Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy het ’n opgeleide gewete nodig

Jy het ’n opgeleide gewete nodig

Jy het ’n opgeleide gewete nodig

Die passasiers en bemanning aan boord van Air New Zealand se Vlug 901 na Antarktika het ’n onvergeetlike dag verwag. Die kameras was gereed, en daar het ’n partytjie-atmosfeer geheers terwyl die DC-10 die wit kontinent genader en laag gevlieg het vir ’n ongelooflike uitsig vanuit die lug.

DIE kaptein, wat toe al 15 jaar lank ’n vlieënier was, het altesaam meer as 11- 000 vliegure gehad. Voor hulle vertrek het hy die vlugplan noukeurig in die vliegtuig se rekenaar ingevoer, onbewus van die feit dat hy die verkeerde koördinate ontvang het. Die DC-10 het op ’n hoogte van net onder 600 meter deur ’n wolk gevlieg en teen die laer hange van die berg Erebus vasgevlieg, wat die dood van al 257 mense aan boord tot gevolg gehad het.

Net soos vliegtuie vandag op rekenaars staatmaak om hulle koers deur die lug te bepaal, is mense ’n gewete gegee om hulle op hulle weg deur die lewe te rig. En die verskriklike tragedie van Vlug 901 kan ons ’n paar belangrike lesse oor ons gewete leer. Net soos vliegveiligheid byvoorbeeld afhang van ’n navigasiestelsel wat behoorlik funksioneer, en van presiese verwysingspunte, hang ons geestelike, sedelike en selfs fisiese welsyn af van ’n sensitiewe gewete wat deur die regte sedelike verwysingspunte gerig word.

In vandag se wêreld is sulke verwysingspunte ongelukkig vinnig besig om te verdwyn, of hulle word geïgnoreer. “Ons hoor deesdae baie van Jannie wat nie kan lees nie, wat nie kan skryf nie en wat sukkel om Frankryk op ’n kaart te kry”, het ’n Amerikaanse opvoedkundige gesê. “Dit is ook waar dat Jannie dit moeilik vind om tussen reg en verkeerd te onderskei. Saam met ongeletterdheid en ongesyferdheid moet ons diep sedelike verwarring by die lys van opvoedkundige probleme voeg.” Sy het ook gemeld dat “vandag se jongmense in sedelike onsekerheid lewe”. Vra een van hulle of daar so iets soos ‘reg en verkeerd’ is, en skielik kom jy te staan voor ’n verwarde, sprakelose, senuweeagtige en onsekere individu. . . . Wanneer hulle later universiteit toe gaan, word hulle meer verward, nie minder nie.”

Een van die oorsake van hierdie verwarring is sedelike relativisme, ’n wydverspreide beskouing dat standaarde verskil na gelang van persoonlike of kulturele voorkeure. Stel jou voor wat sou gebeur as vlieëniers hulle koers nie met behulp van vaste verwysingspunte bepaal het nie, maar met bakens wat onvoorspelbaar rondbeweeg en soms heeltemal verdwyn! Rampe soos die een by die berg Erebus sou beslis algemeen wees. Omdat die wêreld vaste sedelike standaarde verwerp het, maai dit eweneens ’n droewige en toenemende oes van ellende en dood, terwyl ontrouheid gesinne uitmekaarskeur en miljoene weens vigs of die een of ander seksueel oordraagbare siekte ly.

Sedelike relativisme klink dalk gesofistikeerd, maar in werklikheid is die aanhangers daarvan soos die eertydse Nineviete wat nie “die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand” geken het nie. Diegene wat sedelike relativisme beoefen, kom ooreen met die afvallige Israeliete wat “sleg goed [genoem het] en goed sleg”.—Jona 4:11; Jesaja 5:20.

Waarheen kan ons ons dus wend vir duidelike, ondubbelsinnige wette en beginsels waarmee ons ons gewete kan oplei sodat dit ’n veilige riglyn kan wees? Miljoene het gevind dat die Bybel volmaak in hierdie behoefte voorsien. Wat sedelikheid sowel as werketiek en die opvoeding van kinders asook die aanbidding van God betref, slaan die Bybel niks oor wat belangrik is nie (2 Timoteus 3:16). Deur die eeue heen was dit volkome betroubaar. Omdat die Bybel se sedelike standaarde deur die allerhoogste gesag, ons Skepper, vasgestel is, is dit op alle mense van toepassing. Ons het dus geen rede om ’n lewe van sedelike onsekerheid te lei nie.

Deesdae word jou gewete egter aangeval soos nog nooit tevore nie. Hoe is dit moontlik? En hoe kan jy jou gewete beskerm? Die verstandige weg om te volg, is om die bron van die aanval en sy taktiek te leer ken. Dit sal in die volgende artikel bespreek word.