Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die ware Jesus

Die ware Jesus

Die ware Jesus

NADAT Jesus by sy apostels gehoor het wat mense van hom dink, het hy hulle gevra: “Maar julle, wie sê julle is ek?” Die Evangelie van Matteus lewer verslag oor die apostel Petrus se antwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matteus 16:15, 16). Ander het dieselfde mening gehad. Natanael, wat later een van die apostels geword het, het vir Jesus gesê: “Rabbi, u is die Seun van God, u is Koning van Israel” (Johannes 1:49). Jesus het self oor die belangrikheid van sy rol gepraat: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). By verskeie geleenthede het hy na homself verwys as “die Seun van God” (Johannes 5:24, 25; 11:4). En hy het dit bewys deur wonderwerke te verrig en selfs die dooies op te wek.

Gegronde bedenkinge?

Maar kan ons werklik vertroue hê in die Evangelies se voorstelling van Jesus? Beeld hulle die ware Jesus uit? Wyle Frederick F. Bruce, professor in Bybelkritiek en teksverklaring aan die Universiteit van Manchester, Engeland, het gesê: “Dit is gewoonlik nie moontlik om die waarheid van elke besonderheid in ’n antieke geskrif, hetsy binne of buite die Bybel, deur historiese argumente te bewys nie. Dit is voldoende om redelike vertroue in ’n skrywer se algemene betroubaarheid te hê; as dit bewys is, is daar ’n a priori waarskynlikheid dat sy besonderhede waar is. . . . Die feit dat Christene die Nuwe Testament as ‘heilige’ lektuur aanvaar, maak die historiese betroubaarheid daarvan nie minder waarskynlik nie.”

Nadat James R. Edwards, professor in godsdiens aan die Jamestown-kollege, Noord-Dakota, VSA, bedenkinge ondersoek het oor Jesus soos hy in die Evangelies uitgebeeld word, het hy geskryf: “Ons kan met sekerheid bevestig dat ’n uiteenlopende en betekenisvolle versameling bewyse van die eintlike waarheid oor Jesus in die Evangelies behoue gebly het. . . . Die redelikste antwoord op die vraag waarom die Evangelies Jesus op hierdie manier uitbeeld, is omdat dit hoofsaaklik is hoe Jesus was. Die indruk wat hy op sy volgelinge gemaak het, naamlik dat hy werklik deur God gestuur en die volmag gegee is om God se Seun en Kneg te wees, het getrou in die Evangelies behoue gebly.” a

Die soeke na Jesus

Wat van nie-Bybelse verwysings na Jesus Christus? Hoe word hulle beskou? Die werke van Tacitus, Suetonius, Josefus, Plinius die Jongere en ’n paar ander klassieke skrywers bevat talle verwysings na Jesus. Van hulle sê The New Encyclopædia Britannica (1995): “Hierdie onafhanklike verslae bewys dat selfs die teenstanders van die Christelike godsdiens in antieke tye nooit die historisiteit van Jesus betwyfel het nie. Dit is iets wat vir die eerste keer en op onvoldoende gronde aan die einde van die 18de, gedurende die 19de en aan die begin van die 20ste eeu betwis is.”

Ongelukkig lyk dit of hedendaagse geleerdes, in hulle soeke na die “ware” of “geskiedkundige” Jesus, sy ware identiteit agter lae van ongegronde spekulasie, onsinnige bedenkinge en betwisbare teorieë weggesteek het. In sekere sin is hulle skuldig aan iets waarvan hulle die Evangelieskrywers valslik beskuldig, naamlik dat hulle mites skep. Party is so gretig om hulle eie reputasie te bevorder en om hulle naam aan ’n nuwe opspraakwekkende teorie te koppel dat hulle in gebreke bly om die getuienis oor Jesus eerlik te ondersoek. Sodoende skep hulle ’n “Jesus” wat neerkom op ’n verdigsel van geleerdes.

Diegene wat op soek is na die ware Jesus, kan hom in die Bybel vind. Luke Johnson, professor van die Nuwe Testament en die oorsprong van die Christelike godsdiens aan die Candler-kweekskool by die Emory-universiteit, voer aan dat die meeste navorsing oor die geskiedkundige Jesus die Bybelse oogmerk ignoreer. Hy sê dat dit weliswaar interessant kan wees om die sosiale, politieke, antropologiese en kulturele verband van Jesus se lewe en tydperk te ondersoek. Maar hy sê voorts dat die ontdekking van wat kenners die geskiedkundige Jesus noem, “nouliks die doel van die Skrif is”, wat “eerder handel oor die karakter van Jesus”, sy boodskap en sy rol as Loskoper. Wat was dus Jesus se ware karakter en boodskap?

