Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Beteken God se opdrag wat in Jeremia 7:16 opgeteken is, dat Christene nie sal bid oor iemand wat uit die Christengemeente gesit is omdat hy ’n onberouvolle sondaar is nie?

Nadat Jehovah sy oordeel oor ontroue Juda uitgespreek het, het hy vir Jeremia gesê: “En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie.”—Jeremia 7:16.

Waarom het Jehovah Jeremia verbied om vir die Israeliete te bid? Dit was ongetwyfeld weens hulle flagrante oortreding van die Wet. Hulle het openlik en skaamteloos ‘gesteel, doodgeslaan en owerspel bedrywe en vals gesweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan geloop’. Gevolglik het Jehovah vir die ontroue Jode gesê: “Ek sal julle van my aangesig wegwerp soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efraim, weggewerp het.” Dit sou beslis vir Jeremia, of enigiemand anders, onvanpas wees om tot Jehovah te bid om Sy oordeel terug te trek.—Jeremia 7:9, 15.

In ooreenstemming hiermee het die apostel Johannes oor gepaste gebed tot God geskryf. Hy het Christene eers die versekering gegee “dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Johannes 5:14). Toe het Johannes in verband met gebede ten behoewe van ander verder gesê: “As iemand sy broer ’n sonde sien begaan wat nie die dood meebring nie, sal hy vra, en hy sal hom die lewe gee, ja, aan hulle wat nie so sondig dat dit die dood meebring nie. Daar is ’n sonde wat wel die dood meebring. Dit is aangaande daardie sonde dat ek nie vir hom sê om ’n versoek te doen nie” (1 Johannes 5:16). Jesus het ook gepraat van sonde wat “nie vergewe [sal] word nie”, dit wil sê sonde teen die heilige gees.—Matteus 12:31, 32.

Beteken dit dat almal wat uit die Christengemeente gesit word omdat hulle gesondig het en geen berou gehad het nie, sondes gepleeg het wat “die dood meebring” en dat ons dus nie oor hulle moet bid nie? Nie noodwendig nie, want in sommige gevalle is sulke oortredings nie sondes wat die dood meebring nie. Trouens, dit is moeilik om te bepaal of dit sulke sondes is. ’n Tipiese voorbeeld is koning Manasse van Juda. Hy het altare vir valse gode opgerig, sy eie seuns geoffer, spiritisme beoefen en ’n gesnede beeld in Jehovah se tempel gesit. Trouens, die Bybel sê dat Manasse en die volk ‘meer kwaad gedoen het as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het’. Weens al hierdie dinge het Jehovah Manasse gestraf deur hom as ’n gevangene in kettings na Babilon te laat wegvoer.—2 Konings 21:1-9; 2 Kronieke 33:1-11.

Was Manasse se sondes, al was hulle baie erg, die soort wat die dood meebring? Klaarblyklik nie, want die verslag sê verder oor hom: “Maar in sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die God van sy vaders en tot Hom gebid; en Hy het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring. Toe het Manasse erken dat die HERE God is.”—2 Kronieke 33:12, 13.

Ons moet dus nie haastig wees om te dink dat iemand skuldig moet wees aan ’n sonde wat die dood meebring bloot omdat hy uit die gemeente gesit is nie. Dit kan tyd neem voordat die ware hartstoestand van die persoon geopenbaar word. Trouens, daar word dikwels gesê dat een van die oogmerke van uitsetting is om die sondaar tot sy sinne te bring in die hoop dat hy berou sal toon en sal omdraai.

Aangesien die persoon nie meer in die gemeente is nie, sal enige verandering in hartstoestand en gesindheid moontlik eers deur dié opgemerk word wat na aan hom is, soos ’n huweliksmaat of gesinslede. Dié wat sulke veranderinge sien, kom dalk tot die gevolgtrekking dat die oortreder nie ’n sonde gepleeg het wat die dood meebring nie. Dit beweeg hulle miskien om te bid dat hy krag put uit God se geïnspireerde Woord en dat Jehovah in ooreenstemming met Sy wil teenoor die sondaar sal optree.—Psalm 44:22; Prediker 12:14.

Hoewel party moontlik in ’n posisie is om voldoende bewys te sien wat hulle laat glo dat die sondaar berou het, is dit moontlik nie die geval met die gemeente oor die algemeen nie. Dit sal hulle verwar, verontrus, selfs laat struikel as hulle hoor hoe iemand in die openbaar oor die oortreder bid. Daarom moet diegene wat oor die sondaar wil bid, dit slegs privaat doen en enige verdere verwikkeling in die saak aan die verantwoordelike ouer manne in die gemeente oorlaat.

[Prent op bladsy 31]

Manasse se ernstige sondes is vergewe toe hy hom voor Jehovah verootmoedig het

[Foto-erkenning op bladsy 30]

Reproduced from Illustrierte Pracht-Bibel/Heilige Schrift des Alten und Neuen Testaments, nach der deutschen Uebersetzung D. Martin Luther’s