Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is daar enige hoop op redding?

Is daar enige hoop op redding?

Is daar enige hoop op redding?

Die 20ste eeu is al een van die bloedigste eeue genoem wat die mensdom nog beleef het. Misdaad, oorloë, etniese konflik, dwelmmisbruik, oneerlikheid en geweld het veral gedurende die afgelope paar dekades hoogty gevier. Voeg hierby die pyn en lyding wat die gevolg is van siekte, ouderdom en die dood. Wie smag nie na bevryding van die ontsettende probleme wat vandag in die wêreld bestaan nie? Is daar enige hoop op redding wanneer ons na die toekoms kyk?

DINK aan die visioen wat ongeveer 2 000 jaar gelede aan die apostel Johannes gegee is. Hy het geskryf: “Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Die profeet Jesaja het iets soortgelyks voorspel: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.”—Jesaja 25:8.

Dink net wat die vervulling van God se beloftes sal beteken! Die mensdom sal bevry, of verlos, word van verdrukking en geweld, van die oorsake van lyding en benoudheid. Selfs siekte, ouderdom en die dood sal ons nie teister nie! God se Woord, die Bybel, belowe ewige lewe onder volmaakte toestande op aarde (Lukas 23:43; Johannes 17:3). En dit is binne die bereik van almal wat dit begeer. ‘Dit is God se wil dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom.’—1 Timoteus 2:3, 4.

As ons egter by God se beloftes wil baat vind, moet ons die rol verstaan wat Jesus Christus in ons redding speel en geloof in hom beoefen. Jesus self het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die apostel Petrus het gewys op die lewensbelangrike rol van Jesus Christus in hierdie saak en gesê: “Daar [is] geen redding in enigiemand anders nie, want daar is nie ’n ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Die apostel Paulus en sy metgesel Silas het iemand wat opreg belanggestel het, aangespoor: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgenote.”—Handelinge 16:30, 31.

Ja, Jesus Christus is “die Hoofbewerker van die lewe”, en redding is slegs moontlik deur hom (Handelinge 3:15). Maar hoe kan een mens so ’n sleutelfiguur in ons redding wees? ’n Duidelike begrip van sy rol in hierdie opsig behoort ons hoop op redding te versterk.

[Foto-erkennings op bladsy 2]

Bladsy 3: Bomwerpers: USAF photo; uitgehongerde kinders: UNITED NATIONS/J. FRAND; brandende oorlogskip: U.S. Navy photo