Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat het werklik waarde?

Wat het werklik waarde?

Wat het werklik waarde?

Dit kan ’n mens ’n wonderlike gevoel gee om iets te besit wat werklik waarde het. Maar wat kan dit wees? ’n Groot som geld? Duur of pragtige juwele? Beroemdheid of vernaamheid? Baie mense heg groot waarde aan hierdie dinge. Dit kan ’n mens van lewensmiddele voorsien, die lewe betekenisvoller maak of ’n innerlike behoefte aan erkenning en sukses bevredig. Streef ons daarna om hierdie dinge te bekom in die hoop dat ons daardeur ons doelwitte en ideale vir die toekoms sal bereik?

DIE waarde wat mense aan iets heg, is meestal gegrond op hoe dit in hulle behoeftes voorsien of hulle begeertes bevredig. Dinge wat ons voldoening gee en ons die vooruitsig op ’n veilige toekoms bied, is vir ons belangrik. Ons beskou dinge wat ons onmiddellike verligting, vertroosting of erkenning gee, as waardevol. Maar dit is oppervlakkig en kortsigtig om die waarde van iets op grond van ons veranderende begeertes of belange te bepaal. Die werklike waarde van dinge word eintlik bepaal deur wat ons as ons grootste behoefte beskou.

Wat is ons grootste behoefte? Niks het enige waarde nie sonder een onontbeerlike element—lewe. Sonder lewe bestaan ons nie. Koning Salomo van eertydse Israel het geskryf: “Die dooies weet glad niks nie . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk . . . nie” (Prediker 9:5, 10). Wanneer ons sterf, moet ons eenvoudig van al ons besittings afstand doen. Ons grootste behoefte is dus om iets te verkry wat ons lewe sal bewaar. Wat kan dit wees?

Wat sal ons lewe bewaar?

“Geld is ’n beskutting”, het koning Salomo gesê (Prediker 7:12). Met genoeg geld kan ons kos en ’n gerieflike huis koop. Geld kan ons in staat stel om na verafgeleë plekke te reis. Dit kan in ons behoeftes voorsien wanneer ons weens die ouderdom of siekte nie meer kan werk nie. Dit hou talle voordele in om geld te hê. En tog kan geld nie ons lewe bewaar nie. Die apostel Paulus het Timoteus vermaan: “Gee bevel aan dié wat in die teenswoordige stelsel van dinge ryk is om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God” (1 Timoteus 6:17). Geen geld ter wêreld kan vir ons lewe koop nie.

Neem die voorbeeld van ’n man met die naam Hitosji. Omdat Hitosji arm grootgeword het, wou hy baie graag ryk wees. Hy het soveel vertroue in die mag van geld gehad dat hy gedink het dat selfs mense daarmee gekoop kan word. Toe het ’n man Hitosji besoek en hom gevra of hy weet dat Jesus Christus vir hom gesterf het. Dié vraag het Hitosji nuuskierig gemaak, want hy het nie gedink dat enigiemand vir iemand soos hy sou sterf nie. Hy het ’n openbare Bybeltoespraak bygewoon en was verstom om te hoor dat ’n mens jou ‘oog eenvoudig moet hou’. Die spreker het verduidelik dat ’n ‘eenvoudige’ oog versiende is en op geestelike dinge gevestig is (Lukas 11:34). Hitosji het opgehou om geld na te jaag en geestelike waardes eerste in sy lewe begin stel.

Materiële besittings kan ons ook ’n mate van stabiliteit en veiligheid gee. As ons ’n oorvloed het, hoef ons ons nie oor ons daaglikse behoeftes te bekommer nie. ’n Mooi huis in ’n gegoede buurt kan ons die gevoel gee dat ons iets bereik het. Ander sal ons dalk bewonder as ons stylvolle klere dra en ’n duur motor ry.

Dit is ’n seën om ‘die goeie by al ons moeitevolle arbeid te geniet’ (Prediker 3:13). En as ons ’n oorvloed het, kan dit ons geliefdes in staat stel om ‘te ontspan, te eet, te drink en vrolik te wees’. Maar materiële dinge het slegs kortstondige waarde. Jesus Christus het teen hebsug gewaarsku en gesê: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15-21). Ongeag hoeveel besittings ons het of wat die waarde daarvan is, dit kan ons nie die lewe waarborg nie.

Liz was byvoorbeeld met ’n man getroud wat finansieel suksesvol was. Sy vertel: “Ons het ’n pragtige huis en twee motors gehad, en ons finansiële posisie het dit vir ons moontlik gemaak om enige materiële dinge te geniet wat die wêreld kon aanbied . . . Maar snaaks genoeg, ek het my nog steeds oor geld bekommer.” Sy verduidelik: “Ons het soveel gehad wat ons kon verloor. Hoe meer ’n mens het, lyk dit vir my, hoe onveiliger voel jy.”

