Vrae van lesers
Vrae van lesers
Hoe het die slang in die tuin van Eden aan Eva die idee oorgedra om God se wet in verband met die boom van die kennis van goed en kwaad te verbreek?
Genesis 3:1 sê: “Die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Daar was al verskillende menings oor hoe die slang moontlik met Eva gekommunikeer het. Een idee is dat hy dit deur middel van lyftaal of gebare gedoen het. Die Engelse geestelike Joseph Benson het byvoorbeeld gesê: “Dit was heel waarskynlik deur tekens van die een of ander aard. Party was selfs van mening dat dit destyds algemeen bekend was dat slange kon dink en praat, . . . maar daar is geen bewys hiervoor nie.”
Maar hoe kon die slang, deur bloot lyftaal te gebruik, aan Eva die idee oordra dat sy soos God sou word en self sou kon besluit wat goed en wat kwaad is, as sy die verbode vrug sou eet? Daarbenewens het Eva aan die gesprek deelgeneem deur die vraag te beantwoord wat die slang geopper het (Genesis 3:2-5). Die beskouing dat die slang net met tekens of bewegings gekommunikeer het, sou impliseer dat Eva met gebare geantwoord het, terwyl die Bybel sê dat sy gepraat het.
Met verwysing na hierdie voorval het die apostel Paulus mede-Christene gewaarsku: “Ek is bang dat, soos die slang Eva deur sy listigheid verlei het, julle verstande op die een of ander wyse verderf sal word.” Die gevaar waarvan Paulus gepraat het, het gekom van “valse apostels, bedrieglike werkers”. Die bedreiging wat sulke “uitnemende apostels” ingehou het, was nie tot lyftaal en gebare beperk nie. Dit het hulle spraak ingesluit—hulle slinkse woorde wat geuiter is om ander te mislei.—2 Korintiërs 11:3-5, 13.
Hoewel spraak gebruik is om Eva in die tuin van Eden te mislei, is daar niks wat daarop dui dat die letterlike slang stembande gehad het nie. Hy het dit in werklikheid nie nodig gehad nie. Toe God se engel met Bileam gepraat het deur middel van sy esel, het die dier nie ’n ingewikkelde stemkas soortgelyk aan dié van ’n mens nodig gehad nie (Numeri 22:26-31). Toe hierdie ‘stom lasdier met die stem van ’n mens gespreek het’, het die krag vir die aksie klaarblyklik uit die geesteryk gekom.—2 Petrus 2:16.
Die geesskepsel agter die slang wat met Eva gepraat het, word in die Bybel geïdentifiseer as “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word” (Openbaring 12:9). Die woorde wat Eva gehoor en waarop sy gereageer het, het op aanstigting van Satan gekom, wat ‘aanhou om hom in ’n engel van lig te verander’.—2 Korintiërs 11:14.
[Prent op bladsy 27]
‘Julle sal soos God wees deur goed en kwaad te ken’