Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat beteken dit om lojaal te wees?

Wat beteken dit om lojaal te wees?

Wat beteken dit om lojaal te wees?

DIE Joodse Chassidim van die tweede eeu v.G.J. het hulleself as waarlik lojaal beskou. Hulle naam kom van cha·sidhʹ, die Hebreeuse grondwoord vir “lojaal”. En dit kom van die selfstandige naamwoord cheʹsedh, wat dikwels vertaal word met “liefderyke goedhartigheid”, “lojale liefde”, “goedhartigheid”, “goedheid”, “barmhartigheid”. Volgens die Theological Dictionary of the Old Testament is cheʹsedh “aktief, sosiaal en van blywende aard [en] verwys dit nie net na ’n menslike gesindheid nie, maar ook na die handeling wat uit hierdie gesindheid voortspruit. Dit is ’n handeling wat lewe bewaar of onderhou. Dit is die ingryping ten behoewe van iemand wat teëspoed ondervind of in benoudheid verkeer. Dit is ’n bewys van vriendskap.”

In baie tale is daar natuurlik nie net een woord wat die volle betekenis kan uitdruk van hierdie Hebreeuse woord soos dit in die Bybel gebruik word nie. Hoe dit ook al sy, lojaliteit in Bybelse konteks beteken meer as net die pligsgetroue nakoming van verpligtinge. Dit sluit die gedagte in van liefdevolle gehegtheid tesame met positiewe optrede ten behoewe van ander. Om te verstaan wat ware lojaliteit beteken, kan ons kyk hoe Jehovah dit teenoor Abraham, Moses, Dawid, die nasie Israel en die mensdom in die geheel betoon het.

Jehovah het lojaliteit betoon

Jehovah het vir sy vriend Abraham gesê: “Ek is vir jou ’n skild” (Genesis 15:1; Jesaja 41:8). Dit was nie sommer net woorde nie. Jehovah het Abraham en sy huisgesin beskerm en hulle uit die hand van Farao en van Abimeleg verlos. Hy het Abraham gehelp om Lot te red toe Lot deur die gesamentlike magte van vier konings gevange geneem is. Jehovah het die voorplantingsvermoëns van die 100-jarige Abraham en 90-jarige Sara herstel sodat die beloofde Saad deur hulle kon kom. Jehovah het gereeld met Abraham gekommunikeer deur middel van visioene, drome en engeleboodskappers. Trouens, Jehovah was lojaal teenoor Abraham terwyl hy gelewe het en ook lank ná sy dood. Deur die eeue heen het Jehovah sy beloftes aan Abraham se afstammelinge, die nasie Israel, gehou, al was hulle wederstrewig. Jehovah se verhouding met Abraham was ’n bewys van wat ware lojaliteit is—liefde omgesit in dade.—Genesis, hoofstukke 12 tot 25.

Volgens die verslag het ‘Jehovah met Moses van aangesig tot aangesig gespreek soos ’n man met sy vriend spreek’ (Exodus 33:11). Moses het ’n hegter verhouding met Jehovah gehad as enige ander profeet voor Jesus Christus. Hoe het Jehovah lojaliteit teenoor Moses betoon?

As ’n 40-jarige man met mag en gesag het Moses vermetel opgetree deur dit op hom te neem om sy volk te bevry. Maar dit was nog nie die regte tyd nie. Hy moes vlug vir sy lewe. Hy het 40 jaar lank in Midian skape opgepas (Handelinge 7:23-30). Jehovah het hom nietemin nie verlaat nie. Toe die bestemde tyd aangebreek het, is Moses teruggebring om Israel uit Egipte uit te lei.

Jehovah het eweneens lojaliteit teenoor Dawid, die welbekende tweede koning van Israel, betoon. Terwyl Dawid nog maar jonk was, het Jehovah vir die profeet Samuel gesê: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” Van toe af het Jehovah Dawid lojaal beskerm en gelei terwyl hy, as die toekomstige koning van die hele Israel, tot volwassenheid ontwikkel het. Jehovah het hom gered “uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer” en uit die hand van die Filistynse reus Goliat. Hy het Dawid die een oorwinning na die ander oor Israel se vyande gegee, en Jehovah het Dawid gered toe Saul hom uit haat en jaloesie met ’n spies wou deurboor.—1 Samuel 16:12; 17:37; 18:11; 19:10.

Dawid was natuurlik nie ’n volmaakte man nie. Om die waarheid te sê, hy het baie ernstig gesondig. Jehovah het hom nogtans nie verlaat nie, maar eerder lojale liefde teenoor ’n baie berouvolle Dawid betoon. Gedurende Dawid se lewe het Jehovah baie maal opgetree om lewe te bewaar en te onderhou. Hy het ingegryp ten behoewe van die een wat in benoudheid verkeer het. Inderdaad liefderyke goedhartigheid!—2 Samuel 11:1–12:25; 24:1-17.

