Wie sal ons skei van God se liefde?
Wie sal ons skei van God se liefde?
“Wat ons betref, ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het.”—1 JOHANNES 4:19.
1, 2. (a) Waarom is dit belangrik vir ons om te weet dat ander ons liefhet? (b) Wie se liefde het ons die nodigste?
HOE belangrik is dit vir jou om te weet dat ander jou liefhet? Mense floreer op liefde, van babas tot volwassenes. Het jy al ’n baba dopgehou wat liefdevol in sy moeder se arms vasgehou word? Ongeag wat om hom gebeur, terwyl hy in sy moeder se glimlaggende oë opkyk, is hy tevrede, doodgelukkig in die arms van ’n moeder wat hom liefhet. Of onthou jy hoe dit soms gedurende daardie moeilike puberteitsjare met jou gegaan het? (1 Tessalonisense 2:7). Jy het dalk by tye nie geweet wat jy wou hê of selfs hoe jy voel nie, maar hoe belangrik was dit tog om te weet dat jou pa en ma jou liefhet! Het dit nie gehelp om te weet dat jy met enige probleem of vraag na hulle toe kon gaan nie? Ja, deur ons hele lewe heen is een van ons grootste behoeftes dat ander ons moet liefhê. Sulke liefde bevestig dat ons iets werd is.
2 Die duursame liefde van ons ouers dra inderdaad by tot goeie ontwikkeling en balans. Maar die versekering dat ons hemelse Vader, Jehovah, ons liefhet, is van baie groter belang vir ons geestelike en emosionele welsyn. Party lesers van hierdie tydskrif het dalk nie ouers gehad wat werklik vir hulle omgegee het nie. As dit met jou die geval is, kan jy moed skep. Al het ouerliefde ontbreek of al was dit nie voldoende nie, kan God se lojale liefde daarvoor vergoed.
3. Hoe het Jehovah sy volk verseker van sy liefde vir hulle?
3 Deur sy profeet Jesaja het Jehovah daarop gewys dat ’n moeder haar suigling kan “vergeet”, maar dat hy nie sy volk sal vergeet nie (Jesaja 49:15). Dawid het eweneens vol vertroue gesê: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem” (Psalm 27:10, NW). Hoe gerusstellend tog! Wat jou omstandighede ook al is, as jy in ’n toegewyde verhouding met Jehovah God gekom het, moet jy altyd onthou dat sy liefde vir jou baie groter as dié van enige mens is!
Hou jou in God se liefde
4. Hoe is eerste-eeuse Christene van God se liefde verseker?
4 Wanneer het jy vir die eerste keer van Jehovah se liefde te wete gekom? Jou ondervinding was waarskynlik soortgelyk aan dié van Christene in die eerste eeu. Die 5de hoofstuk van Paulus se brief aan die Romeine gee ’n mooi beskrywing van hoe sondaars, wat voorheen van God vervreemd was, Jehovah se liefde leer ken het. Ons lees in vers 5: “Die liefde van God [is] in ons harte uitgestort . . . deur middel van die heilige gees, wat aan ons gegee is.” In vers 8 sê Paulus verder: “God beveel sy eie liefde by ons aan daarin dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was.”
5. Hoe het jy besef hoe groot God se liefde is?
5 Toe jy die waarheid van God se Woord gehoor en geloof begin beoefen het, het Jehovah se heilige gees eweneens in jou hart begin werk. So het jy die omvang begin besef van wat Jehovah gedoen het deur sy geliefde Seun te stuur om vir jou te sterf. Jehovah het jou sodoende gehelp om te sien presies hoe groot sy liefde vir die mensdom is. Het dit nie jou hart geroer toe jy besef het dat Jehovah die weg gebaan het vir mense om regverdig verklaar te word met die vooruitsig op eindelose lewe, al is ons almal gebore as sondaars wat van hom vervreemd is nie? Het jy nie liefde in jou hart vir Jehovah gevoel nie?—Romeine 5:10.
6. Waarom voel ons dalk soms ietwat verwyderd van Jehovah?
6 Nadat jy deur die liefde van jou hemelse Vader aangetrek is en jy jou lewe verander het om vir hom aanneemlik te wees, het jy jou lewe aan God toegewy. Jy geniet nou vrede met God. Maar voel jy soms ietwat verwyderd van Jehovah? Dit kan met enigeen van ons gebeur. Ons moet egter altyd onthou dat God nie verander nie. Sy liefde is so onveranderlik en bestendig soos die son, wat nooit ophou om warm ligstrale na die aarde uit te straal nie (Maleagi 3:6; Jakobus 1:17). Daarenteen kan ons verander—al is dit net tydelik. Wanneer die aarde draai, is die helfte van die planeet in donkerte gehul. As ons ons van God afkeer, voel ons dalk ook dat ons verhouding met hom verkoel, al is dit net in geringe mate. Wat kan ons doen om hierdie situasie reg te stel?
