Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus red—Hoe?

Jesus red—Hoe?

Jesus red—Hoe?

“Jesus red!” “Jesus is ons Verlosser!” In baie lande in die wêreld sien ons sulke boodskappe op die mure van geboue en in ander openbare plekke. Miljoene mense glo opreg dat Jesus hulle Verlosser is. As jy hulle sou vra: “Hoe red Jesus ons?” sou hulle waarskynlik antwoord: “Jesus het vir ons gesterf” of “Jesus het vir ons sondes gesterf”. Ja, Jesus se dood maak dit vir ons moontlik om gered te word. Maar hoe kan die dood van een mens vir die sondes van ’n menigte vergoed? As jy gevra word: “Hoe kan Jesus se dood ons red?” wat sou jy sê?

DIE antwoord wat die Bybel op hierdie vraag gee, is baie eenvoudig, maar duidelik en betekenisvol. Voordat ons egter kan begryp hoe belangrik dit is, moet ons eers verstaan dat Jesus se lewe en dood ’n oplossing vir ’n baie ingewikkelde probleem is. Slegs dan kan ons goed verstaan watter ontsaglike waarde Jesus se dood het.

Deur Jesus sy lewe te laat opoffer, het God werk gemaak van ’n situasie wat ontstaan het toe Adam gesondig het. Wat ’n tragedie was daardie sonde tog! Die heel eerste man en sy vrou, Eva, was volmaak. Die pragtige tuin van Eden was hulle tuiste. God het vir hulle die betekenisvolle werk gegee om na hulle tuintuiste om te sien. Die ander lewende wesens op aarde sou onder hulle liefdevolle sorg wees. En terwyl mense vermenigvuldig en die aarde met miljoene van hulle soort gevul het, moes hulle die Paradys tot aan die uithoeke van die aarde uitbrei (Genesis 1:28). Wat ’n aangename en opwindende werk is hulle tog gegee! Daarbenewens het hulle twee liefdevolle kameraadskap gehad (Genesis 2:18). Hulle het niks kortgekom nie. Hulle kon uitsien na ewige lewe in geluk.

Dit is moeilik om te verstaan hoe Adam of Eva kon sondig. Maar die eerste mensepaar het in opstand gekom teen die een wat hulle geskep het—Jehovah God. Die geesskepsel Satan die Duiwel het ’n slang gebruik om Eva te mislei sodat sy aan Jehovah ongehoorsaam was, en Adam het haar gevolg.—Genesis 3:1-6.

Daar was geen twyfel oor wat die Skepper in verband met Adam en Eva sou doen nie. Hy het vroeër die gevolge van ongehoorsaamheid duidelik uiteengesit en gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:16, 17). ’n Baie verreikender vraag moes toe beantwoord word.

Die mensdom kom te staan voor ’n moeilike probleem

Die eerste sonde het ’n baie ernstige probleem vir die mensdom geskep. Adam het sy lewe as ’n volmaakte mens begin. Sy kinders sou dus die ewige lewe in volmaaktheid kon geniet. Adam het egter gesondig voordat hy enige kinders verwek het. Die ganse mensdom was nog in sy lendene toe hy die vonnis opgelê is: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Toe Adam dus gesondig en begin sterf het, soos God gesê het hy sou, is die hele mensdom saam met hom tot die dood veroordeel.

Dit is gepas dat die apostel Paulus later geskryf het: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’ (Romeine 5:12). Ja, weens die eerste sonde is kinders, wat veronderstel was om volmaak gebore te word met eindelose lewe voor hulle, voortgebring met siekte, ouderdom en die dood in die vooruitsig.

“Dit is nie regverdig nie”, sê iemand dalk. “Ons het nie gekies om ongehoorsaam aan God te wees nie—Adam het. Waarom moet ons ons vooruitsig op die ewige lewe en geluk verloor?” As ’n geregshof ’n seun in die tronk sou sit omdat sy pa ’n motor gesteel het, weet ons dat die seun tereg sou kon kla: “Dit is nie regverdig nie! Ek het niks verkeerds gedoen nie.”—Deuteronomium 24:16.

Satan het moontlik gedink dat hy God in ’n onmoontlike posisie sou plaas deur die eerste man en vrou tot sonde oor te haal. Die Duiwel se aanval was baie vroeg in die geskiedenis van die mensdom—voor enige kinders gebore is. Die oomblik toe Adam gesondig het, het ’n belangrike vraag ontstaan: Wat sal Jehovah doen in verband met die kinders wat Adam en Eva gaan hê?

