Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons doen ons bes!

Ons doen ons bes!

Ons doen ons bes!

“DOEN jou bes.” ’n Lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het eenkeer hierdie praktiese raad vir ’n sendeling gegee. Maar waarom het hy sulke basiese raad vir ’n ervare bedienaar gegee? Is die meeste sendelinge dan nie onverskrokke siele wat daagliks goggas, slange, hitte, siekte en verskillende ontberinge die hoof moet bied nie?

Sendelinge van Jehovah se Getuies is in werklikheid gewone mans en vroue, Christene wie se diep liefde vir Jehovah en vir hulle medemens hulle beweeg het om in die buiteland te gaan dien. Hulle streef daarna om Jehovah na die beste van hulle vermoë te dien en wend hulle tot hom vir krag.—Efesiërs 6:10.

Om meer van die sendingwerk te leer, kom ons verbeel ons ons kuier ’n dag lank by ’n tipiese sendinghuis in Wes-Afrika.

’n Dag in die sendingwerk

Dit is byna 7:00 vm. Ons het net betyds by die sendinghuis opgedaag om aan die bespreking van die dagteks deel te neem. Die tien sendelinge verwelkom ons hartlik en maak plek vir ons by die ontbyttafel. Terwyl ons mekaar beter leer ken, begin een van die sendelinge, wat al jare lank in haar toewysing is, ’n grappige ondervinding vertel wat sy in die bediening gehad het. Maar ons geselsery loop dood toe die voorsitter vir daardie dag die vrolike groepie daaraan herinner dat dit tyd is vir die dagteksbespreking. Die bespreking word in Frans gehou. Hoewel ons nie die taal praat nie, is dit duidelik aan die manier waarop die buitelandse sendelinge hulle uitdruk dat hulle die taal baie goed onder die knie kry.

Ná die skriftuurlike bespreking word daar ’n hartgrondige gebed gedoen, en dan is dit tyd vir ontbyt. Terwyl ons ’n goeie porsie ontbytgraan inskep, sê die sendeling langs ons dat ons ’n piesang moet opsny en daaroor moet gooi. Ons verduidelik dat ons nie juis van piesangs hou nie, maar hy belowe dat ons van mening sal verander as ons eers die piesangs geproe het wat plaaslik groei. Ons sit toe maar ’n bietjie piesang by ons ontbytgraan. Hy was reg! Hierdie piesangs is heerlik—so soet soos roomys! En ons word verseker dat die Franse brood wat bedien word, vroeg vanoggend gebak is in ’n klein winkeltjie net oorkant die straat van die sendinghuis.

Ná ontbyt sal ons die dag saam met ’n sendelingegpaar deurbring, wat ons Ben en Karen sal noem. Ons het gehoor van die produktiewe gebied in hierdie Wes-Afrikaland, en ons is gretig om die berigte te bevestig.

Wanneer ons by die bushalte opdaag, vind ons ’n stuk of twaalf mense wat staan en wag. Kort voor lank is ons sendelingmetgeselle besig om ’n lewendige gesprek met ’n vrou en haar seun oor ’n Bybelonderwerp te voer. Omdat ons nie Frans verstaan nie, kan ons maar net daar staan en glimlag! Net toe die vrou Die Wagtoring en Ontwaak! neem, daag die bus op, en almal probeer gelyk inklim! Terwyl ons vinnig probeer inklim, stoot die malende massa ons van agter af. Dit is ’n uitdaging om ons ewewig te behou terwyl ons tot agter in die bus probeer kom. Toe die bestuurder wegtrek, moet ons klou vir ons lewe. Van tyd tot tyd kom die bus slingerend tot stilstand, en selfs meer mense word ingedruk. Ons glimlag vir ons medepassasiers, en hulle glimlag terug. Hoe wens ons tog ons kon met hulle kommunikeer!

Terwyl ons in die bus ry, kyk ons deur die venster na die bedrywighede op straat. Twee vroue loop langs mekaar met swaar vragte op hulle kop. Een van hulle balanseer ’n groot emmer water. ’n Man met ondernemingsgees het ’n kombers op die sypaadjie oopgegooi en ’n klompie snuisterye daarop uitgestal, wat hy hoop om te verkoop. Oral is daar mense wat enigiets onder die son koop of verkoop.

Skielik word Ben, wat langs my staan, bewus van iets wat hom aan die been pik. Wat kan dit wees? Die bus is stampvol, maar dit gebeur weer. Hy kry dit reg om af te kyk. In ’n sak by sy voete is ’n lewendige eend wat elke nou en dan sy kop by die sak uitsteek en hom pik! Ben verduidelik dat die eend se eienaar hom waarskynlik mark toe vat om te verkoop.

