Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Jy het die verkeerde nommer geskakel”

“Jy het die verkeerde nommer geskakel”

Koninkryksverkondigers berig

“Jy het die verkeerde nommer geskakel”

IN Johannesburg het Leslie en Caroline beurte gemaak om per telefoon vir mense te getuig wat in ’n aftree-oord woon waar toegang beheer word. Daar was min mense tuis en min belangstelling in hulle Christelike boodskap; daarom was Caroline bly toe ’n vrou antwoord.

“Is dit mev. B— wat praat?” het Caroline gevra.

“Nee”, het ’n vriendelike stem gesê, “Ek is mev. G—. Jy het die verkeerde nommer geskakel.”

Toe Caroline die hartlikheid in haar stem hoor, het sy gesê: “Wel, laat ek verduidelik wat ek vir mev. B— wou vertel.” Sy het toe voortgegaan om oor die seëninge van God se inkomende Koninkryk te gesels. Nadat reëlings getref is om die brosjure Wat vereis God van ons? by haar af te lewer, het mev. G— gevra: “Terloops, van watter godsdiens is julle?”

“Ons is Jehovah se Getuies”, het Caroline geantwoord.

“Ag nee, nie daardie godsdiens nie! Ek dink nie jy moet my kom besoek nie.”

“Maar mev. G—”, het Caroline gesê, “vir die afgelope 20 minute het ek jou van die wonderlikste hoop vertel en uit die Bybel gewys wat God se Koninkryk binnekort vir die mensdom gaan doen. Jy was so bly om hierdie dinge te hoor—selfs opgewonde—en jy wou meer leer. Wat weet jy regtig van Jehovah se Getuies? Sou jy na ’n motorwerktuigkundige toe gaan as jy siek is? Waarom laat jy my nie toe om jou te vertel wat Jehovah se Getuies glo nie?”

Ná ’n oomblik se stilte het sy geantwoord: “Jy’s seker reg. Kom dan maar. Maar jy moet verstaan dat jy my nooit sal bekeer nie!”

“Mev. G—, ek kan jou nooit bekeer nie, al wil ek ook”, het Caroline geantwoord. “Slegs Jehovah kan dit doen.”

Die besoek om die brosjure af te lewer, het goed afgeloop, en mev. G— (Betty) het tot nog ’n besoek ingestem. Toe Caroline haar weer besoek, het Betty vir haar gesê dat sy die dames by haar tafel vertel het dat sy besprekings met Jehovah se Getuies het. “Hoe kan jy?” het hulle gevra en hulle hande in die lug gegooi. “Daardie mense glo nie eers in Jesus nie!”

Caroline het Betty dadelik herinner aan ’n hoofpunt uit hulle vorige bespreking oor God se Koninkryk.

“Wie sal die Koning wees?” het Caroline gevra.

“Dis tog Jesus”, het Betty geantwoord.

“Natuurlik”, het Caroline gesê. Sy het toe verduidelik dat Jehovah se Getuies glo dat Jesus God se Seun is, maar dat hy nie aan God gelyk is as deel van ’n Drie-eenheid nie.—Markus 13:32; Lukas 22:42; Johannes 14:28.

Ná nog ’n paar besoeke het dit duidelik geword dat Betty, ondanks haar positiewe, blymoedige gesindheid, met haar gesondheid sukkel. Trouens, sy het kanker gehad en was bang vir die dood. “Ek wens ek het hierdie dinge jare gelede gehoor en dat ek jou geloof gehad het”, het sy erken. Caroline het haar vertroos deur vir haar tekste te wys wat die dood beskryf as ’n diep slaap waaruit ’n mens kan wakker word in die opstanding (Johannes 11:11, 25). Dit het vir Betty baie beteken, wat dit nou geniet om gereeld die Bybel te bestudeer. Dit is net haar swak gesondheid wat keer dat sy vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon.

Caroline sê: “Dis vir my duidelik dat die engele hierdie werk rig. Betty was ’n ‘verkeerde nommer’, en dink net, sy is al 89 jaar oud!”—Openbaring 14:6.