Neig jou hart om Jehovah te vrees
Neig jou hart om Jehovah te vrees
“As hulle maar net hierdie hart van hulle daartoe sou neig om my te vrees en om al my gebooie altyd te onderhou.”—DEUTERONOMIUM 5:29, NW.
1. Hoe kan ons seker wees dat mense eendag sonder vrees sal lewe?
VREES is iets wat die mensdom al eeue lank teister. Vrees vir honger, siekte, misdaad of oorlog laat miljoene mense voortdurend in angs verkeer. Om dié rede spreek die inleiding tot die Universele Verklaring van Menseregte die begeerte uit om ’n wêreld tot stand te bring waar alle mense sonder vrees sal kan lewe. a Gelukkig verseker God ons dat so ’n wêreld sal kom—maar nie deur mensepogings nie. Deur sy profeet Miga beloof Jehovah ons dat daar in sy nuwe wêreld van regverdigheid ‘niemand sal wees wat sy volk sal laat bewe nie’.—Miga 4:4, NW.
2. (a) Hoe spoor die Skrif ons aan om God te vrees? (b) Watter vrae kan ontstaan wanneer ons dink aan ons verpligting om God te vrees?
2 Aan die ander kant kan vrees ook ’n positiewe krag wees. In die Skrif word God se knegte herhaaldelik aangespoor om Jehovah te vrees. Moses het vir die Israeliete gesê: “Jehovah jou God moet jy vrees, en hom moet jy dien, en by sy naam moet jy sweer” (Deuteronomium 6:13, NW). Eeue later het Salomo geskryf: “Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens” (Prediker 12:13, NW). Deur ons getuieniswerk, wat onder engeleleiding uitgevoer word, spoor ons eweneens alle mense aan om ‘God te vrees en hom heerlikheid te gee’ (Openbaring 14:6, 7). Christene moet Jehovah nie net vrees nie, maar hom ook met hulle hele hart liefhê (Matteus 22:37, 38). Hoe kan ons God liefhê en hom terselfdertyd vrees? Waarom moet ons ’n liefdevolle God vrees? Watter voordele hou dit vir ons in as ons godvrugtige vrees aankweek? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons eers verstaan wat die vrees van God beteken en hoe hierdie soort vrees ’n kernelement van ons verhouding met Jehovah is.
Ontsag, eerbied en vrees
3. Wat beteken vrees vir God?
3 Vrees vir God is ’n gevoel wat Christene teenoor hulle Maker behoort te hê. Een definisie van hierdie vrees is “ontsag en ’n diepe eerbied vir die Skepper en ’n heilsame vrees om hom te mishaag”. Vrees vir God beïnvloed derhalwe twee belangrike aspekte van ons lewe: ons gesindheid teenoor God en ons gesindheid teenoor gedrag wat hy haat. Albei aspekte is natuurlik van die allergrootste belang en verdien ons noukeurige aandag. Soos Vine se Expository Dictionary of New Testament Words dit stel, is hierdie eerbiedige vrees vir Christene ‘’n beherende krag in die lewe, in geestelike sowel as in sedelike sake’.
4. Hoe kan ons ontsag en eerbied vir ons Skepper aankweek?
4 Hoe kan ons ontsag en eerbied vir ons Skepper aankweek? Ons word met ontsag vervul wanneer ons ’n pragtige landskap, ’n indrukwekkende waterval of ’n asemrowende sonsondergang sien. Hierdie gevoel word versterk wanneer ons, met die oë van geloof, die hand van God in sulke skeppingswerke sien. Ook besef ons, soos koning Dawid, hoe nietig ons in vergelyking met Jehovah se ontsagwekkende skepping is. “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u berei het, wat is die sterflike mens dat u aan hom dink?” (Psalm 8:3, 4, NW). Hierdie ontsag lei tot eerbied, wat ons beweeg om Jehovah te dank en te loof vir alles wat hy vir ons doen. Dawid het ook geskryf: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet.”—Psalm 139:14, NW.
