Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Lewe vol verrassings in Jehovah se diens

’n Lewe vol verrassings in Jehovah se diens

Lewensverhaal

’n Lewe vol verrassings in Jehovah se diens

SOOS VERTEL DEUR ERIC EN HAZEL BEVERIDGE

“Ek vonnis jou hiermee tot ses maande tronkstraf.” Met hierdie woorde wat in my ore weerklink, is ek na die Strangeways-gevangenis in Manchester, Engeland, geneem. Dit was Desember 1950, en ek was 19 jaar oud. Ek het pas te staan gekom voor een van die moeilikste toetse in my jong lewe—ek het geweier om militêre diens te doen.—2 Korintiërs 10:3-5.

EK WAS ’n voltydse pionierbedienaar van Jehovah se Getuies en ek was veronderstel om vry van diensplig te wees, maar die Britse wet het nie ons status erken nie. Ek het my dus alleen in ’n tronksel bevind. En ek het aan my pa gedink. Op ’n indirekte wyse was hy die rede waarom ek in die tronk was.

Jy sien, my pa, ’n tronkbewaarder, was ’n man van Yorkshire met sterk oortuigings en beginsels. Weens sy ondervindinge in die weermag en in die gevangeniswese was hy sterk gekant teen Katolisisme. Hy het in die vroeë 1930’s die eerste keer met die Getuies in aanraking gekom toe hy na die deur toe gegaan het om van hulle ontslae te raak—en met ’n paar van hulle boeke in sy hand teruggekom het! Later het hy op die Vertroosting (nou die Ontwaak!) ingeteken. Die Getuies het hom elke jaar besoek om hom aan te moedig om sy intekening te hernieu. Toe ek ongeveer 15 jaar oud was, het hulle weer eens ’n bespreking met my pa gehad, en ek het bygesit en saamgestem met wat die Getuies gesê het. Dit was toe dat ek die Bybel begin studeer het.

Op 17-jarige ouderdom het ek my toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur my in Maart 1949 te laat doop. Later daardie jaar het ek John en Michael Charuk ontmoet, wat kort tevore aan die Gileadsendingskool gegradueer het en na Nigerië op pad was. Ek was diep beïndruk deur hulle sendinggees. Dalk was hulle nie eens bewus daarvan nie, maar hulle het daardie gees in my hart laat posvat.

Namate ek die Bybel bestudeer het, het ek belangstelling verloor om universiteit toe te gaan. Binne ’n jaar nadat ek die huis verlaat het om in die Doeane en Aksynskantoor in Londen te gaan werk, het ek gevoel dat ek nie my toewyding aan God kon uitleef deur in die staatsdiens te bly nie. Toe ek uit my kantoorwerk bedank het, het een van my kollegas wat al jare lank daar werk, my gelukgewens dat ek “’n sieldodende werk” verlaat .

Voor my bedanking het ek voor ’n ander toets te staan gekom—hoe om my pa te vertel dat ek uit my veilige werk wou bedank om ’n voltydse bedienaar te word. Een aand toe ek met vakansie by die huis was, het ek hom die nuus meegedeel. Ek het vir my pa se uitbarsting gewag. Tot my verbasing het hy net gesê: “Doen wat jy wil, dis jou lewe. Maar moenie by my kom kla as dinge skeef loop nie.” My dagboekinskrywing vir 1 Januarie 1950 lees: “Het pa vertel van pionierdiens. Ek was heeltemal uit die veld geslaan oor sy reaksie wat nogal tegemoetkomend was. Ek kon nie anders as om te huil oor sy goedhartigheid nie.” Ek het uit die staatsdiens bedank en ’n toewysing as ’n voltydse pionier aanvaar.

’n Toewysing met ’n “kothuis”

Toe is my toegewydheid aan God weer ’n keer getoets. Ek is ’n pioniertoewysing aangebied in Lancashire, waar ek ’n “kothuis” met Lloyd Griffiths, ’n mede-Christen van Wallis, kon deel. Ek het in die grou, nat dorpie Bacup aangekom, vol ideale en drome oor daardie kothuis. Ek is gou tot die werklikheid teruggebring toe ek uitvind dat die kothuis eintlik ’n kelder is! Saans was daar muise en kakkerlakke om ons geselskap te hou. Ek het amper omgedraai en teruggegaan huis toe. Ek het egter ’n stille gebed gedoen en vir krag gevra om hierdie toets die hoof te bied. Skielik het ek gevoel hoe ’n kalmte oor my kom, en ek het objektief na die situasie begin kyk. Ek het hierdie toewysing van Jehovah se organisasie gekry. Ek sou op Jehovah vertrou vir hulp. Hoe dankbaar is ek tog dat ek uitgehou het, want dit sou my lewe vir ewig verander het as ek tou opgegooi het!—Jesaja 26:3, 4.

