldbediening is (Handelinge 18:24; 1 Timoteus 4:15; 2 Timoteus 4:5). Hy moet nederigheid, beskeidenheid en geduld aan die dag lê, want Goddelike seëninge haal nie vermetele, trotse en ambisieuse mense in nie (Spreuke 11:2; Hebreërs 6:15; 3 Johannes 9, 10). As hy getroud is, moet hy ’n liefdevolle gesinshoof wees wat sy hele huisgesin goed kan beheer (1 Timoteus 3:4, 5, 12). Omdat so ’n man geestelike skatte waardeer, sal hy Jehovah se seën ontvang.—Matteus 6:19-21.

15, 16. Wie is “gawes in die vorm van mense”? Gee voorbeelde.

15 Wanneer diegene wat as ouer manne in die gemeente dien, hulle as evangeliste, herders en leermeesters inspan, gee hulle ons goeie rede om sulke “gawes in die vorm van mense” te waardeer (Efesiërs 4:8, 11). Diegene wat by hulle liefdevolle diens baat vind, spreek dalk nie altyd hulle waardering uit nie, maar Jehovah sien alles wat getroue ouer manne doen. Hy sal nie die liefde vergeet wat hulle vir sy naam toon deur sy volk te dien nie.—1 Timoteus 5:17; Hebreërs 6:10.

16 Neem die geval van ’n hardwerkende ouer man wat ’n Christenmeisie besoek het net voordat sy ’n breinoperasie ondergaan het. “Hy was so goedhartig, so ondersteunend, so liefdevol”, het ’n familievriend geskryf. “Hy het gevra of hy saam met ons tot Jehovah kon bid. Terwyl hy gebid het, het die vader [wat nie een van Jehovah se Getuies is nie] gehuil, en almal in die hospitaalkamer was in trane. Hoe gevoelvol was daardie ouer man se gebed tog, en hoe liefdevol van Jehovah om hom op so ’n tyd te stuur!” ’n Ander Getuiepasiënt het van die ouer manne wat haar besoek het, gesê: “Toe hulle na my bed toe kom in die waakeenheid, het ek geweet dat ek enigiets sou kon verduur wat daarna sou gebeur. Ek het sterk en kalm geword.” Kan enigiemand sulke liefdevolle besorgdheid koop? Nooit nie! Dit is ’n gawe van God wat deur middel van die Christengemeente voorsien word.—Jesaja 32:1, 2.

Die gawe van die veldbediening

17, 18. (a) Watter diensvoorreg het Jehovah aan al sy knegte gegee? (b) Watter hulp het God voorsien sodat ons ons bediening kan uitvoer?

17 Die grootste eer wat enigiemand kan ontvang, is om Jehovah, die Allerhoogste, te dien (Jesaja 43:10; 2 Korintiërs 4:7; 1 Petrus 2:9). En tog kan almal—oud en jonk, mans en vroue—wat ’n opregte begeerte het om God te dien, die voorreg geniet om aan die openbare bediening deel te neem. Benut jy hierdie kosbare gawe? Party is dalk huiwerig omdat hulle onbevoeg voel, maar ’n mens moet onthou dat Jehovah heilige gees aan diegene gee wat hom dien, en dit vergoed vir enigiets waarin ons te kort skiet.—Jeremia 1:6-8; 20:11.

18 Jehovah het die Koninkrykspredikingswerk aan sy nederige knegte toevertrou, nie aan trotse persone wat op hulle eie vermoëns staat maak nie (1 Korintiërs 1:20, 26-29). Nederige, beskeie mense erken hulle beperkings en vertrou op God se hulp terwyl hulle aan die veldbediening deelneem. Hulle waardeer ook die geestelike hulp wat hy deur “die getroue bestuurder” voorsien.—Lukas 12:42-44; Spreuke 22:4.

Gelukkige gesinslewe—’n wonderlike gawe

19. Watter faktore lei tot sukses wanneer ’n mens kinders grootmaak?

19 Die huwelik en ’n gelukkige gesinslewe is gawes van God (Rut 1:9, NW; Efesiërs 3:14, 15). Kinders is ook ’n kosbare “erfdeel van die HERE” en verskaf vreugde aan ouers wat godvrugtige eienskappe by hulle inskerp (Psalm 127:3). As jy ’n ouer is, moet jy na Jehovah se stem bly luister deur jou kinders volgens sy Woord op te voed. Diegene wat dit doen, kan verseker wees van Jehovah se ondersteuning en ryk seën.—Spreuke 3:5, 6; 22:6; Efesiërs 6:1-4.

20. Wat kan ouers help wie se kinders ware aanbidding verlaat het?

20 Ondanks die pligsgetroue pogings van godvrugtige ouers besluit sommige van hulle kinders dalk om ware aanbidding te verlaat wanneer hulle ouer word (Genesis 26:34, 35). Dit kan vir ouers emosioneel verpletterend wees (Spreuke 17:21, 25). Maar iets wat hulle moontlik kan help om nie moed op te gee nie, is Jesus se illustrasie van die verlore seun. Hoewel daardie seun die huis verlaat en ’n sondige weg ingeslaan het, het hy later teruggekeer na die huis van sy vader, wat hom vreugdevol en liefdevol ontvang het (Lukas 15:11-32). Ongeag wat gebeur, getroue Christenouers kan verseker wees van Jehovah se begrip, sy liefdevolle besorgdheid en sy onfeilbare ondersteuning.—Psalm 145:14.

21. Na wie moet ons luister, en waarom?

21 Laat elkeen van ons dus bepaal wat werklik belangrik in ons lewe is. Jaag ons met alle mag materiële oorvloed na, wat ons en ons gesin pyn kan veroorsaak? Of streef ons die ‘goeie gawes en volmaakte geskenke’ na wat van “die Vader van die hemelse ligte” kom? (Jakobus 1:17). Satan, “die vader van die leuen”, wil hê dat ons hard moet werk vir materiële rykdom sodat ons geluk sowel as die lewe moet verloor (Johannes 8:44; Lukas 12:15). Jehovah dra egter ons belange op die hart (Jesaja 48:17, 18). Laat ons dus na ons hemelse Vader bly luister en ons altyd in hom “verlustig” (Psalm 37:4). As ons so ’n weg nastreef, sal Jehovah se kosbare gawes en oorvloedige seën ons ryk maak—sonder dat ons enige pyn hoef te verduur.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 22 Januarie 1993, bladsye 18-21.

Onthou jy?

• Waar kan die grootste geluk gevind word?

• Wat is sommige van die gawes wat Jehovah aan sy knegte gee?

• Waarom is die veldbediening ’n gawe?

• Wat kan ouers doen om God se seën te ontvang terwyl hulle hulle kinders grootmaak?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 16]

Toon jy waardering vir God se gawe van sy geskrewe Woord?

[Prent op bladsy 17]

Ondanks uiters moeilike omstandighede het Laurel Nisbet God ywerig gedien

[Prente op bladsy 18]

Soos Tabita is hedendaagse Christene bekend vir hulle liefdedade

[Prent op bladsy 19]

Christen- ouer manne toon liefdevolle besorgdheid vir medegelowiges