Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beskerm jou gewete

Beskerm jou gewete

Beskerm jou gewete

DIE gedagte dat jy in ’n vliegtuig vlieg waarvan die rekenaar verkeerd geprogrammeer is, is skrikwekkend. Wat nog te sê as iemand met die vliegtuig se navigasiestelsel gepeuter het of opsetlik die data vervals het! Wel, in figuurlike sin is dit presies wat iemand met jou gewete probeer doen. Hy is daarop uit om jou sedelike navigasiestelsel te saboteer. Sy doel is om jou te laat afstuur op ’n botsing met God!—Job 2:2-5; Johannes 8:44.

Wie is hierdie bose saboteur? Die Bybel noem hom “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Hy is in die tuin van Eden in aksie gesien toe hy, deur van bedrieglike redenasie gebruik te maak, Eva oorreed het om te ignoreer wat sy geweet het reg was, en om teen God in opstand te kom (Genesis 3:1-6, 16-19). Sedertdien was Satan die meesterbrein agter die ontwikkeling van hele organisasies wat mense bedrieg om die mensdom as ’n geheel na vyandskap met God te lei. Die laakbaarste van hierdie organisasies is valse godsdiens.—2 Korintiërs 11:14, 15.

Valse godsdiens verderf die gewete

In die Bybelboek Openbaring word valse godsdiens gesien as ’n simboliese hoer wat Babilon die Grote genoem word. Haar leringe het die sedelikheidsgevoel van baie mense verdraai en veroorsaak dat hulle diegene met ander opvattings haat en selfs gewelddadig teenoor hulle optree. Trouens, volgens Openbaring hou God veral valse godsdiens verantwoordelik vir die bloed “van almal wat op die aarde doodgemaak is”, insluitende God se aanbidders.—Openbaring 17:1-6; 18:3, 24.

Jesus het sy dissipels gewaarsku oor die mate waarin valse godsdiens die sedelike kompas van sommige sou laat afwyk, toe hy gesê het: “Die uur kom wanneer elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy ’n heilige diens aan God bewys het.” Hoe sedelik verblind is sulke gewelddadige mense tog! Jesus het gesê: ‘Hulle het nie die Vader of vir my leer ken nie’ (Johannes 16:2, 3). Nie lank nadat Jesus hierdie woorde gesê het nie, is hy self vermoor in opdrag van sommige godsdiensleiers wat hulle misdaad met hulle gewete kon versoen (Johannes 11:47-50). Daarenteen het Jesus gesê dat sy ware volgelinge geïdentifiseer word deur die liefde wat hulle onder mekaar het. Maar hulle liefde strek selfs nog verder, want dit sluit selfs hulle vyande in.—Matteus 5:44-48; Johannes 13:35.

Nog ’n manier waarop valse godsdiens die gewete van baie saboteer, is deur enige sedelikheid, of gebrek daaraan, wat in die mode is, goed te keur. Die apostel Paulus het dit voorspel en gesê: “Daar sal ’n tydperk wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes sal hulle vir hulle leermeesters versamel sodat hulle ore gestreel kan word.”—2 Timoteus 4:3.

Deesdae streel godsdiensleiers mense se ore deur te sê dat seks buite die huwelik vir God aanvaarbaar kan wees. Ander vergoelik homoseksuele dade. Trouens, sommige geestelikes is self aktiewe homoseksuele. ’n Artikel in die Britse koerant The Times het gesê dat “dertien geestelikes wat openlik homoseksueel is”, in die Algemene Sinode van die Anglikaanse Kerk verkies is. Wanneer kerkleiers Bybelse sedelikheid verwerp en hulle kerke nie veel daaromtrent doen nie, watter standaarde moet hulle gemeentelede dan aanneem? Geen wonder dat miljoene mense geheel en al verward is nie.

