Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah is ’n lankmoedige God

Jehovah is ’n lankmoedige God

Jehovah is ’n lankmoedige God

“Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid.”—EXODUS 34:6, NW.

1, 2. (a) Wie het in die verlede by Jehovah se lankmoedigheid baat gevind? (b) Wat beteken die woord “lankmoedigheid”?

 DIE mense wat in Noag se tyd gelewe het, die Israeliete wat saam met Moses deur die wildernis getrek het, die Jode wat gelewe het terwyl Jesus op die aarde was—hulle almal het onder verskillende omstandighede gelewe. Maar hulle almal het by dieselfde goedhartige hoedanigheid van Jehovah baat gevind, naamlik sy lankmoedigheid. Vir party het dit die lewe beteken. En Jehovah se lankmoedigheid kan ook vir ons die lewe beteken.

2 Wat is lankmoedigheid? Wanneer betoon Jehovah dit, en waarom? “Lankmoedigheid” is al gedefinieer as “die geduldige verduring van onreg of uittarting, tesame met ’n weiering om hoop op te gee dat daar ’n verbetering in die vertroebelde verhouding sal kom”. Hierdie eienskap het dus ’n doel. Dit neem veral die welsyn in ag van die een wat ’n onaangename situasie veroorsaak. Maar om lankmoedig te wees, beteken nie dat ’n mens verkeerde dade vergoelik nie. Wanneer die doel vir lankmoedigheid bereik is of wanneer daar geen rede meer is om die situasie te verdra nie, hou lankmoedigheid op.

3. Wat was die doel van Jehovah se lankmoedigheid, en hoe ver strek dit?

3 Hoewel mense lankmoedig kan wees, is Jehovah die allerbeste voorbeeld van hierdie eienskap. In die jare nadat sonde die verhouding tussen Jehovah en sy menseskepping vertroebel het, het ons Skepper geduldige verdraagsaamheid aan die dag gelê en die middel voorsien waardeur berouvolle mense hulle verhouding met hom kan verbeter (2 Petrus 3:9; 1 Johannes 4:10). Maar wanneer sy lankmoedigheid die doel daarvoor bereik het, sal God optree teen moedswillige sondaars en ’n einde maak aan die huidige goddelose stelsel van dinge.—2 Petrus 3:7.

Verenigbaar met God se hoofeienskappe

4. (a) Hoe word die gedagte van lankmoedigheid in die Hebreeuse Geskrifte oorgedra? (Sien ook voetnoot.) (b) Hoe beskryf die profeet Nahum Jehovah, en wat openbaar dit omtrent Jehovah se lankmoedigheid?

4 In die Hebreeuse Geskrifte word die gedagte van lankmoedigheid deur twee Hebreeuse woorde oorgedra wat letterlik “lengte van neusgate” beteken en in die Nuwe Wêreld-vertaling met ‘word nie gou toornig nie’ vertaal word. a Die profeet Nahum het van God se lankmoedigheid gepraat en gesê: “Jehovah word nie gou toornig nie en is groot van krag, en Jehovah sal hom geensins daarvan weerhou om te straf nie” (Nahum 1:3, NW). Jehovah se lankmoedigheid is derhalwe nie ’n teken van swakheid nie en dit is nie eindeloos nie. Die feit dat die almagtige God nie gou toornig word nie en terselfdertyd groot van krag is, toon dat sy lankmoedigheid die gevolg van doelbewuste beheerstheid is. Hy het die mag om te straf, maar hy weerhou hom doelbewus daarvan om dit onmiddellik te doen sodat hy die oortreder die geleentheid kan gee om te verander (Esegiël 18:31, 32). Jehovah se lankmoedigheid is dus ’n blyk van sy liefde, en dit weerspieël sy wysheid in die gebruik van sy krag.

5. Hoe is Jehovah se lankmoedigheid verenigbaar met sy geregtigheid?

5 Jehovah se lankmoedigheid is ook verenigbaar met sy geregtigheid en regverdigheid. Hy het hom aan Moses geopenbaar as “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie [“lankmoedig”, AB] en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid” (Exodus 34:6, NW). Jare later het Moses in ’n loflied tot Jehovah gesing: “Al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy” (Deuteronomium 32:4, NW). Ja, Jehovah se barmhartigheid, lankmoedigheid, geregtigheid en reg werk almal harmonieus saam.

