Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die seën van Jehovah—dit maak ryk”

“Die seën van Jehovah—dit maak ryk”

“Die seën van Jehovah—dit maak ryk”

ONS almal wil geseënd wees. The American Heritage College Dictionary sê dat seëninge “geluk, welsyn of voorspoed” bevorder. Aangesien Jehovah die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” is, het elke ware, blywende seën sy oorsprong by ons liefdevolle Skepper (Jakobus 1:17). Hy stort seëninge uit op die ganse mensdom, selfs op diegene wat hom nie ken nie. Jesus het van sy Vader gesê dat “hy sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matteus 5:45). Jehovah is egter veral besorg oor diegene wat hom liefhet.—Deuteronomium 28:1-14; Job 1:1; 42:12.

Die psalmis het geskryf: “Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie” (Psalm 84:12). Ja, diegene wat Jehovah dien, het ’n ryk, betekenisvolle lewe. Hulle weet “die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie”. Die Bybel sê ook: “Die wat deur [Jehovah] geseën word, sal die aarde besit” (Spreuke 10:22, NW; Psalm 37:22, 29). Wat ’n seën sal dit tog wees!

Hoe kan ons Jehovah se seën ontvang? Om maar een ding te noem, ons moet eienskappe aankweek wat hom behaag (Deuteronomium 30:16, 19, 20; Miga 6:8). Ons sien dit in die voorbeeld van drie van Jehovah se knegte van die ou tyd.

Jehovah seën sy knegte

Noag was ’n uitstaande kneg van God. In Genesis 6:8 (NW) lees ons: “Noag het guns in die oë van Jehovah gevind.” Waarom? Omdat Noag gehoorsaam was. Die verslag sê: “Noag het met God gewandel.” Noag het Jehovah se regverdige beginsels gehandhaaf en sy bevele gehoorsaam. In ’n tyd toe die wêreld in geweld en verdorwenheid verval het, is Noag beweeg om te doen “volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Genesis 6:9, 22, NW). Gevolglik het Jehovah hom beveel om “’n ark [te bou] tot redding van sy huisgesin” (Hebreërs 11:7). So het Noag en sy gesin—en deur hulle die mensdom—die vernietiging van daardie geslag oorleef. En Noag het gesterf met die hoop om opgewek te word en die vooruitsig te hê op ewige lewe op ’n paradysaarde. Watter ryk seëninge het hy tog ontvang!

Abraham het ook eienskappe gehad wat Jehovah behaag het. Die vernaamste hiervan was geloof (Hebreërs 11:8-10). Abraham het ’n gemaklike lewe in Ur en later in Haran agtergelaat omdat hy geloof gestel het in Jehovah se belofte dat sy saad baie sou word en ’n seën vir al die nasies sou wees (Genesis 12:2, 3). Ondanks die feit dat hy jare lank toetse moes deurmaak, is sy geloof beloon toe sy seun Isak gebore is. Deur hom het Abraham die voorvader geword van God se uitverkore nasie, Israel, en uiteindelik van die Messias (Romeine 4:19-21). Daarbenewens is hy “die vader . . . van almal wat geloof het” en is hy “Jehovah se vriend” genoem (Romeine 4:11; Jakobus 2:23; Galasiërs 3:7, 29). Wat ’n betekenisvolle lewe het hy tog gehad en hoe ryklik is hy geseën!

Dink ook aan die getroue man Moses. Een van sy uitstaande eienskappe was sy waardering vir geestelike dinge. Moses het al die rykdom van Egipte die rug toegekeer en “standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). Ná 40 jaar in Midian het hy as ’n ou man na Egipte teruggekeer en sy man gestaan teen die grootste mag van daardie tyd, Farao, om vryheid vir sy broers te eis (Exodus 7:1-7). Hy het die tien plae, die skeiding van die Rooi See en die vernietiging van Farao se leërmagte gesien. Jehovah het hom gebruik om die Wet aan Israel te gee en as middelaar van Sy verbond met die nuwe nasie op te tree. Moses het die nasie Israel 40 jaar lank in die wildernis gelei. Sy lewe het werklik ’n doel gehad, en hy is met wonderlike diensvoorregte geseën.

Hedendaagse seëninge

Hierdie verslae toon dat die lewe van diegene wat God dien, waarlik sinvol is. Namate Jehovah se volk eienskappe soos gehoorsaamheid, geloof en waardering vir geestelike dinge aankweek, word hulle ryklik geseën.

