Jehovah is ons toevlug
Jehovah is ons toevlug
“Omdat jy gesê het: ‘Jehovah is my toevlug’, . . . [sal] geen rampspoed . . . jou tref nie.”—PSALM 91:9, 10, NW.
1. Waarom kan ons sê dat Jehovah ons toevlug is?
JEHOVAH is ’n ware toevlug vir sy knegte. As ons volkome aan hom toegewy is, is ons dalk ‘in elke opsig geknel, maar nie só vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie; raadop, maar nie heeltemal sonder uitweg nie; word ons vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; neergewerp, maar nie vernietig nie’. Waarom? Omdat Jehovah ons “krag [gee] wat bo die normale is” (2 Korintiërs 4:7-9). Ja, ons hemelse Vader help ons om ’n godvrugtige lewe te lei, en ons kan die psalmis se woorde ter harte neem: “Omdat jy gesê het: ‘Jehovah is my toevlug’, het jy die Allerhoogste jou woonplek gemaak; geen rampspoed sal jou tref nie.”—Psalm 91:9, 10, NW.
2. Wat kan oor Psalm 91 en die beloftes daarin gesê word?
2 Hierdie woorde van Psalm 91 is moontlik deur Moses geskryf. ’n Opskrif skryf die 90ste Psalm aan hom toe, en Psalm 91 volg daarop sonder enige stelling tussenin wat ’n ander skrywer noem. Psalm 91 is moontlik in wisselsang gesing: dit wil sê, een persoon het dalk eerste gesing (91:1, 2), met teensang deur ’n koor (91:3-8). Daarna is een stem moontlik gehoor (91:9a), wat deur ’n groep beantwoord is (91:9b-13). Dan het een sanger dalk die laaste woorde gesing (91:14-16). Hoe dit ook al sy, die 91ste Psalm beloof geestelike veiligheid aan gesalfde Christene as ’n klas en gee hulle toegewyde metgeselle as ’n groep dieselfde versekering. a Kom ons kyk nou na hierdie psalm uit die oogpunt van al hierdie knegte van Jehovah.
Veilig in ‘God se skuilplek’
3. (a) Wat is “die skuilplek van die Allerhoogste”? (b) Wat geniet ons as ons “in die skaduwee van die Almagtige” vertoef?
3 Die psalmis sing: “Elkeen wat in die skuilplek van die Allerhoogste woon, sal vir hom verblyf kry in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal vir Jehovah sê: ‘U is my toevlug en my vesting, my God, op wie ek sal vertrou’” (Psalm 91:1, 2, NW). “Die skuilplek van die Allerhoogste” is ’n figuurlike plek van beskerming vir ons, en veral vir gesalfdes, wat spesiale teikens van die Duiwel is (Openbaring 12:15-17). Hy sou ons almal vernietig het as ons nie die beskerming geniet het wat ons ontvang as geestelike gaste wat by God vertoef nie. As ons “in die skaduwee van die Almagtige” vertoef, geniet ons God se beskermende skaduwee oor ons (Psalm 15:1, 2; 121:5). Daar is geen veiliger toevlug of sterker vesting as ons Soewereine Heer, Jehovah, nie.—Spreuke 18:10.
4. Watter strikke gebruik “die voëlvanger”, Satan, en hoe ontsnap ons?
4 Die psalmis sê verder: “Hy [Jehovah] sal jou uit die valstrik van die voëlvanger bevry, van die pes wat teëspoed veroorsaak” (Psalm 91:3, NW). ’n Voëlvanger in eertydse Israel het voëls dikwels gevang deur strikke of vangnette te gebruik. Onder die strikke van “die voëlvanger”, Satan, is sy bose organisasie en “listige dade” (Efesiërs 6:11, voetnoot in naslaanuitgawe). Verborge strikke word op ons weg geplaas om ons in goddeloosheid in te lok en ons geestelike ondergang te veroorsaak (Psalm 142:4). Maar omdat ons onregverdigheid verwerp het, ‘is ons siel soos ’n voël wat uit die valstrik ontsnap’ (Psalm 124:7, 8, NW). Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah ons van die bose “voëlvanger” verlos!—Matteus 6:13.