Hoeveel beter is dit tog om gerig te word deur die sedelike en geestelike waarhede wat ons in die Bybel leer en wat soos bakens is! (Psalm 43:3; Johannes 17:17). Die Bybel leer byvoorbeeld dat nie hoereerders of egbrekers “God se koninkryk [sal] beërf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). Dit sê vir ons dat mans en vroue wat “die natuurlike gebruik van hulleself verander in een wat teen die natuur is”, in God se oë “onwelvoeglike dinge bedryf” (Romeine 1:26, 27, 32). Hierdie sedelike waarhede is nie die versinsels van onvolmaakte mense nie; dit is die geïnspireerde standaarde van God, wat hy nog nooit herroep het nie (Galasiërs 1:8; 2 Timoteus 3:16). Maar Satan het ander maniere om die gewete te saboteer.

Wees selektief wat vermaak betref

Dit is een ding om iemand te dwing om ’n slegte daad te pleeg, maar dit is iets heeltemal anders om hom sover te kry dat hy so ’n daad wil pleeg. Dit is die doelwit van “die heerser van die wêreld”, Satan. Om sy verdorwe denke af te druk op die verstand en hart van die dwase of niksvermoedendes—veral dié wat die kwesbaarste is, die jeug—gebruik hy dinge soos twyfelagtige lektuur, rolprente, musiek, rekenaarspeletjies en pornografiese webwerwe op die Internet.—Johannes 14:30; Efesiërs 2:2.

“Jongmense [in die Verenigde State] kyk elke jaar na ongeveer 10 000 gewelddade”, het ’n verslag in die tydskrif Pediatrics gesê, “en kinderprogramme is die gewelddadigste.” Die verslag het ook getoon dat “tieners elke jaar byna 15 000 tonele sien wat verwysings na seks, sinspelings daarop en grappe daaroor bevat”. Dit het gesê dat daar op televisie selfs gedurende spitstyd “meer as 8 seksuele voorvalle per uur is, meer as vier keer soveel as in 1976”. Dit verbaas ons nie dat die studie ook bevind het dat “vuil taal al hoe erger word” nie. Tog waarsku die Bybel en talryke wetenskaplike studies dat ’n dieet van sulke materiaal mense versleg. As jy God dus werklik wil behaag en jouself wil bevoordeel, moet jy ag slaan op Spreuke 4:23, wat sê: “Bewaak jou hart . . . , want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—Jesaja 48:17.

Baie van die gewilde musiek verderf ook die gewete. ’n Sanger wie se liedjies in ’n aantal Westerse lande gou boaan die treffersparade was, maak “’n punt daarvan om mense te skok”, waarsku ’n verslag in die Australiese koerant The Sunday Mail. Die artikel sê dat “sy liedjies dwelms, bloedskande en verkragting verheerlik” en dat hy “sing oor hoe hy sy vrou doodmaak en haar lyk in ’n meer gooi”. Ander lirieke wat genoem is, is te walglik om hier herhaal te word. Tog het sy musiek hom ’n luisterryke toekenning besorg. Sou jy graag skadelike gedagtes soos hierbo genoem word, in jou verstand en hart wou saai, selfs al word dit bolangs met musiek aantreklik gemaak? Hopelik nie, want diegene wat so optree, besoedel hulle gewete en skep uiteindelik in hulle ‘’n goddelose hart’, wat hulle in vyande van God verander.—Hebreërs 3:12; Matteus 12:33-35.

Wees dus verstandig wat jou keuse van vermaak betref. Die Bybel spoor ons aan: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”—Filippense 4:8.

Maats beïnvloed jou gewete

As kinders het Neil en Franz heilsame omgang met opregte Christene geniet. a Maar mettertyd, het Neil gesê, “het ek met die verkeerde klomp begin omgaan”. Tot sy groot spyt het dit op die ou end tot misdaad en tronkstraf gelei. Franz het ’n soortgelyke verhaal. “Ek het gedink dat ek tussen jongmense van die wêreld kon wees sonder om deur hulle beïnvloed te word”, het hy met spyt gesê. “Maar soos Galasiërs 6:7 sê: ‘God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai.’ Ek het deur bittere ondervinding uitgevind dat ek verkeerd was en dat Jehovah reg is. Ek moet lewenslange tronkstraf uitdien vir wat ek verkeerd gedoen het.”