Hoe word ons geseën? Wel, terwyl miljoene in die Christendom geestelik honger ly, kan ons “straal oor die goedheid van Jehovah” (Jeremia 31:12, NW). Deur Jesus Christus en “die getroue en verstandige slaaf” het Jehovah ’n oorvloedige voorraad geestelike voedsel voorsien wat ons help om te bly op “die pad wat na die lewe lei” (Matteus 7:13, 14; 24:45; Johannes 17:3). Assosiasie met ons Christenbroederskap is nog ’n ryk seën. By vergaderinge en op ander geleenthede is dit ’n bron van groot vreugde om saam met medeaanbidders te wees wat liefde betoon en ywerig probeer om hulle met “die nuwe persoonlikheid” te beklee (Kolossense 3:8-10; Psalm 133:1). Ons grootste seën is egter die kosbare voorreg om ’n persoonlike verhouding met Jehovah God te hê en in die voetspore van sy Seun, Christus Jesus, te volg.—Romeine 5:1, 8; Filippense 3:8.

As ons oor hierdie seëninge nadink, besef ons hoe kosbaar ons diens aan God werklik is. Dalk dink ons aan Jesus se gelykenis van ’n reisende koopman wat goeie pêrels gesoek het. Jesus het van hierdie man gesê: “Toe hy een pêrel van groot waarde vind, het hy weggegaan en dadelik alles verkoop wat hy gehad het en dit gekoop” (Matteus 13:46). Dit is sekerlik hoe ons voel oor ons verhouding met God, ons voorreg om hom te dien, ons Christelike assosiasie, ons Christelike hoop en al die ander seëninge wat met ons geloof verband hou. Daar is niks kosbaarders in ons lewe nie.

Gee terug aan Jehovah

Omdat ons besef dat Jehovah die Gewer van elke goeie gawe is, word ons hart beweeg om waardering uit te spreek vir die seëninge wat ons ontvang. Hoe kan ons dit doen? Een manier is om ander te help om hierdie selfde seëninge te geniet (Matteus 28:19). In meer as 230 lande besoek Jehovah se Getuies hulle bure om juis dit te doen. Terwyl hulle dit doen, span hulle hulle beperkte persoonlike bates in—hulle tyd, energie en materiële besittings—om ander te help om “tot juiste kennis van die waarheid [te] kom”.—1 Timoteus 2:4.

Neem byvoorbeeld die pioniers wat in Glendale, Kalifornië, VSA, woon. Elke Saterdagoggend onderneem hulle ’n heen- en terugreis van ongeveer 100 kilometer om ’n federale gevangenis te besoek. Hoewel hulle met elke besoek maar net ’n paar uur by die gevangenes kan deurbring, ontmoedig dit hulle nie. Een van hulle sê: “Dit is so lonend om in hierdie unieke gebied te dien. Ons doen dit met groot vreugde. Ons het soveel belangstellendes dat dit moeilik is om by te hou. Ons hou op die oomblik studies met vyf mense en nog vier het ’n Bybelstudie gevra.”

Ywerige Christenbedienaars bied graag hulle dienste kosteloos aan om hierdie lewensreddende werk te doen. Hulle weerspieël die gesindheid van Jesus, wat gesê het: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee” (Matteus 10:8). Miljoene regoor die wêreld neem aan dieselfde onselfsugtige werk deel, en gevolglik is daar ’n menigte opregtes van hart wat daarop reageer en dissipels word. Net in die afgelope vyf jaar het bykans 1,7 miljoen mense hulle lewe aan Jehovah toegewy. Om in die behoeftes te voorsien wat deur hierdie volgehoue uitbreiding geskep word, moet Bybels en Bybelpublikasies gedruk word, asook nuwe Koninkryksale en ander vergaderplekke gebou word. Waar kom die geld vandaan om in hierdie behoeftes te voorsien? Alles kom van vrywillige bydraes.

Weens die swak ekonomiese toestande in sommige wêrelddele sukkel baie om hulle gesin van die allernodigste te voorsien. Volgens die tydskrif New Scientist bestee ’n miljard mense ten minste 70 persent van hulle gesin se inkomste aan voedsel. Baie van ons Christenbroers en -susters is in daardie situasie. Sonder die hulp van medegelowiges sou hulle eenvoudig nie dinge soos Christelike publikasies of ’n gepaste Koninkryksaal kon bekostig nie.