5, 6. Watter “pes” het al “teëspoed” veroorsaak, maar waarom swig Jehovah se knegte nie daarvoor nie?
5 Die psalmis praat van “die pes wat teëspoed veroorsaak”. Soos ’n besmetlike epidemiese siekte is daar iets wat “teëspoed” vir die mensdom en vir handhawers van Jehovah se soewereiniteit veroorsaak. In dié verband het die geskiedskrywer Arnold Toynbee geskryf: “Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het nasionalisme die aantal plaaslike, onafhanklike soewereine state laat verdubbel . . . Die mensdom is vandag al hoe meer geneig tot verdeeldheid.”
6 Deur die eeue heen het sekere heersers verdelende internasionale konflikte aangeblaas. Hulle het ook daarop aangedring dat hulle, of verskeie beelde of simbole, vereer word. Maar Jehovah het nog nooit sy getroue knegte voor so ’n “pes” laat swig nie (Daniël 3:1, 2, 20-27; 6:7-10, 16-22). As ’n liefdevolle internasionale broederskap gee ons uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah, handhaaf ons skriftuurlike neutraliteit en erken ons onbevooroordeeld dat ‘in elke nasie die mens wat God vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik is’ (Handelinge 10:34, 35; Exodus 20:4-6; Johannes 13:34, 35; 17:16; 1 Petrus 5:8, 9). Hoewel ons as Christene “teëspoed” in die vorm van vervolging ondervind, is ons vreugdevol en voel ons geestelik veilig “in die skuilplek van die Allerhoogste”.
7. Hoe beskerm Jehovah ons “met sy vlerke”?
7 Met Jehovah as ons toevlug word ons bemoedig deur die woorde: “Met sy vlerke sal hy toegang tot jou versper, en onder sy vleuels sal jy toevlug soek. Sy waaragtigheid sal ’n groot skild en verskansing wees” (Psalm 91:4, NW). God beskerm ons, net soos ’n moedervoël beskermend oor haar kleintjies sweef (Jesaja 31:5). ‘Met sy vlerke versper hy toegang tot ons.’ ’n Voël sprei haar vlerke oor haar kleintjies uit om hulle teen roofdiere te beskerm. Soos jong voëls voel ons veilig onder Jehovah se figuurlike vlerke omdat ons ons toevlug tot sy ware Christenorganisasie geneem het.—Rut 2:12; Psalm 5:2, 12.
8. Hoe is Jehovah se “waaragtigheid” ’n groot skild en verskansing?
8 Ons stel ons vertroue in “waaragtigheid” of getrouheid. Dit is soos ’n groot skild van die ou tyd, wat dikwels die vorm van ’n deur gehad het en groot genoeg was om iemand se hele liggaam te bedek (Psalm 5:12, NW). Vertroue op sulke beskerming bevry ons van vrees (Genesis 15:1; Psalm 84:12). Soos ons geloof, is God se waaragtigheid ’n groot beskermende skild wat Satan se brandende projektiele wegkeer en aanvalle van die vyand afweer (Efesiërs 6:16). Dit is ook ’n verskansing, ’n sterk verdedigingswal waaragter ons vasstaan.
‘Ons sal nie bang wees nie’
9. Waarom kan die nag ’n vreeswekkende tyd wees, maar waarom is ons nie bang nie?
9 Met God se beskerming in gedagte sê die psalmis: “Jy sal nie bang wees vir iets vreesliks in die nag of vir die pyl wat in die dag vlieg of vir die pes wat in die donker wandel of vir die vernietiging wat op die middaguur plunder nie” (Psalm 91:5, 6, NW). Aangesien talle bose dade in die donker gepleeg word, kan die nag ’n vreeswekkende tyd wees. In die geestelike duisternis wat nou die aarde oordek, maak ons vyande dikwels gebruik van onderduimse metodes om ons geestelikheid te vernietig en ons predikingswerk stop te sit. Maar ‘ons is nie bang vir iets vreesliks in die nag nie’, want Jehovah beskerm ons.—Psalm 64:2, 3; 121:4; Jesaja 60:2.
