Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe reageer jy op huigelary?

Hoe reageer jy op huigelary?

Hoe reageer jy op huigelary?

IN DIE tuin van Getsemane het Judas Iskariot na Jesus toe gegaan en “hom baie teer gesoen”. Dit was ’n gebruiklike blyk van innige toegeneentheid. Maar Judas se gebaar was net ’n dekmantel om Jesus uit te wys aan diegene wat in die nag gekom het om hom in hegtenis te neem (Matteus 26:48, 49). Judas was ’n huigelaar—’n persoon wat voorgee om iets te wees wat hy nie is nie, iemand wat sy slegte beweegredes agter ’n masker van opregtheid wegsteek. Die Griekse woord wat met “huigelaar” vertaal word, beteken “iemand wat antwoord” en verwys ook na ’n toneelspeler. Mettertyd het die woord begin verwys na enigiemand wat bloot toneelspeel om ander te bedrieg.

Hoe reageer jy op huigelary? Word jy byvoorbeeld kwaad wanneer jy sien hoe sigaretvervaardigers rook bevorder ondanks mediese bewyse dat hulle produk skadelik is? Word jy woedend oor die huigelary van versorgers wat diegene mishandel wat aan hulle sorg toevertrou is? Voel jy seergemaak wanneer jy uitvind dat ’n vriend wat jy gedink het opreg is, al die tyd vals is? Hoe raak godsdienshuigelary jou?

“Wee julle, . . . huigelaars!”

Dink aan die godsdiensklimaat wat geheers het toe Jesus op aarde was. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het voorgegee dat hulle lojale onderrigters van God se Wet is, maar in werklikheid het hulle die mense se verstande gevul met leringe van mense wat die aandag van God afgelei het. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het nougeset op die letter van die wet aangedring, maar hulle het grondbeginsels geïgnoreer wat liefde en medelye weerspieël het. In die openbaar het hulle voorgegee dat hulle aan God toegewy is, maar in die geheim was hulle vol slegtheid. Hulle dade het nooit ooreengestem met hulle woorde nie. Hulle het dinge gedoen “om deur die mense gesien te word”. Hulle was soos “gewitte grafte, wat van buite wel mooi lyk, maar binne-in vol doodsbeendere en allerhande onreinheid is”. Jesus het onbeskroomd hulle huigelary blootgelê en herhaaldelik vir hulle gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!”—Matteus 23:5, 13-31.

As jy in daardie tyd geleef het, sou jy dalk soos ander opregtes van hart waarlik ’n afkeer gehad het aan sulke godsdienshuigelary (Romeine 2:21-24; 2 Petrus 2:1-3). Maar sou jy toegelaat het dat die huigelary van die skrifgeleerdes en Fariseërs jou so verbitterd maak dat jy alle godsdiens verwerp, ook dit wat Jesus Christus en sy dissipels geleer en beoefen het? Sou dit nie tot jou eie nadeel gewees het nie?

Die huigelagtige gedrag van godsdienstige mense kan daartoe lei dat ons ’n teësin in godsdiens kry. Maar hierdie reaksie sal ons ook verblind vir die opregtheid van ware aanbidders. Die einste skanse wat ons bou om ons teen huigelary te beskerm, keer ons in werklikheid af van ware vriende. Ons reaksie op huigelary moet dus redelik en gebalanseerd wees.

“Hou julle oë oop”

Eers moet ons leer om huigelaars te identifiseer. Dit is nie altyd maklik nie. Een gesin het dit deur bittere ervaring geleer. Die moeder het in ’n koma gegaan. Die gesin het ’n prokureur gekry wat ook ’n prediker by ’n plaaslike kerk was, om ’n wanpraktyksaak aanhangig te maak teen die hospitaal waar dit gebeur het. Hoewel die hospitaal R27,2 miljoen uitbetaal het, het die gesin se tragedie net vererger. Die moeder het as ’n armlastige gesterf, en daar was geen geld om vir haar begrafnis te betaal nie. Waarom nie? Omdat die prokureur die meeste van die geld in sy sak gesteek het. Aangaande hierdie prokureur het ’n regstydskrif gesê: “As hy gepreek het soos hy gelewe het . . . , sou sy boodskap iets moes wees soos: kom ons beroof.” Hoe kan ons ons teen sulke mense beskerm?

“Hou julle oë oop”, was die raad wat Jesus in sy dag aan diegene gegee het wat voor godsdienshuigelary te staan gekom het (Matteus 16:6; Lukas 12:1). Ja, ons moet versigtig wees. Mense bely dalk die edelste doelwitte en loop oor van opregtheid, maar ons moet die nodige versigtigheid aan die dag lê en nie sommer onmiddellik enigiemand vertrou nie. Sal ons nie ons banknote noukeurig nagaan as ons weet dat daar vervalste geld in die omloop is nie?

