Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Jehovah na wanneer julle julle kinders oplei

Volg Jehovah na wanneer julle julle kinders oplei

Volg Jehovah na wanneer julle julle kinders oplei

“Dissiplineer alle ouers nie hulle kinders nie?”—HEBREËRS 12:7, Contemporary English Version.

1, 2. Waarom vind ouers dit vandag moeilik om hulle kinders groot te maak?

 ’N OPNAME wat ’n paar jaar gelede in Japan gedoen is, het getoon dat omtrent die helfte van die volwasse respondente meen dat ouers en kinders te min kommunikeer en dat ouers hulle kinders bederf. Tydens ’n ander opname in daardie land het byna ’n kwart van die respondente erken dat hulle nie weet hoe om met kinders te kommunikeer nie. Dié probleem kom nie net in die Ooste voor nie. “Baie Kanadese ouers het erken dat hulle nie seker is hoe om goeie ouers te wees nie”, het The Toronto Star berig. Oral vind ouers dit moeilik om hulle kinders groot te maak.

2 Waarom vind ouers dit so moeilik om hulle kinders groot te maak? ’n Vername rede is dat ons in “die laaste dae” lewe, in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Daarbenewens sê die Bybel dat ‘die versinsels van die mens se hart van sy jeug af sleg is’ (Genesis 8:21). En jongmense is veral kwesbaar vir die aanvalle van Satan, wat soos “’n brullende leeu” op die onervarenes jag maak (1 Petrus 5:8). Daar is beslis baie struikelblokke vir Christenouers wat hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” wil opvoed (Efesiërs 6:4). Hoe kan ouers hulle kinders help om geestelik volwasse aanbidders van Jehovah te word wat kan onderskei wat “reg sowel as verkeerd” is?—Hebreërs 5:14.

3. Waarom is ouerlike opleiding en leiding noodsaaklik om kinders met welslae groot te maak?

3 ‘Sotheid sit vas in die hart van die seun’, het die wyse koning Salomo gesê (Spreuke 13:1; 22:15). Om sulke sotheid uit hulle hart te verwyder, het kinders liefdevolle teregwysing van hulle ouers nodig. Maar jongmense verwelkom nie altyd sulke teregwysing nie. Om die waarheid te sê, hulle voel dikwels gegrief oor raad, ongeag wie dit gee. Ouers moet dus leer om ‘’n seun op te lei volgens die weg vir hom’ (Spreuke 22:6, NW). As kinders hierdie dissipline aangryp, kan dit vir hulle die lewe beteken (Spreuke 4:13, NW). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ouers weet wat dit behels om hulle kinders op te lei!

Dissipline—Wat dit beteken

4. Wat is hoofsaaklik die betekenis van “dissipline” soos dit in die Bybel gebruik word?

4 Party ouers skram daarvan weg om hulle kinders te dissiplineer uit vrees dat hulle beskuldig sal word van mishandeling—hetsy fisies, mondelings of emosioneel. Ons hoef nie so iets te vrees nie. Die woord “dissipline” soos dit in die Bybel gebruik word, impliseer nie enige vorm van mishandeling of wreedheid nie. Die Griekse woord vir “dissipline” hou hoofsaaklik verband met onderrigting, opvoeding, teregwysing en soms ferm maar liefdevolle tugtiging.

5. Waarom is dit goed om te kyk na die manier waarop Jehovah met sy volk gehandel het?

5 Jehovah God stel die volmaakte voorbeeld wanneer dit by die uitoefening van sulke dissipline kom. Die apostel Paulus het Jehovah met ’n mensevader vergelyk en geskryf: “Dissiplineer alle ouers nie hulle kinders nie? . . . Ons mensevaders dissiplineer ons ’n kort tydjie, en hulle doen dit na hulle goeddunke. Maar God dissiplineer ons vir ons beswil, omdat hy wil hê dat ons heilig moet wees” (Hebreërs 12:7-10, Contemporary English Version). Ja, Jehovah dissiplineer sy volk sodat hulle heilig, of rein, kan wees. Ons kan ongetwyfeld baie oor die dissiplinering van kinders leer deur te kyk na die manier waarop Jehovah sy volk opgelei het.—Deuteronomium 32:4; Matteus 7:11; Efesiërs 5:1.