Jehovah se lankmoedigheid voor die Vloed

6. Watter merkwaardige bewys van lankmoedigheid het Jehovah teenoor die afstammelinge van Adam en Eva geopenbaar?

6 Adam en Eva se opstand in Eden het hulle kosbare verhouding met hulle liefdevolle Skepper, Jehovah, permanent verbreek (Genesis 3:8-13, 23, 24). Hierdie vervreemding het hulle nakomelinge geraak, wat sonde, onvolmaaktheid en die dood geërf het (Romeine 5:17-19). Hoewel die eerste mensepaar opsetlike sondaars was, het Jehovah hulle toegelaat om kinders voort te bring. Later het hy liefdevol die middel voorsien waardeur die afstammelinge van Adam en Eva met hom versoen kon word (Johannes 3:16, 36). Die apostel Paulus het verduidelik: “God beveel sy eie liefde by ons aan daarin dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was. Veel meer sal ons dus, aangesien ons nou deur sy bloed regverdig verklaar is, deur middel van hom van gramskap gered word. Want as ons, toe ons vyande was, met God versoen geraak het deur die dood van sy Seun, sal ons veel meer, noudat ons versoen geraak het, deur sy lewe gered word.”—Romeine 5:8-10.

7. Hoe het Jehovah voor die Vloed lankmoedigheid aan die dag gelê, en waarom was die vernietiging van die geslag wat voor die Vloed gelewe het, geregverdig?

7 Jehovah se lankmoedigheid was duidelik in Noag se dag. Meer as ’n eeu voor die Vloed ‘het God die aarde aangesien, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe’ (Genesis 6:12). Tog het Jehovah vir ’n beperkte tyd lankmoedigheid teenoor die mensdom betoon. Hy het gesê: “My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar” (Genesis 6:3). Daardie 120 jaar het die getroue man Noag tyd gegee om ’n gesin te hê en—toe hy ingelig is oor God se besluit—’n ark te bou en sy tydgenote oor die komende Vloed te waarsku. Die apostel Petrus het geskryf: “Die geduld [’n eienskap verwant aan lankmoedigheid] van God [het] in Noag se dae gewag . . . , terwyl die ark gebou is, waarin ’n paar mense, naamlik agt siele, veilig deur die water heen gevoer is” (1 Petrus 3:20). Dié wat nie lede van Noag se onmiddellike gesin was nie, het weliswaar nie op sy prediking ‘ag geslaan’ nie (Matteus 24:38, 39). Maar deur toe te laat dat Noag die ark bou en moontlik dekades lank as “’n prediker van regverdigheid” dien, het Jehovah aan Noag se tydgenote genoegsame geleentheid gegee om berou te toon oor hulle gewelddadige weë en Hom te begin dien (2 Petrus 2:5; Hebreërs 11:7). Die uiteindelike vernietiging van daardie goddelose geslag was volkome geregverdig.

Navolgenswaardige lankmoedigheid teenoor Israel

8. Hoe het Jehovah lankmoedigheid teenoor die nasie Israel betoon?

8 Jehovah se lankmoedigheid teenoor Israel het baie langer as 120 jaar geduur. Dwarsdeur die meer as 1 500 jaar van hulle geskiedenis as God se uitverkore volk was daar betreklik min tye dat die Israeliete nie God se lankmoedigheid tot die uiterste beproef het nie. Net ’n paar weke ná hulle wonderdadige bevryding uit Egipte het hulle afgodsaanbidding beoefen, wat ’n algehele gebrek aan eerbied teenoor hulle Verlosser geopenbaar het (Exodus 32:4; Psalm 106:21). Gedurende die daaropvolgende dekades het die Israeliete gekla oor die voedsel wat Jehovah wonderdadig in die woestyn voorsien het, het hulle teen Moses en Aäron gemurmureer, teen Jehovah gespreek, hoerery met heidene gepleeg en selfs aan Baälaanbidding deelgeneem (Numeri 11:4-6; 14:2-4; 21:5; 25:1-3; 1 Korintiërs 10:6-11). Jehovah kon sy volk met reg vernietig het, maar hy het eerder lankmoedigheid aan die dag gelê.—Numeri 14:11-21.

9. Hoe het Jehovah gedurende die tyd van die rigters en gedurende die monargie getoon dat hy ’n lankmoedige God is?

9 Gedurende die tyd van die rigters het die Israeliete herhaaldelik in afgodediens verval. Wanneer hulle dit gedoen het, het Jehovah hulle aan hulle vyande oorgegee. Maar wanneer hulle berou getoon en tot hom om hulp geroep het, het hy lankmoedigheid aan die dag gelê en rigters verwek om hulle te verlos (Rigters 2:17, 18). Gedurende die lang tydperk van die monargie was daar min konings wat uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah getoon het. En selfs onder die getroue konings het die volk dikwels ware en valse aanbidding vermeng. Wanneer Jehovah profete verwek het om teen ontrouheid te waarsku, het die volk gewoonlik verkies om na verdorwe priesters en valse profete te luister (Jeremia 5:31; 25:4-7). Trouens, die Israeliete het Jehovah se getroue profete vervolg en selfs party van hulle doodgemaak (2 Kronieke 24:20, 21; Handelinge 7:51, 52). Nietemin het Jehovah aangehou om lankmoedigheid te betoon.—2 Kronieke 36:15.

