Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die sleutel tot ’n gelukkige wêreld

Die sleutel tot ’n gelukkige wêreld

Die sleutel tot ’n gelukkige wêreld

“DIE heel invloedrykste persoon—nie net in hierdie twee millenniums nie, maar in die hele mensegeskiedenis—is Jesus van Nasaret”, het die tydskrif Time gesê. Toe Jesus op die aarde was, het duisende opregtes van hart nie net sy grootheid gesien nie, maar ook sy besorgdheid oor ander. Daarom is dit nie verbasend dat hulle hom koning wou maak nie (Johannes 6:10, 14, 15). Maar soos in die vorige artikel gemeld is, het Jesus geweier om by die politiek betrokke te raak.

JESUS se reaksie was op ten minste drie faktore gegrond: sy Vader se beskouing van menslike selfbeskikking, wat menseheerskappy insluit; Jesus se kennis dat sterk, verborge kragte selfs die mens se beste pogings om te heers, teëwerk en God se voorneme om ’n hemelse regering tot stand te bring om oor die hele aarde te heers. Wanneer ons hierdie drie punte noukeuriger ondersoek, sal ons sien waarom die mensdom se pogings om die wêreld ’n beter plek te maak, misluk het. Ons sal ook sien hoe welslae behaal sal word.

Kan mense hulleself regeer?

Toe God mense geskep het, het hy hulle gesag oor die diereryk gegee (Genesis 1:26). Maar die mensdom was onder God se soewereiniteit. Die eerste man en vrou moes hulle onderdanigheid aan God bevestig deur gehoorsaam te wees en nie van die vrug van een besondere boom, “die boom van die kennis van goed en kwaad”, te neem nie (Genesis 2:17). Ongelukkig het Adam en Eva hulle wilsvryheid misbruik en God nie gehoorsaam nie. Toe hulle die verbode vrug geneem het, was dit nie bloot diefstal nie. Hulle het teen God se soewereiniteit in opstand gekom. ’n Voetnoot by Genesis 2:17 in The New Jerusalem Bible sê dat Adam en Eva aanspraak gemaak het “op volkome sedelike onafhanklikheid waardeur die mens weier om sy status as ’n geskapene te erken . . . Die eerste sonde was ’n aanval op God se soewereiniteit.”

Weens die belangrike sedelike geskille wat hierby betrokke is, het God toegelaat dat Adam en Eva en hulle nakomelinge hulle eie lewenswyse kies, en hulle het hulle eie standaarde van reg en verkeerd vasgestel (Psalm 147:19, 20; Romeine 2:14). In werklikheid het die mens se eksperiment met selfbeskikking toe begin. Was dit suksesvol? Aangesien ons oor duisende jare heen kan terugkyk, kan ons sê nee! Prediker 8:9 sê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.” Hierdie betreurenswaardige verslag van die mens se selfbestuur bevestig dat Jeremia 10:23 waar is: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” Die geskiedenis het bewys dat mense nie die vermoë het om met welslae sonder hulle Skepper te heers nie.

Jesus het volkome daarmee saamgestem. Onafhanklikheid van God was vir hom weersinwekkend. ‘Ek doen niks op eie inisiatief nie’, het hy gesê. ‘Ek doen altyd die dinge wat God behaag’ (Johannes 4:34; 8:28, 29). Aangesien Jesus nie magtiging van God gehad het om koningskap van mense te ontvang nie, het hy nie eers oorweeg om dit te aanvaar nie. Dit beteken egter nie dat hy onwillig was om sy medemens te help nie. Inteendeel, hy het alles in sy vermoë gedoen om mense te help om die grootste geluk te vind, destyds en in die toekoms. Hy het selfs sy lewe vir die mensdom gegee (Matteus 5:3-11; 7:24-27; Johannes 3:16). Maar Jesus het geweet dat ‘alles sy bepaalde uur het’, met inbegrip van God se tyd om sy soewereiniteit oor die mensdom te laat geld (Prediker 3:1; Matteus 24:14, 21, 22, 36-39). Maar onthou dat ons eerste ouers hulle in Eden onderwerp het aan die wil van ’n bose geesskepsel wat deur ’n sigbare slang gepraat het. Dit bring ons by ’n tweede rede waarom Jesus hom nie met die politiek bemoei het nie.