Liefde—die dryfveer

6. Waarom kan dit vir ouers moeilik wees om Jehovah se liefde na te volg?

6 “God is liefde”, sê die apostel Johannes. Die opleiding wat Jehovah gee, is dus altyd uit liefde (1 Johannes 4:8; Spreuke 3:11, 12). Beteken dit dat dit maklik sal wees vir ouers wat vir hulle kinders lief is, om Jehovah in dié opsig na te volg? Nie noodwendig nie. God se liefde is beginselvaste liefde. En een Griekse geleerde wys daarop dat sulke liefde “nie altyd met natuurlike neigings saamgaan nie”. God word nie deur sentimentaliteit verblind nie. Hy neem altyd in ag wat vir sy volk se beswil is.—Jesaja 30:20, NW; 48:17.

7, 8. (a) Watter voorbeeld van beginselvaste liefde het Jehovah in sy handelinge met sy volk gestel? (b) Hoe kan ouers Jehovah navolg wanneer hulle hulle kinders help om die vermoë te ontwikkel om Bybelbeginsels te volg?

7 Dink aan die liefde wat Jehovah in sy handelinge met die Israeliete getoon het. Moses het ’n pragtige vergelyking gebruik om Jehovah se liefde vir die jong nasie Israel te beskryf. Ons lees: “Soos ’n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels—die HERE alleen het [Jakob] gelei” (Deuteronomium 32:9, 11, 12). Die moederarend ‘wek haar nes op’ wanneer sy haar kleintjies leer vlieg, dit wil sê, sy klap met haar vlerke om hulle aan te spoor om te vlieg. Wanneer ’n jong voël uiteindelik uit die nes vlieg, wat dikwels op ’n hoë krans geleë is, “sweef” die moeder oor hom. As dit lyk of die kleintjie op die grond gaan val, skiet die moeder onder hom in en dra hom ‘op haar vleuels’. Net so het Jehovah vir die pasgebore nasie Israel op ’n liefdevolle wyse gesorg. Hy het aan die volk die Mosaïese Wet gegee (Psalm 78:5-7). God het toe ’n wakende oog oor die nasie gehou, gereed om sy volk te hulp te kom in tye van nood.

8 Hoe kan Christenouers Jehovah se liefde navolg? Eerstens moet hulle hulle kinders die beginsels en standaarde in God se Woord leer (Deuteronomium 6:4-9). Die doelwit is om die kinders te leer om besluite in ooreenstemming met Bybelbeginsels te maak. Sodoende sweef liefdevolle ouers as ’t ware oor hulle kinders om te sien hoe hulle die beginsels toepas wat hulle geleer het. Namate die kinders ouer word en al hoe meer vryheid gegee word, is die besorgde ouers gereed om ‘neer te skiet’ en ‘hulle kleintjies op hulle vleuels te dra’ wanneer gevaar ook al dreig. Watter soort gevaar?

9. Vir watter gevaar moet liefdevolle ouers veral op hulle hoede wees? Lig toe.

9 Jehovah God het die Israeliete gewaarsku oor die gevolge van slegte omgang (Numeri 25:1-18; Esra 10:10-14). Omgang met verkeerde vriende is ook vandag ’n algemene gevaar (1 Korintiërs 15:33). Christenouers sal verstandig optree as hulle Jehovah in hierdie opsig navolg. ’n Vyftienjarige meisie met die naam Lisa het begin belangstel in ’n seun wat nie dieselfde sedelike en geestelike waardes as haar gesin gehad het nie. “My ouers het onmiddellik ’n verandering in my gesindheid opgemerk en hulle besorgdheid getoon”, vertel Lisa. “Soms het hulle my reggehelp, en ander tye het hulle my liefdevol aangemoedig.” Hulle het geduldig gesit en luister na Lisa en haar sodoende gehelp om te oorkom wat hulle besef het die eintlike probleem is—die begeerte om deur haar portuurs aanvaar te word. a

