Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan julle ’n “verlore seun” help?

Hoe kan julle ’n “verlore seun” help?

Hoe kan julle ’n “verlore seun” help?

‘Wees verheug, want hy was verlore en is gevind.’—LUKAS 15:32.

1, 2. (a) Hoe voel party jongmense oor die Christelike waarheid? (b) Watter gevoelens ervaar ouers en kinders dalk in sulke situasies?

 “EK WIL nie meer in die waarheid wees nie!” Hoe skokkend is dit tog vir godvresende ouers wat hard probeer het om hulle kinders in die Christelike weg groot te maak, om ’n kind hierdie woorde te hoor sê! Ander jongmense ‘dryf eenvoudig weg’ sonder om te sê wat hulle voornemens is (Hebreërs 2:1). Baie van hulle kom ooreen met die verlore seun in Jesus se gelykenis, wat sy vader se huis verlaat en sy erfenis in ’n ver land verkwis het.—Lukas 15:11-16.

2 Hoewel die meeste Getuies van Jehovah nie hierdie probleem het nie, is daar vir diegene wat dit wel ervaar, geen trooswoorde wat hulle hartseer heeltemal kan wegneem nie. En moenie vergeet van die ongelukkigheid wat die eiesinnige jong persoon self kan ondervind nie. In sy diepste wese word hy dalk deur sy gewete gepynig. In Jesus se gelykenis het die verlore seun uiteindelik ‘tot besinning gekom’, tot sy vader se blydskap. Hoe kan ouers en ander in die gemeente verlore seuns help om ‘tot besinning te kom’?—Lukas 15:17.

Waarom party die Christengemeente verlaat

3. Wat is party van die redes waarom jongmense besluit om die Christengemeente te verlaat?

3 Daar is honderdduisende jongmense wat Jehovah met vreugde in die Christengemeente dien. Waarom verlaat ander jongmense dit dan? Hulle meen dalk dat hulle iets mis wat die wêreld aanbied (2 Timoteus 4:10). Of volgens hulle is Jehovah se beskermende skaapkraal dalk te beperkend. ’n Skuldige gewete, groot belangstelling in die teenoorgestelde geslag of ’n begeerte om deur portuurs aanvaar te word, kan ook ’n jong persoon van Jehovah se kudde af laat wegdryf. ’n Jeugdige hou moontlik op om God te dien omdat dit vir hom lyk of sy ouers of ’n ander Christen huigelagtig is.

4. Wat is dikwels die hoofoorsaak waarom jongmense wegdwaal?

4 ’n Kind se opstandige gesindheid en gedrag is gewoonlik simptome van geestelike swakheid en weerspieël wat in sy hart is (Spreuke 15:13; Matteus 12:34). Wat ook al die rede is waarom ’n jong persoon wegdwaal, die oorsaak van die probleem is dikwels dat hy nie “juiste kennis van die waarheid” het nie (2 Timoteus 3:7). Die aanbidding van Jehovah moet nie vir jongmense blote vormdiens wees nie; dit is belangrik dat hulle ’n intieme persoonlike verhouding met hom aankweek. Wat sal hulle help om dit te doen?

Kom nader aan God

5. Wat is noodsaaklik as ’n jongmens ’n persoonlike verhouding met God wil opbou?

5 “Kom nader aan God”, het die dissipel Jakobus geskryf, “en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Om dit te doen, moet ’n jongmens gehelp word om ’n liefde vir die Woord van God op te bou (Psalm 119:97). Aan die begin sal hy “melk” nodig hê—die grondleerstellings van die Bybel. Maar wanneer hy behae in God se Woord begin skep en ’n liefde vir “vaste voedsel”—diep geestelike inligting—ontwikkel, sal dit nie lank wees voor hy tot geestelike rypheid vorder nie (Hebreërs 5:11-14; Psalm 1:2). ’n Jeugdige wat erken het dat die wêreld hom amper ingesluk het, het geestelike waardes begin waardeer. Wat het hom gehelp om te verander? Hy het ’n wenk toegepas om die hele Bybel te lees en ’n gereelde Bybelleesprogram begin volg. Ja, om die Woord van God gereeld te lees, is baie belangrik as ’n mens ’n hegte verhouding met Jehovah wil opbou.

6, 7. Hoe kan ouers hulle kinders help om ’n liefde vir God se Woord op te bou?