10. (a) Waarop dui “die pyl wat in die dag vlieg” blykbaar, en hoe reageer ons daarop? (b) Wat is “die pes wat in die donker wandel”, en waarom is ons nie bang daarvoor nie?
10 “Die pyl wat in die dag vlieg”, dui blykbaar op mondelinge aanvalle (Psalm 64:4-6; 94:20). Terwyl ons volhou om die waarheid bekend te maak, word dit duidelik dat sulke openlike teenkanting teen ons heilige diens tevergeefs is. Ons is ook nie bang “vir die pes wat in die donker wandel” nie. Dit is ’n figuurlike pes wat uitbroei in die donkerte van hierdie wêreld wat sedelik en geestelik siek is en in die mag van Satan lê (1 Johannes 5:19). Dit bring ’n dodelike toestand van die verstand en hart voort en laat mense in die duister oor Jehovah, sy voornemens en sy liefdevolle voorsienings (1 Timoteus 6:4). In hierdie duisternis is ons nie bang nie, aangesien ons geestelike lig in oorvloed geniet.—Psalm 43:3.
11. Wat gebeur met diegene wat ‘op die middaguur geplunder’ word?
11 “Die vernietiging wat op die middaguur plunder”, maak ons ook nie bang nie. “Die middaguur” kan dui op die sogenaamde verligting van die wêreld. Diegene wat die materialistiese beskouings daarvan aanneem, ondergaan geestelike vernietiging (1 Timoteus 6:20, 21). Terwyl ons die Koninkryksboodskap moedig verkondig, vrees ons geen vyand nie, want Jehovah is ons Beskermer.—Psalm 64:2; Spreuke 3:25, 26.
12. Aan wie se sy “val” duisende, en hoe?
12 Die psalmis sê voorts: “Duisend sal aan jou sy val en tienduisend aan jou regterhand; naby jou sal dit nie kom nie. Net met jou oë sal jy toekyk en die vergelding van die goddeloses sien” (Psalm 91:7, 8, NW). Omdat baie nie hulle toevlug tot Jehovah neem nie, ‘val hulle aan ons sy’ deurdat hulle geestelik sterf. “Tienduisend” het as ’t ware aan die “regterhand” van hedendaagse geestelike Israeliete geval (Galasiërs 6:16). Maar hetsy ons gesalfde Christene of hulle toegewyde metgeselle is, ons is veilig in God se “skuilplek”. Ons ‘kyk net toe en sien die vergelding van die goddeloses’, wat probleme maai op handels- en godsdiensgebied, asook op ander gebiede.—Galasiërs 6:7.
‘Geen rampspoed sal ons tref nie’
13. Watter rampspoede tref ons nie, en waarom nie?
13 Hoewel daar al hoe minder veiligheid in hierdie wêreld te vinde is, stel ons God eerste en gee die psalmis se woorde ons moed: “Omdat jy gesê het: ‘Jehovah is my toevlug’, het jy die Allerhoogste jou woonplek gemaak; geen rampspoed sal jou tref nie, en nie eens ’n plaag sal naby jou tent kom nie” (Psalm 91:9, 10, NW). Ja, Jehovah is ons toevlug. Maar ons maak die Allerhoogste God ook ‘ons woonplek’, waar ons veiligheid vind. Ons loof Jehovah as die Universele Soewerein, ‘woon’ in hom as ons Bron van veiligheid en verkondig die goeie nuus van sy Koninkryk (Matteus 24:14). Daarom ‘sal geen rampspoed ons tref nie’—nie een van die rampspoede wat vroeër in hierdie psalm beskryf word nie. Selfs wanneer ons saam met ander mense rampspoede ervaar, soos aardbewings, orkane, oorstromings, hongersnode en die verwoestende gevolge van oorloë, vernietig dit nie ons geloof of ons geestelike veiligheid nie.
14. Waarom word ons as Jehovah se knegte nie deur dodelike plae besmet nie?
14 Gesalfde Christene is soos vreemdelinge wat in tente buite hierdie stelsel van dinge woon (1 Petrus 2:11). ‘Nie eens ’n plaag kom naby hulle tent nie.’ Of ons nou ’n hemelse of aardse hoop het, ons is geen deel van die wêreld nie, en ons word nie besmet deur die dodelike plae daarvan soos onsedelikheid, materialisme, valse godsdiens en aanbidding van “die wilde dier” en sy “beeld”, die Verenigde Nasies, nie.—Openbaring 9:20, 21; 13:1-18; Johannes 17:16.
