Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewegewende water vloei in die Andes

Lewegewende water vloei in die Andes

Lewegewende water vloei in die Andes

Die Andesgebergte loop deur die middel van Peru en verdeel die land in ’n droë kusgebied aan die westekant en ’n welige en snikhete oerwoud aan die oostekant. In hierdie bergagtige strook woon meer as ’n derde van Peru se 27 miljoen mense. Hulle is óf op die hoë plato’s en steil berghange van die Andes óf in die oënskynlik bodemlose klowe en vrugbare valleie van daardie bergreeks.

DIT is nie so maklik om van die buitewêreld af in die ruwe Andesreeks in te kom nie. Gevolglik is die miljoene wat daar woon, maar taamlik afgesonder, en hulle word min beïnvloed deur gebeure en ontwikkelinge buite hulle gebied.

Dorpies het langs die strome ontstaan om naby die water te wees wat hulle nodig het vir hulle gesaaides en kuddes llamas, alpakkas, vikoenjas en skape. Maar daar is ’n ander soort lewensbelangrike water wat in die Andes vloei—verkwikkende geestelike water wat van Jehovah, “die bron van lewende water”, af kom (Jeremia 2:13, NW). God gebruik sy Getuies om mense in klein gemeenskappe hoog in die Andes te help om juiste kennis van hom en sy voornemens op te doen.—Jesaja 12:3; Johannes 17:3.

Aangesien dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”, ontsien hierdie bedienaars geen moeite om moeilik bereikbare gemeenskappe met die lewegewende Bybelboodskap te besoek nie (1 Timoteus 2:4). Hierdie Bybelboodskap is leersaam en verhewe. Dit het inwoners wat opreg van hart is, bevry van bygelowe, gebruike en idees wat veroorsaak het dat hulle die dooies, bose geeste en natuurkragte vrees. Nog belangriker, hierdie boodskap gee hulle die wonderlike hoop op eindelose lewe op ’n paradysaarde.

Spesiale pogings word aangewend

Die Koninkryksverkondigers wat hierdie afgeleë gebiede besoek, moet baie aanpassings maak. Om die harte van die mense te bereik, moet Bybelonderrigters ’n bietjie Quechua of Aymara, die twee plaaslike tale, kan praat.

Dit is nie maklik om die dorpies in die Andes te bereik nie. Daar is nie baie spoorverbindings na daardie gebiede nie. Vervoerdienste is wisselvallig en hang van die weer en ongewone terrein af. Hoe bereik die Getuies dan die mense om hulle van die Koninkryksboodskap te vertel?

Moedige verkondigers van die goeie nuus het die uitdaging aanvaar en met dieselfde gesindheid as die profeet Jesaja gereageer: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Hulle het drie motorwoonwaens gebruik om na die noordelike, sentrale en suidelike gebiede te reis. Met dosyne kartonne vol Bybels en Bybellektuur het die ywerige pioniers, oftewel voltydse bedienaars, saadjies van Bybelwaarheid onder die vriendelike, gasvrye en opregte mense gesaai wat daar woon.

Die draaie in die bergpaaie is veral gevaarlik. Voertuie moet soms vorentoe en dan agtertoe beweeg as hulle om party van hierdie draaie wil gaan. Op een van hierdie draaie het ’n sendeling wat agter in ’n bus gesit het, deur die venster gekyk en gesien dat een van die agterwiele reg op die rand van die afgrond van meer as 190 meter diep was! Hy het sy oë toegemaak totdat die bus weggetrek het.

Party paaie is in ’n slegte toestand en baie smal. Een van die motorwoonwaens het hierdie ruwe terrein aangedurf en met ’n smal pad afgery toe ’n vragmotor van die ander kant af opgekom het. Die motorwoonwa moes teen die hoogte agteruitstoot tot by ’n plek waar die twee net-net by mekaar kon verbygaan.

Hierdie volgehoue pogings het nietemin uitstekende resultate tot gevolg gehad. Wil jy graag meer omtrent hierdie pogings hoor?

“Water” vir die Titicaca-meer

Die Titicaca-meer lê in ’n bekken van die Andesgebergte 3 800 meter bo seevlak, en dit is die hoogste bevaarbare binnelandse watermassa in die wêreld. Die meeste van die 25 riviere wat Titicaca voed, ontspring in die sneeubedekte bergpieke, waarvan party meer as 6 400 meter hoog is. Vanweë die hoogte is die klimaat koud, en diegene wat nie boorlinge van die gebied is nie, ondervind hoogtesiekte.