5. Waarom moet ons Jehovah vrees, en watter goeie voorbeeld het ons in hierdie verband?
5 Ontsag en eerbied wek ’n heilsame en eerbiedige vrees vir God se mag as Skepper en vir sy gesag as die regmatige Heerser van die heelal. In ’n visioen wat die apostel Johannes gehad het, roep ‘dié wat oor die wilde dier en oor sy beeld seëvier’—die gesalfde volgelinge van Christus in hulle hemelse posisie—soos volg uit: “Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie?” (Openbaring 15:2-4). Vrees vir God, wat voortspruit uit ’n diepe eerbied vir sy majesteit, beweeg hierdie medeheersers saam met Christus in die hemelse Koninkryk om God as die oppergesag te eer. Het ons nie oorgenoeg rede om Jehovah te vrees wanneer ons dink aan alles wat hy gedoen het en die regverdige manier waarop hy die heelal regeer nie?—Psalm 2:11; Jeremia 10:7.
6. Waarom moet ons ’n heilsame vrees hê om Jehovah te mishaag?
6 Maar benewens ontsag en eerbied moet vrees vir God ook ’n heilsame vrees insluit om hom te mishaag of ongehoorsaam aan hom te wees. Waarom? Want hoewel Jehovah “nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid”, moet ons onthou dat “hy geensins vrystelling van straf [sal] gee nie” (Exodus 34:6, 7, NW). Jehovah is liefdevol en barmhartig, maar hy duld nie onregverdigheid en moedswillige oortreding nie (Psalm 5:4, 5, NW; Habakuk 1:13). Diegene wat opsetlik en onberouvol dinge beoefen wat in Jehovah se oë goddeloos is en wat teen hom in verset kom, sal nie ongestraf bly nie. Soos die apostel Paulus gesê het: “Dit is iets vreesliks om in die hande van die lewende God te val.” ’n Heilsame vrees om in so ’n situasie te beland, is uiteindelik vir ons ’n beskerming.—Hebreërs 10:31.
“Hom moet julle aankleef”
7. Watter redes het ons om vertroue in Jehovah se reddingskrag te stel?
7 Eerbiedige vrees vir God en ’n intense bewustheid van sy ontsagwekkende krag lei tot vertroue op Jehovah. Net soos ’n jong kind veilig voel wanneer sy vader naby is, voel ons ook veilig en vol vertroue onder Jehovah se hand van leiding. Let op hoe die Israeliete gereageer het nadat Jehovah hulle uit Egipte gelei het: “Israel het ook die groot hand gesien wat Jehovah teen die Egiptenaars aangewend het; en die volk het begin om Jehovah te vrees en om geloof in Jehovah . . . te stel” (Exodus 14:31, NW). Elisa se ondervinding getuig ook van die feit dat ‘die engel van Jehovah kamp opslaan rondom dié wat hom vrees en hulle red’ (Psalm 34:7, NW; 2 Konings 6:15-17). Die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se knegte en waarskynlik ons eie ondervinding bevestig dat God sy krag gebruik ten behoewe van diegene wat hom dien (2 Kronieke 16:9). Dit laat ons besef dat daar ‘sterk vertroue in die vrees van Jehovah lê’.—Spreuke 14:26, NW.
8. (a) Waarom beweeg vrees vir God ons om in sy weë te wandel? (b) Verduidelik hoe ons Jehovah moet “aankleef”.
8 Heilsame vrees vir God bevorder nie net vertroue op hom nie, maar beweeg ons ook om in sy weë te wandel. Toe Salomo die tempel ingewy het, het hy tot Jehovah gebid: “[Mag Israel u] vrees deur in u weë te wandel al die dae dat hulle lewe op die oppervlak van die land wat u aan ons voorvaders gegee het” (2 Kronieke 6:31, NW). Moses het vroeër die Israeliete aangespoor: “Julle moet Jehovah julle God volg, en hom moet julle vrees en sy gebooie moet julle onderhou en na sy stem moet julle luister en hom moet julle dien en hom moet julle aankleef” (Deuteronomium 13:4, NW). Soos hierdie verse duidelik toon, spruit die begeerte om in Jehovah se weë te wandel en hom ‘aan te kleef’ voort uit vertroue op God. Ja, godvrugtige vrees beweeg ons om Jehovah te gehoorsaam, hom te dien en hom aan te kleef, net soos ’n jong kind styf sal vashou aan sy vader in wie hy volkome vertroue stel.—Psalm 63:8, NW; Jesaja 41:13.