Die ware Jesus

Die Evangelies—die vier Bybelverslae oor Jesus se lewe—beeld ’n man uit wat groot empatie gehad het. Deernis en medelye het Jesus beweeg om mense te help wat weens siekte, blindheid en ander beproewinge gely het (Matteus 9:36; 14:14; 20:34). Die dood van sy vriend Lasarus en die droefheid wat dit Lasarus se susters gebring het, het daartoe gelei dat Jesus ‘gekreun en trane begin stort’ het (Johannes 11:32-36). Trouens, die Evangelies openbaar die wye spektrum van gevoelens wat Jesus gehad het—simpatie vir iemand met melaatsheid, vreugde wanneer sy dissipels suksesvol was, verontwaardiging teenoor ongevoelige wettiese manne en hartseer omdat Jerusalem die Messias verwerp het.

Wanneer Jesus ’n wonderwerk verrig het, het hy dikwels die aandag gevestig op die ontvanger se aandeel in die proses: “Jou geloof het jou gesond gemaak” (Matteus 9:22). Hy het Natanael geprys en gesê: “’n Ware Israeliet, ’n man in wie daar geen bedrog is nie” (Johannes 1:47, NAV). Toe party gedink het dat die geskenk wat ’n vrou uit waardering gegee het, buitensporig was, het Jesus haar verdedig en gesê dat die verslag van haar vrygewigheid lank onthou sal word (Matteus 26:6-13). Hy was ’n ware vriend en liefdevolle metgesel vir sy volgelinge, en hy het “hulle tot die einde toe liefgehad”.—Johannes 13:1; 15:11-15.

Die Evangelies toon ook dat Jesus hom gou kon vereenselwig met die meeste mense wat hy teëgekom het. Of hy nou met ’n vrou by ’n put, ’n godsdiensleraar in ’n tuin of ’n visserman langs ’n meer gesels het, hy het onmiddellik hulle hart bereik. Ná Jesus se eerste woorde het baie van hierdie mense hulle diepste gedagtes aan hom geopenbaar. Hy het ’n ontvanklike snaar aangeraak. Hoewel mense in sy dag gesagsfigure op ’n veilige afstand gehou het, het mense in Jesus se geval om hom saamgedrom. Hulle het daarvan gehou om by Jesus te wees; hulle het gemaklik in sy teenwoordigheid gevoel. Kinders was op hulle gemak by hom, en toe hy ’n kind as voorbeeld gebruik het, het hy hom nie bloot voor sy dissipels laat staan nie, maar ook “sy arms om hom gesit” (Markus 9:36; 10:13-16). Die Evangelies beskryf Jesus inderdaad as ’n man wat soveel charisma gehad het dat mense drie dae lank gebly het net om na sy boeiende woorde te luister.—Matteus 15:32.

Jesus se volmaaktheid het hom nie oorkrities of verwaand en aanmatigend teenoor die onvolmaakte, sondige mense gemaak onder wie hy gelewe en vir wie hy getuig het nie (Matteus 9:10-13; 21:31, 32; Lukas 7:36-48; 15:1-32; 18:9-14). Jesus was nooit veeleisend nie. Hy het nie verdere laste op mense gelê nie. Hy het eerder gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg . . . en ek sal julle verkwik.” Vir sy dissipels was hy “saggeaard en nederig van hart”; sy juk was sag, en sy vrag was lig.—Matteus 11:28-30.

Die beskrywing van Jesus se karakter in die Evangelieverslae moet beslis die waarheid wees. Dit sal nie maklik wees vir vier verskillende mense om ’n buitengewone karakter uit te dink en hom dan dwarsdeur vier afsonderlike vertellings konsekwent uit te beeld nie. Dit sou feitlik onmoontlik wees vir vier verskillende skrywers om dieselfde persoon te beskryf en hom konsekwent op dieselfde manier uit te beeld as daardie karakter nooit werklik bestaan het nie.

Die geskiedkundige Michael Grant opper ’n gedagteprikkelende vraag: “Hoe verklaar ’n mens dat al die Evangelieverslae, sonder uitsondering, ’n besonder duidelike beeld skets van ’n aantreklike jong man wat vryelik onder alle soorte vroue beweeg, waaronder dié wat beslis nie ’n goeie reputasie het nie, sonder om enigsins sentimenteel, onnatuurlik of preuts te wees, en wat tog, in elke opsig, ’n eenvoudige karaktervastheid handhaaf?” Die redelike antwoord is dat so ’n man werklik bestaan het en opgetree het soos die Bybel sê.

Die ware Jesus en jou toekoms

Buiten die realistiese beeld wat die Bybel van Jesus skep terwyl hy op aarde was, toon dit dat hy ’n voormenslike bestaan gehad het as die enigverwekte Seun van God, “die eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). Twintig eeue gelede het God die lewe van sy hemelse Seun oorgeplaas na die baarmoeder van ’n Joodse maagd sodat hy as ’n mens gebore kon word (Matteus 1:18). Gedurende sy aardse bediening het Jesus God se Koninkryk verkondig as die enigste hoop vir die geteisterde mensdom, en hy het sy dissipels opgelei om hierdie predikingswerk voort te sit.—Matteus 4:17; 10:5-7; 28:19, 20.

