Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Beklee julle met lankmoedigheid’

‘Beklee julle met lankmoedigheid’

‘Beklee julle met lankmoedigheid’

“Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye . . . en lankmoedigheid.”—KOLOSSENSE 3:12.

1. Noem ’n goeie voorbeeld van lankmoedigheid.

 RÉGIS, wat in die suidwestelike deel van Frankryk woon, het in 1952 ’n gedoopte Getuie van Jehovah geword. Sy vrou het jare lank alles in haar vermoë gedoen om sy pogings om Jehovah te dien, in die wiele te ry. Sy het die lug uit sy motor se bande probeer laat om te keer dat hy vergaderinge bywoon, en by een geleentheid het sy hom selfs gevolg toe hy die Bybelboodskap van huis tot huis verkondig het en hom bespot terwyl hy met huisbewoners oor die goeie nuus van die Koninkryk gepraat het. Ten spyte van hierdie volgehoue teenstand het Régis lankmoedig gebly. Régis is dus ’n goeie voorbeeld vir alle Christene, aangesien Jehovah van al sy aanbidders vereis dat hulle lankmoedig in hulle handelinge met ander moet wees.

2. Wat is die letterlike betekenis van die Griekse woord vir “lankmoedigheid”, en wat sluit die woord in?

2 Die Griekse woord vir “lankmoedigheid” beteken letterlik “lankheid van gees”. Die Nuwe Wêreld-vertaling vertaal hierdie woord tien keer met “lankmoedig(heid)”, drie keer met “geduld” en een keer met “beoefening van geduld”. Die Hebreeuse sowel as die Griekse uitdrukkings wat met “lankmoedigheid” vertaal word, sluit die gedagte in van geduld, verdraagsaamheid en om nie gou toornig te word nie.

3. Hoe het die Christelike beskouing van lankmoedigheid van dié van eerste-eeuse Grieke verskil?

3 Die Grieke van die eerste eeu het lankmoedigheid nie as ’n deug beskou nie. Die woord self is nooit deur die Stoïsynse filosowe gebruik nie. Volgens die Bybelgeleerde William Barclay is lankmoedigheid “presies die teenoorgestelde van Griekse deug”, wat onder andere geroem het op “die weiering om enige belediging of onreg te verdra”. Hy sê: “Vir die Griek was die ware man die een wat daarop uit was om wraak te neem. Vir die Christen is die ware man die een wat, selfs wanneer hy kan, weier om dit te doen.” Die Grieke het dalk lankmoedigheid as ’n teken van swakheid beskou, maar hier, soos in ander gevalle, is ‘iets dwaas van God wyser as die mense, en iets swaks van God sterker as die mense’.—1 Korintiërs 1:25.

Christus se voorbeeld van lankmoedigheid

4, 5. Watter wonderlike voorbeeld van lankmoedigheid het Jesus gestel?

4 Naas Jehovah stel Christus Jesus ’n goeie voorbeeld van lankmoedigheid. Toe Jesus onder groot druk verkeer het, het hy verbasende beheerstheid geopenbaar. Van hom is daar geprofeteer: “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.”—Jesaja 53:7.

5 Watter merkwaardige lankmoedigheid het Jesus tog regdeur sy bediening op aarde aan die dag gelê! Hy het die slinkse vrae van sy vyande en die beledigings van teenstanders verduur (Matteus 22:15-46; 1 Petrus 2:23). Hy was geduldig met sy dissipels, selfs toe hulle herhaaldelik geargumenteer het oor wie die grootste is (Markus 9:33-37; 10:35-45; Lukas 22:24-27). En watter bewonderenswaardige beheerstheid het Jesus tog geopenbaar die aand toe hy verraai is en Petrus en Johannes aan die slaap geraak het nadat hy vir hulle gesê het om ‘aan te hou waak’!—Matteus 26:36-41.

6. Hoe het Paulus by Jesus se lankmoedigheid baat gevind, en wat leer ons hieruit?

6 Ná sy dood en opstanding het Jesus voortgegaan om lankmoedig te wees. Die apostel Paulus was veral hiervan bewus, aangesien hy voorheen ’n vervolger van Christene was. Paulus het geskryf: “Betroubaar en werd om ten volle aangeneem te word, is die woord dat Christus Jesus in die wêreld ingekom het om sondaars te red. Van hulle is ek die vernaamste. Nietemin was die rede waarom barmhartigheid aan my bewys is, dat Christus Jesus deur middel van my as die vernaamste geval al sy lankmoedigheid kon toon as ’n voorbeeld vir dié wat hulle geloof op hom gaan grond tot die ewige lewe” (1 Timoteus 1:15, 16). Wat ons verlede ook al is, as ons geloof in Jesus stel, sal hy lankmoedig met ons wees—terwyl hy natuurlik van ons verwag om “werke te doen wat by berou pas” (Handelinge 26:20; Romeine 2:4). Die boodskappe wat Christus aan die sewe gemeentes in Klein-Asië gestuur het, toon dat hy vordering verwag, al is hy lankmoedig.—Openbaring, hoofstukke 2 en 3.