Om God lief te hê, beteken om hom te vrees
9. Wat is die verband tussen liefde vir God en vrees vir God?
9 Uit ’n skriftuurlike standpunt beskou, sluit vrees vir God beslis nie liefde vir hom uit nie. Inteendeel, die Israeliete is beveel om “Jehovah . . . te vrees, om in al sy weë te wandel en hom lief te hê” (Deuteronomium 10:12, NW). Daar is dus ’n noue verband tussen vrees vir God en liefde vir God. Vrees vir God beweeg ons om in sy weë te wandel, en dit lewer dan weer bewys van ons liefde vir hom (1 Johannes 5:3). Dit is logies, want wanneer ons iemand liefhet, is ons tereg bang om hom seer te maak. Die Israeliete het Jehovah seergemaak deur hulle opstandige weg in die wildernis. Ons wil sekerlik niks doen wat ons hemelse Vader so sal bedroef nie (Psalm 78:40, 41). Daarenteen maak ons gehoorsaamheid en getrouheid sy hart bly, aangesien ‘Jehovah behae het in dié wat hom vrees’ (Psalm 147:11, NW; Spreuke 27:11). Liefde vir God beweeg ons om hom te behaag, en vrees vir God keer dat ons hom seermaak. Die eienskappe vul mekaar aan; hulle bots nie.
10. Hoe het Jesus getoon dat hy behae in die vrees vir Jehovah geskep het?
10 Die lewenswandel van Jesus Christus toon duidelik hoe ons God terselfdertyd kan liefhê en kan vrees. Die profeet Jesaja het van Jesus geskryf: “Op hom sal die gees van Jehovah rus, die gees van wysheid en van begrip, die gees van raad en van mag, die gees van kennis en van die vrees van Jehovah; en hy sal vreugde vind in die vrees van Jehovah” (Jesaja , NW). Volgens hierdie profesie het God se gees Jesus beweeg om sy hemelse Vader te vrees. Verder merk ons op dat hierdie vrees glad nie beperkend was nie, maar eerder ’n bron van bevrediging. Jesus het behae daarin geskep om God se wil te doen en hom te behaag, selfs onder die moeilikste omstandighede. Toe sy teregstelling aan die folterpaal nader gekom het, het hy vir Jehovah gesê: “Nie soos ek wil nie, maar soos u wil” ( 11:2, 3Matteus 26:39). Weens hierdie godvrugtige vrees het Jehovah sy Seun se smekinge verhoor, hom versterk en hom uit die dood gered.—Hebreërs 5:7.
Hoe ons leer om Jehovah te vrees
11, 12. (a) Waarom moet ons leer om God te vrees? (b) Hoe leer Jesus ons om Jehovah te vrees?
11 In teenstelling met die instinktiewe ontsag waarmee ons vervul word wanneer ons die krag en majesteit van die natuur sien, kom vrees vir God nie outomaties nie. Daarom rig die Grotere Dawid, Jesus Christus, profeties hierdie uitnodiging aan ons: “Kom, o seuns, luister na my; die vrees van Jehovah sal ek julle leer” (Psalm 34:11, NW). Hoe kan ons by Jesus leer om Jehovah te vrees?
12 Jesus leer ons om Jehovah te vrees deur ons te help om die wonderlike persoonlikheid van ons hemelse Vader te verstaan (Johannes 1:18). Jesus se eie voorbeeld openbaar hoe God dink en hoe hy met ander handel, want Jesus weerspieël sy Vader se persoonlikheid volmaak (Johannes 14:9, 10). Wat meer is, deur Jesus se offerande verkry ons toegang tot Jehovah wanneer ons bid vir vergifnis van ons sondes. Hierdie uitsonderlike blyk van God se barmhartigheid is op sigself ’n kragtige rede om hom te vrees. Die psalmis het geskryf: “By u is daar ware vergifnis, sodat u gevrees kan word.”—Psalm 130:4, NW.
13. Watter stappe word in die boek Spreuke uiteengesit om ons te help om Jehovah te vrees?
13 Die boek Spreuke sit ’n reeks stappe uiteen wat ons in staat stel om godvrugtige vrees aan te kweek. “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie as ’n skat by jou bewaar, sodat jy met jou oor aandag kan skenk aan wysheid, sodat jy jou hart kan neig tot onderskeidingsvermoë; as jy bowendien na begrip roep en na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, . . . dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind” (Spreuke 2:1-5, NW). Om God te vrees, moet ons dus sy Woord bestudeer, ons ywerig inspan om die onderrigting daarin te verstaan en dan noukeurig ag slaan op die raad daarin.