Voordat ek tronk toe is omdat ek geweier het om militêre diens te doen, het ek ongeveer nege maande in die Rossendale-vallei getuig, waar mense destyds baie arm was. Ná twee weke in die Strangeways-gevangenis is ek na die Lewes-gevangenis aan die suidkus van Engeland verplaas. Ons was mettertyd vyf Getuies saam in die tronk en kon die herdenking van Christus se dood in ’n tronksel vier.

My pa het my een keer kom besoek. Hy moes seker sy trots gesluk het—’n welbekende gevangenisbeampte wat sy tronkvoël-seun kom besoek! Ek sal altyd dankbaar wees vir daardie gebaar. Uiteindelik het die dag van my vrylating in April 1951 aangebreek.

Nadat ek uit Lewes vrygelaat is, is ek met die trein na Cardiff, Wallis, waar my pa toe as hoofbeampte by die gevangenis gedien het. Ek was die oudste van vier kinders—drie seuns en ’n dogter. Ek moes ’n deeltydse werk kry sodat ek my in die pionierdiens kon onderhou. Ek het in ’n klerewinkel gaan werk, maar my Christelike bediening was my hoofdoel in die lewe. Dit was gedurende hierdie tyd dat my ma ons verlaat het. Dit was ’n groot slag vir my pa en ons kinders, wie se ouderdomme van 8 tot 19 gewissel het. Ongelukkig is ons ouers toe geskei.

Hy wat ’n goeie vrou vind . . . 

Daar was ’n hele paar pioniers in die gemeente. Onder hulle was ’n suster wat elke dag vir haar werk en predikingsbedrywighede van die Rhondda-vallei af gekom het waar hulle steenkool gemyn het. Haar naam was Hazel Green—’n uitstekende pionier. Hazel het die waarheid langer as ek geken—haar ouers het reeds in die 1920’s vergaderinge van die Bybelstudente (nou bekend as Jehovah se Getuies) bygewoon. Maar laat sy haar eie verhaal vertel.

“Ek het eers in 1944 die Bybel ernstig begin opneem toe ek die boekie Religion Reaps the Whirlwind gelees het. My ma het my oorreed om ’n kringbyeenkoms in Cardiff by te woon. Ek het feitlik geen kennis van die Bybel gehad nie, en daar was ek, in die hoofwinkelsentrum met ’n plakkaat om my nek wat ’n openbare toespraak adverteer. Ek het die ondervinding oorleef ondanks die feit dat geestelikes en ander my probeer intimideer het. Ek is in 1946 gedoop en het in Desember daardie jaar begin pionier. Toe, in 1951, het ’n jong pionier in Cardiff opgedaag, pas uit die tronk. Dit was Eric.

“Ons het saam aan die predikingswerk deelgeneem. Ons het goed oor die weg gekom. Ons het dieselfde doelwitte in die lewe gehad—om die belange van God se Koninkryk te bevorder. Daarom is ons in Desember 1952 getroud. Hoewel ons albei in die voltydse pionierdiens was en ’n beperkte inkomste gehad het, het ons nooit ’n gebrek aan lewensbenodigdhede gehad nie. Soms het ons ’n geskenk van ’n Getuie ontvang wat te veel konfyt of seep saam met haar kruideniersware bestel het—en net wanneer ons dit nodig gehad het! Ons het sulke praktiese gebare baie waardeer. Maar daar het groter verrassings op ons gewag.”

’n Verrassing wat ons lewe verander het

In November 1954 het ek en Hazel ’n verrassing gekry—’n aansoekvorm vir my van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Londen om te dien as ’n reisende opsiener, wat elke week ’n ander gemeente besoek. Ons was seker dat dit ’n fout was; daarom het ons niemand in die gemeente daarvan vertel nie. Ek het egter die vorm ingevul en teruggestuur, en ons het asem opgehou. ’n Paar dae later het ons die antwoord gekry: “Kom na Londen vir opleiding”!