’n Vrug van die gees

7. Wat is die verband tussen lankmoedigheid en heilige gees?

7 In die 5de hoofstuk van sy brief aan die Galasiërs stel Paulus die werke van die vlees teenoor die vrugte van die gees (Galasiërs 5:19-23). Aangesien lankmoedigheid een van Jehovah se eienskappe is, het hierdie eienskap sy oorsprong by hom en is dit ’n vrug van sy gees (Exodus 34:6, 7). Trouens, lankmoedigheid word vierde genoem in Paulus se beskrywing van die vrugte van die gees, tesame met “liefde, vreugde, vrede, . . . goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22, 23). Wanneer God se knegte godvrugtige geduld, of lankmoedigheid, openbaar, doen hulle dit dus onder die invloed van die heilige gees.

8. Wat sal ons in staat stel om die vrugte van die gees, waaronder lankmoedigheid, aan te kweek?

8 Dit beteken egter nie dat Jehovah sy gees op iemand afdwing nie. Ons moet ons gewillig aan die invloed daarvan onderwerp (2 Korintiërs 3:17; Efesiërs 4:30). Ons laat die gees op ons lewe inwerk as ons die vrugte daarvan aankweek in alles wat ons doen. Nadat Paulus die werke van die vlees en die vrugte van die gees opgenoem het, het hy bygevoeg: “As ons deur gees lewe, laat ons dan voortgaan om ook deur gees ordelik te wandel. Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai; want hy wat met die oog op sy vlees saai, sal verderwing uit sy vlees maai, maar hy wat met die oog op die gees saai, sal ewige lewe uit die gees maai” (Galasiërs 5:25; 6:7, 8). As ons daarin wil slaag om lankmoedigheid aan te kweek, moet ons ook die res van die vrugte aankweek wat deur die heilige gees in Christene voortgebring word.

“Die liefde is lankmoedig”

9. Waarom het Paulus moontlik vir die Korintiërs gesê dat ‘die liefde lankmoedig is’?

9 Paulus het getoon dat daar ’n spesiale verwantskap tussen liefde en lankmoedigheid bestaan toe hy gesê het: “Die liefde is lankmoedig” (1 Korintiërs 13:4). Een Bybelgeleerde, Albert Barnes, voer aan dat Paulus die aandag hierop gevestig het as gevolg van die twis en onenigheid wat daar in die Christengemeente in Korinte was (1 Korintiërs 1:11, 12). Barnes sê: “Die woord wat hier gebruik word, is die teenoorgestelde van haas: van driftige woorde en denke sowel as van geïrriteerdheid. Dit verwys na die geestestoestand wat LANK kan VERDRA wanneer dit verdruk, vertoorn word.” Liefde en lankmoedigheid dra nog steeds grootliks by tot die vrede van die Christengemeente.

10. (a) Hoe help liefde ons om lankmoedig te wees, en watter raad gee die apostel Paulus in hierdie verband? (b) Watter kommentaar het ’n Bybelgeleerde oor God se lankmoedigheid en goedhartigheid gelewer? (Sien voetnoot.)

10 “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde . . . soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie.” Daarom help liefde ons in baie opsigte om lankmoedig te wees (1 Korintiërs 13:4, 5). a Liefde stel ons in staat om mekaar geduldig te verdra en te onthou dat ons almal onvolmaak is en foute en tekortkominge het. Dit help ons om bedagsaam en vergewensgesind te wees. Die apostel Paulus moedig ons aan om te wandel “met algehele ootmoed en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ywerig daarna streef om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar”.—Efesiërs 4:1-3.

11. Waarom is dit veral in Christengemeenskappe belangrik om lankmoedig te wees?

11 Die lankmoedigheid van lede van Christengemeenskappe, hetsy gemeentes, Bethelhuise, sendinghuise, bouspanne of skole, dra by tot hulle vrede en geluk. Weens verskille wanneer dit kom by persoonlikhede, smaak, opvoeding, standaarde van hoflikheid, selfs higiëne, kan moeilike situasies van tyd tot tyd ontstaan. Dit geld ook vir gesinne. Dit is noodsaaklik om nie gou toornig te word nie (Spreuke 14:29; 15:18; 19:11). Lankmoedigheid—om dinge geduldig te verdra in die hoop dat dit sal verbeter—is ’n eienskap wat almal moet aankweek.—Romeine 15:1-6.

