Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vernietigers van bome

Vernietigers van bome

Vernietigers van bome

IN Bybeltye is bome as waardevol beskou. Toe Abraham byvoorbeeld ’n graf vir sy geliefde vrou, Sara, gekoop het, is daar in die kontrak vir die oordrag van die eiendom melding gemaak van bome.—Genesis 23:15-18.

Daar word ook vandag groot waarde aan bome geheg, en oor die hele wêreld word daar baie klem geplaas op die bewaring van woude. Die boek State of the World 1998 sê: “Hoewel baie mense in noordelike lande oor tropiese woude besorg is, is hulle dalk onbewus daarvan dat die gematigde woude in hulle eie lande meer as enige ander woudsoort uitgedun en versteur is.” Wat bedreig die woude in daardie noordelike lande van Europa en in Noord-Amerika? Baie mense gee ontbossing die skuld, maar daar is ander dinge wat bome stilweg vernietig, as ’t ware blaar vir blaar of naald vir naald. Wat is dit? Lugbesoedeling en suurreën. Hierdie besoedelstowwe kan bome stadig verswak en hulle vatbaar maak vir peste en siektes.

Omgewingsdeskundiges en ander besorgde burgers waarsku al dekades lank dat dit belangrik is om die aarde se ekosisteem te beskerm. Nadat wetenskaplikes in Duitsland die gevolge van lugbesoedeling en suurreën op die omgewing bestudeer het, het hulle in die 1980’s tot die slotsom gekom: ‘As niks gedoen word nie, sal mense teen om en by die jaar 2000 woude slegs op ou foto’s en in rolprente kan bewonder.’ Danksy die aarde se herstellingskrag het dit sover baie van die voorspelde skade weerstaan.

Op die lange duur is dit egter God wat die meeste sal doen om ons ekosisteem te bewaar. “Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers” en “gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens”. En hy het belowe “om die verderwers van die aarde te verderf” (Psalm 104:13, 14; Openbaring 11:18). Hoe wonderlik sal dit tog wees wanneer die aarde se bewoners tot in ewigheid ’n wêreld vry van besoedeling kan geniet!—Psalm 37:9-11.