Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“In u lig sien ons die lig”

“In u lig sien ons die lig”

“In u lig sien ons die lig”

LIG is iets wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar totdat daar ’n kragonderbreking is en ons buurt skielik in duisternis gehul word. Gelukkig is ons hemelse “kragstasie”—die son—geheel en al betroubaar. En danksy sonlig kan ons sien, eet, asemhaal en lewe.

Aangesien lig noodsaaklik is vir lewe, moet ons nie verbaas wees wanneer ons in Genesis lees dat lig op die eerste skeppingsdag verskyn het nie. “God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig” (Genesis 1:3). Godvresende manne soos koning Dawid het Jehovah nog altyd as die bron van lewe en lig beskou. “By U is die fontein van die lewe”, het Dawid geskryf. “In u lig sien ons die lig.”—Psalm 36:10.

Dawid se woorde het ’n letterlike sowel as ’n figuurlike toepassing. Die Encyclopædia Britannica sê: “Dit is beslis lig wat sig moontlik maak.” Dan voeg dit by: “Meer inligting bereik die mensebrein deur die oë as deur enige van die ander sintuiglike organe.” Aangesien baie van wat ons leer, afhanklik is van die gawe van sig—wat lig nodig het om behoorlik te funksioneer—word lig ook in die Skrif in figuurlike sin gebruik.

Jesus het derhalwe vir sy dissipels gesê: “Ek is die lig van die wêreld. Hy wat my volg, sal hoegenaamd nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe besit” (Johannes 8:12). Die figuurlike lig waarna Jesus verwys het, was die boodskap van waarheid wat hy verkondig het, wat die verstand en hart van sy luisteraars kon verlig. Ná jare van geestelike duisternis kon Jesus se dissipels uiteindelik God se voorneme vir die mensdom en die Koninkrykshoop verstaan. Dit was waarlik “lig van die lewe”, aangesien daardie kennis tot die ewige lewe kon lei. “Dít beteken die ewige lewe”, het Jesus in gebed tot sy hemelse Vader gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Mag ons nooit hierdie geestelike lig as vanselfsprekend aanvaar nie!