’n Ruk gelede het ’n groep pioniers wat Quechua en Aymara praat, die Amantani- en Taquile-eiland op die Titicaca-meer besoek. Hulle het ’n skyfievertoning saamgeneem met die titel “Die kerke word van naderby beskou”, waarin die valshede van die Christendom aan die lig gebring word. Mense het gunstig daarop gereageer. ’n Man het die broers verwelkom en hulle ’n groot kamer in sy huis aangebied waar hulle kon bly en die Bybel aan ander kon leer.

By die eerste vergadering op Amantani was daar 100 mense; die vergadering op Taquile is deur 140 bygewoon. Dit is in Quechua aangebied. ’n Egpaar wat vantevore op die vasteland gewoon het, het gesê: “Dit is hoog tyd dat julle Jehovah se Getuies ons onthou. Ons het gebid dat julle moet kom.”

Buiten hierdie twee groter eilande, is die goeie nuus ook al op party van die ongeveer 40 “drywende” eilande op die Titicaca-meer verkondig. Drywende eilande? Ja, hulle word van totoras gemaak, biesies wat in van die vlakker dele van die meer groei. Totoras groei tot dit bo die watervlak uitkom. Om ’n eiland te maak, buig die plaaslike inwoners die biesies, terwyl die wortels nog in die bodem van die meer is, en vleg dit ineen om ’n platform te maak. Modder word dan op die platform gepak, wat met nog gesnyde biesies versterk word. Mense woon in hutte van biesies wat op die platform gebou is.

Jehovah se Getuies het ’n boot aangeskaf om vir die mense op die eilande van die Titicaca-meer te getuig. Die boot kan 16 mense vervoer. Nadat die boot by die drywende eilande vasgemeer het, loop die Getuies op die biesieplatform van hut tot hut. Hulle sê hulle voel gewoonlik hoe die oppervlak effens onder hulle voete beweeg. Dit is nie die plek vir mense wat geneig is om seesiek te word nie!

Die Aymarasprekende bevolking woon in die talle gemeenskappe en dorpies langs die oewer en op die skiereilande wat in die meer uitloop. Dit word makliker deur ’n boot bereik as van die land af. Daar is na raming bykans 400 000 mense wat in die gebied woon waar hierdie bote gebruik word om die Koninkryksboodskap te verkondig. Die bote sal nog lank hier gebruik word.

Geestelike dors word geles

Flavio het in die dorpie Santa Lucia, naby Juliaca, in die Andes gewoon. In sy Evangeliese Kerk is hy die leerstelling van die helse vuur geleer. Jare lank het hy in vrees gelewe vir hierdie ewigdurende vurige straf. Hy het dikwels gewonder hoe ’n God van liefde mense vir ewig in ’n vuur kan pynig. Toe Tito, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, in daardie dorpie gewerk het, het hy Flavio besoek.

Een van die eerste vrae wat Flavio gevra het, was: “Leer julle godsdiens dat mense in ’n helse vuur gefolter word?” Tito het geantwoord dat so ’n siening vir die Skepper afstootlik is en dat dit ook die naam van Jehovah, die God van liefde, oneer aandoen. Tito het Flavio se eie Bybel gebruik en vir hom gewys dat die dooies van glad niks bewus is nie en dat hulle op ’n aardse opstanding onder God se Koninkryk wag (Prediker 9:5; Johannes 5:28, 29). Dit was vir Flavio ’n openbaring. Hy het dadelik tot ’n Bybelstudie ingestem en vinnig vordering gemaak en ’n gedoopte Christen geword.

’n Dorpie toon waardering

Stel jou net voor hoe opwindend dit is om die Skrif met dorpenaars te bespreek wat nog nooit ’n Bybel gesien het nie of om in dorpies te getuig waar mense nog nooit van Jehovah se Getuies of die goeie nuus wat hulle verkondig, gehoor het nie! Dit is wat drie pioniersusters—Rosa, Alicia en Cecilia—ondervind het toe hulle in die dorpies Izcuchaca en Conayca gewerk het, wat op ’n hoogte van meer as 3 600 meter in die sentrale deel van Peru geleë is.

Toe hulle by die eerste dorpie aankom, het hulle geen plek gehad om te bly nie. Hulle het met die plaaslike polisiebevelvoerder gepraat en die rede vir hulle besoek verduidelik. Die gevolg? Hy het hulle in die polisiestasie laat oornag. Die volgende dag kon die pioniers ’n permanenter blyplek vind waarvandaan hulle kon werk.