15. In watter opsigte het ons die hulp van engele?
15 Aangaande die beskerming wat ons geniet, sê die psalmis verder; “Hy [Jehovah] sal sy engele aangaande jou bevel gee, om jou op al jou weë te bewaar. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen enige klip sal stamp nie” (Psalm 91:11, 12, NW). Engele is mag gegee om ons te beskerm (2 Konings 6:17; Psalm 34:8-10; 104:4, NW; Matteus 26:53; Lukas 1:19). Hulle bewaar ons ‘op al ons weë’ (Matteus 18:10). As Koninkryksverkondigers word ons deur engele gelei en bewaak en struikel ons nie in geestelike sin nie (Openbaring 14:6, 7). Selfs ‘klippe’ soos verbooie op ons werk het ons nie laat struikel en val sodat ons God se guns verloor het nie.
16. Hoe verskil die aanval van ’n “jong leeu” van dié van ’n “kobra”, en hoe reageer ons daarop?
16 Die psalmis sê voorts: “Op die jong leeu en die kobra sal jy trap; jy sal die jong maanhaarleeu en die groot slang vertrap” (Psalm 91:13, NW). Net soos ’n jong leeu ’n openlike frontaanval doen, toon party van ons vyande hulle teenkanting openlik deur wette uit te vaardig wat bedoel is om ons predikingswerk stop te sit. Maar onverwagte aanvalle, soos dié van ’n kobra wat uit ’n wegkruipplek aanval, word ook op ons gedoen. Geestelikes, wat agter die skerms werk, val ons soms aan deur middel van wetgewers, regters en ander. Maar met Jehovah se ondersteuning doen ons vreedsaam ’n beroep op die howe om reg te laat geskied, waardeur ons ‘die goeie nuus verdedig en wetlik bevestig’.—Filippense 1:7; Psalm 94:14, 20-22.
17. Hoe vertrap ons “die jong maanhaarleeu”?
17 Die psalmis praat van die vertrapping van “die jong maanhaarleeu en die groot slang”. ’n Jong maanhaarleeu kan baie gevaarlik wees, en ’n groot slang kan ’n yslike reptiel wees (Jesaja 31:4). Maar ongeag hoe gevaarlik die jong maanhaarleeu mag wees wanneer hy ’n frontaanval doen, ons vertrap hom figuurlik deur eerder aan God as aan leeuagtige mense of organisasies gehoorsaam te wees (Handelinge 5:29). Die dreigende “leeu” doen ons dus nie geestelike skade aan nie.
18. Aan wie laat “die groot slang” ons waarskynlik dink, en wat moet ons doen as ons aangeval word?
18 In die Griekse Septuagint word “die groot slang” “’n draak” genoem. Dit laat ons heel waarskynlik dink aan “die groot draak . . . , die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word” (Openbaring 12:7-9; Genesis ). Hy is soos ’n monsteragtige reptiel wat sy prooi kan verbrysel en verslind ( 3:15Jeremia 51:34). Wanneer Satan ons in sy wurggreep probeer kry, ons deur hierdie wêreld se druk probeer verbrysel en ons probeer verslind, laat ons dan losruk en hierdie “groot slang” vertrap (1 Petrus 5:8). Die gesalfde oorblyfsel moet dit doen as hulle deelgenote wil wees in die vervulling van Romeine 16:20.
Jehovah—ons Bron van redding
19. Waarom neem ons ons toevlug tot Jehovah?
19 Volgens die psalmis sê God van die ware aanbidder: “Omdat hy sy geneentheid op my gerig het, sal ek ook aan hom ontkoming verskaf. Ek sal hom beskerm omdat hy my naam leer ken het” (Psalm 91:14, NW). Die frase “ek sal hom beskerm”, is letterlik “ek sal hom op ’n hoogte stel”, dit wil sê buite bereik. Ons neem ons toevlug tot Jehovah as sy aanbidders, veral omdat ‘ons ons geneentheid op hom gerig het’ (Markus 12:29, 30; 1 Johannes 4:19). En op sy beurt ‘verskaf God aan ons ontkoming’ van ons vyande. Nooit sal ons van die aarde af verdelg word nie. Ons sal eerder gered word omdat ons God se naam ken en dit in geloof aanroep (Romeine 10:11-13). En ons is vasbeslote om ‘vir ewig in Jehovah se naam te wandel’.—Miga 4:5, NW; Jesaja 43:10-12, NW.