Op 14 Nisan (ongeveer 1 April) 33 G.J., is Jesus in hegtenis geneem, verhoor, gevonnis en op die valse aanklag van sedisie tereggestel (Matteus 26:18-20, 48–27:50). Jesus se dood dien as ’n losprys wat die gelowige mensdom van hulle sondige toestand bevry en sodoende die weg na die ewige lewe open vir almal wat geloof in hom beoefen (Romeine 3:23, 24; 1 Johannes 2:2). Op 16 Nisan is Jesus opgewek, en kort daarna het hy na die hemel opgevaar (Markus 16:1-8; Lukas 24:50-53; Handelinge 1:6-9). As Jehovah se aangestelde Koning het die verrese Jesus volle gesag om God se oorspronklike voorneme met die mens uit te voer (Jesaja 9:6, 7; Lukas 1:32, 33). Ja, die Bybel stel Jesus voor as die sleutelfiguur in die uitvoering van God se voornemens.

In die eerste eeu het menigtes Jesus aanvaar vir wie hy was—die beloofde Messias, of Christus, wat aarde toe gestuur is om Jehovah se soewereiniteit te regverdig en om as ’n losprys vir die mensdom te sterf (Matteus 20:28; Lukas 2:25-32; Johannes 17:25, 26; 18:37). Weens bittere vervolging sou mense nouliks geneë gewees het om Jesus se dissipels te word as hulle onseker was oor sy identiteit. Hulle het die werk wat hy hulle gegee het, naamlik om “dissipels van mense van al die nasies” te maak, moedig en ywerig aangepak.—Matteus 28:19.

Vandag weet miljoene opregte en ingeligte Christene dat Jesus geen legendariese figuur is nie. Hulle aanvaar hom as die gekroonde Koning van God se opgerigte Koninkryk in die hemel, wat gereed is om volle beheer uit te oefen oor die aarde en die aangeleenthede daarvan. Hierdie Goddelike regering is welkome nuus, want dit beloof verligting van wêreldprobleme. Ware Christene toon dat hulle Jehovah se gekose Koning lojaal ondersteun deur “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te verkondig.—Matteus 24:14.

Diegene wat die Koninkryksreëling in die hande van Christus, die Seun van die lewende God, ondersteun, sal lewe om ewigdurende seëninge te geniet. Hierdie seëninge kan ook joune wees! Die uitgewers van hierdie tydskrif sal jou met graagte help om die ware Jesus te leer ken.

[Voetnoot]

a Sien hoofstukke 5 tot 7 van die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n volledige bespreking van die Evangelieverslae.

[Venster/Prent op bladsy 6]

Wat ander gesê het

“Ek beskou Jesus van Nasaret as een van die grootste onderrigters wat die wêreld nog gehad het. . . . Aan die Hindoes sal ek sê dat julle lewe onvolledig sal wees tensy julle die leringe van Jesus met eerbied bestudeer.”—Mohandas K. Gandhi, The Message of Jesus Christ.

“’n Karakter so oorspronklik, so volledig, so absoluut konsekwent, so volmaak, so menslik en tog so ver verhewe bo alle menslike grootheid, kan nóg bedrog nóg fiksie wees. . . . Dit sal meer as ’n Jesus verg om ’n Jesus te versin.”—Philip Schaff, History of the Christian Church.

“As ’n paar eenvoudige manne in een geslag so ’n kragtige en aantreklike persoon, so ’n verhewe etiek en so ’n besielende visioen van die broederskap van die mens kon skep, sou dit ’n wonderwerk wees wat veel groter is as enige van dié wat in die Evangelies opgeteken is.”—Will Durant, Caesar and Christ.

“’n Mens kan onmoontlik verstaan hoe ’n wêreldomvattende godsdiensbeweging aan die gang gesit kon word deur ’n fiktiewe persoon wat as die eertydse ekwivalent van ’n bemarkingstrategie versin is, as ’n mens in ag neem hoeveel mense wat onteenseglik bestaan het, al godsdienste probeer stig en misluk het.”—Gregg Easterbrook, Beside Still Waters.

‘As ’n literêre geskiedskrywer is ek vas oortuig dat die Evangelies alles behalwe legendes is. Dit is nie kunstig genoeg om legendes te wees nie. Die grootste deel van Jesus se lewe is vir ons onbekend, en niemand wat ’n legende opbou, sou toelaat dat dit gebeur nie’.—C. S. Lewis, God in the Dock.

[Prente op bladsy 7]

Die Evangelies openbaar die wye spektrum van gevoelens wat Jesus gehad het