By die kantoor in Londen kon ek nie glo dat ek, wat maar 23 jaar oud was, daar saam met uitsonderlike broers kon wees wat vir my soos geestelike reuse was nie—Pryce Hughes, Emlyn Wynes, Ernie Beavor, Ernie Guiver, Bob Gough, Glynn Parr, Stan en Martin Woodburn, en talle ander, waarvan die meeste al oorlede is. Hulle was in die 1940’s en 1950’s ’n uitstekende voorbeeld van ywer en onkreukbaarheid in Brittanje.

Kringwerk in Engeland—nooit vervelig nie

Ons het met die reisende werk begin in 1954/55, ’n winter met baie sneeu. Ons is na Oos-Anglië gestuur, ’n plat deel van Engeland wat aan die koue Noordseewinde blootgestel is. Daar was destyds net 31 000 Getuies in Brittanje. Daardie eerste kring was vir ons ’n moeilike leerskool; en dit was ook nie altyd maklik vir die broers by wie ons besoek afgelê het nie. Omdat ek onervare was en as ’n Yorkshireman nie doekies omgedraai het nie, het ek soms op tone getrap. Oor die jare heen moes ek leer dat goedhartigheid belangriker is as doeltreffendheid en dat mense belangriker is as prosedure. Ek probeer nog steeds, nie dat ek altyd daarin slaag nie, om Jesus se voorbeeld te volg om ander te verkwik.—Matteus 11:28-30.

Ná 18 maande in Oos-Anglië is ons na ’n kring in die noordooste van Engeland, Newcastle-upon-Tyne en Northumberland, gestuur. Ek was baie lief vir die hartlike mense van daardie skilderagtige streek. Die besoekende streekopsiener, Don Ward, van Seattle, Washington, VSA, was vir my ’n groot hulp. Hy was ’n gegradueerde van die 20ste klas van Gilead. As ’n spreker het ek inligting teen ’n ontsettende spoed afgerammel. Hy het my geleer om stadiger te praat, te pouseer en te onderrig.

Nog ’n verrassing wat ons lewe verander het

In 1958 het ons ’n brief ontvang wat ons lewe verander het. Ons is genooi om die Gileadskool in South Lansing, New York, VSA, by te woon. Ons het ons motortjie, ’n 1935-Austin Seven, verkoop en ons kaartjies gekoop om na New York te vaar. Eers het ons die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in die stad New York bygewoon. Daarvandaan is ons vir ses maande na Peterborough, Ontario, waar ons gepionier het voordat ons na die Gileadskool vertrek het.

Onder die skoolinstrukteurs was daar Albert Schroeder, wat nou ’n lid van die Bestuursliggaam is, asook Maxwell Friend en Jack Redford, wat intussen oorlede is. Die assosiasie tussen die 82 studente uit 14 lande was baie opbouend. Ons het ’n bietjie van mekaar se kultuur begin leer. Ons het gesien hoe studente uit ander lande met Engels sukkel, en dit het ons laat besef voor watter probleme ons te staan sou kom wanneer ons ’n ander taal sou moes leer. Ons het ons opleiding binne vyf maande voltooi en is na 27 lande gestuur. Toe kom die graduering, en binne ’n paar dae was ons in die stad New York waar ons vir ons skip, die Queen Elizabeth, gewag het om ons na Europa toe terug te neem.

Ons eerste buitelandse toewysing

Watter toewysing het ons gekry? Portugal! Ons het in November 1959 in Lissabon aangekom. Nou het ons voor die uitdaging te staan gekom om by ’n nuwe taal en kultuur aan te pas. In 1959 was daar 643 bedrywige Getuies in Portugal, wat ’n bevolking van byna 9 miljoen gehad het. Maar ons predikingswerk is nie wetlik erken nie. Hoewel ons Koninkryksale gehad het, was daar geen naamborde op die buitekant aangebring nie.