Lankmoedigheid help ons om te volhard

12. Waarom is lankmoedigheid belangrik in moeilike omstandighede?

12 Lankmoedigheid help ons om te volhard in moeilike situasies wat lyk of dit nooit gaan eindig nie of waarvoor daar skynbaar geen maklike oplossing is nie. Dit was die geval met Régis, wat aan die begin gemeld is. Sy vrou het jare lank sy pogings teëgestaan om Jehovah te dien. Maar eendag het sy in trane na hom toe gekom en gesê: “Ek weet dis die waarheid. Help my. Ek wil graag ’n Bybelstudie hê.” Sy is uiteindelik as ’n Getuie gedoop. Régis sê: “Dit bewys dat Jehovah al daardie jare se gesukkel, geduld en volharding geseën het.” Sy lankmoedigheid is beloon.

13. Wat het Paulus in staat gestel om te volhard, en hoe kan sy voorbeeld ons help om te volhard?

13 Die apostel Paulus was ’n goeie voorbeeld van lankmoedigheid in die eerste eeu G.J. (2 Korintiërs 6:3-10; 1 Timoteus 1:16). Na aan die einde van sy lewe, toe hy aan sy jonger metgesel Timoteus raad gegee het, het Paulus hom gewaarsku dat alle Christene voor beproewinge te staan sou kom. Paulus het sy eie voorbeeld aangehaal en basiese Christelike eienskappe aanbeveel wat nodig is vir volharding. Hy het geskryf: “Jy het my leer nougeset gevolg, my lewenswandel, my voorneme, my geloof, my lankmoedigheid, my liefde, my volharding, my vervolginge, my lyding, die soort dinge wat my oorgekom het in Antiogië, in Ikonium, in Listra, die soort vervolginge wat ek verdra het; en tog het die Here my uit hulle almal verlos. Trouens, almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:10-12; Handelinge 13:49-51; 14:19-22). Ons almal het geloof, liefde en lankmoedigheid nodig om te volhard.

Met lankmoedigheid beklee

14. Waarmee het Paulus godvrugtige eienskappe soos lankmoedigheid vergelyk, en watter raad het hy aan Christene in Kolosse gegee?

14 Die apostel Paulus het lankmoedigheid en ander godvrugtige eienskappe vergelyk met kledingstukke waarmee die Christen hom moet beklee nadat hy ontslae geraak het van gewoontes wat kenmerkend is van “die ou persoonlikheid” (Kolossense 3:5-10). Hy het geskryf: “Beklee julle . . . , as God se uitverkorenes, heilig en gelief, met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kolossense 3:12-14.

15. Wat is die gevolg wanneer Christene hulle met lankmoedigheid en ander godvrugtige eienskappe “beklee”?

15 Wanneer lede van ’n gemeente hulle met medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid, lankmoedigheid en liefde “beklee”, kan hulle probleme oplos en verenig in Jehovah se diens voortgaan. Christenopsieners in die besonder moet lankmoedig wees. Daar is dalk tye wanneer hulle ’n ander Christen moet teregwys, maar daar is verskillende maniere om dit te doen. Paulus het die beste gesindheid beskryf toe hy aan Timoteus geskryf het: “Wys tereg, berispe, vermaan, met alle lankmoedigheid en onderrigkuns” (2 Timoteus 4:2). Ja, Jehovah se skape moet altyd met lankmoedigheid, waardigheid en teerheid behandel word.—Matteus 7:12; 11:28; Handelinge 20:28, 29; Romeine 12:10.

“Wees lankmoedig teenoor almal”

16. Wat kan die gevolg wees as ons “lankmoedig teenoor almal” is?

16 Jehovah se lankmoedigheid teenoor die mensdom stel ons onder ’n sedelike verpligting om “lankmoedig teenoor almal” te wees (1 Tessalonisense 5:14). Dit beteken om geduldig te wees met gesinslede, bure, werksmaats en klasmaats wat nie Getuies is nie. Baie vooroordele is al oorkom deur Getuies wat, soms jare lank, sarkastiese aanmerkings of openlike teenstand verduur het van mense met wie hulle by die werk of skool geassosieer het (Kolossense 4:5, 6). Die apostel Petrus het geskryf: “Handhaaf voortreflike gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle spreek as boosdoeners, as gevolg van julle voortreflike werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik.”—1 Petrus 2:12.

