Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Gulde Reël—’n Universele beginsel

Die Gulde Reël—’n Universele beginsel

Die Gulde Reël—’n Universele beginsel

“Alles wat julle dus wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—Matteus 7:12.

DAARDIE woorde is byna tweeduisend jaar gelede deur Jesus Christus gesê in sy beroemde Bergpredikasie. In die eeue sedertdien is daar al baie oor daardie eenvoudige stelling gesê en geskryf. Dit is onder andere geprys as “die wese van die Skrif”, “’n opsomming van die Christen se plig teenoor sy naaste” en “’n etiese grondbeginsel”. Dit het so bekend geword dat daar dikwels na verwys word as die Gulde Reël.

Die idee van die Gulde Reël is egter geensins eie aan die sogenaamde Christenwêreld nie. Judaïsme, Boeddhisme en Griekse filosofie het almal hierdie etiese grondbeginsel op die een of ander wyse vertolk. ’n Stelling deur Confucius, wat in die Ooste as die allergrootste wysgeer en leermeester vereer word, is baie bekend, veral onder mense in die Verre-Ooste. In Die Analekte, die derde van die Vier Boeke deur Confucius, vind ons dat die gedagte drie keer gemeld word. Confucius het twee keer, in antwoord op vrae deur studente, gesê: “Wat jy nie aan jou gedoen wil hê nie, moet jy nie aan ander doen nie.” By ’n ander geleentheid het sy leerling Zigong gespog: “Wat ek nie wil hê dat ander aan my moet doen nie, wil ek ook nie aan hulle doen nie.” Die leermeester het daarop gereageer met hierdie nugtere antwoord: “Ja, maar jy is nog nie in staat om dit te doen nie.”

Wanneer ons hierdie woorde lees, kan ons sien dat Confucius se stelling ’n negatiewe vorm is van wat Jesus later gesê het. Die duidelike verskil is dat die Gulde Reël wat Jesus uitgespreek het, positiewe optrede verg om aan ander goed te doen. Gestel mense sou in ooreenstemming met Jesus se positiewe stelling optree deur vir ander om te gee en stappe te neem om ander te help, en dat hulle daagliks volgens hierdie gedragsreël lewe. Dink jy dit sou die wêreld van vandag ’n beter plek maak? Ongetwyfeld.

Hetsy die reël positief, negatief of in enige ander vorm gestel word, wat van belang is, is dat mense in verskillende tye, op verskillende plekke en met uiteenlopende agtergronde baie vertroue in die Gulde Reël gestel het. Dit toon eenvoudig dat wat Jesus in die Bergpredikasie gesê het, ’n universele beginsel is wat mense se lewens op alle plekke en deur al die eeue heen geraak het.

Vra jou af: ‘Wil ek beleefd, regverdig en eerlik behandel word? Wil ek in ’n wêreld sonder rassevooroordeel, misdaad en oorlog leef? Wil ek deel van ’n gesin wees waarin almal besorgdheid oor die gevoelens en welsyn van ander toon?’ Wie sou sulke moontlikhede van die hand wys? Die wrede werklikheid is dat baie min mense hierdie toestande geniet. Vir die meeste mense is dit byna te veel om op te hoop.

Die Gulde Reël verdof

Deur die geskiedenis heen was daar gevalle van misdade teen die mensdom waarin die regte van mense geheel en al geïgnoreer is. Dit sluit in die slawehandel uit Afrika, Nazi-doodskampe, gedwonge kinderarbeid en onmenslike volkslagtings in een plek na die ander. Hierdie verskriklike lys kan baie langer wees.

Ons hipertegnologiese wêreld is vandag egosentries. Min mense dink aan ander wanneer hulle eie gerief of veronderstelde regte op die spel is (2 Timoteus 3:1-5). Waarom het soveel mense selfsugtig, wreed, ongevoelig en egosentries geword? Is dit nie omdat die Gulde Reël, hoewel dit nog algemeen bekend is, afgemaak word as onrealisties, ’n sedelike relik, nie? Ongelukkig is dit die geval selfs onder baie wat beweer dat hulle in God glo. En te oordeel na die verloop van sake, sal mense net meer egosentries word.

Noodsaaklike vrae wat dus oorweeg moet word, is: Wat behels dit om volgens die Gulde Reël te lewe? Lewe enigiemand nog daarvolgens? En sal daar ooit ’n tyd wees wanneer die hele mensdom in ooreenstemming met die Gulde Reël sal lewe? Lees asseblief die volgende artikel vir die betroubare antwoorde op hierdie vrae.

[Prent op bladsy 3]

Confucius en ander het mense variasies van die Gulde Reël geleer