Nadat ’n sendeling, Elsa Piccone, ons Portugees geleer het, het ek en Hazel gemeentes en groepe in Lissabon, Faro, Evora en Beja besoek. Toe, in 1961, het dinge begin verander. Ek het die Bybel met ’n jong man genaamd João Gonçalves Mateus gestudeer. Hy het besluit om sy standpunt as ’n neutrale Christen in te neem wat diensplig betref. Kort daarna is ek gevra om na die polisiehoofkwartier toe te gaan vir ondervraging. ’n Paar dae later is ons onaangenaam verras toe ons in kennis gestel is dat ons 30 dae het om die land te verlaat! Dieselfde het gebeur met ons medesendelinge Eric en Christina Britten en Domenick en Elsa Piccone.

Ek het hierteen beswaar gemaak, en ons is toegelaat om die hoof van die geheime polisie te spreek. Hy het dit baie duidelik gestel waarom ons gevra word om te gaan en ’n naam genoem—João Gonçalves Mateus—my Bybelstudent! Hy het gesê dat Portugal, anders as Brittanje, homself nie die luukse van gewetensbesware kon veroorloof nie. Ons moes dus Portugal verlaat, en ek het kontak met João verloor. Wat ’n vreugde was dit tog om hom, 26 jaar later, saam met sy vrou en drie dogters by die toewyding van die nuwe Portugese Bethel te sien! Ons bediening in Portugal was nie tevergeefs nie!—1 Korintiërs 3:6-9.

Wat was ons volgende toewysing? Die buurland Spanje—wat ’n verrassing! Met trane in ons oë het ons in Februarie 1962 die trein van Lissabon na Madrid gehaal.

Ons moet aanpas by ’n ander kultuur

In Spanje moes ons gewoond raak om ongemerk te getuig en ons vergaderinge te hou. Wanneer ons in die predikingswerk was, het ons gewoonlik nooit aan twee aangrensende deure geklop nie. Nadat ons by ’n deur getuig het, het ons na ’n ander straat, na ’n ander gebou, toe gegaan. Dit het dit vir die polisie—of die priesters—moeilik gemaak om ons te vang. Onthou, ons het onder ’n Fascistiese, Katolieke diktatorskap gelewe, en ons predikingswerk was verbied. As uitlanders het ons Spaanse name aangeneem as ’n beskerming sodat ons nie geïdentifiseer kon word nie. Ek het Pablo en Hazel het Juana geword.

Ná ’n paar maande in Madrid is ons gevra om in Barcelona kringwerk te doen. Ons het verskeie gemeentes in die stad besoek en dikwels twee of drie weke by elkeen deurgebring. Die besoeke het so lank geduur omdat ons elke boekstudiegroep moes besoek asof dit ’n gemeente was, en dit het gewoonlik twee groepe ’n week beteken.

’n Onverwagte uitdaging

In 1963 is ons genooi om in die streekwerk in Spanje te dien. Ons moes deur die hele land reis om die byna 3 000 bedrywige Getuies te bedien en die nege kringe te besoek wat daar destyds was. Ons het van ons onvergeetlikste geheime kringbyeenkomste in die woude naby Sevilla, op ’n plaas naby Gijón en by riviere naby Madrid, Barcelona en Logrono gehou.

Wanneer ek van huis tot huis getuig het, het ek as voorsorgmaatreël seker gemaak van die uitleg van nabygeleë strate sodat ek ’n ontsnappingsroete sou hê ingeval iets verkeerd loop. Eenkeer toe ons die predikingswerk in Madrid gedoen het, was ek en ’n ander Getuie op ’n boonste verdieping toe ons skielik ’n geskreeu van onder af hoor. Toe ons onder kom, was dit ’n groep tienermeisies, lede van ’n Katolieke groep met die naam Hijas de María (Dogters van Maria). Hulle was besig om die bure teen ons te waarsku. Ons kon nie met hulle redeneer nie, en ek het geweet dat ons dadelik moes wegkom voordat die polisie ons vang. Ons het dus ontsnap—en vinnig ook!

Dit was opwindende jare om in Spanje te wees. Ons het daardie dierbare broers en susters, insluitende die spesiale pionierbedienaars, probeer aanmoedig. Hulle het die gevaar geloop om in die tronk te beland en het dikwels ontberinge verduur sodat hulle die goeie nuus van God se Koninkryk kon verkondig en gemeentes kon stig en opbou.

Gedurende hierdie tyd het ons ook slegte nuus ontvang. Hazel vertel: “In 1964 is my ma, ’n getroue Getuie, oorlede. Dit was baie hartseer om haar te verloor sonder om eers totsiens te kon sê. Dit is een van die opofferings van sendingwerk wat baie al moes maak.”

