Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan jy die wêreld ’n beter plek maak?

Kan jy die wêreld ’n beter plek maak?

Kan jy die wêreld ’n beter plek maak?

“Die politiek kan glad nie die struktuur van die samelewing herstel nie. Dit is nie toegerus om tradisionele sedelike opvattings weer tot stand te bring nie. Die beste beleide kan nie die vroeëre waardes met betrekking tot hofmakery of die huwelik herstel, vaders verantwoordelik vir hulle kinders maak, skok of skaamte herstel waar dit eers bestaan het nie . . . Die oorgrote meerderheid sedelike probleme waarvoor ons te staan kom, kan nie deur wetgewing uit die weg geruim word nie.”

SOU jy met hierdie woorde van ’n voormalige regeringsmedewerker in Amerika saamstem? Indien wel, wat is die oplossing vir al die hedendaagse probleme wat voortspruit uit hebsug, ’n gebrek aan natuurlike toegeneentheid in gesinne, losse sedes, onkunde en ander faktore wat die struktuur van die samelewing aftakel? Party mense meen dat daar geen oplossing is nie, en daarom gaan hulle net voort met hulle lewe so goed as wat hulle kan. Ander hoop dat ’n charismatiese en briljante leier, dalk selfs ’n godsdiensleier, eendag sal verskyn en hulle die regte leiding sal gee.

Trouens, tweeduisend jaar gelede wou mense Jesus Christus hulle koning maak omdat hulle besef het dat God hom gestuur het en dat hy ’n uiters bekwame heerser sou wees. Maar toe Jesus besef wat hulle wou doen, het hy gou weggegaan (Johannes 6:14, 15). “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”, het hy later aan ’n Romeinse goewerneur verduidelik (Johannes 18:36). Deesdae neem min egter die standpunt in wat Jesus ingeneem het—selfs nie eers godsdiensleiers wat bely dat hulle sy volgelinge is nie. Party van hulle het hierdie wêreld ’n beter plek probeer maak, hetsy deur wêreldlike heersers te probeer beïnvloed of deur self ’n politieke amp te beklee. Ons kan dit sien as ons na die 1960’s en ’70’s kyk.

Godsdienspogings om die wêreld te verbeter

In die laat 1960’s het sekere teoloë in Latyns-Amerikaanse lande die stryd ten behoewe van die armes en vertraptes aangeknoop. Met die oog hierop het hulle die bevrydingsteologie tot stand gebring, waarin Christus nie meer as ’n redder net in ’n Bybelse sin uitgebeeld is nie, maar ook in ’n politieke en ekonomiese opsig. In die Verenigde State het ’n aantal kerkleiers wat baie besorg geraak het oor die agteruitgang van sedelike waardes, ’n organisasie gestig wat die Moral Majority genoem is. Die doel daarvan was om mense in politieke ampte aangestel te kry wat wette sou maak wat heilsame gesinswaardes sou beskerm. Ook in baie Moslemlande het groepe probeer om korrupsie en gruweldade te bedwing deur mense aan te spoor om strenger by die Koran te bly.

Meen jy dat die wêreld weens sulke pogings ’n beter plek is? Die feite toon dat sedelike waardes oor die algemeen aanhou agteruitgaan en dat die gaping tussen ryk en arm al hoe groter word, ook in dié lande waar die bevrydingsteologie bevorder is.

Omdat die Moral Majority nie hulle belangrikste doelwitte in die Verenigde State kon bereik nie, het die stigter daarvan, Jerry Falwell, die organisasie in 1989 ontbind. Ander organisasies het die plek daarvan ingeneem. Tog het Paul Weyrich, wat die uitdrukking “moral majority” geskep het, in die tydskrif Christianity Today geskryf: “Selfs al wen ons in die politiek, lei ons oorwinnings nie tot die soort beleide wat ons meen belangrik is nie.” Hy het ook geskryf: “Die kultuur word al hoe smeriger. Ons is vasgevang in een van die grootste kultuurineenstortings van die geskiedenis, ’n ineenstorting wat so groot is dat dit die politiek eenvoudig oorweldig.”

Die rubriek- en boekskrywer Cal Thomas het geopenbaar wat hy as ’n grondliggende tekortkoming beskou in die poging om die gemeenskap deur die politiek te verhef: “Werklike verandering vind in hart ná hart plaas, nie in verkiesing ná verkiesing nie, want ons vernaamste probleme is nie op ekonomiese en politieke gebied nie, maar op sedelike en geestelike gebied.”

Maar hoe los jy sedelike en geestelike probleme op in ’n wêreld waar daar geen bepaalde maatstawwe is nie, waar mense self besluit wat reg en verkeerd is? As invloedryke en welmenende mense—godsdienstig of nie—hierdie wêreld nie werklik ’n beter plek kan maak nie, wie kan dan? Soos ons in die volgende artikel sal sien, is daar ’n antwoord. Trouens, dit is die vernaamste rede waarom Jesus gesê het dat sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie.

[Foto-erkennings op bladsy 2]

VOORBLAD: Vuil water: WHO/UNICEF photo; aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Foto-erkennings op bladsy 3]

Kinders: UN photo; aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.