Jehovah se lankmoedigheid duur voort

10. Wanneer het Jehovah se lankmoedigheid tot ’n einde gekom?

10 Die geskiedenis toon egter dat God se lankmoedigheid wel tot ’n einde kom. In 740 v.G.J. het hy toegelaat dat die Assiriërs die tienstammeryk van Israel tot ’n val bring en die inwoners daarvan in ballingskap wegvoer (2 Konings 17:5, 6). En aan die einde van die daaropvolgende eeu het hy toegelaat dat die Babiloniërs die tweestammeryk van Juda inval en Jerusalem en sy tempel vernietig.—2 Kronieke 36:16-19.

11. Hoe het Jehovah lankmoedigheid aan die dag gelê selfs toe hy sy oordeel voltrek het?

11 Maar selfs terwyl Jehovah sy oordeel aan Israel en Juda voltrek het, het hy nie vergeet om lankmoedig te wees nie. Deur middel van sy profeet Jeremia het Jehovah ’n herstelling van sy uitverkore volk voorspel. Hy het gesê: “As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. En Ek sal My deur julle laat vind . . . en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het.”—Jeremia 29:10, 14.

12. Hoe was die terugkeer van ’n Joodse oorblyfsel na Juda ’n bestiering met betrekking tot die koms van die Messias?

12 ’n Oorblyfsel van die Jode in ballingskap het inderdaad na Juda teruggekeer en die aanbidding van Jehovah by die herboude tempel in Jerusalem herstel. Tydens die vervulling van Jehovah se voornemens sou hierdie oorblyfsel soos ‘dou van Jehovah’ word, wat verkwikking en voorspoed bring. Hulle sou ook moedig en sterk wees soos “’n leeu onder die diere van die woud” (Miga 5:6, 7). Hierdie laaste uitdrukking kon sy vervulling gehad het gedurende die Makkabese tydperk toe die Jode onder die Makkabeër-familie hulle vyande uit die Beloofde Land verdryf en die tempel, wat verontreinig was, weer toegewy het. Die land en die tempel het sodoende behoue gebly sodat ’n ander getroue oorblyfsel die Seun van God sou kon verwelkom toe hy daar as die Messias verskyn het.—Daniël 9:25; Lukas 1:13-17, 67-79; 3:15, 21, 22.

13. Hoe het Jehovah aangehou om lankmoedigheid teenoor die Jode te betoon selfs nadat hulle sy Seun doodgemaak het?

13 Selfs nadat die Jode Jehovah se Seun doodgemaak het, het hy nog drie en ’n half jaar lank aangehou om lankmoedigheid teenoor hulle te betoon en aan hulle die uitsluitlike geleentheid gegee om genooi te word om lede van die geestelike saad van Abraham te word (Daniël 9:27). b Voor en ná die jaar 36 G.J. het party Jode hierdie uitnodiging aanvaar, en só het dan, soos Paulus dit later gestel het, “’n oorblyfsel verskyn ooreenkomstig ’n verkiesing weens onverdiende goedhartigheid”.—Romeine 11:5.

14. (a) Aan wie is die voorreg in 36 G.J. gebied om lede van Abraham se geestelike saad te word? (b) Hoe het Paulus sy gevoelens uitgedruk omtrent die manier waarop Jehovah lede van geestelike Israel kies?

14 In 36 G.J. is die voorreg om lede van Abraham se geestelike saad te word, vir die eerste keer gebied aan diegene wat nie Jode of proseliete was nie. Enigiemand wat dit aanvaar het, het ook Jehovah se onverdiende goedhartigheid en lankmoedigheid ontvang (Galasiërs 3:26-29; Efesiërs 2:4-7). Uit diepe waardering vir die wysheid en die doel van Jehovah se barmhartige lankmoedigheid, waardeur hy die volle getal voortbring van dié wat geroep is om geestelike Israel uit te maak, het Paulus uitgeroep: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!”—Romeine 11:25, 26, 33; Galasiërs 6:15, 16.

Lankmoedigheid ter wille van sy naam

15. Wat is die hoofrede vir God se lankmoedigheid, en om watter geskil te besleg, het tyd geverg?

15 Waarom beoefen Jehovah lankmoedigheid? Hoofsaaklik om sy heilige naam te verheerlik en sy soewereiniteit te regverdig (1 Samuel 12:20-22). Dit het tyd geverg om die sedelike geskil wat Satan geopper het oor die manier waarop Jehovah Sy soewereiniteit gebruik, bevredigend voor die hele skepping te besleg (Job 1:9-11; 42:2, 5, 6). Toe sy volk in Egipte onderdruk is, het Jehovah dus vir Farao gesê: “Juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.”—Exodus 9:16.