6 Hoe noodsaaklik is dit tog dat ouers hulle kinders help om ’n liefde vir God se Woord op te bou! ’n Tienermeisie het slegte vriende gehad, al het haar gesin ’n gereelde gesinstudie gehad. Sy sê van hulle gesinstudie: “Wanneer my pa die vrae gevra het, het ek bloot die antwoorde gelees, sonder om eers vir hom te kyk.” Verstandige ouers dek nie net materiaal gedurende ’n gesinstudie nie, maar hulle gebruik die onderrigkuns (2 Timoteus 4:2). ’n Jong persoon sal die studie geniet as hy betrokke voel. Stel gerus beskouingsvrae en laat hom sy mening uitspreek. Moedig die kind aan om ’n praktiese toepassing te gee van die materiaal wat bespreek word. a

7 Maak ook die skriftuurlike bespreking lewendig. Laat die kinders Bybelgebeure en -dramas opvoer, wanneer gepas. Help hulle om ’n beeld te vorm van die plek en die kenmerke van die land waar die gebeure onder bespreking plaasgevind het. Dit kan help om kaarte en tabelle te gebruik. Ja, met ’n bietjie verbeelding kan ’n gesinstudie lewendig en interessant gemaak word. Dit sal ook goed wees as ouers hulle eie verhouding met Jehovah ondersoek. Namate hulle nader aan Jehovah kom, kan hulle hulle kinders help om dieselfde te doen.—Deuteronomium 6:5-7.

8. Hoe help gebed ’n mens om nader aan God te kom?

8 Gebed help ’n mens ook om nader aan God te kom. ’n Meisie in haar vroeë tienerjare het dit moeilik gevind om te kies tussen die Christelike lewensweg en haar omgang met vriende wat nie dieselfde opvattings as sy gehad het nie (Jakobus 4:4). Wat het sy daaromtrent gedoen? “Ek het vir die heel eerste keer werklik ernstig tot Jehovah gebid oor hoe ek voel”, het sy gesê. Sy het tot die gevolgtrekking gekom dat haar gebed verhoor is toe sy uiteindelik in die Christengemeente ’n vriendin gevind het wat sy in haar vertroue kon neem. Omdat sy gevoel het dat Jehovah haar lei, het sy ’n persoonlike verhouding met God begin opbou. Ouers kan hulle kinders help deur die gehalte van hulle eie gebede te verbeter. Wanneer hulle as ’n gesin bid, kan ouers hulle hart voor Jehovah uitstort sodat hulle kinders die hegte band tussen die ouers en Jehovah kan aanvoel.

Wees geduldig maar ferm

9, 10. Watter voorbeeld van lankmoedigheid het Jehovah gestel in sy handelinge met die eiesinnige Israeliete?

9 Wanneer ’n jong persoon begin wegdryf, probeer hy hom dalk afsonder en weier hy moontlik om enige geestelike besprekings met sy ouers te hê. Wat kan ouers in so ’n moeilike situasie doen? Dink aan wat Jehovah met eertydse Israel gedoen het. Hy het die “hardnekkige” Israeliete meer as 900 jaar verdra voordat hy hulle aan hulle eiesinnige weg oorgegee het (Exodus 34:9; 2 Kronieke 36:17-21; Romeine 10:21). Al het hulle Jehovah herhaaldelik “op die proef gestel”, was hy “barmhartig” teenoor hulle. “Hy het sy toorn dikwels afgewend, en hy het nie al sy woede opgewek nie” (Psalm 78:38-42, NW). God was onberispelik in sy handelinge met hulle. Liefdevolle ouers volg Jehovah na en is geduldig wanneer die kind nie onmiddellik reageer op hulle pogings om hom te help nie.

10 Om lankmoedig, of geduldig, te wees, beteken nie om “lank te verdra” nie; dit dui op ’n weiering om alle hoop te laat vaar dat ’n vertroebelde verhouding sal verbeter. Jehovah stel die voorbeeld van hoe om lankmoedig te wees. Hy het die inisiatief geneem en sy boodskappers “keer op keer” na die Israeliete gestuur. Jehovah het “medelye met sy volk” gehad, hoewel “hulle . . . voortdurend die boodskappers van die ware God uitgelag en sy woorde verag” het (2 Kronieke 36:15, 16, NW). Hy het hierdie versoek tot die Israeliete gerig: “Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg” (Jeremia 25:4, 5). Maar Jehovah het nie sy regverdige beginsels prysgegee nie. Die Israeliete is aangesê om hulle tot God en sy weë te “bekeer”.

11. Hoe kan ouers lankmoedig maar ferm wees met ’n kind wat afdwaal?

11 Ouers kan Jehovah se lankmoedigheid navolg deur nie gou moed op te gee met ’n kind wat afdwaal nie. Sonder om hoop op te gee, kan hulle die inisiatief neem om goeie kommunikasie te behou of om weer kommunikasie op te bou. Terwyl hulle by regverdige beginsels bly, kan hulle “keer op keer” die kind versoek om na die weg van die waarheid terug te keer.

Wanneer ’n minderjarige uitgesit word

12. Watter verantwoordelikheid het ouers teenoor ’n minderjarige wat nog in die huis is, maar wat uit die gemeente gesit is?

