Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ware Geloof—Is dit nog moontlik?

Ware Geloof—Is dit nog moontlik?

Ware Geloof—Is dit nog moontlik?

“Geloof is ’n lewende, onbevreesde vertroue in God se genade, so vas en seker dat die gelowige sy lewe duisend maal daarvoor op die spel sal plaas.”—MARTIN LUTHER, 1522.

“Ons is reeds ’n feitlik wêreldgesinde gemeenskap waarin Christelike geloof en gebruike grotendeels uitgesterf het.”—LUDOVIC KENNEDY, 1999.

BESKOUINGS oor geloof verskil drasties. In die verlede was geloof in God algemeen. Vandag, in ’n wêreld van skeptisisme en lyding, is ware geloof in God en in die Bybel vinnig besig om te verdwyn.

Ware geloof

Vir baie beteken “geloof” bloot dat jy ’n godsdiensoortuiging het of ’n sekere vorm van aanbidding beoefen. Maar “geloof”, soos dit in die Bybel gebruik word, beteken basies algehele vertroue—volkome, onwankelbare vertroue in God en sy beloftes. Dit is ’n eienskap wat ’n dissipel van Jesus Christus kenmerk.

By een geleentheid het Jesus Christus gepraat oor die noodsaaklikheid om te bid en “nie moed op te gee nie”. Gevolglik het hy ’n vraag geopper oor die moontlikheid of daar in ons dag hoegenaamd ware geloof sou bestaan. Hy het gevra: “Wanneer die Seun van die mens kom, sal hy werklik hierdie geloof op die aarde vind?” Waarom het hy hierdie vraag gevra?—Lukas 18:1, 8, voetnoot in naslaanuitgawe.

Verlore geloof

Baie dinge kan daartoe lei dat mense die geloof wat hulle het, verloor. Hieronder is die traumas en beproewinge van die daaglikse lewe. Professor Michael Goulder was byvoorbeeld ’n plaaslike priester in Manchester, Engeland, tydens die München-lugramp in 1958, waarin baie van die Manchester United-sokkerspan gesterf het. In ’n BBC-televisieprogram het die aanbieder Joan Bakewell verduidelik dat Goulder “magteloos gevoel het voor die omvang van mense se droefheid”. Een van die gevolge was dat hy “sy geloof verloor het in ’n God wat ingryp in die mens se lot”. Goulder het gesê hy glo nie dat “die Bybel . . . die onfeilbare woord van God is nie”, maar dat dit eerder “die feilbare woord van die mens is, met miskien ’n bietjie Goddelike inspirasie hier en daar”.

Soms kwyn geloof net weg. Dit het met die skrywer en omroeper Ludovic Kennedy gebeur. Hy sê dat daar van kleins af by hom “van tyd tot tyd twyfel en onsekerheid [oor God] bestaan het, en [sy] ongeloof het toegeneem”. Niemand kon hom blykbaar redelike antwoorde op sy vrae gee nie. Sy vader se dood op see was ’n swaar slag vir ’n reeds baie swak geloof. Gebede tot God om “ons van die gevare van die see en van die geweld van die vyand te bewaar”, is nie verhoor nie, want die omskepte passasiersboot waarop sy vader was, is gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur Duitse oorlogskepe aangeval en vernietig.—All in the Mind—A Farewell to God.

Sulke ondervindinge is nie ongewoon nie. “Geloof”, sê die apostel Paulus, “is nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Wat dink jy? Is ware geloof in God en in sy Woord nog moontlik in ’n wêreld wat by die dag skeptieser raak? Kyk gerus wat die volgende artikel oor hierdie onderwerp sê.