17. Hoe kan ons Jehovah se liefde en lankmoedigheid navolg, en waarom moet ons dit doen?

17 Jehovah se lankmoedigheid sal redding vir miljoene beteken (2 Petrus 3:9, 15). As ons Jehovah se liefde en lankmoedigheid navolg, sal ons geduldig voortgaan om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en ander te leer om hulle aan Christus se Koninkryksheerskappy te onderwerp (Matteus 28:18-20; Markus 13:10). As ons sou ophou met die predikingswerk, sou dit wees asof ons Jehovah se lankmoedigheid wil beperk en nie die doel daarvan besef nie, naamlik om mense tot berou te bring.—Romeine 2:4.

18. Wat het Paulus ten behoewe van die Kolossense gebid?

18 In sy brief aan Christene in Kolosse, Klein-Asië, het Paulus geskryf: “Dit is ook waarom ons, van die dag af dat ons daarvan gehoor het, nie opgehou het om vir julle te bid nie en te vra dat julle in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van sy wil, sodat julle kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag terwyl julle voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk en toe te neem in die juiste kennis van God en om na die mate van sy heerlike mag kragtig gemaak te word met alle krag om ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde.”—Kolossense 1:9-11.

19, 20. (a) Wat sal ons help om nie Jehovah se voortdurende lankmoedigheid as ’n toets te beskou nie? (b) Watter voordele sal ons verkry as ons lankmoedig is?

19 Jehovah se voortdurende lankmoedigheid, of geduld, sal nie vir ons ’n toets wees as ons ‘vervul is met die juiste kennis van sy wil’ nie, wat is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Ons sal “voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk”, veral in die verkondiging van “hierdie goeie nuus van die koninkryk” (Matteus 24:14). As ons getrou voortgaan om dit te doen, sal Jehovah ons ‘kragtig maak met alle krag’, wat ons in staat stel “om ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde”. Sodoende sal ons “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is”, en ons sal die vrede hê wat voortspruit uit die wete dat ons ‘hom ten volle behaag’.

20 Laat ons volkome oortuig wees van die wysheid van Jehovah se lankmoedigheid. Dit bewerk ons redding sowel as die redding van diegene wat na ons boodskap en onderrigting luister (1 Timoteus 4:16). As ons die vrugte van die gees aankweek—liefde, goedhartigheid, goedheid, sagmoedigheid en selfbeheersing—sal dit ons in staat stel om lankmoedig te wees met vreugde. Ons sal makliker in vrede met ons gesinslede sowel as ons broers en susters in die gemeente kan saamleef. Lankmoedigheid sal ons ook help om geduldig met ons werksmaats of skoolmaats te wees. En ons lankmoedigheid sal ’n doel hê—om oortreders te red en die God van lankmoedigheid, Jehovah, te verheerlik.

[Voetnoot]

a In ’n kommentaar oor Paulus se woorde dat ‘die liefde lankmoedig en goedhartig is’, skryf die Bybelgeleerde Gordon D. Fee: “In Pauliniese teologie verteenwoordig dit [lankmoedigheid en goedhartigheid] die twee fasette van God se gesindheid teenoor die mensdom (vgl. Rom. 2:4). Aan die een kant word God se liefdevolle verdraagsaamheid bewys deurdat hy sy toorn ten opsigte van die mens se opstand in bedwang hou; aan die ander kant word sy goedhartigheid gesien in die duisende blyke van sy barmhartigheid. Daarom begin Paulus se beskrywing van liefde met hierdie tweevoudige beskrywing van God, wat deur Christus getoon het dat hy verdraagsaam en goedhartig is teenoor diegene wat Goddelike oordeel verdien.”

Kan jy verduidelik?

• In watter opsigte is Christus ’n wonderlike voorbeeld van lankmoedigheid?

• Wat sal ons help om lankmoedigheid aan te kweek?

• Hoe help lankmoedigheid gesinne, Christengemeenskappe en ouer manne?

• Hoe sal dit ons en ander tot voordeel strek as ons lankmoedig is?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Selfs toe Jesus onder groot druk was, was hy geduldig met sy dissipels

[Prent op bladsy 16]

Christenopsieners word aangespoor om ’n goeie voorbeeld van lankmoedigheid te stel in hulle handelinge met hulle broers

[Prent op bladsy 17]

As ons Jehovah se liefde en lankmoedigheid navolg, sal ons aanhou om die goeie nuus te verkondig

[Prent op bladsy 18]

Paulus het gebid dat Christene ‘lankmoedig met vreugde’ mag wees