Behou goeie kommunikasie

10. Op watter maniere het Jehovah ’n goeie voorbeeld van kommunikasie met die Israeliete gestel?

10 As ouers hulle kinders met welslae wil oplei, moet hulle probeer om goeie kommunikasie met hulle kinders te behou. Al weet Jehovah wat in ons hart is, moedig hy ons aan om met hom te kommunikeer (1 Kronieke 28:9). Nadat Jehovah die Wet aan die Israeliete gegee het, het hy die Leviete aangestel om hulle te onderrig, en hy het die profete gestuur om met hulle te redeneer en hulle tereg te wys. Hy was ook gewillig om na hulle gebede te luister.—2 Kronieke 17:7-9; Psalm 65:3; Jesaja 1:1-3, 18-20; Jeremia 25:4; Galasiërs 3:22-24.

11. (a) Hoe kan ouers goeie kommunikasie met hulle kinders bevorder? (b) Waarom is dit belangrik vir ouers om goeie luisteraars te wees wanneer hulle met hulle kinders kommunikeer?

11 Hoe kan ouers Jehovah navolg wanneer hulle met hulle kinders kommunikeer? Hulle moet allereers tyd maak vir hulle kinders. Ouers vermy dit ook wyslik om onnadenkend dinge te sê wat die kind belaglik laat lyk, soos die volgende: “Is dit maar al? Ek het gedink dis iets belangriks”; “Dis nou dom”; “Wel, wat verwag jy? Jy’s maar net ’n kind” (Spreuke 12:18). Verstandige ouers moedig hulle kinders aan om openhartig te kommunikeer deur daarna te streef om goeie luisteraars te wees. Ouers wat hulle kinders ignoreer wanneer die kinders klein is, vind dalk dat húlle geïgnoreer word wanneer die kinders ouer is. Jehovah was nog altyd gewillig om na sy knegte te luister. Hy gee gehoor aan die versoeke van diegene wat nederig tot hom bid.—Psalm 91:15; Jeremia 29:12; Lukas 11:9-13.

12. Watter eienskappe van ouers kan dit makliker maak vir kinders om hulle te nader?

12 Beskou ook hoe sekere aspekte van God se persoonlikheid dit vir sy knegte makliker gemaak het om hom met vrymoedigheid te nader. Koning Dawid van eertydse Israel het byvoorbeeld ernstig gesondig deur ’n owerspelige verhouding met Batseba te hê. Aangesien Dawid ’n onvolmaakte mens was, het hy ander ernstige sondes in sy lewe gepleeg. Maar hy het nooit versuim om Jehovah in gebed te nader en hom te vra om hom te vergewe en hom tereg te wys nie. Dit was ongetwyfeld God se liefderyke goedhartigheid en barmhartigheid wat dit vir Dawid makliker gemaak het om tot Jehovah terug te keer (Psalm 103:8). As ouers godvrugtige eienskappe soos medelye en barmhartigheid aan die dag lê, kan dit hulle help om goeie kommunikasie te handhaaf selfs wanneer hulle kinders oortree.—Psalm 103:13, NW; Maleagi 3:17.

Wees redelik

13. Wat behels dit om redelik te wees?

13 Wanneer ouers na hulle kinders luister, moet hulle redelik wees en “die wysheid van bo” weerspieël (Jakobus 3:17). “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word”, het die apostel Paulus geskryf (Filippense 4:5). Wat beteken dit om redelik te wees? Een definisie van die Griekse woord wat met “redelik” vertaal word, is “om nie aan die letter van die wet vas te hou nie”. Hoe kan ouers redelik wees terwyl hulle vaste sedelike en geestelike standaarde handhaaf?

