Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan enigiets mense werklik verenig?

Kan enigiets mense werklik verenig?

Kan enigiets mense werklik verenig?

ONGEAG wat jou oortuiging is, jy sal waarskynlik saamstem dat daar in byna alle godsdienste liefhebbers van waarheid moet wees. Mense wat ’n diepe waardering het vir wat waar is en wat bereid is om daarna te soek, kan onder Hindoes, Katolieke, Jode en ander gevind word. Tog lyk dit of godsdiens die mensdom verdeel. Party gebruik selfs godsdiens om hulle bose doelwitte te bereik. Sal dit ooit moontlik wees vir opregte mense van alle godsdienste wat ’n liefde het vir wat goed en waar is, om verenig te wees? Kan hulle vir ’n gemeenskaplike doelwit bymekaargebring word?

Hoe ontstellend is dit tog om te sien dat godsdiens al hoe meer die oorsaak van verdeeldheid is! Kyk na van hierdie konflikte. Hindoes veg teen Boeddhiste in Sri Lanka. Protestante, Katolieke en Jode het in verskeie konflikte bloed vergiet. “Christene” veg teen Moslems in Tsjetsjnja, Indonesië en Kosowo. En in Maart 2000 het ’n stryd wat met godsdiens verband hou en twee dae geduur het, die dood van 300 Nigeriërs tot gevolg gehad. Trouens, godsdienshaat het die wreedheid van hierdie konflikte aangevuur.

Opregte mense is dikwels verslae oor die euwels wat in die naam van godsdiens beoefen word. Baie kerkgangers is byvoorbeeld geskok dat geestelikes wat kinders seksueel gemolesteer het amptelik deur sommige kerke geduld word. Ander gelowiges is uiters verleë oor skeuringe binne talle sogenaamde Christelike sektes oor kwessies soos homoseksualiteit en aborsie. Godsdiens het die mensdom beslis nie verenig nie. Tog is daar in baie gelowe opregte liefhebbers van waarheid, soos die volgende ondervindinge toon.

Hulle het na die waarheid gehunker

Fidelia was ’n opregte en toegewyde aanbidder in die Katolieke Kerk van San Francisco in La Paz, Bolivia. Sy het voor die beeld van Maria gekniel en die beste kerse wat sy kon koop, voor die kruis neergesit. Elke week het sy baie kos aan die priester geskenk om onder die armes uit te deel. Vyf van Fidelia se babas het egter gesterf voordat hulle gedoop kon word. Toe die priester haar vertel dat hulle almal in die duisternis van Limbo ly, het Fidelia gewonder: ‘As God goed is, hoe is dit dan moontlik?’

Tara, ’n mediese dokter, is in Katmandoe, Nepal, as ’n Hindoe grootgemaak. Sy het die eeue oue gebruike van haar voorvaders gevolg en haar gode in die Hindoe-tempels aanbid en afgode in haar huis gehad. Maar Tara was besorg oor vrae soos: Waarom is daar soveel lyding? Waarom sterf mense? Sy het geen bevredigende antwoorde in haar godsdiens gevind nie.

Panja, aan die ander kant, het as ’n Boeddhis grootgeword in ’n huis langs ’n kanaal in Bangkok, Thailand. Hy is geleer dat lyding die gevolg is van dade wat in vorige lewens gepleeg is en dat ’n mens daarvan bevry kan word deur van alle begeertes ontslae te raak. Soos ander opregte Boeddhiste is hy geleer om diep respek te hê vir die geelgeklede monnike wat elke oggend na die huis toe gekom het vir aalmoese. Hy het gemediteer en beelde van die Boeddha bymekaargemaak omdat hy geglo het dat hulle hom beskerm. Nadat Panja in ’n ernstige ongeluk was waarna hy van sy middellyf af ondertoe verlam is, het hy Boeddhistekloosters besoek met die innige hoop om wonderdadig genees te word. Hy is nie genees of geestelik verlig nie. Inteendeel, hy is aan spiritisme blootgestel en het daarby betrokke geraak.

Virgil is in die Verenigde State gebore en het op universiteit by die Swart Moslems aangesluit. Hy het hulle lektuur ywerig versprei, wat verkondig het dat die wit man die Duiwel is. Dit, het hulle gedink, is waarom die blankes soveel gruweldade teen swart mense gepleeg het. Hoewel Virgil opreg in sy oortuigings was, was daar vrae wat hom gepla het: Hoe kan alle blankes sleg wees? En waarom is daar soveel oor geld gepreek?

Hoewel Charo in Suid-Amerika grootgeword het, wat oorwegend Katoliek is, was sy ’n opregte Protestant. Sy was bly dat sy nie aan die afgodediens om haar deelgeneem het nie. Charo het dit geniet om elke Sondag kerk toe te gaan vir die emosiebelaaide diens, waar sy “Halleluja!” uitgeroep het en deelgeneem het aan die godsdienstige sang en dans wat daarop gevolg het. Charo het opreg geglo dat sy gered en wedergebore is. Sy het ’n tiende van haar inkomste aan die kerk gegee, en wanneer haar geliefkoosde TV-evangelis vir bydraes gevra het, het sy vir hom geld gestuur vir kinders in Afrika. Toe sy haar pastoor gevra het waarom ’n God van liefde siele in die hel pynig, het sy egter besef dat hy geen betekenisvolle antwoord het nie. Later het sy ook ontdek dat haar bydraes nie gebruik is om kinders in Afrika te help nie.

Hoewel hulle van verskillende agtergronde is, het hierdie vyf individue iets in gemeen gehad. Hulle het waarheid liefgehad en opreg na betroubare antwoorde op hulle vrae gesoek. Maar kon hulle werklik in ware aanbidding verenig word? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.

[Prent op bladsy 4]

Is dit moontlik vir mense van verskillende agtergronde om werklik verenig te wees?

[Foto-erkenning op bladsy 3]

G.P.O., Jerusalem