12 Gestel ’n minderjarige wat by sy ouers woon, begaan ’n ernstige oortreding en word weens sy onberouvolle gesindheid uit die gemeente gesit. Wat dan? Aangesien die kind by sy ouers woon, is dit nog steeds hulle verantwoordelikheid om hom in ooreenstemming met God se Woord te onderrig en te dissiplineer. Hoe kan hulle dit doen?—Spreuke 6:20-22; 29:17.

13. Hoe kan ouers die hart probeer bereik van ’n kind wat oortree het?

13 Dit is dalk moontlik—trouens, dit sal die heel beste wees—om sulke onderrigting en dissipline tydens ’n private studie van die Bybel te gee. ’n Ouer moet verder kyk as die hardheid van die kind se gesindheid en probeer sien wat in sy hart is. Hoe ernstig is sy geestelike siekte? (Spreuke 20:5). Kan die gevoelige deel van sy hart bereik word? Watter tekste kan met goeie gevolg gebruik word? Die apostel Paulus verseker ons: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelinge van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). Ja, ouers kan meer doen as om net vir hulle kind te sê om nie weer by verkeerde dade betrokke te raak nie. Hulle kan probeer om die herstelproses aan die gang te sit en te bevorder.

14. Wat is die eerste stap wat ’n jeugdige wat oortree het, moet neem om sy verhouding met Jehovah te herstel, en hoe kan ouers die kind help om daardie stap te neem?

14 ’n Jeugdige wat oortree het, moet sy verhouding met Jehovah herstel. Die eerste stap wat hy moet neem, is om ‘berou te toon en om te draai’ (Handelinge 3:19; Jesaja 55:6, 7). Terwyl ouers die kind in hulle huis help om berou te toon, moet hulle hulle “onder die kwaad in bedwang hou” en die kind wat nie ’n goeie gesindheid het nie, “met sagmoedigheid onderrig” (2 Timoteus 2:24-26). Hulle moet hom ‘teregwys’ volgens die Bybelse betekenis van die woord. Die Griekse woord wat met “teregwys” vertaal word, kan ook vertaal word as “oortuigende bewys lewer” (Openbaring 3:19; Johannes 16:8). Teregwysing beteken dus om genoeg bewyse te gee om die kind van die sondigheid van sy weg te oortuig. Dit is weliswaar nie maklik nie. Waar moontlik kan die ouers tot sy hart spreek deur alle middele te gebruik wat skriftuurlik gepas is om hom te oortuig. Hulle moet probeer om hom te help besef hoe belangrik dit is om te “haat wat sleg is en [lief te hê] wat goed is” (Amos 5:15). Hy sal dalk weer “tot besinning . . . kom, uit die strik van die Duiwel”.

15. Watter rol speel gebed daarin om ’n oortreder se verhouding met Jehovah te herstel?

15 Wanneer iemand sy verhouding met Jehovah probeer herstel, is gebed noodsaaklik. Niemand moet natuurlik ‘versoek doen’ aangaande skaamtelose sondes wat openlik en sonder enige berou beoefen word deur iemand wat voorheen met die Christengemeente omgegaan het nie (1 Johannes 5:16, 17; Jeremia 7:16-20; Hebreërs 10:26, 27). Maar ouers kan Jehovah vra om hulle wysheid te gee om die situasie reg te hanteer (Jakobus 1:5). As ’n uitgesette jong persoon bewys lewer dat hy berouvol is, maar nie “vrymoedigheid van spraak teenoor God” het nie, kan die ouers bid dat, as God rede vind om die kind se sonde te vergewe, sy wil moet geskied (1 Johannes 3:21). Wanneer die jeugdige na sulke gebede luister, behoort dit hom te help om Jehovah as ’n barmhartige God te beskou. bExodus 34:6, 7; Jakobus 5:16.

16. Hoe kan ons gesinslede van uitgesette minderjariges help?

16 As ’n gedoopte jongmens uitgesit word, word daar van die gemeentelede verwag om ‘op te hou om met hom om te gaan’ (1 Korintiërs 5:11; 2 Johannes 10, 11). Dit kan hom uiteindelik help om ‘tot besinning te kom’ en na God se beskermende kraal terug te keer (Lukas 15:17). Hetsy hy terugkeer of nie, gemeentelede kan die gesin van die uitgesette jong persoon aanmoedig. Ons kan almal geleenthede soek om “meegevoel” en “tere medelye” teenoor hulle te betoon.—1 Petrus 3:8, 9.