Die wêreld se geheime heerser

Die Bybel sê vir ons dat Satan Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” aangebied het in ruil vir een daad van aanbidding (Matteus 4:8-10). Jesus is in werklikheid wêreldheerskappy aangebied—maar op die Duiwel se voorwaardes. Jesus het nie vir hierdie versoeking geswig nie. Maar was dit werklik ’n versoeking? Kon Satan waarlik so ’n indrukwekkende aanbod maak? Ja, want Jesus self het die Duiwel “die heerser van die wêreld” genoem, en die apostel Paulus het hom as “die god van hierdie stelsel van dinge” beskryf.—Johannes 14:30; 2 Korintiërs 4:4; Efesiërs 6:12.

Jesus het natuurlik geweet dat die Duiwel nie die mensdom se belange op die hart dra nie. Hy het Satan beskryf as “’n moordenaar” en as “die vader van leuens en van alles wat vals is” (Johannes 8:44, The Amplified Bible). ’n Wêreld wat “in die mag” van so ’n bose gees lê, kan beslis nooit waarlik gelukkig wees nie (1 Johannes 5:19). Maar die Duiwel sal nie vir ewig hierdie gesag hê nie. Jesus, wat nou ’n magtige geesskepsel is, sal binnekort van Satan ontslae raak en sy invloed heeltemal uit die weg ruim.—Hebreërs 2:14; Openbaring 20:1-3.

Satan self weet dat sy dae as wêreldheerser baie min raak. Daarom wend hy ’n wanhopige, bewuste poging aan om mense so verdorwe te maak dat hulle nie hervorm kan word nie, net soos hy voor die Vloed van Noag se dag gedoen het (Genesis 6:1-5; Judas 6). “Wee die aarde en die see”, sê Openbaring 12:12, “want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het.” Bybelprofesieë en wêreldgebeure toon dat ons na aan die einde van hierdie “kort tydperk” lewe (2 Timoteus 3:1-5). Verligting is nou baie naby.

’n Regering wat geluk sal bring

’n Derde rede waarom Jesus hom nie met die politiek bemoei het nie, is omdat hy geweet het dat God op ’n vasgestelde tyd in die toekoms ’n hemelse regering tot stand sou bring om oor die aarde te heers. Die Bybel noem hierdie regering God se Koninkryk, en dit was die hooftema van Jesus se onderrigting (Lukas 4:43; Openbaring 11:15). Jesus het sy dissipels geleer om te bid dat hierdie Koninkryk moet kom, want slegs onder dié heerskappy sal ‘God se wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde’ (Matteus 6:9, 10). Jy wonder dalk: ‘As hierdie Koninkryk oor die hele aarde gaan heers, wat sal dan met mensgemaakte regerings gebeur?’

Die antwoord word in Daniël 2:44 gevind: “In die dae van dié konings [wat aan die einde van die huidige stelsel heers] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie [mensgemaakte] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” (Ons kursiveer.) Waarom sal God se Koninkryk aardse heerskappye moet “verbrysel”? Omdat hulle daarop aandring om die godtartende gees van selfbeskikking te laat voortbestaan wat Satan reeds in die tuin van Eden bevorder het. Mense wat hulle daarop toelê om daardie gees te laat voortbestaan, tree nie net tot nadeel van die mensdom op nie, maar stuur ook af op ’n botsing met die Skepper (Psalm 2:6-12; Openbaring 16:14, 16). Daarom moet ons ons afvra: ‘Is ons vir of teen heerskappy deur God?’