7. Hoe kan selfondersoek ons help om in God se liefde te bly?
7 As ons voel dat ons enigsins van God se liefde geskei is, moet ons ons afvra: ‘Neem ek God se liefde as vanselfsprekend aan? Het ek my geleidelik van die lewende en liefdevolle God afgekeer, en toon ek in verskeie opsigte dat my geloof verswak het? Het ek my verstand op “die dinge van die vlees” gerig in plaas van op “die dinge van die gees”?’ (Romeine 8:5-8; Hebreërs 3:12). As ons ons van Jehovah teruggetrek het, kan ons stappe neem om sake reg te stel, om weer ’n intieme, hartlike verhouding met hom op te bou. Jakobus spoor ons aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Neem die woorde van Judas ter harte: “Julle, geliefdes, moet julle, deur julle op julle allerheiligste geloof op te bou en met heilige gees te bid, in God se liefde hou.”—Judas 20, 21.
Veranderde omstandighede beïnvloed nie God se liefde nie
8. Watter veranderinge kan skielik in ons lewe plaasvind?
8 Ons lewe in hierdie stelsel van dinge is aan baie veranderinge onderhewig. Koning Salomo het opgemerk dat ‘tyd en onvoorsiene gebeurtenisse ons almal tref’ (Prediker 9:11, NW). Ons lewe kan oornag heeltemal verander. Die een dag is ons nog gesond, die volgende dag dalk ernstig siek. Die een dag lyk ons sekulêre werk nog bestendig, die volgende dag is ons werkloos. ’n Geliefde kan skielik sterf. Christene in ’n sekere land geniet dalk ’n lang tyd vreedsame toestande, en dan breek gewelddadige vervolging skielik uit. Miskien word ons vals beskuldig en gevolglik onregverdig behandel. Ja, die lewe is onbestendig en dikwels onseker.—Jakobus 4:13-15.
9. Waarom sal dit goed wees om ’n gedeelte van Romeine hoofstuk 8 te ondersoek?
9 Wanneer ons dinge oorkom wat hartseer veroorsaak, kan ons verstote begin voel en selfs dink dat God se liefde vir ons afgeneem het. Aangesien sulke dinge ons almal kan oorkom, sal dit goed wees as ons die uiters bemoedigende woorde van die apostel Paulus in Romeine hoofstuk 8 noukeurig ondersoek. Hierdie woorde is aan geesgesalfde Christene gerig. Maar in beginsel is dit ook van toepassing op lede van die ander skape, wat regverdig verklaar is as God se vriende, soos Abraham in voor-Christelike tye.—Romeine 4:20-22; Jakobus 2:21-23.
10, 11. (a) Watter aantygings maak vyande soms teen God se volk? (b) Waarom maak sulke aantygings nie werklik saak vir Christene nie?
10 Lees Romeine 8:31-34. Paulus vra: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees?” Dit is wel so dat Satan en sy goddelose wêreld teen ons is. Vyande beskuldig ons dalk valslik, selfs in die howe van die land. Party Christenouers is al daarvan beskuldig dat hulle hulle kinders haat omdat hulle nie toelaat dat hulle mediese behandeling kry wat God se wet skend of dat hulle aan heidense vierings deelneem nie (Handelinge 15:28, 29; 2 Korintiërs 6:14-16). Ander getroue Christene is vals beskuldig van sedisie omdat hulle weier om hulle medemens in oorloë dood te maak of om aan die politiek deel te neem (Johannes 17:16). Party teenstanders het lasterlike leuens in die media versprei en selfs die valse aantyging gemaak dat Jehovah se Getuies ’n gevaarlike kultus is.
11 Maar moenie vergeet nie dat daar in die apostels se tyd gesê is: ‘Wat hierdie sekte betref, dit is aan ons bekend dat daar oral daarteen gespreek word’ (Handelinge 28:22). Maak valse aantygings werklik saak? Dit is immers God wat ware Christene regverdig verklaar op grond van hulle geloof in Christus se offerande. Waarom sou Jehovah ophou om sy aanbidders lief te hê nadat hy hulle die kosbaarste gawe gegee het—sy eie geliefde Seun? (1 Johannes 4:10). Noudat Christus uit die dood opgewek en aan die regterhand van God geplaas is, doen hy daadwerklik voorspraak vir Christene. Wie kan met reg Christus se verdediging van sy volgelinge teëgaan of God se gunstige oordeel van sy getroue knegte met welslae betwis? Niemand nie!—Jesaja 50:8, 9; Hebreërs 4:15, 16.
