Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

In watter posisie was die draaghoute van die verbondsark, aangesien 1 Konings 8:8 sê dat dit uit die Heilige gesien kon word?

Toe Jehovah die ontwerp vir die tabernakel aan Moses in die wildernis gegee het, was die verbondsark ’n vername kenmerk. In hierdie reghoekige kis wat met goud oordek was, is die tafels van die Wet en ander items gesit. Dit is in die binneste vertrek, die Allerheiligste, gehou. Op die deksel van die Ark was daar twee goue figure van gerubs met uitgestrekte vlerke. Aan albei kante van die Ark was daar ringe sodat dit met twee draaghoute gedra kon word, wat van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek is. Dit is logies dat die draaghoute in die lengte van die Ark deur die ringe gesteek is. Wanneer die ark op sy plek in die Allerheiligste van die tabernakel gestaan het, waarvan die voorkant ooswaarts was, het die draaghoute dus noord-suid gelê. Dieselfde het later gegeld toe die Ark in die tempel gestaan het wat deur Salomo gebou is.—Exodus 25:10-22; 37:4-9; 40:17-21. a

’n Voorhangsel het die Allerheiligste van die Heilige (die buitenste vertrek) geskei. Priesters in die Heilige kon nie in die Allerheiligste inkyk en die Ark, waarbo God verskyn het, sien nie (Hebreërs 9:1-7). Daarom kan 1 Konings 8:8 verwarrend lyk: “Die draaghoute was so lank, dat die punte van die draaghoute uit die Heilige, vlak voor die binneste vertrek, gesien kon word, maar verder buitentoe was hulle nie sigbaar nie.” Dieselfde stelling word in 2 Kronieke 5:9 gemaak. Hoe kon enigiemand in die Heilige van die tempel die draaghoute sien?

Party dink dat die draaghoute aan die voorhangsel geraak het sodat die uitbultings gesien kon word. Maar dit sou nie die geval gewees het as die draaghoute in ’n noord-suidelike rigting, met die voorhangsel parallel met die draaghoute, gelê het nie (Numeri 3:38). Daar is ’n redeliker verduideliking. Die draaghoute kon sigbaar gewees het as daar ’n effense gaping tussen die voorhangsel en die muur van die tempel was of wanneer die hoëpriester in die Allerheiligste moes ingaan. Die voorhangsel het dit onmoontlik gemaak om die Ark self te sien, maar die draaghoute wat aan elke kant verby die ark gesteek het, kon moontlik deur die gaping gesien word. Hoewel dit ’n redelike verduideliking is, kan ons nie dogmaties daaroor wees nie.

Daar is ongetwyfeld baie besonderhede wat ons nog moet leer. Die apostel Paulus het ’n paar aspekte in sy brief aan die Hebreërs genoem. Toe het hy gesê: “Dit is nie nou die tyd om in besonderhede oor hierdie dinge te praat nie” (Hebreërs 9:5). Die komende opstanding van getroue knegte behoort interessante geleenthede te skep om te leer by manne soos Moses, Aäron, Besaleël en ander wat persoonlik vertroud was met die ontwerp en funksies van die tabernakel.—Exodus 36:1.

[Voetnoot]

a Die draaghoute moes nie uit die ringe gehaal word nie, selfs nie wanneer die Ark op sy plek in die tabernakel gestaan het nie. Gevolglik kon die draaghoute vir geen ander doel gebruik word nie. Ook sou dit dan nie nodig wees om aan die Ark te raak nie; as die draaghoute uit die ringe gehaal sou word, sou dit vereis het dat die heilige Ark, elke keer as dit vervoer is, hanteer moes word om weer die draaghoute in die ringe terug te sit. Die kommentaar in Numeri 4:6 dat die ‘draaghoute ingesteek moet word’, verwys moontlik na die feit dat die draaghoute weer in posisie gesit is sodat dit gereed kon wees om die swaar kis na ’n nuwe kamp te dra.