Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Dag van godsdiensverdraagsaamheid”

“Dag van godsdiensverdraagsaamheid”

“Dag van godsdiensverdraagsaamheid”

DIE hoof van ’n skool in Pole was so beïndruk deur ’n bespreking wat sy met Jehovah se Getuies gehad het dat sy ’n “Dag van godsdiensverdraagsaamheid” vir haar skool gereël het. Sy het gevra dat vrywilligers onder die leerlinge—Katolieke, Boeddhiste en Jehovah se Getuies—kort aanbiedings moet voorberei om ander leerlinge meer van hulle opvattings en gebruike te vertel. Drie tienderjarige Getuies van Jehovah het dadelik aangebied om dit te doen.

Toe die dag aanbreek, was die 15-jarige Malwina eerste aan die beurt. Sy het deels gesê: “Baie van julle het ons ontmoet nog voordat ons hier begin skoolgaan het, omdat ons julle by julle huise besoek het. Julle wonder dalk waarom ons aanhou om dit te doen. Dit is omdat ons die voorbeeld van Jesus Christus, die Stigter van die Christelike geloof, navolg. Hy het die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig waar mense ook al gevind kon word. Die apostels en ander vroeë Christene het dieselfde gedoen. Op baie plekke kom Jehovah se Getuies voor moeilike toetse van hulle geloof te staan, maar ons is bly dat ons in ons skool vrede geniet, iets waartoe julle almal bydra. Ons bedank julle daarvoor!”

Aan die einde van haar aanbieding het Malwina gesê: “Daar is nog ’n rede waarom ons julle tuis besoek. Ons is besorg oor julle. Die Bybel sê dat die mensdom binnekort wêreldskokkende gebeure sal beleef. Neem dan asseblief die tyd om te luister wanneer ons volgende keer aan julle deur klop. Ons wil graag vir julle vertel hoe ons vir ewig saam in ’n paradys op aarde kan lewe.”

Die volgende spreker was Mateusz, ook 15. Mateusz het vir sy gehoor vertel dat Jehovah se Getuies oor die jare heen verskillende metodes gebruik het om die goeie nuus te verkondig. In 1914—gedurende die era van stilprente—het die Getuies byvoorbeeld die “Fotodrama van die Skepping” vertoon, ’n rolprent- en skyfievertoning met gesinchroniseerde klank.

Mateusz het die rol bespreek wat die radio in die verspreiding van die Koninkryksboodskap gespeel het en het toe die unieke Elektroniese Stelsel vir Veeltalige Fotosetwerk (MEPS) beskryf wat deur Jehovah se Getuies ontwikkel is. Hy het ook vertel hoe Jehovah se Getuies gehelp het om dokters oor bloedlose behandelingsmetodes in te lig. “Nou maak vooraanstaande Poolse dokters gunstige opmerkings oor ons standpunt, en hulle beklemtoon dat daar elke jaar al hoe meer nie-Getuie-pasiënte is wat sonder bloed geopereer word”, het hy gesê.

Mateusz het afgesluit deur te vertel hoe Koninkryksale gebou word en gesê: “Wil julle graag ons saal besoek? Toegang is gratis, en daar word geen kollektes gehou nie.” Mateusz het van die byeenkomssentrum in Sosnowiec gepraat en gesê: “Julle moet hierdie groot en nuttige gebou sien. Waarom gaan ons nie saam daarheen nie? Ons het ’n idee, en ons vriendin Katarzyna gaan julle daarvan vertel.”

Vervolgens het die 15-jarige Katarzyna met geesdrif gesê: “Julle is welkom om na Sosnowiec toe te gaan vir die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies. Onderwerpe wat op jongmense betrekking het, sal bespreek word.” Katarzyna het ook verwys na die belangrikste viering vir Christene—die herdenking van Jesus Christus se dood. Sy het haar gehoor aangemoedig: “Verlede jaar het meer as 14 miljoen mense hierdie herdenking wêreldwyd bygewoon. Waarom kom julle nie volgende keer saam nie?”

Ná hulle aanbiedings het Malwina, Mateusz en Katarzyna aan die onderwysers die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk oorhandig, saam met twee videokassette wat die opvattings en bedrywighede van Jehovah se Getuies bespreek. a Die onderwysers het hulle waardering uitgespreek en belowe om dit in geskiedenislesse te gebruik.

Aan die einde van die sessie het die 12-jarige Martyna vir die hele vergadering die lied “Ons dank u, Jehovah” gespeel. Hierdie jong Getuies het ‘deur middel van hulle God die vrymoedigheid bymekaargeskraap’ en ’n goeie getuienis gegee (1 Tessalonisense 2:2). Wat ’n uitstekende voorbeeld vir jong Getuies regoor die wêreld!

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 26]

Katarzyna besluit op tekste vir die aanbieding

[Prent op bladsy 26]

Malwina berei die aanbieding voor ’n paar dae voordat sy dit by die skool moet gee