Kort daarna was dit tyd vir die jaarlikse herdenking van Christus se dood. Die pioniers het al die huise in die dorpie Izcuchaca besoek, baie Bybels versprei en ’n aantal Bybelstudies begin. Voor die Gedenkmaal het hulle uitnodigings uitgestuur om hierdie geleentheid by te woon. Daarin het hulle die doel van die viering uiteengesit en die betekenis verduidelik van die embleme wat gedurende die herdenking gebruik word. ’n Groepie broers is uitgenooi om by die geleentheid te help, en een van hulle het die toespraak gehou. Wat ’n vreugde was dit tog om 50 mense van daardie dorpie by hierdie spesiale geleentheid te sien! Vir die eerste keer het hulle verstaan wat die Here se Aandmaal werklik beteken. Hoe wonderlik was dit ook vir hulle om die Woord van God in hulle hande te hê!

Bevry van swaar laste

Dit is altyd ’n vreugde om die verkwikkende water van Bybelwaarheid na diegene te bring wat slawe van valse godsdiens is. Pisac was ’n vesting van die eertydse Inkaryk. Die meeste mense wat tans daar woon, is die onskriftuurlike leerstelling van die helse vuur geleer. Hulle priesters sê vir hulle dat hulle net hemel toe kan gaan as die priesters vir hulle voorbidding doen.

Dit is te verstane dat sulke mense na die verkwikkende water van Bybelwaarheid smag. Terwyl Santiago, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, van deur tot deur getuig het, het hy die geleentheid gehad om aan ’n man te verduidelik dat regverdige mense op ’n paradysaarde gaan lewe (Psalm 37:11). Santiago het uit die Bybel getoon dat die dooies sal opstaan en dat die mensdom Jehovah se volmaakte weë geleer sal word met die ewige lewe in die vooruitsig (Jesaja 11:9). Tot op daardie stadium was die man ’n vroom Katoliek, wat nogtans by spiritisme betrokke was en te veel gedrink het. Nou het hy ’n Bybelse hoop en ’n doel in die lewe gehad—om in die Paradys te lewe. Hy het al sy spiritistiese goed verbrand en opgehou drink. Hy het sy gesin bymekaar laat kom en tot ’n Bybelstudie ingestem. Mettertyd het almal in daardie gesin hulle aan Jehovah God toegewy en hulle laat doop.

Gasvryheid word verwelkom

Die mense in die berge is baie gasvry. Al is hulle huise klein en al is die mense arm, bied hulle vir besoekers aan wat hulle het. Voordat ’n gasheer die hoë standaarde van die Bybel leer, sal hy moontlik vir ’n besoeker kokablare aanbied om aan te kou terwyl hulle gesels. Maar as hy ’n Getuie word, sal hy hom dalk ’n teelepel suiker gee, wat in daardie afgeleë provinsies van gelyke waarde is.

’n Broer het ’n sendeling gevra om saam met hom na ’n herbesoek te gaan. Ná ’n uitputtende tog teen ’n steil bergpad uit het hulle hulle hande geklap om die huisbewoner te laat weet dat hulle daar is. Hulle is in die grasdakhuis ingenooi en moes buk om by die lae ingang in te gaan. Hulle het versigtig om die middelste deel van die grondvloer gestap, waarin die ma ’n gat gegrawe het en ’n kombers en toe haar baba daarin gesit het. Die baba kon nie daaruit klim nie en was maar tevrede om geluidjies te maak terwyl die volwassenes gesels het. Nadat hulle ’n lewendige bespreking oor die seëninge van die Koninkryk gehad het, het die vrou ’n lang houer uitgehaal en vir hulle ’n plaaslike drankie aangebied. Kort voor lank was die broers op pad teen die berghang af om nog besoeke te doen.

’n Oorvloedige oes

Daar is nou omtrent honderd afgesonderde groepe met meer as duisend mense in hierdie gebied wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer. Gegradueerdes van die Bedieningsopleidingskool in Lima word hierheen gestuur om hierdie groepe te help sodat hulle later gemeentes kan vorm. Regskapenes wat al so lank slawe van valse godsdiens en bygelowigheid was, is deur die goeie nuus van die Koninkryk bevry! (Johannes 8:32). Hulle dors na die water van waarheid word geles.

[Prent op bladsy 10]

Getuieniswerk op die “drywende” eilande van die Titicaca-meer