Uiteindelik vryheid

Ná jare van vervolging is ons werk uiteindelik in Julie 1970 deur die Franco-regering wetlik erken. Ek en Hazel was verheug oor die opening van Koninkryksale, die eerste een in Madrid en die tweede in Lesseps, Barcelona. Hulle het altyd groot naamborde gehad, wat dikwels verlig was. Ons wou hê dat die mense moes weet ons is wettig en hier om te bly! Op daardie tydstip, 1972, was daar bykans 17 000 Getuies in Spanje.

Dit was in hierdie tyd dat ek baie bemoedigende nuus uit Engeland ontvang het. My pa het ons in 1969 in Spanje besoek. Hy was so beïndruk met die manier waarop die Spaanse Getuies hom behandel het dat hy ná sy terugkeer na Engeland die Bybel begin studeer het. Toe, in 1971, het ek gehoor dat my pa gedoop is! Dit was ’n roerende oomblik toe ons by die huis gaan kuier het en hy, as my Christenbroer, die seën op ons maaltyd gevra het. Ek het meer as 20 jaar lank vir daardie dag gewag. My broer Bob en sy vrou Iris het in 1958 Getuies geword. Hulle seun Phillip dien nou as ’n kringopsiener in Spanje saam met sy vrou Jean. Ons is baie bly dat hulle in daardie wonderlike land dien.

Ons mees onlangse verrassing

In Februarie 1980 het ’n lid van die Bestuursliggaam Spanje as ’n sone-opsiener besoek. Tot my verbasing wou hy saam met my in die bediening uitgaan. Min het ek geweet dat hy my ’n bietjie wou deurkyk! Toe, in September, is ons genooi om na die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, te verhuis! Ons was uit die veld geslaan. Ons het die uitnodiging aanvaar, al was dit hartverskeurend om ons Spaanse broers agter te laat. Op daardie tydstip was daar 48 000 Getuies!

Met ons vertrek het ’n broer vir my ’n sakhorlosie present gegee. Daarop het hy twee tekste laat graveer—“Lukas 16:10; Lukas 17:10”. Hy het gesê dat dit my tematekste is. Lukas 16:10 beklemtoon dat ons getrou in klein dingetjies moet wees, en Lukas 17:10 sê dat ons “nikswerd slawe” is en dus geen rede het om te roem nie. Ek het altyd besef dat wat ons ook al in Jehovah se diens doen, bloot ons plig as toegewyde Christene is.

’n Onverwagte gesondheidsprobleem

In 1990 het ek hartprobleme begin ontwikkel. Uiteindelik moes ek ’n stent laat insit om ’n vernoude slagaar oop te maak. Gedurende hierdie moeilike tydperk waarin ek fisies swak was, het Hazel my op verskeie maniere ondersteun en dikwels sakke en tasse gedra wat ek te swak was om te dra. Toe, in Mei 2000, het ek ’n pasaangeër gekry. Wat ’n verskil het dit tog nie gemaak nie!

Die afgelope 50 jaar het ek en Hazel gesien dat Jehovah se hand nie kort is nie en dat sy voornemens vervul word op sy bestemde tyd, nie ons s’n nie (Jesaja 59:1; Habakuk 2:3). Ons het talle vreugdevolle verrassings in ons lewe gehad en ook ’n paar onaangenames, maar deur dit alles heen het Jehovah ons onderskraag. Hier by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se volk word ons elke dag geseën deur met lede van die Bestuursliggaam om te gaan. Soms vra ek my af: ‘Is ons werklik hier?’ Dit is onverdiende goedhartigheid (2 Korintiërs 12:9). Ons vertrou dat Jehovah sal voortgaan om ons teen Satan se sette te beskerm en ons behoue sal laat bly sodat ons die dag van sy regverdige heerskappy oor die aarde kan geniet.—Efesiërs 6:11-18; Openbaring 21:1-4.

[Prent op bladsy 26]

Strangeways-gevangenis, Manchester, waar ek my vonnis begin uitdien het

[Prent op bladsy 27]

Met ons Austin Seven in die kringwerk in Engeland

[Prent op bladsy 28]

’n Geheime byeenkoms in 1962 in Cercedilla, Madrid, Spanje

[Prent op bladsy 29]

By ons tafel vol lektuur in Brooklyn