Dit beteken natuurlik nie dat hierdie broers daarmee tevrede is dat ander hulle vrag dra nie. Maar hulle het hulp nodig. Toe Moses die Israeliete aangemoedig het om materiële bydraes te maak as ’n manier om Jehovah vir hulle seëninge te bedank, het hy gesê: “Die gawe van elkeen se hand moet wees ooreenkomstig die seën van Jehovah jou God wat hy jou gegee het” (Deuteronomium 16:17, NW). Toe Jesus dus sien hoe ’n weduwee in die tempel “twee muntstukkies van baie min waarde” bydra, het hy haar by sy dissipels geprys. Sy het gedoen wat sy kon (Lukas 21:2, 3). Net so doen Christene in armer omstandighede wat hulle kan. En as daar ’n tekort is, kan die bydraes van mede-Christene wat materieel meer het, daarin voorsien.—2 Korintiërs 8:13-15.

Wanneer ons op sulke maniere aan God teruggee, is dit belangrik dat ons die regte beweegrede het (2 Korintiërs 8:12). Paulus het gesê: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). Deur vrywillig uit die hart te gee, ondersteun ons die teokratiese uitbreiding wat nou plaasvind en vergroot ons ons eie vreugde.—Handelinge 20:35.

Twee maniere waarop ons aan Jehovah kan gee uit dankbaarheid vir die seëninge wat ons van hom ontvang het, is deur aan die predikingswerk deel te neem en vrywillige bydraes te gee. En hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah graag sy seën wil uitstort op nog baie opregtes wat hom op die oomblik dalk nie ken nie! (2 Petrus 3:9). Laat ons dus voortgaan om ons middele in God se diens te gebruik om opregtes van hart te vind en hulle te help om eienskappe soos gehoorsaamheid, geloof en waardering aan te kweek. Sodoende sal ons die vreugde hê om hulle te help sodat hulle kan “smaak en sien dat [“Jehovah”, NW] goed is”.— Psalm 34:9.

[Venster op bladsy 28, 29]

Maniere waarop party verkies om te gee

BYDRAES VIR DIE WÊRELDWYE WERK

Baie sit ’n bedrag opsy wat hulle in die bydraebussies gooi wat gemerk is “Bydraes vir die wêreldwye werk—Matteus 24:14”.

Gemeentes stuur hierdie bydraes elke maand na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, of na die plaaslike takkantoor. Vrywillige geldelike bydraes kan ook regstreeks gestuur word na die Rekeningafdeling, Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die takkantoor in die land waar jy woon. Juwele of ander kosbare artikels kan ook geskenk word. ’n Kort brief wat meld dat dit ’n regstreekse skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.

REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS

Geld kan onder ’n spesiale reëling geskenk word op voorwaarde dat dit aan die skenker teruggegee sal word indien hy dit self nodig sou kry. Tree asseblief in verbinding met die Rekeningafdeling van die plaaslike takkantoor vir verdere inligting.

BEPLANDE SKENKINGS

Benewens regstreekse en voorwaardelike skenkings van geld is daar ander maniere waarop ’n mens kan gee om Koninkryksdiens in alle wêrelddele te bevorder. Dit sluit in:

Versekering: Die Wagtoringgenootskap kan as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema benoem word.

Aandele en obligasies: Aandele en obligasies kan aan die Wagtoringgenootskap geskenk word, hetsy as ’n regstreekse skenking of ooreenkomstig ’n reëling waarvolgens die inkomste steeds aan die skenker betaal word.

Vaste eiendom: Verkoopbare vaste eiendom kan regstreeks aan die Wagtoringgenootskap geskenk word of dit kan geskenk word op voorwaarde dat die skenker gedurende sy of haar leeftyd daar kan bly woon. Voordat enige vaste eiendom oorgedra word, moet ’n mens eers in aanraking kom met die takkantoor in die land waar jy woon.

Testamente: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Wagtoringgenootskap bemaak word.

As jy in enige van hierdie reëlings vir beplande skenking belangstel, moet jy skriftelik of per telefoon met die Rekeningafdeling in verbinding tree by die adres hieronder of by die kantoor van Jehovah se Getuies in die land waar jy woon.

REKENINGAFDELING

Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania

Privaatsak X2067 Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika

Telefoon: (011) 761-1000