Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Nuwe Wêreld-vertaling word wêreldwyd deur miljoene waardeer

Die Nuwe Wêreld-vertaling word wêreldwyd deur miljoene waardeer

Staan in volkomenheid en met vaste oortuiging

Die Nuwe Wêreld-vertaling word wêreldwyd deur miljoene waardeer

SIT het 12 jaar, 3 maande en 11 dae se harde werk geverg. Maar op 13 Maart 1960 is die laaste teksgedeelte van ’n nuwe Bybelvertaling voltooi. Dit is die New World Translation of the Holy Scriptures genoem.

’n Jaar later het Jehovah se Getuies hierdie vertaling as ’n enkele boek uitgegee. Daardie uitgawe van 1961 het ’n oplaag van eenmiljoen eksemplare gehad. Vandag is daar al meer as honderdmiljoen eksemplare gedruk, wat die Nuwe Wêreld-vertaling een van die Bybels maak wat die grootste verspreiding geniet. Maar wat het daartoe gelei dat die Getuies hierdie vertaling voorberei het?

Waarom ’n nuwe Bybelvertaling?

Jehovah se Getuies het oor die jare heen talle verskillende Engelse Bybelvertalings gebruik om die boodskap van die Heilige Skrif te verstaan en te verkondig. Hoewel hierdie vertalings nuttig kan wees, is hulle dikwels deur godsdienstradisies en die Christendom se geloofsformuliere beïnvloed (Matteus 15:6). Jehovah se Getuies het dus besef dat daar ’n behoefte was aan ’n Bybelvertaling wat die oorspronklike geïnspireerde geskrifte getrou weergee.

Die eerste stap om in hierdie behoefte te voorsien, is in 1946 geneem toe Nathan H. Knorr, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, voorgestel het dat ’n nuwe Bybelvertaling voorberei word. Op 2 Desember 1947 het die Nuwe Wêreld-Bybelvertaalkomitee ’n vertaling aangepak wat getrou aan die oorspronklike teks sou wees, geleerdes se nuutste bevindinge uit onlangs ontdekte Bybelmanuskripte sou insluit en taal sou gebruik wat maklik deur die lesers van vandag verstaan word.

Toe die eerste deel—die New World Translation of the Christian Greek Scriptures—in 1950 uitgegee is, was dit duidelik dat die vertalers hulle oogmerke bereik het. Bybeltekste wat voorheen net vaagweg begryp is, se betekenis het op dramatiese wyse duidelik geword. Neem byvoorbeeld die verwarrende teks in Matteus 5:3: “Geseënd is dié wat arm van gees is” (King James Version). Dit is weergegee met: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.” Die apostel Paulus se vermaning wat weergegee is met “wees versigtig vir niks nie” (King James Version), is vertaal as: “Moet oor niks besorg wees nie” (Filippense 4:6). En die apostel Johannes se verwysing na “die sinlikheid van die vlees” (Douay Version) lui “die begeerte van die vlees” (1 Johannes 2:16). Die Nuwe Wêreld-vertaling het ongetwyfeld ’n nuwe wêreld van begrip ontsluit.

Verskeie geleerdes was beïndruk. Die Britse Bybelgeleerde Alexander Thomson het byvoorbeeld gesê dat die Nuwe Wêreld-vertaling die Griekse teenwoordige tyd besonder akkuraat weergee. Ter toeligting: Efesiërs 5:25 sê: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê” eerder as net: “Mans, wees lief vir julle vroue” (King James Version). “Dit lyk nie asof enige ander vertaling hierdie voortreflike verskynsel so volledig en so konsekwent weergee nie”, het Thomson van die Nuwe Wêreld-vertaling gesê.

Nog ’n uitstaande kenmerk van die Nuwe Wêreld-vertaling is die gebruik van God se persoonlike naam, Jehovah, in die Hebreeuse sowel as die Griekse dele van die Skrif. Aangesien die Hebreeuse naam vir God byna 7 000 keer voorkom in die sogenaamde Ou Testament alleen, is dit duidelik dat ons Skepper wil hê dat sy aanbidders sy naam moet gebruik en hom as ’n persoon moet ken (Exodus 34:6, 7, NW). Die Nuwe Wêreld-vertaling het miljoene mense gehelp om dit te doen.

Die Nuwe Wêreld-vertaling word veeltalig

Vandat die Nuwe Wêreld-vertaling in Engels verskyn het, het Jehovah se Getuies regoor die wêreld daarna gesmag om dit in hulle eie taal te ontvang—en met goeie rede. In sommige lande was dit moeilik om vertalings in plaaslike tale te bekom omdat verteenwoordigers van die Bybelgenootskappe wat dit versprei het, nie daarvan gehou het dat hulle voorraad Bybels in die hande van Jehovah se Getuies beland nie. Daarbenewens verberg hierdie Bybels in plaaslike tale dikwels lewensbelangrike leringe. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is ’n vertaling in ’n Suid-Europese taal wat ’n belangrike verwysing na God se naam verberg deur Jesus se woorde “laat u naam geheilig word” te vervang met “mag u deur mense vereer word”.—Matteus 6:9.

Reeds in 1961 het vertalers begin om die Engelse teks van die Nuwe Wêreld-vertaling in ander tale te vertaal. Net twee jaar later is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in ses bykomende tale voltooi. Teen daardie tyd kon 3 uit elke 4 Getuies oor die hele wêreld hierdie Bybel in hulle eie taal lees. Tog moes daar baie meer werk gedoen word as Jehovah se Getuies ’n eksemplaar van hierdie Bybel in miljoene mense se hande wou kry.

In 1989 het daardie doelwit ’n groter werklikheid geword toe die Vertaaldienste-departement by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies op die been gebring is. Daardie departement het ’n vertaalmetode ontwikkel wat ’n studie van Bybelwoorde met rekenaartegnologie kombineer. Deur hierdie stelsel te gebruik, was dit moontlik om die Christelike Griekse Geskrifte in sommige ander tale binne ’n jaar te vertaal en die Hebreeuse Geskrifte binne twee jaar—’n breukdeel van die tyd wat gewoonlik vir ’n Bybelvertalingsprojek vereis word. Sedert hierdie metode ontwikkel is, is 29 uitgawes van die Nuwe Wêreld-vertaling uit Engels vertaal en in tale vrygestel wat deur meer as tweemiljard mense gepraat word. Daar word tans aan nog 12 tale gewerk. Tot op hede is die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling in sy geheel of gedeeltelik in 41 ander tale vertaal.

Meer as 50 jaar het nou verstryk sedert die eerste deel van die Nuwe Wêreld-vertaling op 3 Augustus 1950 by die “Teokrasie se vermeerdering”-byeenkoms van Jehovah se Getuies in die stad New York vrygestel is. By daardie geleentheid het Nathan H. Knorr die byeenkomsgangers aangespoor: “Neem hierdie vertaling. Lees dit deur, iets wat julle sal geniet. Bestudeer dit, want dit sal julle help om ’n beter begrip van God se Woord te verkry. Versprei dit onder ander mense.” Ons moedig jou aan om die Bybel daagliks te lees, want die boodskap daarin kan jou help om “in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God [te] staan”.—Kolossense 4:12.

[Grafiek/Prente op bladsy 8, 9]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

“Vrystellings van die Nuwe Wêreld-vertaling”

Die Nuwe Wêreld-vertaling, wat aanvanklik in Engels vrygestel is, is nou in sy geheel of gedeeltelik in nog 41 tale beskikbaar

Christelike Griekse Geskrifte Hele Bybel

1950 1

1960-69 6 5

1970-79 4 2

1980-89 2 2

1990-vandag 29 19