Talle mense wil ook baie graag beroemd en vernaam wees omdat dit hulle dalk lof en eer sal bring. In vandag se wêreld is ’n suksesvolle loopbaan ’n prestasie wat beny word. As ons unieke talente of vaardighede aanleer, sal dit ons moontlik help om ’n naam vir onsself te maak. Ander prys ons dalk, slaan ons menings hoog aan en wil graag ons guns wen. Dit kan alles opwindend en bevredigend wees. Maar uiteindelik vervaag dit. Salomo het al die heerlikheid en mag gehad wat ’n koning kon hê, maar hy het gesê: ‘Daar is aan die wyse net so min gedagtenis as aan die sot. Almal word beslis vergeet’ (Prediker 2:16, NW). Lewe is nie die beloning vir beroemdheid of vernaamheid nie.

’n Beeldhouer met die naam Celo het iets gevind wat van baie groter waarde as beroemdheid is. Omdat hy begaaf was, het hy gekwalifiseer vir verdere studies in die beeldhoukuns. Kort voor lank het die media en kunskritici sy werk geprys. Baie van sy beeldhouwerke is in groot stede in Europa ten toon gestel. Celo vertel: “Ek moet erken dat kuns ’n tyd lank die belangrikste ding in my lewe was. Maar ek het besef dat ek twee here sou probeer dien as ek sou voortgaan om my loopbaan na te streef (Matteus 6:24). Ek was daarvan oortuig dat ek niks belangrikers kon doen as om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig nie. Gevolglik het ek persoonlik besluit om my werk as ’n beeldhouer te laat vaar.”

Wat het die grootste waarde?

Wat moet ons doen om te verseker dat ons sal aanhou lewe, aangesien niks enige betekenis of waarde het sonder lewe nie? Alle lewe ontstaan by Jehovah God (Psalm 36:10). Trouens, “deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons” (Handelinge 17:28). Hy gee die ewige lewe as ’n gawe aan diegene wat hy liefhet (Romeine 6:23). Wat moet ons doen om hierdie gawe te kan ontvang?

’n Hegte verhouding met Jehovah is noodsaaklik om die gawe van die ewige lewe te ontvang. Sy guns het derhalwe groter waarde as enigiets wat ons ooit kan besit. Wanneer ons dit het, het ons die vooruitsig op ware en ewige geluk. Maar sonder God se guns, staar ewige vernietiging ons in die gesig. Dit is dus duidelik dat enigiets wat ons sal help om ’n goeie verhouding met Jehovah op te bou, van onskatbare waarde is.

Wat ons moet doen

Ons sal suksesvol wees as ons kennis opdoen. Die bron van juiste kennis is Jehovah se Woord, die Bybel. Dit alleen sê vir ons wat ons moet doen om God te behaag. Ons moet dus die Skrif noukeurig bestudeer. As ons ons ywerig inspan om soveel as moontlik aangaande Jehovah God en Jesus Christus te leer, lei dit tot ‘kennis wat ewige lewe beteken’ (Johannes 17:3). Sulke kennis is ’n baie waardevolle skat!—Spreuke 2:1-5.

Die kennis wat ons uit God se Woord opdoen, rus ons toe om die volgende stap te neem—om geloof in Jesus Christus te beoefen. Jehovah het bepaal dat almal wat na hom toe kom, dit deur Jesus moet doen (Johannes 14:6). Trouens, “daar [is] geen redding in enigiemand anders nie” (Handelinge 4:12). Uiteindelik hang ons oorlewing nie van ‘silwer of goud af nie, maar van die kosbare bloed van Christus’ (1 Petrus 1:18, 19). Ons moet ons geloof toon deur Jesus se leringe te glo en sy voorbeeld te volg (Hebreërs 12:1-3; 1 Petrus 2:21). En hoe kosbaar is sy offer tog! Die aanwending van die voordele daarvan bepaal die ewige toekoms van die hele mensdom. Wanneer dit ten volle aangewend is ten behoewe van ons, word die waarlik kosbare gawe van ewige lewe aan ons gegee.—Johannes 3:16.

Jesus het gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Liefde vir Jehovah beteken dat ons “sy gebooie onderhou” (1 Johannes 5:3). Sy gebooie vereis dat ons afgeskeie van die wêreld bly, ons onberispelik gedra en sy Koninkryk lojaal ondersteun. Dit is hoe ons ‘die lewe kies’ en nie die dood nie (Deuteronomium 30:19). As ons ‘nader aan God kom, sal hy nader aan ons kom’.—Jakobus 4:8.

Die versekering dat ons God se guns geniet, is baie meer werd as al die skatte in die wêreld. Diegene wat dit het, is die rykste mense op aarde! Mag ons dus daarna streef om die skat te verkry wat werklik waarde het—Jehovah se goedkeuring. Laat ons die apostel Paulus se aansporing ter harte neem: “Streef . . . na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding, saggeaardheid. Stry die voortreflike stryd van die geloof, kry ’n stewige houvas op die ewige lewe.”—1 Timoteus 6:11, 12.

[Prente op bladsy 21]

Wat is vir jou baie belangrik? Geld, materiële besittings, beroemdheid of iets anders?

[Prent op bladsy 23]

Ons moet die Skrif noukeurig bestudeer