Huigelaars het al selfs in die ware Christengemeente verskyn. Die dissipel Judas het teen hulle gewaarsku en gesê: “Hulle is die rotse wat onder die water verborge is in julle liefdesmaaltye terwyl hulle saam met julle fees hou, herders wat hulleself sonder vrees voed; waterlose wolke wat deur winde heen en weer gedryf word; bome in die naherfs, maar vrugloos.”—Judas 12.

Om ‘ons oë oop te hou’, beteken dat ons versigtig moet wees om nie deur iemand bedrieg te word wat voorgee dat hy liefdevol is, maar wat eintlik selfsugtig is en opvattings bevorder wat nie op God se Woord gegrond is nie. Soos ’n skerp rots wat net onder ’n kalm wateroppervlak lê, kan so iemand geestelike skipbreuk vir onbehoedsame mense veroorsaak (1 Timoteus 1:19). Die huigelaar maak dalk baie beloftes wat geestelike verkwikking betref, maar is in werklikheid ‘’n waterlose wolk’—wat niks oplewer nie. Soos ’n vruglose boom dra ’n bedrieër geen ware Christelike vrug nie (Matteus 7:15-20; Galasiërs 5:19-21). Ja, ons moet op ons hoede wees vir sulke bedrieërs. Tog moet ons dit doen sonder om almal se motiewe te wantrou.

“Hou op om te oordeel”

Hoe maklik is dit tog vir onvolmaakte mense om ander se foute uit te wys terwyl hulle hulle eie foute ignoreer! Hierdie neiging maak ons egter vatbaar vir huigelary. “Huigelaar!” het Jesus gesê. “Haal eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik sien hoe om die strooihalm uit jou broer se oog uit te haal.” Dit sal goed wees om op sy raad ag te slaan: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie; want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word . . . Waarom kyk jy dan na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie?”—Matteus 7:1-5.

Wanneer ander soms dinge doen wat huigelagtig lyk, moet ons versigtig wees om hulle nie oorhaastig huigelaars te noem nie. Die apostel Petrus het hom byvoorbeeld “onttrek en hom afgesonder” van nie-Joodse medegelowiges in Antiogië ter wille van besoekers uit Jerusalem met ’n Joodse agtergrond. Barnabas ‘is ook deur Petrus en ander se veinsery meegesleep’. Petrus het dit gedoen ondanks die feit dat hy die voorreg gehad het om die weg te open vir nie-Jode om deel van die Christengemeente te word (Galasiërs 2:11-14; Handelinge 10:24-28, 34, 35). Maar hierdie misstap van Barnabas en Petrus het hulle beslis nie in dieselfde kategorie as die skrifgeleerdes en Fariseërs of Judas Iskariot geplaas nie.

“Laat julle liefde sonder huigelary wees”

“Wanneer jy aan ander mense goeddoen”, het Jesus gemaan, “moet jy nie ’n trompetblaser huur om voor jou uit te gaan—soos daardie toneelspelers in die sinagoges en strate wat seker maak dat mense hulle bewonder nie” (Matteus 6:2, Phillips). “Laat julle liefde sonder huigelary wees”, het die apostel Paulus geskryf (Romeine 12:9). Hy het die jong Timoteus aangemoedig om “liefde uit ’n rein hart . . . en uit geloof sonder huigelary” te hê (1 Timoteus 1:5). As ons liefde en geloof opreg is—nie bederf deur selfsug en bedrog nie—sal ander ons vertrou. Ons sal ’n bron van ware krag en bemoediging vir diegene om ons wees (Filippense 2:4; 1 Johannes 3:17, 18; 4:20, 21). En bowenal sal ons Jehovah se goedkeuring wegdra.

Huigelary daarenteen sal op die lange duur dodelik wees vir diegene wat dit beoefen. Huigelary sal uiteindelik openbaar gemaak word. “Daar is niks bedek wat nie blootgelê sal word nie”, het Jesus Christus gesê, “en geheim wat nie bekend sal word nie” (Matteus 10:26; Lukas 12:2). Die wyse koning Salomo het gesê: “God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.”—Prediker 12:14.

Waarom sal ons intussen toelaat dat die huigelary van ander ons in so ’n mate raak dat ons die opregte liefde van ware vriende ontneem word? Ons kan versigtig wees sonder om te agterdogtig te raak. En laat ons alles in ons vermoë doen om ons eie liefde en geloof vry van huigelary te hou.—Jakobus 3:17; 1 Petrus 1:22.

[Prente op bladsy 22, 23]

Sou jy toegelaat het dat die huigelary van die skrifgeleerdes en Fariseërs jou van Jesus Christus en sy dissipels afkeer?