Hoe ander kan help

17. Wat moet gemeentelede in gedagte hou wanneer hulle ’n kind probeer help wat wegdwaal?

17 Wat van ’n jong persoon wat nie uit die Christengemeente uitgesit is nie, maar wie se geloof swak geword het? “As een lid ly”, het die apostel Paulus geskryf, “ly al die ander lede saam met hom” (1 Korintiërs 12:26). Ander kan daadwerklike belangstelling in so ’n jong persoon toon. Maar ’n mens moet natuurlik versigtig wees, aangesien ’n jeugdige wat geestelik swak is, ’n skadelike invloed op ander jongmense kan hê (Galasiërs 5:7-9). In een gemeente het welmenende volwassenes wat ’n paar jongmense wou help wat geestelik swak geword het, hulle na gesellighede genooi om saam na gewilde musiek te luister. Hoewel die jongmense die uitnodigings aanvaar en die gesellighede geniet het, het hulle invloed op mekaar uiteindelik daartoe gelei dat hulle die gemeente verlaat het (1 Korintiërs 15:33; Judas 22, 23). Omgang wat die swak kind help om ’n begeerte na geestelike dinge te ontwikkel, sal hom meer help om sterk te word as gesellighede sonder enige geestelike aspek. c

18. Hoe kan ons die gesindheid van die verlore seun se vader in Jesus se gelykenis navolg?

18 Wanneer ’n jong persoon wat die gemeente verlaat het, weer na die Koninkryksaal kom of ’n byeenkoms bywoon, kan ons dink aan hoe hy moontlik voel. Moet ons nie die verwelkomende gesindheid van die verlore seun se vader in Jesus se gelykenis openbaar nie? (Lukas 15:18-20, 25-32). ’n Tiener wat die Christengemeente verlaat het en later ’n streekbyeenkoms bygewoon het, het gesê: “Ek het gedink dat almal iemand soos ek sou vermy, maar die broers en susters het na my toe gekom en my verwelkom. Dit het my diep getref.” Hy het weer die Bybel begin studeer en is later gedoop.

Moenie hoop opgee nie

19, 20. Waarom moet ons ’n positiewe gesindheid teenoor ’n verlore seun of dogter handhaaf?

19 Dit vereis geduld om ’n “verlore seun” te help om ‘tot besinning te kom’, en dit kan ’n uitdaging vir ouers en ander wees. Maar moenie hoop opgee nie. “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Ons het die skriftuurlike versekering dat Jehovah wil hê mense moet berou toon en lewe. Trouens, hy het die inisiatief geneem om ’n reëling in werking te stel sodat mense hulle met hom kan versoen (2 Korintiërs 5:18, 19). Sy geduld het dit vir miljoene mense moontlik gemaak om tot besinning te kom.—Jesaja 2:2, 3.

20 Behoort ouers dan nie elke skriftuurlike metode denkbaar te probeer om hulle minderjarige verlore seun te help om tot besinning te kom nie? Volg Jehovah na deur lankmoedig te wees terwyl julle positiewe stappe neem om julle kind te help om terug te keer tot Jehovah. Bly ferm by Bybelbeginsels, en probeer Jehovah se eienskappe, soos liefde, geregtigheid en wysheid, weerspieël terwyl julle tot hom bid om julle te help. Net soos talle verstokte rebelle Jehovah se liefdevolle uitnodiging aanvaar het om terug te kom, sal julle verlore seun of dogter dalk na God se beskermende kudde terugkeer.—Lukas 15:6, 7.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 1 Julie 1999, bladsye 13-17, vir verdere wenke oor hoe om kinders met welslae te onderrig.

b Sulke gebede ten behoewe van ’n uitgesette minderjarige sal nie in die openbaar by gemeentelike vergaderinge gedoen word nie, aangesien ander moontlik nie bewus is van die toestand van die uitgesettene nie.—Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 1980, bladsy 31.

c Sien die Ontwaak! van 8 September 1972, bladsye 10-13, en 22 September 1996, bladsye 21-3, vir spesifieke wenke.

Onthou jy?

• Wat is dalk die oorsaak van die probleem wanneer jongmense die gemeente verlaat?

• Hoe kan jongmense gehelp word om ’n persoonlike verhouding met Jehovah aan te kweek?

• Waarom moet ouers lankmoedig maar ferm wees wanneer hulle ’n verlore seun help?

• Hoe kan diegene in die gemeente ’n verlore seun help om terug te keer?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Dit is noodsaaklik om die Woord van God te lees as ’n mens ’n hegte verhouding met Jehovah wil opbou

[Prent op bladsy 15]

Ouers se hartgrondige gebed kan hulle kinders help om die hegte band tussen die ouers en Jehovah aan te voel

[Prent op bladsy 17]

Verwelkom ’n verlore seun wanneer hy “tot besinning kom”

[Prent op bladsy 18]

Neem positiewe stappe om julle kind te help om terug te keer tot Jehovah