12, 13. (a) Watter toestande of omstandighede kan ons nie van God se liefde skei nie? (b) Met watter oogmerk veroorsaak die Duiwel vir ons moeilike toestande? (c) Waarom tree Christene as algehele oorwinnaars uit die stryd?
12 Lees Romeine 8:35-37. Is daar enigiets of enigiemand, behalwe onsself, wat ons van die liefde van Jehovah en sy Seun, Christus Jesus, kan skei? Satan kan sy aardse agente gebruik om baie probleme vir Christene te veroorsaak. Gedurende die afgelope eeu was baie van ons Christenbroers en -susters in talle lande die skyf van gewelddadige vervolging. Op party plekke ondervind ons broers daagliks ekonomiese ontberinge. Party ly honger of het nie genoeg klere nie. Met watter oogmerk veroorsaak die Duiwel sulke moeilike toestande? Ten minste een van sy doelwitte is om mense te ontmoedig om ware aanbidding van Jehovah te beoefen. Satan wil ons laat glo dat God se liefde verkoel het. Maar is dit die geval?
13 Soos Paulus, wat Psalm 44:23 aangehaal het, het ons God se geskrewe Woord bestudeer. Ons verstaan dat dit ter wille van God se naam is dat hierdie dinge met ons, sy “skape”, gebeur. Die heiliging van God se naam en die regverdiging van sy universele soewereiniteit is hierby betrokke. Dit is weens sulke belangrike geskille dat God beproewinge toelaat, nie omdat hy ons nie meer liefhet nie. Ongeag wat die beproewende omstandighede mag wees, ons is seker daarvan dat God se liefde vir sy volk, wat elkeen van ons insluit, nie verander het nie. Enige oënskynlike nederlaag wat ons ly, sal op die ou end ’n oorwinning wees as ons ons onkreukbaarheid handhaaf. Ons word versterk en onderskraag deur die sekerheid van God se onvernietigbare liefde.
14. Waarom was Paulus oortuig van God se liefde ten spyte van die ontberinge wat Christene moontlik ly?
14 Lees Romeine 8:38, 39. Wat het Paulus daarvan oortuig dat niks Christene van God se liefde kon skei nie? Paulus se persoonlike ondervindinge in die bediening het ongetwyfeld sy oortuiging versterk dat ontberinge nie God se liefde vir ons kan beïnvloed nie (2 Korintiërs 11:23-27; Filippense 4:13). Ook het Paulus kennis van Jehovah se ewige voorneme en handelinge met Sy volk in die verlede gehad. Kan selfs die dood God se liefde vir diegene wat hom lojaal gedien het, oorwin? Beslis nie! Sulke getroue knegte wat sterf, sal in God se volmaakte geheue bly lewe, en hy sal hulle op sy bestemde tyd opwek.—Lukas 20:37, 38; 1 Korintiërs 15:22-26.
15, 16. Noem ’n paar dinge wat nooit God se liefde vir sy getroue knegte kan vernietig nie.
15 Watter rampspoed ons ook al vandag in die lewe mag tref—hetsy ’n ongeluk wat ons swak laat, ’n ongeneeslike siekte of ’n ekonomiese ramp—niks kan God se liefde vir sy knegte vernietig nie. Magtige engele, soos die ongehoorsame engel wat Satan geword het, kan Jehovah geensins beïnvloed om nie meer sy toegewyde knegte lief te hê nie (Job 2:3). Regerings kan God se knegte verban, in die tronk sit en mishandel en hulle as ongewenste persone bestempel (1 Korintiërs 4:13). Hierdie ongegronde haat van die nasies kan druk op mense plaas om teen ons te draai, maar dit beweeg nie die Soewerein van die heelal om ons te verwerp nie.
16 As Christene hoef ons nie te vrees dat enigiets wat Paulus “teenswoordige dinge” genoem het—die gebeure, toestande en situasies in hierdie huidige stelsel van dinge—of “toekomstige dinge” God se gehegtheid aan sy knegte kan verbreek nie. Hoewel aardse en hemelse magte teen ons oorlog voer, is God se lojale liefde daar om ons te onderskraag. Nie “hoogte of diepte” keer God se liefde nie, soos Paulus beklemtoon het. Ja, niks wat ons probeer aftakel en niks wat hoër gesag oor ons probeer uitoefen, kan ons van God se liefde skei nie; ook kan geen ander skepping die Skepper se verhouding met sy getroue knegte benadeel nie. God se liefde faal nooit nie; dit is ewigdurend.—1 Korintiërs 13:8.
