Leer by die palmboom
Leer by die palmboom
“’N STATIGE silhoeët van unieke prag.” Dit is hoe een Bybelensiklopedie die dadelpalm beskryf. Vandag, soos in Bybeltye, verfraai dadelpalms Egipte se Nylvallei, en hulle voorsien verkwikkende skadu om oases van die Negeb-woestyn.
Soos die meeste palmboomspesies het die dadelpalm ’n kenmerkende regop stam. Party word tot 30 meter hoog en dra 150 jaar lank vrug. Ja, die dadelpalm is baie mooi en ongelooflik vrugbaar. Elke jaar dra dit verskeie dadeltrosse. Daar kan aan net een tros ver oor die 1 000 dadels wees. Een kenner het oor dadels geskryf: “Diegene wat . . . dadels slegs ken as die gedroogte soort onder ’n etiket in winkelvensters, kan hulle nouliks voorstel hoe heerlik dit is om hulle vars te eet.”
Die Bybel vergelyk sekere mense heel gepas met palmbome. Soos ’n regopstaande, vrugbare palmboom, moet iemand wat vir God welgevallig wil wees, sedelik regskape wees en voortdurend goeie werke voortbring (Matteus 7:17-20). Dit is waarom daar in Salomo se tempel asook die tempel wat Esegiël in ’n visioen gesien het, graverings van palmbome as versiering gebruik is (1 Konings 6:29, 32, 35; Esegiël 40:14-16, 20, 22). As ’n mens dus wil hê dat jou aanbidding vir God aanneemlik moet wees, moet jy die begeerlike eienskappe van ’n dadelpalm hê. God se Woord verduidelik: “Die regverdige sal groei soos ’n palmboom.”—Psalm 92:13.