Mense soos Neil en Franz raak gewoonlik nie oornag by misdaad betrokke nie; aanvanklik sou hulle dit nie eens oorweeg nie. Hulle is geneig om stapsgewys weg te dryf, en die eerste stap is dikwels slegte omgang (1 Korintiërs 15:33). Dwelm- of alkoholmisbruik kan volg. Trouens, die gewete is al gepas beskryf as dié “deel van die persoonlikheid wat oplosbaar is in alkohol”. Van daar af is dit net ’n treetjie na misdaad en onsedelikheid.

Waarom dan daardie eerste stap neem? Gaan eerder met wyse mense om wat God werklik liefhet. Hulle sal jou help om jou gewete te versterk sodat dit jou behoorlik sal rig en jou baie leed sal spaar (Spreuke 13:20). Hoewel Neil en Franz nog steeds opgesluit is, beskou hulle hulle gewete nou as ’n Goddelike gawe wat behoorlik opgelei en, ja, gekoester moet word. Daarbenewens werk hulle hard om ’n goeie verhouding met hulle God, Jehovah, op te bou. Wees wys en leer uit hulle foute.—Spreuke 22:3.

Beskerm jou gewete

Ons toon dat ons ons gewete wil beskerm wanneer ons liefde vir God aankweek en geloof in hom opbou, terwyl ons ’n heilsame vrees vir hom verkry (Spreuke 8:13; 1 Johannes 5:3). Die Bybel openbaar dat ’n gewete sonder hierdie invloede dikwels sedelike bestendigheid kortkom. Psalm 14:1 praat byvoorbeeld van diegene wat in hulle hart sê: “Daar is geen God nie.” Hoe raak hierdie gebrek aan geloof hulle gedrag? Die vers sê verder: “Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade.”

Mense sonder ware geloof in God het ook geen vaste hoop op ’n beter toekoms nie. Gevolglik is hulle geneig om vir die hede te lewe en aan hulle vleeslike begeertes toe te gee. Hulle filosofie is: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf” (1 Korintiërs 15:32). Aan die ander kant word diegene wie se oë op die ewige lewe as prys is, nie van koers af gelok deur die kortstondige genietinge van die wêreld nie. Soos ’n presiese navigasierekenaar hou hulle opgeleide gewete hulle op die weg van lojale gehoorsaamheid aan God.—Filippense 3:8.

Jou gewete het gereeld leiding van God se Woord nodig om sy krag en fyn instelling te behou. Die Bybel sê vir ons dat sulke leiding beskikbaar is wanneer dit in figuurlike taal sê: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21). Sit dus tyd opsy vir daaglikse Bybellees. Dit sal jou versterk en bemoedig wanneer jy sukkel om te doen wat reg is of wanneer die wolke van besorgdheid en kommer oor jou hang. Wees verseker dat Jehovah jou sedelik en geestelik sal rig as jy jou volle vertroue in hom stel. Ja, volg die psalmis na wat geskryf het: “Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.”—Psalm 16:8; 55:23.

[Voetnoot]

a Die name is verander.

[Prente op bladsy 5]

Valse godsdiens, wat in die Bybel as “Babilon die Grote” beskryf word, is verantwoordelik daarvoor dat baie se gewete afgestomp is

[Erkenning]

Priester seën troepe: U.S. Army photo

[Prente op bladsy 6]

As jy na geweld en onsedelikheid kyk, sal jou gewete benadeel word

[Prent op bladsy 7]

Gereelde leiding van God se Woord sal jou gewete beskerm