16. (a) Hoe het Jehovah se lankmoedigheid dit moontlik gemaak om ’n volk vir sy naam te berei? (b) Hoe sal Jehovah se naam geheilig en sy soewereiniteit geregverdig word?

16 Jehovah se woorde aan Farao is aangehaal toe Paulus die rol van God se lankmoedigheid in die verheerliking van Sy heilige naam verduidelik het. En toe het Paulus geskryf: “As God dan nou, hoewel hy sy gramskap wil toon en sy krag bekend wil maak, voorwerpe van gramskap, wat vir vernietiging geskik gemaak is, met groot lankmoedigheid geduld het, sodat hy die rykdom van sy heerlikheid oor voorwerpe van barmhartigheid bekend kon maak, wat hy vooraf berei het vir heerlikheid, naamlik ons, wat hy nie net uit die Jode nie maar ook uit die nasies geroep het, wat daarvan? Dit is soos hy ook in Hosea sê: ‘Dié wat nie my volk is nie, sal ek “my volk” noem’” (Romeine 9:17, 22-25). Omdat Jehovah lankmoedigheid beoefen het, kon hy uit die nasies “’n volk vir sy naam” neem (Handelinge 15:14). Onder hulle Hoof, Jesus Christus, is hierdie “heiliges” erfgename van die Koninkryk wat Jehovah sal gebruik om Sy groot naam te heilig en Sy soewereiniteit te regverdig.—Daniël 2:44; 7:13, 14, 27; Openbaring 4:9-11; 5:9, 10.

Jehovah se lankmoedigheid bewerk redding

17, 18. (a) Deur wat te doen, kan ons Jehovah onwetend kritiseer omdat hy lankmoedig is? (b) Hoe moet ons in werklikheid Jehovah se lankmoedigheid beskou?

17 Van die mensdom se oorspronklike rampspoedige sondeval af tot nou toe het Jehovah getoon dat hy ’n lankmoedige God is. Sy lankmoedigheid voor die Vloed het tyd toegelaat sodat die nodige waarskuwing gegee en ’n reddingsmiddel gebou kon word. Maar sy geduld het tot ’n einde gekom, en die Vloed het gekom. Jehovah beoefen vandag eweneens groot lankmoedigheid, en dit duur langer as wat party dalk verwag het. Maar dit is geen rede om moed op te gee nie. Dit sou daarop neerkom dat ons God kritiseer omdat hy lankmoedig is. Paulus het gevra: “Verag jy die rykdom van sy goedhartigheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie weet dat die goedhartige hoedanigheid van God jou tot berou probeer lei nie?”—Romeine 2:4.

18 Nie een van ons weet in presies watter mate ons God se lankmoedigheid nodig het om seker te maak dat ons sy goedkeuring tot redding het nie. Paulus se raad aan ons is om ‘aan te hou om ons eie redding met vrees en bewing te bewerk’ (Filippense 2:12). Die apostel Petrus het aan mede-Christene geskryf: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.”—2 Petrus 3:9.

19. Hoe kan ons voordeel trek uit Jehovah se lankmoedigheid?

19 Laat ons dus nie ongeduldig raak oor die manier waarop Jehovah sake hanteer nie. Laat ons eerder Petrus se verdere raad volg en “die geduld van ons Here as redding” beskou. Wie se redding? Ons s’n en, by uitbreiding, dié van tallose ander wat nog die “goeie nuus van die koninkryk” moet hoor (2 Petrus 3:15; Matteus 24:14). Dit sal ons help om Jehovah se oorvloedige lankmoedigheid te waardeer en ons beweeg om lankmoedig in ons handelinge met ander te wees.

[Voetnote]

a In Hebreeus word die woord vir “neus” of “neusgat” (ʼaf) dikwels figuurlik vir woede gebruik. Dit is omdat iemand wat kwaad is, hard asemhaal of deur sy neus blaas.

b Sien die boek Gee ag op Daniël se profesie!, bladsye 190-4, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n verdere verduideliking van hierdie profesie.

Kan jy verduidelik?

• Wat word in die Bybel bedoel met die woord “lankmoedigheid”?

• Hoe het Jehovah lankmoedigheid aan die dag gelê voor die Vloed, ná die Babiloniese gevangenskap en in die eerste eeu G.J.?

• Om watter belangrike redes het Jehovah lankmoedigheid aan die dag gelê?

• Hoe moet ons Jehovah se lankmoedigheid beskou?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 9]

Jehovah se lankmoedigheid voor die Vloed het mense genoegsame geleentheid gegee om tot berou te kom

[Prent op bladsy 10]

Ná die val van Babilon het die Jode by Jehovah se lankmoedigheid baat gevind

[Prent op bladsy 11]

In die eerste eeu het Jode sowel as nie-Jode by Jehovah se lankmoedigheid baat gevind

[Prente op bladsy 12]

Christene van vandag benut Jehovah se lankmoedigheid