14. Hoe het Jehovah redelikheid in sy handelinge met Lot aan die dag gelê?

14 Jehovah stel ’n uitstekende voorbeeld wat redelikheid betref (Psalm 10:17, NW). Toe hy Lot en sy gesin aangespoor het om die veroordeelde stad Sodom te verlaat, het Lot “nog getalm”. Later, toe Jehovah se engel hom gevra het om na die gebergte te vlug, het Lot gesê: “Ek is nie in staat om na die gebergte te vlug . . . nie. Kyk tog, hierdie stad [Soar] is naby om daarheen te vlug, en dit is klein. Laat my tog daarheen vlug—is dit nie klein nie?” Hoe het Jehovah hierop gereageer? Hy het gesê: “Kyk, Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie” (Genesis 19:16-21, 30). Jehovah was bereid om Lot se versoek toe te staan. Ja, ouers moet bly by die standaarde wat Jehovah God in sy Woord, die Bybel, uiteensit. Maar hulle kan moontlik die kind se wense in ag neem as dit nie met Bybelbeginsels bots nie.

15, 16. Wat kan ouers leer uit die illustrasie in Jesaja 28:24, 25?

15 Redelikheid behels dat die kinders se harte voorberei moet word sodat hulle gereed is om raad te aanvaar. Jesaja het Jehovah in ’n illustrasie met ’n boer vergelyk en gesê: “Is dit die hele dag dat die ploeër ploeg om saad te saai, dat hy sy grond losmaak en eg? Is dit nie so dat hy, wanneer hy die oppervlak daarvan gelykgemaak het, dan swart komyn saai en die komyn strooi nie, en moet hy nie koring, giers en gars op die bestemde plek insit en spelt as sy grens nie?”—Jesaja 28:24, 25NW.

16 Jehovah “ploeg om saad te saai” en ‘maak sy grond los en eg dit’. Hy berei dus die harte van sy volk voor voordat hy hulle dissiplineer. Hoe kan ouers hulle kinders se harte ‘ploeg’ wanneer hulle hulle teregwys? Een pa het Jehovah nagevolg toe hy sy vierjarige seuntjie tereggewys het. Toe sy seun die bure se kind geslaan het, het die pa eers geduldig na sy seun se verskonings geluister. Daarna het die pa as ’t ware die seun se hart ‘geploeg’ deur hom ’n verhaal te vertel van ’n seuntjie wat vreeslik deur ’n boelie afgeknou is. Toe sy seun die verhaal hoor, het hy gesê dat die boelie gestraf moet word. Hierdie ‘ploegwerk’ het die seun se hart voorberei en dit vir hom makliker gemaak om te sien dat hy soos ’n boelie opgetree het deur die bure se seun te slaan en dat dit verkeerd was.—2 Samuel 12:1-14.

17. Watter les in ouerlike teregwysing vind ons in Jesaja 28:26-29?

17 Jesaja het ook Jehovah se teregwysing met ’n ander landbouaktiwiteit vergelyk—die dorsproses. ’n Boer gebruik verskillende dorsinstrumente na gelang van hoe moeilik dit is om die kaf van die graan te skei. ’n Stok word vir die sagte swart komyn gebruik en ’n staf vir komyn, maar ’n slee of ’n wawiel word gebruik vir graansoorte waar die kaf moeilik afkom. Tog sal hy nie die harder korrels dors totdat dit fyn is nie. Wanneer Jehovah iets ongewens in sy volk wil verwyder, wissel hy eweneens sy behandeling af volgens die bestaande behoeftes en omstandighede. Hy tree nooit arbitrêr of hardvogtig op nie (Jesaja 28:26-29). Party kinders reageer op net ’n kyk van hulle ouers, en niks meer is nodig nie. Ander het herhaalde herinneringe nodig, terwyl nog ander ’n bietjie sterker oorreding nodig het. Redelike ouers sal teregwysing gee volgens elke kind se behoeftes.