Waardeer God se liefderyke goedhartigheid vir ewig
17. (a) Waarom is God se liefde ‘beter as die lewe’? (b) Hoe bewys ons dat ons God se liefderyke goedhartigheid waardeer?
17 Hoe belangrik is God se liefde vir jou? Voel jy soos Dawid, wat geskryf het: “Omdat u liefderyke goedhartigheid beter is as die lewe, sal my lippe u prys. So sal ek u gedurende my lewe loof; in u naam sal ek my palms ophef”? (Psalm 63:3, 4, NW). Is daar hoegenaamd enigiets wat die lewe in hierdie wêreld ons kan bied wat beter is as om God se liefde en lojale vriendskap te hê? Is dit byvoorbeeld beter om ’n winsgewende sekulêre loopbaan na te jaag as om die gemoedsrus en geluk te geniet wat die gevolg is van ’n hegte verhouding met God? (Lukas 12:15). Party Christene is die keuse gegee om Jehovah te verloën of te sterf. Dit het gedurende die Tweede Wêreldoorlog met baie Getuies van Jehovah in Nazi-konsentrasiekampe gebeur. Met baie min uitsonderings het ons Christenbroers gekies om in God se liefde te bly, en hulle was bereid om te sterf indien nodig. Diegene wat lojaal in sy liefde bly, kan seker wees dat God hulle ’n ewige toekoms sal gee, iets wat die wêreld ons nie kan gee nie (Markus 8:34-36). Maar dit is nie net ewige lewe wat hierby betrokke is nie.
18. Waarom is ewige lewe so begeerlik?
18 Dit is nie moontlik om vir ewig sonder Jehovah te lewe nie, maar probeer jou voorstel hoe ’n baie lang lewe sonder ons Skepper sou wees. Dit sou leeg, sinloos, wees. Jehovah het sy volk bevredigende werk gegee om in hierdie laaste dae te doen. Ons kan dus die vertroue hê dat die lewe vol fassinerende, nuttige dinge sal wees wat ons kan leer en doen wanneer Jehovah, die Groot Voornemer, ewige lewe aan mense gee (Prediker 3:11). Al ontdek ons hoeveel nuwe dinge in die millenniums wat voorlê, ons sal nooit “die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis” volkome kan begryp nie.—Romeine 11:33.
Die Vader het geneentheid vir julle
19. Watter versekering het Jesus Christus in sy afskeidswoorde vir sy dissipels gegee?
19 Op 14 Nisan 33 G.J., gedurende Jesus se laaste aand saam met sy 11 getroue apostels, het hy baie dinge gesê om hulle te versterk vir wat voorgelê het. Hulle het almal by Jesus gebly deur sy beproewinge heen, en hulle het persoonlik sy liefde vir hulle ervaar (Lukas 22:28, 30; Johannes 1:16; 13:1). Toe het Jesus hulle verseker: “Die Vader self het geneentheid vir julle” (Johannes 16:27). Hoe moes hierdie woorde tog die dissipels gehelp het om te besef watter tere gevoelens hulle hemelse Vader vir hulle het!
20. Wat is jy vasbeslote om te doen, en waarin kan jy jou vertroue stel?
20 Baie wat vandag lewe, dien Jehovah nou al dekades lank getrou. Voor die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge sal ons ongetwyfeld nog voor baie beproewinge te staan kom. Moet nooit toelaat dat sulke beproewinge of moeilikhede jou laat twyfel aan God se lojale liefde vir jou nie. Hierdie feit kan eenvoudig nie oorbeklemtoon word nie: Jehovah het geneentheid vir jou (Jakobus 5:11). Laat elkeen van ons aanhou om ons deel te doen deur God se gebooie lojaal te onderhou (Johannes 15:8-10). Laat ons van elke geleentheid gebruik maak om sy naam te loof. Ons moet ons voorneme versterk om steeds nader aan Jehovah te kom deur middel van gebed en ’n studie van sy Woord. Ongeag wat die toekoms inhou, as ons ons uiterste bes doen om Jehovah te behaag, sal ons gemoedsrus geniet, met volle vertroue in sy onfeilbare liefde.—2 Petrus 3:14.
Hoe sal jy antwoord?
• Wie se liefde het ons veral nodig om ons geestelike en emosionele balans te behou?
• Watter dinge kan nooit veroorsaak dat Jehovah ophou om sy knegte lief te hê nie?
• Waarom is Jehovah se liefde ‘beter as die lewe’?
[Studievrae]
[Prente op bladsy 13]
As ons voel dat ons van God se liefde geskei is, kan ons sake probeer regstel
[Prent op bladsy 15]
Paulus het verstaan waarom hy vervolg is