Jehovah God het gedoen wat regverdig was. “Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg!” het die regverdige man Elihu gesê (Job 34:10). En aangaande Jehovah het die profeet Moses geskryf: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy” (Deuteronomium 32:4, NW). Die oplossing wat die ware God voorsien het vir die probleem wat deur Adam se sonde geskep is, neem nie ons geleentheid vir ewige lewe op ’n paradysaarde weg nie.

God voorsien ’n volmaakte oplossing

Dink aan die oplossing wat God uiteengesit het in die vonnis wat hy oor Satan die Duiwel uitgespreek het. Jehovah het vir Satan gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou [God se hemelse organisasie], en tussen jou saad [die wêreld onder Satan se beheer] en haar saad [Jesus Christus]. Hý sal jou [Satan] die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt [Jesus se dood]” (Genesis 3:15). In hierdie eerste Bybelprofesie het Jehovah gesinspeel op sy voorneme dat sy hemelse geesseun na die aarde toe sou kom om as die volmaakte man Jesus te lewe en dan in daardie sondelose toestand te sterf—in die hakskeen gebyt te word.

Waarom het God die dood van ’n volmaakte man vereis? Wel, wat was Jehovah God se straf vir Adam as hy sou sondig? Was dit nie die dood nie? (Genesis 2:16, 17). “Die loon wat die sonde betaal, is die dood”, het die apostel Paulus geskryf (Romeine 6:23). Adam het met sy eie dood vir sy sonde betaal. Hy is die lewe gegee, hy het gekies om te sondig en hy het gesterf as straf vir sy sonde (Genesis 3:19). Wat van die veroordeling waaronder die ganse mensdom gekom het weens daardie sonde? ’n Dood was nodig om vir hulle sonde versoening te doen. Maar wie se dood kon na regte die oortredings van die hele mensdom bedek?

God se Wet aan die eertydse nasie Israel het “lewe vir lewe” vereis (Exodus 21:23). Volgens hierdie wetlike beginsel moes die dood wat die mensdom se oortredings bedek, dieselfde waarde hê as dít wat Adam verloor het. Slegs die dood van ’n ander volmaakte man kon die loon van die sonde betaal. Jesus was so ’n man. Jesus was waarlik “’n ooreenstemmende losprys” vir die redding van alle loskoopbare mense wat van Adam afgestam het.—1 Timoteus 2:6; Romeine 5:16, 17.

Jesus se dood het groot waarde

Adam se dood het geen waarde gehad nie; hy het verdien om vir sy sonde te sterf. Maar Jesus se dood het groot waarde gehad omdat hy in ’n sondelose toestand gesterf het. Jehovah God kon die waarde van Jesus se volmaakte lewe aanvaar as ’n losprys vir die gehoorsame nakomelinge van sondige Adam. En die waarde van Jesus se offerande strek verder as om net vir ons vorige sondes te betaal. So nie, sou ons geen toekoms gehad het nie. Aangesien ons in sonde ontvang is, sal ons beslis weer sondig (Psalm 51:7). Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jesus se dood voorsiening maak vir ons om die volmaaktheid te verkry wat oorspronklik Jehovah se voorneme vir die nageslag van Adam en Eva was!

Adam kan vergelyk word met ’n vader wat gesterf het en ons so diep in die skuld (sonde) gelaat het dat daar geen manier is waarop ons die skuld kan vereffen nie. Aan die ander kant is Jesus soos ’n goeie vader wat gesterf en vir ons ’n groot erfenis nagelaat het wat nie net die ontsaglike skuld vereffen waarmee Adam ons belas het nie, maar ons ook van genoeg voorsien om vir ewig te kan lewe. Jesus se dood is nie net ’n afskrywing van vorige sondes nie; dit is ook ’n wonderlike voorsiening vir ons toekoms.

Jesus red omdat hy vir ons gesterf het. En wat ’n waardevolle voorsiening is sy dood tog! As ons verstaan dat dit deel van God se oplossing vir die ingewikkelde probleem van Adam se sonde is, versterk dit ons geloof in Jehovah en in die manier waarop hy dinge doen. Ja, Jesus se dood is ’n manier om “elkeen wat geloof in hom beoefen”, van sonde, siekte, ouderdom en selfs die dood te red (Johannes 3:16). Is jy dankbaar teenoor God dat hy hierdie liefdevolle reëling vir ons redding gemaak het?

[Prent op bladsy 5]

Adam het sonde en die dood oor die mensdom gebring

[Prent op bladsy 6]

Jehovah het ’n volmaakte oplossing voorsien