Maak gesinsbesprekings aangenaam

18. Hoe kan ouers tyd inruim vir ’n gereelde gesinsbybelstudie?

18 Van die beste maniere om julle kinders op te lei, is deur ’n gereelde gesinsbybelstudie en ’n daaglikse skriftuurlike bespreking te hê. ’n Gesinstudie lewer die beste resultate as dit gereeld gehou word. As dit aan die toeval oorgelaat word of op die ingewing van die oomblik daarop besluit word, sal dit heel waarskynlik ongereeld gehou word, indien ooit. Ouers moet dus ‘die tyd uitkoop’ vir die studie (Efesiërs 5:15-17). Dit kan moeilik wees om ’n spesifieke tyd te vind wat almal pas. Een gesinshoof het gevind dat dit al hoe moeiliker geword het om die hele gesin bymekaar te kry namate die kinders ouer geword en almal hulle verskillende programme gehad het. Maar die gesin was altyd saam op die aande van die gemeentelike vergaderinge. Die vader het dus gereël om die gesinstudie op een van daardie aande te hê. Dit het goed gewerk. Al drie kinders is nou gedoopte knegte van Jehovah.

19. Hoe kan ouers Jehovah navolg wanneer hulle ’n gesinstudie hou?

19 Dit is egter nie genoeg om tydens die studie net skriftuurlike materiaal te dek nie. Jehovah het die herstelde Israeliete deur middel van die priesters onderrig, wat die Wet ‘uitgelê en betekenis daaraan gegee het’ en ‘wat voorgelees is, deurentyd verstaanbaar gemaak het’ (Nehemia 8:8, NW). ’n Vader wat daarin geslaag het om al sewe sy kinders te help om Jehovah lief te hê, het altyd voor die gesinstudie na sy kamer gegaan om voor te berei en die materiaal by die behoeftes van elke kind aan te pas. Hy het die studie aangenaam gemaak vir sy kinders. “Die studie was altyd lekker”, sê een van sy volwasse seuns. “As ons buite met die bal gespeel het en ons ingeroep is vir die gesinstudie, het ons onmiddellik die bal weggesit en ingehardloop vir die studie. Dit was een van die aangenaamste aande in die week.”

20. Watter moontlike probleem in verband met die grootmaak van kinders moet ons nog bespreek?

20 Die psalmis het gesê: “Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning” (Psalm 127:3). Dit verg tyd en inspanning om ons kinders op te lei, maar dit kan die ewige lewe vir ons kinders beteken as ons dit reg doen. Wat ’n wonderlike beloning sal dit tog wees! Laat ons Jehovah dan ywerig navolg wanneer ons ons kinders oplei. Terwyl ouers die verantwoordelikheid het om hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed”, is daar egter geen waarborg van sukses nie (Efesiërs 6:4). Selfs met die beste sorg kan ’n kind opstandig raak en ophou om Jehovah te dien. Wat dan? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

[Voetnoot]

a Die ondervindinge in hierdie en die volgende artikel kom dalk uit lande met ’n ander kultuur as joune. Probeer om die betrokke beginsels te onderskei, en pas dit toe volgens jou kultuur.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe kan ouers Jehovah se liefde navolg, soos dit in Deuteronomium 32:11, 12 beskryf word?

• Wat het jy geleer uit die manier waarop Jehovah met die Israeliete gekommunikeer het?

• Wat leer ons uit die feit dat Jehovah na Lot se versoek geluister het?

• Wat het jy oor die teregwysing van kinders uit Jesaja 28:24-29 geleer?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 8, 9]

Moses het Jehovah se opleiding van sy volk vergelyk met die manier waarop ’n arend haar kleintjies leer

[Prente op bladsy 10]

Ouers moet tyd maak vir hulle kinders

[Prent op bladsy 12]

“Dit was een van die aangenaamste aande in die week”