Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Het Jehovah sy verbond met Abraham in Ur of in Haran gesluit?

Die vroegste verslag van Jehovah se verbond met Abraham word in Genesis 12:1-3 gevind, wat sê: “Die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak . . . en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” a Jehovah het heel moontlik hierdie verbond met Abraham gesluit terwyl laasgenoemde in Ur was en dit herbevestig toe Abraham in Haran was.

In die eerste eeu het Stefanus verwys na Jehovah se opdrag dat Abraham na Kanaän moes gaan. Voor die Sanhedrin het hy gesê: “Die God van heerlikheid het aan ons voorvader Abraham verskyn terwyl hy in Mesopotamië was, voordat hy hom in Haran gevestig het, en hy het vir hom gesê: ‘Trek weg uit jou land en van jou familielede en kom na die land wat ek jou sal wys’” (Handelinge 7:2, 3). Abraham was oorspronklik van Ur, en soos Stefanus gesê het, was dit daar waar hy die opdrag om na Kanaän te gaan, die eerste keer gehoor het (Genesis 15:7; Nehemia 9:7). Stefanus het nie melding gemaak van God se verbond met Abraham nie, maar in Genesis 12:1-3 word daardie verbond in verband gebring met die opdrag om na Kanaän te gaan. Daarom is dit redelik om aan te neem dat Jehovah die verbond met Abraham in Ur gesluit het.

As die Genesisverslag egter noukeurig gelees word, wil dit voorkom asof Jehovah in Haran sy verbond met Abraham herhaal het, net soos hy dit in Kanaän by verskeie geleenthede herhaal het en oor aspekte daarvan uitgewei het (Genesis 15:5; 17:1-5; 18:18; 22:16-18). Volgens Genesis 11:31, 32 het Abraham se vader, Tera, Ur verlaat en na Kanaän toe gegaan, vergesel deur Abraham, Sara en Lot. Hulle het by Haran aangekom en daar gebly tot die dood van Tera. Abraham was lank genoeg in Haran om aansienlike rykdom bymekaar te maak (Genesis 12:5). En op die een of ander stadium het Nahor, Abraham se broer, ook daarheen getrek.

Nadat die Bybel melding maak van Tera se dood, haal dit Jehovah se woorde aan Abraham aan, en dan sê dit: “Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het” (Genesis 12:4). Gevolglik skep Genesis 11:31–12:4 die indruk dat Jehovah die woorde wat in Genesis 12:1-3 opgeteken is, ná Tera se dood gespreek het. As dit die geval is, het Abraham Haran verlaat en na die land getrek wat Jehovah hom gewys het, in reaksie op ’n opdrag wat hy toe pas gehoor het, asook op een wat hy jare vantevore in Ur gehoor het.

Volgens Genesis 12:1 het Jehovah Abraham beveel: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis.” Op een stadium was Ur Abraham se “land”, en dit is waar sy vader se “huis” was. Abraham se vader het egter met sy huisgesin na Haran getrek, en Abraham het later daardie plek sy land genoem. Toe hy, ná baie jare in Kanaän, sy dienaar na ‘sy land en sy familie’ gestuur het om vir Isak ’n vrou te kry, het die dienaar na “die stad van Nahor” (óf Haran óf êrens daar naby) gegaan (Genesis 24:4,10). Daar het die dienaar Rebekka onder Abraham se familie, die groot gesin van Nahor, gevind.—Genesis 22:20-24; 24:15, 24, 29; 27:42, 43.

In sy toespraak voor die Sanhedrin het Stefanus van Abraham gesê: “God [het] hom, nadat sy vader gesterf het, van woonplek laat verander, na hierdie land waarin julle nou woon” (Handelinge 7:4). Dit dui daarop dat Jehovah in Haran met Abraham gepraat het. Dit is redelik om aan te neem dat Jehovah by daardie geleentheid sy verbond met Abraham opnuut bevestig het soos in Genesis 12:1-3 opgeteken is, aangesien die verbond in werking getree het toe Abraham na Kanaän toe gegaan het. As ons dus al die feite oorweeg, kom ons tot die gevolgtrekking dat Jehovah heel waarskynlik sy verbond met Abraham in Ur gesluit het en dit in Haran herbevestig het.

[Voetnoot]

a Jehovah het in Kanaän Abram se naam na Abraham verander toe hy 99 jaar oud was.—Genesis 17:1, 5.