Wanneer ons ons gebied bereik, is ons bly om te hoor dat ons ’n tipiese buurt in Afrika gaan besoek. Toe ons die eerste huis nader, klap Ben sy hande vinnig en hard om die huisbewoner se aandag te trek. Dit is hoe mense in hierdie deel van die wêreld “aan die deur klop”. ’n Jong man kom uit en sê dat hy besig is, maar vra of ons later in die oggend kan terugkom.

By die volgende deur ontmoet ons ’n vrou wat ’n dialek praat wat Ben nie verstaan nie. Sy roep haar seun en vra hom om te vertaal wat Ben sê. Wanneer Ben klaar is, neem die vrou ’n brosjure oor Bybelonderwerpe by hom, en haar seun belowe om dit vir haar te verduidelik. By die derde huis is daar ’n paar jongmense wat voor in die erf sit. Twee van hulle staan vinnig uit hulle stoele op sodat die besoekers daar kan sit. Daarna volg ’n lewendige bespreking oor die gebruik van die kruis in aanbidding. Reëlings word getref om die bespreking die volgende week voort te sit. Dit is nou tyd om terug te gaan na die besige jong man wat ons by die eerste huis ontmoet het. Op die een of ander manier het hy reeds gehoor van ons bespreking met die jongmense onder in die straat. Hy het baie Bybelvrae en vra of ons met hom ’n Bybelstudie sal hou. Nadat Ben in sy dagboek gekyk het, stem hy in om die volgende week op dieselfde tyd terug te keer. Op pad terug na die sendinghuis vir middagete verduidelik Ben en Karen dat hulle hulle Bybelstudies mooi moet beplan omdat hulle maklik meer Bybelstudies kan begin as wat hulle kan hou.

Ons prys hulle omdat hulle Frans so vlot kan praat. Ben verduidelik dat hy en Karen al ses jaar as sendelinge dien en dat hulle met die Franse taal op hulle gemak begin voel. Dit was nie maklik om ’n nuwe taal te leer nie, verseker hulle ons, maar volharding het vrugte afgewerp.

Om 12:30 nm. kom al die sendelinge om die tafel bymekaar vir middagete. Ons hoor dat dit elke dag ’n ander sendeling se beurt is om die oggend- en middagete voor te berei en daarna die skottelgoed te was. Vandag het een van die sendelinge ’n heerlike gereg voorberei van gebraaide hoender en gebraaide aartappelskyfies, saam met ’n tamatieslaai—haar spesialiteit!

Wat is Ben en Karen se planne vir die middag? Hulle verduidelik dat die hele land tussen 1:00 nm. en 3:00 nm. uit die son bly, en daarom gebruik sendelinge gewoonlik van daardie tyd om te studeer of vir ’n siësta. Ons is nie verbaas toe Karen ons vertel dat dit nuwe sendelinge nie lank neem om aan hierdie gebruik gewoond te raak nie!

Ná die siësta keer ons terug na die veldbediening. ’n Belangstellende man wat Ben al ’n ruk lank in die hande probeer kry, is weer nie tuis nie, maar twee jong mans kom na die deur toe Ben sy hande klap. Hulle sê vir ons dat die huisbewoner hulle van Ben se besoeke vertel het en hulle aangeraai het om die Bybelstudiehulp Kennis wat tot die ewige lewe lei te kry. Ons is bly om ’n eksemplaar van daardie boek by hulle te laat. Daarna haal ons ’n bus wat ons na ’n gebied sal neem waar Karen ’n Bybelstudie met ’n belangstellende vrou hou.

Terwyl ons deur die besige strate ry, vertel Karen ons dat sy die vrou eendag ontmoet het toe hulle albei in ’n taxi gery het saam met ’n hele paar ander passasiers. Karen het vir die vrou ’n traktaat gegee om gedurende die rit te lees. Die vrou het daardie traktaat gelees en toe vir ’n ander een gevra. Sy het daardie een met selfs groter belangstelling gelees. Aan die einde van die rit het Karen reëlings getref om die vrou by haar huis te besoek, en sy het ’n produktiewe Bybelstudie begin in die brosjure Wat vereis God van ons? Vandag gaan Karen die vyfde les in daardie brosjure behandel.

Ons het ons dag in die velddiens terdeë geniet, maar ons het nog ’n paar onbeantwoorde vrae oor die sendingwerk. Ons gasheer en -vrou verseker ons dat hulle vir ons ’n ligte maaltyd sal voorberei en ons vrae sal beantwoord wanneer ons tuiskom.