20. Met watter belofte van Jehovah aan sy getroue kneg sluit Psalm 91 af?
20 Psalm 91 sluit af waar Jehovah van sy getroue kneg sê: “Hy sal my aanroep, en ek sal hom antwoord. Ek sal met hom wees in benoudheid. Ek sal hom red en hom verheerlik. Met lengte van dae sal ek hom versadig, en ek sal hom redding deur my laat sien” (Psalm 91:15, 16, NW). Wanneer ons God in gebed aanroep volgens sy wil, verhoor hy ons (1 Johannes 5:13-15). Ons het reeds groot benoudheid verduur weens die vyandigheid wat deur Satan aangestook word. Maar die woorde: “Ek sal met hom wees in benoudheid”, berei ons voor op toekomstige beproewinge en verseker ons dat God ons sal onderskraag wanneer hierdie goddelose stelsel vernietig word.
21. Hoe is die gesalfdes reeds verheerlik?
21 Ten spyte van Satan se hewige teenstand sal al die gesalfdes onder ons op Jehovah se bestemde tyd—ná “lengte van dae” op aarde—in die hemel verheerlik word. Maar God se merkwaardige reddingsdade het reeds geestelike heerlikheid vir die gesalfdes gebring. En watter eer is dit tog vir hulle om in hierdie laaste dae die leiding te neem as Getuies van Jehovah op aarde! (Jesaja 43:10-12, NW). Jehovah se grootste reddingsdaad ten behoewe van sy knegte sal tydens sy groot oorlog van Armageddon plaasvind wanneer hy sy soewereiniteit regverdig en sy naam heilig.—Psalm 83:18, NW; Esegiël 38:23; Openbaring 16:14, 16.
22. Wie sal ‘redding deur Jehovah sien’?
22 Hetsy ons gesalfde Christene of hulle toegewyde metgeselle is, ons vertrou op God vir redding. Gedurende “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” sal diegene wat God lojaal dien, gered word (Joël 2:30-32, NW). Dié van ons wat deel sal wees van die “groot skare” oorlewendes wat tot in God se nuwe wêreld behoue bly en wat gedurende ’n finale toets getrou bly, sal ‘deur hom versadig word met lengte van dae’—eindelose lewe. Hy sal ook menigtes opwek (Openbaring 7:9; 20:7-15). Jehovah sal inderdaad groot behae daarin skep om ‘ons redding te laat sien’ deur middel van Jesus Christus (Psalm 3:8, NW). Laat ons dan, met sulke wonderlike vooruitsigte, aanhou om op God te vertrou om ons te help om ons dae tot sy heerlikheid te tel. Laat ons deur ons woorde en dade voortgaan om te bewys dat Jehovah ons toevlug is.
[Voetnoot]
a Skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte het nie Psalm 91 in die konteks van Messiaanse profesieë bespreek nie. Jehovah was natuurlik ’n toevlug en ’n vesting vir die man Jesus Christus, soos Hy ook vir Jesus se gesalfde volgelinge en hulle toegewyde metgeselle as ’n groep in hierdie “tyd van die einde” is.—Daniël 12:4.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat is “die skuilplek van die Allerhoogste”?
• Waarom is ons nie bang nie?
• In watter sin ‘sal geen rampspoed ons tref nie’?
• Waarom kan ons sê dat Jehovah ons bron van redding is?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 17]
Weet jy in watter sin Jehovah se waaragtigheid ’n groot skild vir ons is?
[Prente op bladsy 18]
Jehovah help sy knegte om hulle bediening uit te voer ten spyte van onverwagte aanvalle en openlike teenkanting
[Erkenning]
Kobra: A. N. Jagannatha Rao, Trustee, Madras Snake Park Trust