Die nasie Israel in sy geheel het in ’n spesiale toegewyde verhouding met Jehovah getree toe hulle by die berg Sinai die voorwaardes van die Mosaïese Wetsverbond aanvaar het (Exodus 19:3-8). Gevolglik is Israel se verhouding met Jehovah as ’n huweliksverbintenis voorgestel. Aan Israel is gesê: “Jehovah het jou geroep asof jy ’n vrou was.” En Jehovah het vir haar gesê: “Met liefderyke goedhartigheid tot onbepaalde tyd sal ek jou barmhartig wees” (Jesaja 54:6, 8, NW). Hoe het Jehovah lojaliteit in hierdie spesiale verhouding geopenbaar?

Jehovah het die inisiatief geneem om in die behoeftes van die Israeliete te voorsien en om hulle bande met hom te versterk. Hy het hulle uit Egipte verlos, hulle in ’n nasie georganiseer en hulle gebring na “’n land wat oorloop van melk en heuning” (Exodus 3:8). Hy het gereelde geestelike onderrigting voorsien deur middel van die priesters, die Leviete en ’n voortdurende stroom profete en boodskappers (2 Kronieke 17:7-9; Nehemia 8:7-9; Jeremia 7:25). Wanneer die nasie ander gode begin dien het, het Jehovah hulle tereggewys. As hulle berou getoon het, het hy hulle vergewe. Die nasie Israel was weliswaar ’n moeilike “vrou”. Maar Jehovah het haar nie gou verwerp nie. Weens sy beloftes aan Abraham het Hy lojaal aan die Israeliete gebly totdat Sy voornemens in verband met hulle vervul is (Deuteronomium 7:7-9). Wat ’n uitstekende voorbeeld is dit tog vandag vir getroudes!

Jehovah betoon ook lojaliteit teenoor die mensdom in die geheel deurdat hy die basiese lewensbenodigdhede vir alle mense, regverdiges en onregverdiges, voorsien (Matteus 5:45; Handelinge 17:25). Boonop het hy die losprysoffer van sy Seun voorsien sodat alle mense die geleentheid kan hê om bevry te word van slawerny aan sonde en die dood en die wonderlike vooruitsig kan hê op volmaakte, ewige lewe in die Paradys (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Die voorsiening van die losprys was die allergrootste daad om lewe te bewaar en te onderhou. Dit was inderdaad “ingryping ten behoewe van iemand wat teëspoed ondervind of in benoudheid verkeer”.

Bewys jou lojaliteit deur positiewe dade

Aangesien lojaliteit sinoniem aan liefderyke goedhartigheid is, dra dit ook ’n sterk gevoel van wederkerigheid oor. As lojaliteit teenoor jou betoon word, kan dieselfde van jou verwag word. Lojaliteit word met lojaliteit vergoed. Dit is duidelik dat Dawid die strekking van cheʹsedh verstaan het, want hy het gesê: “Ek sal my in die rigting van u heilige tempel neerbuig, en ek sal u naam prys.” Waarom? “Weens u liefderyke goedhartigheid en weens u waaragtigheid” (Psalm 138:2, NW). Die feit dat Dawid Jehovah se liefderyke goedhartigheid ontvang het, het hom klaarblyklik beweeg om Hom te aanbid en te loof. Word ons dus beweeg om liefderyke goedhartigheid te bewys wanneer ons aan Jehovah se liefderyke goedhartigheid teenoor ons dink? Beweeg jou besorgdheid oor Jehovah se naam jou byvoorbeeld om hom te verdedig as sy naam gesmaad word?

Dit is wat gebeur het met ’n redelik nuwe Christen en sy vrou toe hulle die begrafnis bygewoon het van ’n familielid wat in ’n motorfietsongeluk dood is. Dit was nie ’n kerkdiens nie, en enigeen in die gehoor kon iets omtrent die oorledene sê. Een spreker het God die skuld gegee vir hierdie jong man se ontydige dood deur te sê: ‘God wou hom in die hemel hê; daarom het hy hom weggeneem.’ Ons Christenbroer kon eenvoudig nie stilbly nie. Hy het op die verhoog gaan staan, al het hy nie ’n Bybel of notas gehad nie. “Dink julle dat ’n barmhartige, medelydende, almagtige God situasies soos dié goedkeur?” het hy gevra. Hy het toe tien minute lank uit die vuis gepraat en Bybeltekste aangehaal om te verduidelik waarom ons sterf, wat God gedoen het om die mensdom van die dood te red, asook die wonderlike vooruitsig op ’n opstanding tot ewige lewe op ’n paradysaarde. Die meer as 100 mense in die gehoor het begin hande klap en ’n hele ruk lank aangehou. Die broer het later vertel: “Ek het ’n innerlike vreugde ervaar wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie. Ek het Jehovah gedank dat hy my in sy wysheid onderrig het en dat hy my die geleentheid gegee het om sy heilige naam te verdedig.”