14. Hoe kan ons die raad volg wat aan die konings van Israel gegee is?
14 Elke koning van eertydse Israel is beveel om ’n afskrif van die Wet te maak en ‘al die dae van sy lewe daarin te lees, sodat hy kon leer om Jehovah sy God te vrees, om al die woorde van die wet te onderhou’ (Deuteronomium 17:18, 19, NW). Bybellees en -studie is net so noodsaaklik vir ons as ons wil leer om Jehovah te vrees. Namate ons Bybelbeginsels in ons lewe toepas, verkry ons geleidelik Goddelike wysheid en kennis. Ons begin “die vrees van Jehovah verstaan” omdat ons sien watter goeie resultate dit in ons lewe voortbring, en ons waardeer ons verhouding met God. En deur gereeld met medegelowiges te vergader, kan oud en jonk na Goddelike onderrigting luister, leer om God te vrees en in sy weë wandel.—Deuteronomium 31:12.
Gelukkig is elkeen wat Jehovah vrees
15. Op watter maniere hou vrees vir God verband met ons aanbidding van hom?
15 Uit die voorafgaande kan ons sien dat vrees vir God ’n heilsame gesindheid is wat ons almal moet aankweek, aangesien dit ’n kernelement van ons aanbidding van Jehovah is. Dit help ons om volkome op hom te vertrou, in sy weë te wandel en hom aan te kleef. Soos met Jesus Christus die geval was, kan vrees vir God ons ook beweeg om ons toewydingsgelofte nou en tot in alle ewigheid na te kom.
16. Waarom moedig Jehovah ons aan om hom te vrees?
16 Godvrugtige vrees is nooit morbied of te beperkend nie. “Gelukkig is elkeen wat Jehovah vrees, wat in sy weë wandel”, verseker die Bybel ons (Psalm 128:1, NW). Jehovah moedig ons aan om hom te vrees omdat hy weet dat hierdie eienskap ons sal beskerm. Ons sien sy liefdevolle besorgdheid in sy woorde aan Moses: “As hulle [die Israeliete] maar net hierdie hart van hulle daartoe sou neig om my te vrees en om al my gebooie altyd te onderhou, sodat dit met hulle en hulle kinders tot onbepaalde tyd goed kan gaan!”—Deuteronomium 5:29, NW.
17. (a) In watter opsigte strek dit ons tot voordeel om God te vrees? (b) Watter aspekte van godvrugtige vrees sal ons in die volgende artikel bespreek?
17 Net so sal dit ook met ons goed gaan as ons ons hart neig om God te vrees. In watter opsigte? Eerstens sal so ’n gesindheid God behaag en ons nader aan hom bring. Dawid het uit persoonlike ondervinding geweet dat Jehovah ‘aan die begeerte sal voldoen van dié wat hom vrees en hulle hulpgeroep sal hoor en hulle sal red’ (Psalm 145:19, NW). Tweedens sal godvrugtige vrees ons tot voordeel strek omdat dit ons gesindheid sal beïnvloed teenoor wat verkeerd is (Spreuke 3:7). Die volgende artikel sal bespreek hoe hierdie vrees ons teen geestelike gevaar beskerm, en dit sal ’n paar Bybelse voorbeelde hersien van manne wat God gevrees het en afgewyk het van die kwaad.
[Voetnoot]
a Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het die Universele Verklaring van Menseregte op 10 Desember 1948 aangeneem.
Kan jy die volgende vrae beantwoord?
• Wat beteken vrees vir God, en hoe beïnvloed dit ons?
• Wat is die verband tussen vrees vir God en om met God te wandel?
• Hoe toon die voorbeeld van Jesus dat vrees vir God verband hou met liefde vir God?
• Op watter maniere kan ons ons hart neig om Jehovah te vrees?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 17]
Israelitiese konings is beveel om hulle eie afskrif van die Wet te maak en dit daagliks te lees
[Prent op bladsy 18]
Vrees vir Jehovah beweeg ons om op hom te vertrou soos ’n seun sy vader vertrou
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Sterre: Foto deur Malin, © IAC/RGO 1991