Wie se soewereiniteit sal jy kies?

Ten einde mense te help om ’n ingeligte besluit oor heerskappy te neem, het Jesus sy dissipels opdrag gegee om die ‘goeie nuus van die koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig tot ’n getuienis vir al die nasies’ voordat die einde van die huidige stelsel kom (Matteus 24:14). Wie is vandag wêreldwyd daarvoor bekend dat hulle God se Koninkryk verkondig? Jehovah se Getuies. Trouens, die woorde “Kondig Jehovah se Koninkryk aan” verskyn reeds lank op die voorblad van hierdie tydskrif. Vandag help ongeveer sesmiljoen Getuies in meer as 230 lande mense om juiste kennis van daardie Koninkryk op te doen. a

Seëninge vir onderdane van die Koninkryk

Jesus het altyd dinge op God se manier gedoen. Daarom het hy nie ’n onafhanklike weg gekies en die bestaande stelsel van dinge deur politieke middele probeer steun of verbeter nie, maar hy het eerder hard gewerk om die belange van God se Koninkryk, die enigste oplossing vir die wêreld se probleme, te bevorder. Vir sy lojaliteit is hy met ’n glorieryke troon in die hemel as die regmatige Koning van daardie Koninkryk beloon. Wat ’n wonderlike beloning vir sy onderdanigheid aan God!—Daniël 7:13, 14.

Miljoene wat vandag leef en wat Jesus navolg deur God se Koninkryk eerste te stel en hulle aan God se wil te onderwerp, geniet ook ’n wonderlike gawe—die voorreg om aardse onderdane van God se Koninkryk te wees (Matteus 6:33). Onder die liefdevolle heerskappy daarvan sal hulle tot menslike volmaaktheid verhef word, met die ewige lewe in die vooruitsig (Openbaring 21:3, 4). Eerste Johannes 2:17 sê: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Wat ’n besondere vreugde sal dit tog wees om vir ewig hier te bly as Satan en sy volgelinge verwyder is en die aarde verander is in ’n wêreldwye paradys wat van verdelende nasionalisme, verdorwe handelstelsels en valse godsdiens ontslae is!—Psalm 37:29; 72:16.

Ja, God se Koninkryk is die ware sleutel tot ’n werklik gelukkige wêreld, en die boodskap wat dit bekend maak, word tereg as goeie nuus beskryf. As jy dit nie alreeds gedoen het nie, kan jy gerus, wanneer een van Jehovah se Getuies weer by jou huis besoek aflê, hierdie goeie nuus verwelkom wat vir jou gebring word.

[Voetnoot]

a Wanneer Jehovah se Getuies God se Koninkryk verkondig, bemoei hulle hulle nie met die politiek of stook opstand teen sekulêre regerings aan nie, selfs nie in lande waar die Getuies verban is of vervolg word nie (Titus 3:1). Hulle probeer eerder ’n positiewe, geestelike, niepolitiese bydrae lewer soos Jesus en sy eerste-eeuse dissipels gedoen het. Die Getuies probeer regverdiggesinde mense in hulle onderskeie gemeenskappe help om heilsame Bybelse waardes soos liefde vir hulle gesin, eerlikheid, sedelike reinheid en ’n goeie werksetiek aan te neem. Hulle streef allereers daarna om hulle te leer hoe om Bybelbeginsels toe te pas en om op God se Koninkryk as die mensdom se werklike hoop te vertrou.

[Prente op bladsy 5]

Die geskiedenis bewys dat mense nie met welslae sonder God kan heers nie

[Prent op bladsy 5]

Omdat Satan oor die huidige “stelsel van dinge” heers, kon hy Jesus “al die koninkryke van die wêreld” aanbied

[Prente op bladsy 7]

Jesus het mense geleer dat die wêreld onder God se Koninkryksreëling ’n wonderlike plek sal wees