Lojaliteit teenoor Jehovah sluit lojaliteit teenoor sy Woord, die Bybel, in. Waarom? Omdat Jehovah ons deur middel van die Bybel leer hoe ons moet lewe. Die wette en beginsels daarin is inderdaad die beste en nuttigste riglyne vir die lewe (Jesaja 48:17). Moenie toelaat dat druk van ander of jou eie swakhede jou ontrou aan Jehovah se wette laat word nie. Bly lojaal teenoor God se Woord.

Lojaliteit teenoor God sluit ook lojaliteit teenoor sy organisasie in. Deur die jare heen was daar noodwendig veranderinge en aanpassings in ons begrip van sekere tekste. Feit is dat niemand geestelik so goed gevoed is soos ons nie (Matteus 24:45-47). Daar bestaan geen twyfel dat Jehovah getrou gebly het aan sy hedendaagse organisasie nie. Kan ons dit nie ook doen nie? A. H. Macmillan het. Kort voor sy dood het hy gesê: “Ek het gesien hoe Jehovah se organisasie van ’n klein begin af groei, toe ek my in September 1900 op die ouderdom van 23 aan God toegewy het, en ’n wêreldwye gemeenskap van gelukkige mense word wat sy waarhede ywerig verkondig. . . . Ek is nou meer oortuig as ooit tevore, noudat ek die einde van my diens aan God op aarde sien nader kom, dat Jehovah sy volk rig en op die regte tyd aan hulle gee presies wat hulle nodig het.” Broer Macmillan het bykans 66 jaar getrou en lojaal gedien, tot sy dood op 26 Augustus 1966. Hy was ’n goeie voorbeeld van lojaliteit teenoor God se sigbare organisasie.

Sal ons ook teenoor mekaar lojaal wees, soos ons teenoor die organisasie is? Sal ons lojaal teenoor ons broers en susters bly wanneer ons voor wrede vervolging te staan kom? Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ons broers in Nederland ’n goeie voorbeeld van lojaliteit gestel. ’n Ouer man van die Groningen-gemeente, Klaas de Vries, is deur die Nazi-Gestapo aan wrede, genadelose ondervraging onderwerp, toe 12 dae lank in alleenopsluiting geplaas met net brood en water en daarna weer ondervra. Met ’n rewolwer op hom gerig en onder bedreiging van die dood is hy twee minute gegee om inligting oor verantwoordelike broers sowel as ander belangrike inligting te verklap. Al wat Klaas bly sê het, is: “Julle sal geen woord uit my uitkry nie. . . . Ek sal nie ’n verraaier word nie.” Hy is drie keer met die rewolwer gedreig. Uiteindelik het die Gestapo tou opgegooi, en Klaas is na ’n ander gevangenis gestuur. Hy het nooit sy broers verraai nie.

Sal ons lojaliteit ook ons naaste familielid insluit—ons huweliksmaat? Is ons lojaal teenoor ons huweliksgeloftes, soos Jehovah getrou was aan sy verbondsverhouding met die nasie Israel? Jy moet nie net getrou bly aan jou huweliksmaat nie, maar ’n doelgerigte poging aanwend om ’n hegte verhouding met hom of haar op te bou. Neem die inisiatief om jou huwelik bestendig te maak. Bring tyd saam deur, kommunikeer vryelik en openhartig met mekaar, ondersteun en bemoedig mekaar, luister na mekaar, lag saam, huil saam, speel saam, werk saam om gemeenskaplike doelwitte te bereik, behaag mekaar, wees vriende. Wees veral versigtig om nie romantiese gevoelens vir ander te ontwikkel nie. Hoewel dit reg en gepas is om ander buite die huwelik te leer ken en selfs hegte vriendskappe met hulle op te bou, moet romantiese gevoelens tot jou huweliksmaat beperk word. Moenie toelaat dat enigeen tussen jou en jou maat kom nie.—Spreuke 5:15-20.

Bly lojaal teenoor gelowige vriende en familielede. Moenie met die verloop van die jare van hulle vergeet nie. Behou kontak, skryf, bel, gaan kuier. Waar jou lewenspad jou ook al lei, probeer om hulle nie teleur te stel nie. Laat hulle goed voel om te kan sê dat hulle jou ken of familie van jou is. Lojaliteit teenoor hulle sal jou vasbeslote laat bly om te doen wat reg is en sal ’n bron van aanmoediging vir jou wees.—Ester 4:6-16.

Ja, ware lojaliteit sluit positiewe dade in om kosbare verhoudings te bewaar. Doen wat jy kan om daadwerklike waardering vir Jehovah se liefderyke goedhartigheid te toon. Volg Jehovah se lojaliteit na in jou handelinge met die Christengemeente, jou huweliksmaat, familie en vriende. Maak Jehovah se deugde lojaal bekend aan jou medemens. Die psalmis het dit goed gestel toe hy gesê het: “Jehovah se blyke van liefderyke goedhartigheid sal ek tot onbepaalde tyd besing. Van geslag tot geslag sal ek u getrouheid met my mond bekend maak” (Psalm 89:1, NW). Voel ons nie aangetrokke tot so ’n God nie? Ja, “sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd”.—Psalm 100:5NW.

[Prent op bladsy 23]

A. H. Macmillan