Hoe hou hulle die pas vol

Terwyl ons heerlik smul aan gebakte eiers, Franse brood en kaas, vind ons meer uit oor die sendinglewe. Maandag is oor die algemeen ’n dag wanneer sendelinge rus of na persoonlike sake omsien. Die meeste sendelinge gebruik van die tyd daardie dag om vir familie en vriende te skryf. Nuus van die huis af is vir hulle baie belangrik, en sendelinge geniet dit om pos te stuur en te ontvang.

Aangesien sendelinge ten nouste met mekaar saamleef en -werk, is dit noodsaaklik dat hulle goeie kommunikasie handhaaf deur met medesendelinge te assosieer en deur geestelike dinge te bespreek. Met dié doel studeer die sendelinge elke Maandagaand die Bybel deur middel van Die Wagtoring. Daarbenewens volg elkeen ook ’n gereelde rooster van persoonlik Bybelstudie. Ben wys daarop dat klein meningsverskille onvermydelik is wanneer sendelinge van verskillende agtergronde saamwoon, maar die geestelike voorsiening van die gesinstudie help hulle om ’n vreedsame, verenigde atmosfeer te behou. Hy beklemtoon ook dat dit nuttig is om jouself nie te ernstig op te neem nie.

Nederigheid is ook noodsaaklik. Sendelinge word uitgestuur om te dien, nie om gedien te word nie. Ons vriende sê dat die woorde “ek is jammer” een van die moeilikste dinge is om in enige taal te sê, veral as ’n mens verskoning maak vir iets wat jy onopsetlik gesê of gedoen het. Ben herinner ons aan die Bybelse voorbeeld van Abigail, wat verskoning gemaak het vir haar man se onbeskofte optrede en sodoende ’n potensieel rampspoedige situasie gered het (1 Samuel 25:23-28). Die vermoë “om vreedsaam te lewe”, is belangrik as ’n mens ’n goeie sendeling wil wees.—2 Korintiërs 13:11.

Een keer per maand hou die sendelinge ’n vergadering om sake te bespreek wat die gesin raak, asook om roosterveranderinge aan te bring. Daarna geniet hulle almal ’n spesiale nagereg. Dit klink vir ons na ’n baie praktiese—en smaaklike—reëling.

Ná aandete wys hulle ons vinnig rond in die sendinghuis. Ons merk op dat, hoewel die huis beskeie is, die sendelinge saamwerk om dit silwerskoon te hou. Daar is ’n yskas, ’n wasmasjien en ’n stoof. Karen vertel vir ons dat in tropiese lande, soos hierdie een in Wes-Afrika, daar ook lugversorging kan wees. Gerieflike huisvesting, voedsame kos en eenvoudige gesondheidsvoorsorgmaatreëls help sendelinge om gesond en besig te bly.

Spits jou toe op positiewe dinge

Ons is beïndruk met alles wat ons gesien het. Is sendingwerk dalk vir ons? Hoe sal ons weet? Ons gashere gee ons ’n paar dinge om oor na te dink.

Eerstens, sê hulle vir ons, is Christensendelinge nie op soek na avontuur nie. Hulle soek na opregtes van hart wat van God se wonderlike beloftes wil leer. Sendelinge wy ten minste 140 uur per maand aan die velddiens, daarom is ’n liefde vir die bediening onontbeerlik.

‘Maar wat van slange, akkedisse en goggas’, wonder ons. Hoewel hulle in baie sendingtoewysings gevind kan word, sê Ben vir ons dat sendelinge daaraan gewoond raak. Hy voeg by dat elke sendingtoewysing sy eie unieke prag het, en mettertyd spits sendelinge hulle toe op die positiewe aspekte van hulle toewysing. Toestande wat vroeër as “anders” beskou sou word, word gou algemeen, en in sommige gevalle selfs aangenaam. Een sendeling wat jare lank in Wes-Afrika gedien het voordat persoonlike verpligtinge haar gedwing het om terug te keer huis toe, het gesê dat dit vir haar moeiliker was om haar toewysing te verlaat as wat dit was toe sy jare gelede haar eie land moes verlaat. Haar sendingtoewysing het haar tuiste geword.

Is jy gereed?

Ben en Karen het ons baie gegee om oor na te dink. Wat van jou? Het jy al ooit daaraan gedink om as ’n sendeling in die buiteland te gaan dien? Indien wel, is jy dalk nader aan daardie doelwit as wat jy gedink het. Een van die vernaamste vereistes is ’n liefde vir die voltydse bediening en dat jy dit moet geniet om mense te help. Onthou, sendelinge is nie superhelde nie, maar gewone mans en vroue. Hulle doen hulle bes om ’n baie belangrike werk te verrig.

[Prente op bladsy 27]

Elke dag begin met ’n bespreking van ’n Bybelteks

[Prente op bladsy 28, 29]

Tonele uit Afrika

[Prent op bladsy 29]

Die lewe as ’n sendeling kan baie sinvol wees